Pêrels voor die varke –
die Koninkryk mag nie goedkoop gemaak word nie
In winkels is daar goedkoop, maar ook baie duursame produkte.
Meubels wat van die goedkoopste materiaal vervaardig is, gaan nie lank hou nie. Daarteenoor sal meubels wat uit kosbare houtsoorte geproduseer is, eeue lank diens lewer.
Dit spreek vanself dat die goeie produk baie duurder gaan kos en dus baie beter opgepas moet word, want dit is ‘n belegging! Sy waarde gaan selfs met die jare vermeerder.
Wat heilig is … pêrels
Wat is die dinge waarna Jesus hier verwys as “wat heilig is”? In kort is dit alles wat met God en dus met die ewige dinge te doen het. God is die Heilige!
Alles wat vir Hom afgesonder is op aarde, is heilig – soos die heilige berg, stad, volk, lewe en geloof
Hierdie heilige of ewige dinge kan op aarde vergelyk word met kosbare pêrels. Ons dink hier veral aan Matteus 13: 45 – 46 waar die koninkryk van die hemele ook met ‘n baie kosbare pêrel vergelyk word. Die handelaar sal alles verkoop om dit te mag bekom.
Pêrels was afkomstig uit die Persiese Golf en baie gesog. Die twaalf poorte van die nuwe Jerusalem sal elkeen uit een soliede reuse pêrel bestaan! In Grieks margarites” (margariths). Die name Margaret, Reta en Rita is dus van die woord “pêrel” afgelei.
Die pêrels self is nie heilig nie, maar word gebruik om die kosbaarheid van die hemelse en ewige dinge af te beeld.
Dit gee jy nie aan honde en varke
In die Bybel is honde ‘n simbool van:
* aggressiewe mense – “Soos honde omsingel hulle my”
* misdadigers – “Elke aand kom hulle (misdadigers) terug. Hulle grom soos honde en loop in die stad rond.”
* uitbuiters – “Hulle is gulsige honde, hulle kan nooit genoeg kry nie.”
* gewetenloses – Hasael aan Elisa: “Is ek ‘n hond wat so iets sal doen?”
* iets wat minderwaardig is – Dawid aan Saul “Agter wie trek u aan? ‘n Enkele vlooi, ‘n dooie hond!” Toe Semeï vir Dawid gevloek het, het Seruja uitgeroep: “Laat ek die lae hond se kop gaan afkap”.
* onrein dinge – “Soos ‘n hond wat na sy braaksel terugkom”. “Buitekant … honde, bedrieërs, afgodedienaars …”
Die Bybel oor varke:
* Varke is onrein volgens die wette van Moses.
* Die man van Gadara se duiwels vaar in ‘n trop varke in.
Hoe heilige dinge goedkoop gemaak word.
1. Hoor u ook dikwels hoe dweepsiekes voor die voet aan verkragters, sataniste, kerkloses, Godloënaars, heidene, vloekers sê: “Jesus het jou lief”. Is dit waar?
Het Jesus Godloënaars, sataniste en diegene wat sy Vader vloek, lief?
Ja, Jesus het sondaars wat berou toon, lief – soos die rower aan die kruis, maar Hy het ‘n baie skerp oordeel oor die Fariseërs uitgespreek.
2. By begrafnisse hoor jy weer:
“Hy / sy is beter af waar hy / sy nou is” of
“Hy / sy wag vir ons in die hemel”.
Werklik? Wie sê die oorledene gaan nie sy / haar oë in die hel open nie – soos die ryk man?
As Jesus die Joodse dorpies Kapernaum, Gorasin en Betsaida veroordeel het; as Hy gesê het:
“Baie is geroep, maar min uitverkies” – wie is ons dan om die hemel so goedkoop te maak?
3. Ons maak die sakramente goedkoop
Ouderlinge nooi sonder onderskeid na die nagmaal, maar baie lidmate vertrap die uitnodiging keer op keer. Jesus het tog gesê:
“As iemand … nie na julle woorde luister nie, gaan uit … en skud die stof van julle voete af”.
Moenie die evangelie goedkoop maak nie – nie vir mense wat dit nie waardeer nie.
Daar is dus ‘n grens. Jy gooi nie pêrels voor varke nie.
4. In koerante lees ons: “Jesus is nie die enigste weg na die hemel nie.”
Dit is om die kruis goedkoop te maak.
Wat vat ek (vanoggend) met my saam?
Wat moet ek weet (kop)?
* Die heilige dinge is die evangelie en koninkryk van God. Dit is die ewige sake.
* Die honde / varke is dié wat die evangelie nie waardeer nie.
* Die Boodskap is: Gooi heilige goed nie voor varke en honde nie. Dit is: maak die evangelie en Koninkryk nooit goedkoop nie.
Wat kan ek glo en vertrou (hart)?
Dat God die Vader nooit sal toelaat dat die duur prys wat Sy Seun aan die kruis betaal het, goedkoop gemaak sal word nie. Daar kom ‘n dag (die oordeelsdag) dat Hy regverdig sal oordeel en vir ewig die heilige dinge van die onheilige dinge sal skei.
Wat kan ek doen (hand)?
* Die vergifnis van God verkondig, maar besef dat daar ‘n grens is!
* Verkeerde uitdrukkings by begrafnisse en ander plekke taktvol help regstel.
* Help toesien dat die pêrels nie aan die varke gegee word nie.
Amen.