Tema: Praat met mekaar soos die Here wil
Inleiding:
‘n Woord kan ‘n mens opbou. ‘n Woord kan jou ook afbreek tot daar niks oorbly nie. ‘n Woord kan uit die hemel kom. ‘n Woord kan ook uit die hel kom (Jak.3:6). Woorde wat ons in ons gesinne praat kan of afbreek of opbou. Gelowiges mag mekaar nie afbreek nie en wil mekaar tog ook nie afbreek nie. Nee, ons wil tog in ons gesinne vir die Here leef, ook in wat ons vir mekaar sê. Dit is daarom nodig om ook by die Here te leer hoe Hy wil dat gesinne met mekaar praat.
Tema: Praat met mekaar soos die Here wil
Die sondige en gebroke wêreld waarin ons leef, wys al meer en meer in ons gesinslewe. Wanneer ‘n mens hoor dat die wêreld waarin ons leef sondig en gebroke is, sal iemand sê: Ag nee, dit is darem te negatief. ‘n Ander sal sê: Nee, dit is nie waar nie. Kyk net na al die nuwe en beter hospitale en dokters en medisyne. Kyk na die rekenaar en die selfoon. Kyk na al die nuwe geboue. Prestasies in sport word al beter. Kyk bietjie na die prestasies in sport. Die wêreld is nie gebroke nie, die wêreld word nuwer en beter.
Wel, hierdie ontwikkeling mag alles baie goed wees, maar dieselfde rekenaar bring dodelike geweld en die ergste pornografie binne in jou huis. Dieselfde selfoon laat jong dogters wegloop uit hulle ouerhuise na wildvreemde mans met wie hulle oor die selfoon begin praat het. Dikwels gebruik sportsterre verbode opkikkers net om te kan presteer. Die goeie paaie is dikwels die plek waar hoeveel noodlottige motorongelukke plaasvind. Hoe dikwels word die winkelsentrums nie die teiken van gewelddadige rooftogte deur rowers met vuurwapens nie?
Lees maar die dagblaaie en luister maar na die nuusberigte. Jy hoor en sien dat ons in ‘n sondige en gebroke wêreld leef. Baie meer as enige nuusberig, leer die Here ons in sy Woord dat die wêreld sondig en gebroke is: “Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe…” (Rom.8:20) en “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting” (Rom.8:22)
Hierdie sondigheid en gebrokenheid is nie ver van ons nie, nee dit is dikwels binne in ons huise in ons gesinslewe. Ons sien hierdie sondigheid en gebrokenheid in die geweld in gesinne, die ontrou in gesinne en die versteurde verhoudings tussen gesinslede, ouers en kinders en kinders onder mekaar. Ons sien veral die sondigheid en gebrokenheid in die manier waarop gesinslede met mekaar praat.
Noord van die berg waar ons woon, is gesinsgeweld juis probleem nommer een in die huise. Geweld beteken nie net fisiese geweld waar gesinslede, man of vrou of ouer of kind mekaar fisies seermaak nie, dit ook ja, maar ‘n groot deel van gesinsgeweld bestaan uit dit wat gesinslede vir mekaar sê en die manier waarop gesinslede dinge vir mekaar sê.
Hoe maak ‘n mens wanneer hierdie dinge in jou eie gesin voorkom, wanneer jy self deel van hierdie sondige en gebroke wêreld is of wanneer baie goeie vriende of familie hierdie sondige situasie in hulle huis het? Hoe maak mens wanneer medegelowiges saam met jou in die gemeente hierdie sondigheid en gebrokenheid in hulle huis het?
Is ‘n mens nou maar eenmaal magteloos teen die sondigheid en gebrokenheid van mense? Of is daar hoop?
Kom ons kyk wat het met die mense in Efese gebeur? Die Efesiërs was Grieke en heidene. Hulle verstande was verduister, so hulle het nie geweet wat reg of verkeerd is nie en ook nie omgegee nie. Hulle het hierdie sondige afbrekende lewe geniet en daarmee aangehou. Hulle was afgestomp, so hulle het nie omgegee vir mekaar nie. Hulle het ‘n onversadigbare drang na losbandigheid gehad, sodat mans en vrouens en kinders gesê en gedoen wat elkeen wou. Met hierdie lewe het die gesinne mekaar eintlik afgebreek en verneder. So het dit aangegaan, tot ‘n wonder in hulle lewe gebeur het.
Wat was hierdie wonder? Hulle het Christus leer ken! Aan die einde van sy tweede sendingreis het Paulus in Efese aangekom (Hand.19:1). Vir drie maande het Paulus die mense oor die koninkryk van God geleer. Die mense het in Christus begin glo. Daar het toe ‘n gemeente van Jesus Christus ontstaan. Op sy derde sendingreis het Paulus drie jaar die Evangelie van Christus daar verkondig. Deur die onderrig in Jesus Christus het die heidene gelowige Christene geword. Hulle het nuwe mense geword.
Hierdie wonder was nie net vir die Efesiërs bedoel nie. Die Evangelie van Jesus Christus is ook vir jou bedoel. Wie die Evangelie van Christus hoor en glo, leer Christus ken en word ‘n nuwe mens. Christus maak jou nuut. Hy maak jou gesin nuut. Hy het Homself aan die kruis geoffer en deur sy dood jou van sonde verlos. Hy het vir jou opgestaan en daardeur aan jou die nuwe lewe gegee. Deur Jesus Christus se opstanding is jy nie meer magteloos vasgevang in die sondige gebroke wêreld nie. Nee, jy is nuutgemaak!
Omdat Christus jou nuutgemaak het, bly jy nie in die magtelose sondigheid nie. Nee, Christus gee aan jou uitkoms. Deur Hom kan jy nuut leef. In Christus se krag kan jy losbreek van ‘n sondige manier van lewe. Christus en die nuwe lewe wat Hy gee, is regtig die uitkoms en die oplossing vir enige gesinskrisis.
2. ‘n Nuwe gesin praat op ‘n nuwe manier met mekaar
Jesus Christus leer ons dat ‘n nuutgemaakte gesin op ‘n nuwe manier met mekaar praat. Dit is so nodig dat ons baie goed by Christus leer, want sondige en verkeerde manier van praat, is juis ‘n groot probleem by baie gesinne.
Kom ons leer dan vanoggend by Christus hoe nuwe gelowiges op ‘n nuwe manier met mekaar as gesinslede praat.
Nuutgemaakte gesinne praat openlik. “Noudat julle alle valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat…” (Ef.4:25) en “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie” (Ef.4:26). ‘n Man en vrou kan alleen een wees in hulle huwelik soos die Here wil, ouers kan alleen kinders groot maak soos die Here wil, kinders sal alleen ouers kan gehoorsaam soos die Here wil, indien gesinslede openlik met mekaar praat en selfs probleme openlik met mekaar uitpraat. Om nie tyd te maak om met mekaar te praat nie, en om nie openlik met mekaar te praat nie, is sonde wat verhoudings in ‘n gesin afbreek. Die Here wil daarom dat gesinslede openlik met mekaar praat. Om nie openlik te praat nie, breek ‘n gesin af, want dit is sonde. Dit is ook gevaarlik, want so gee mens die duiwel vatkans op jou en jou gesin.
Nuutgemaakte gesinne praat met selfbeheersing. “Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie..” (Ef.4:29a) en “Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie…” (Ef.4:31). ‘n Gelowige mag kwaad word. Dit leer ons in Ef.4:26. Om kwaad te word, is nie sonde nie. Die sonde lê daarin dat jy kwaad bly en gevoelens in jou ronddra en die dag kwaad afsluit. Die sonde lê verder daarin dat ‘n mens vuil taal gebruik en vloek en skel op mekaar. Geen kind ken vanself ‘n vloekwoord nie. Kinders leer vloek wanneer ouers die woorde gebruik. Om vuil taal te gebruik, het al so algemeen geword in die lewe van vandag, dat sommige gesinne al daaraan gewoond geraak het. Hier in Ef.4:29 gee die Here die opdrag dat vuil taal nie mag nie. Die sonde lê ook in die woede en opvlieëndheid wat dikwels deel van ‘n gesin se manier van praat is. Om woedend te word en opvlieënd te wees, het ook al net so deel van die lewe geword, dat ons al eintlik gewoond geraak het. In Ef.4:31 gee die Here die opdrag dat dit nie mag nie. Vuil taal en woede en opvlieëndheid is nie deel van die nuwe lewe in Christus nie! Hierdie dinge is alles sondig en dit is deel van die ou sondige lewe.
Nuutgemaakte gesinne praat opbouend. “..praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom” (Ef.4:29b). Daar is soveel wat ons afbreek. Wat met ons gebeur en wat aan ons en oor ons gesê word, kan afbrekend wees. Die Here weet baie goed hoe sondig die wêreld is, daarom leer Hy gesinslede om opbouend te praat met mekaar. Navorsing het bevind dat veral ouers juis nie opbouend met kinders praat nie. ‘n Man en ‘n vrou kan mekaar so as vanselfsprekend aanvaar dat hulle ook nie mekaar meer opbou met hulle woorde nie. Elke gelowige ontvang ‘n opdrag van die Here: “praat net wat goed en opbouend is..” Mens praat opbouend wanneer jy tyd maak om te praat. Jy praat opbouend wanneer jy luister na ‘n ander persoon, en dit beteken om met aandag te luister. Jy praat opbouend wanneer jy praat oor die dinge wat saak maak vir die ander persoon en nie net wil praat oor wat vir jou belangrik is nie. Dan is mens so geneig om oor die sondigheid en gebrokenheid van die wêreld te praat, asof daar net probleme is en nie ook genade en seën waarvoor mens die Here kan dank nie. ‘n Gesin praat opbouend wanneer mens oor die Here en sy liefde en sy genade praat.
Daar is soveel dinge wat ‘n gesin kan verhinder om met mekaar te praat soos die Here wil. Werk, tyd, moegheid en belangstellings is maar ‘n paar. Sondige ongehoorsaamheid is eintlik die belangrikste rede waarom gesinne nie met mekaar praat soos die Here wil nie. Indien ‘n mens toelaat dat hierdie dinge jou gesin oorheers, dan sal jy en jou gesin nie met mekaar kan praat soos die Here wil nie. Maar hierdie dinge hoef nie die botoon te voer in jou gesin nie. Indien jy besef dat jy en jou gesin nie met mekaar praat soos die Here wil nie, moenie die Here se opdragte langer ignoreer nie. Maar bekeer jou. Doen wat God van jou vra. Moet ook nie moedeloos raak nie. Onthou jy is nuutgemaak deur Jesus Christus. Onthou verder dat jy en jou gelowige gesinslede die Heilige Gees het. Die Heilige Gees het juis gekom om julle te help en te lei om nuut te leef en nuut te praat.
Wees jy dan die een wat as nuwe mens in Jesus Christus nuut leef en nuut praat soos die Here wil.