Een van die groot gesinskrisisse van die moderne tyd is die verhouding ouer-kind in die huis. Hierdie krisis maak gesinne seer. Kinders leef verward. Ouers leef bekommerd. Sommige gesinne is in ‘n benarde posisie, omdat ouers en kinders se verhouding baie sleg is. Hierdie situasie kan verander wanneer ouers en kinders die Here se Woord oopmaak en Ef.6:1-4 in die huis toepas.
Die Here is die Een wat ouers en kinders vir mekaar gee. Hy laat ouers en kinders nie aan hulleself oor nie. Hy gee sy Woord waarin Hy vir ouers en kinders die weg wys. Hy gee sy Heilige Gees om ouers en kinders te lei om te leef so Hy wil en wat vir ouers en kinders die beste is.
Tema: Die Here se wil vir kinders en ouers
Die Here God is die Eienaar en Hoof van elke huis. Die huise waaroor dit in die Efesiërbrief gaan, is gelowige Christenhuise wat deur die Heilige Gees vervul is (Ef.5:19) en uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig is (Ef.5:21).
Waarom kan mens sê dat die Here die Eienaar en Hoof van ‘n huis is? Dit gebeur deur Christus. God het sy Seun gestuur om ons syne te maak. Jesus Christus het presies dit kom doen. Hy het sy lewe aan die kruis gegee. Hy het ook uit die dood opgestaan. Deur sy dood en opstanding het Jesus ons God s’n gemaak. Die gesin vir wie Jesus Christus gesterf en opgestaan het, is die gesin wie se Eienaar en Hoof God is.
Die Here het ‘n plan vir elke huis wat aan Hom behoort. Hy maak sy wil vir elke huis bekend. Hy praat met kinders en ouers oor sy wil. Die Here se wil is duidelik in sy Woord vir elke huis, daarom is dit nie moelik om te leef volgens die Here se wil nie en mag ‘n mens nie in jou huis leef soos jy wil nie. In Ef.6:4 praat die Here met vaders, maar moeders is daarby ingesluit.
Ouers, julle opdrag is om die Here se wil vir julle huis te ken en te gehoorsaam. Verder is julle verantwoordelik om julle kinders te leer wat die Here se wil vir julle huis is.
Kinders, julle opdrag is om self ook die Here se wil vir julle huis te leer ken en te gehoorsaam.
Wat is die Here se wil vir kinders? Kom ons lees weer die vers waarin die Here sy wil vir kinders bekend maak: “Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die Wet van God vereis” (Ef.6:1).
Die Here wil eerste hê dat jy geloof sal hê. Hy praat met elke kind as gelowige. Die Here vra nooit iets van jou, sonder dat Hy nie eers vir jou gee wat Hy vra nie. So die Here gee aan jou die geloof wat Hy van jou vra. Geloof is ‘n geskenk van God aan jou. Hierdie geloof bind jou vas aan Jesus Christus. Deur hierdie geloof wat jou vas aan Jesus bind, is jy verlos van sonde en lewe jy saam met Jesus Christus.
Die Here wil verder dat jy sy Wet ken en gehoorsaam. Daarom gee Hy sy Wet aan jou. Jy kry die Here se Wet in die Bybel wat jyself kan lees. Die Wet staan in Eks.20:1-17 en Deut.5:6-21. Jy kry die Here se Wet elke Sondag wanneer die Wet in die erediens gelees word. Jy kry die Wet ook in die katkisasie wanneer die Wet behandel word. In die Here se Wet is veral die vyfde gebod vir ouers en kinders belangrik.
Die Here wil nou dat jy as gelowige kind sal doen wat Hy in sy Wet, die vyfde gebod van jou vra, en dit is: Wees aan julle ouers gehoorsaam.
Wat beteken die woord: Gehoorsaam?
Die Here se wil vir jou in julle huis, is gehoorsaamheid aan jou ouers volgens sy Wet. Wanneer ‘n kind as gelowige aan Jesus Christus vas, sy of haar ouers gehoorsaam, sal dit goed in elke huis gaan.
Maar, nou gaan dit nie goed nie. Die eerste belangrike rede is dat nie alle kinders gelowig vas aan Jesus is nie en ook nie volgens sy Wet hulle ouers gehoorsaam nie. Ouers sê: Moenie rook of drink nie, maar kinders rook eers sigarette, later dagga en gebruik nog later sterker dwelms of drink sterk drank. Ouers sê: Moenie vloek en ander lelike goed sê nie, maar kinders vloek en sê baie lelike dinge, selfs laerskoolkinders al. Ouers sê vir groter kinders: Dis nie goed dat jy met daardie kind uitgaan of trou nie, maar kinders gaan uit en trou teen wat ouers sê.
Waar kom hierdie ongehoorsaamheid vandaan? Die duiwel verlei ‘n kind om ongehoorsaam te wees. ‘n Kind doen dan sonde en luister eerder vir die duiwel as vir jou ouers.
‘n Gelowige kind moet in die krag van die Heilige Gees veg teen die duiwel wat jou wil verlei om jou ouers nie te gehoorsaam nie.
Seun, dogter, ken die Here se wil vir jou in jou huis, en doen sy wil: Wees gehoorsaam aan jou ouers.
Here
edreH
Wat is die Here se wil vir ouers?
Die Here gee geloof aan ouers. Hierdie geloof bind ‘n pa en ma aan Jesus Christus vas, sodat ouers as gelowiges saam met Hom en vir Hom leef.
Gelowige ouers mag nie hulle kinders anders behandel as wat die Here wil nie. Wanneer jy as ouer jou kind anders behandel as hoe die Here wil, sal jou kind kwaad en opstandig en moedeloos word.
Hoe wil die Here dan dat julle as ouers julle kinders sal opvoed? Kom ons luister weer na die Here se opdrag: “En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here wil” (Ef.6:4).
Die Here maak sy wil bekend vir ouers, maar ouers doen dit nie. Waarom nie? Die duiwel verlei ouers om aan God ongehoorsaam te wees en kinders nie op te voed soos die Here wil nie. Ouers sondig en luister na die duiwel. Dit mag nie. Ouers moet in die krag van die Heilige Gees veg teen die duiwel wat hulle wil verlei om nie hulle kinders groot te maak soos die Here wil nie.
Ouer, ken die Here se wil vir jou in jou huis en doen sy wil.
Die oplossing vir die gesinskrisisse in ons tyd begin by ‘n Christengelowige ouer en ‘n Christengelowige kind wat vas aan Jesus Christus is en die Here se wil vir jou in jou gesin gehoorsaam.