Home Preke Skarlakenrooi word net sneeuwit omdat Jesus Christus aan die kruis gesterf het

Skarlakenrooi word net sneeuwit omdat Jesus Christus aan die kruis gesterf het

Datum: 2022-04-15
|
Kernverse: Jes.1:18

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.118:1,8

VEROOTMOEDIGING

Gebed

Sang: Ps.130:2,3

VERKONDIGING

Lees: Jesaja 1

Kernvers: Jes.1:18

Tema:

Sang: Ps.118:1,8; Ps.130:2,3; Ps.59:1,5,10; Ps.116:1,5,7,10

Inleiding:

Tema: Skarlakenrooi word net sneeuwit omdat Jesus Christus aan die kruis gesterf het

Ons is vanoggend in ‘n erediens op Goeie Vrydag. Ons kan van Goeie Vrydag praat, omdat Jesus Christus ‘n Kruisvrydag gehad het. Luister saam na wat die Here vir ons hieroor in Jesaja 1 sê.

  1. Sonde maak ‘n mens skarlakenrooi

Juda se sonde

Uit die geskiedenis van hierdie konings se tyd weet ons die volgende:

  • Die konings van Juda –

  • Konings Ussia en Jotam het aan die eenkant gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar aan die anderkant van die Here weggedwaal. Ussia se godsdiens was eiewillig en onder Jotam se regering het afgodsdiens vrylik voortgegaan.

  • Agas was die ergste van al die konings tydens Jesaja se leeftyd as profeet. Hy het onder andere kinders verbrand soos die heidene gedoen het (2 Kron.28:3). Hy het die tempel van die Here verniel en daarna toegsluit. Hy het Juda vrye teuels gegee om sondig te leef. Van Agas word gesê dat hy die Here getart het.

  • Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here. In sy tyd moes die tempel weer opgesluit word, skoongemaak word om weer gebruik te word. Maar ook hy het nie getrou aan die Here gebly nie. Nadat die Here sy gebed verhoor het en hom gesond laat word het, het Hiskia heeltemal van die Here vergeet en vir die koning van Babel se verteenwoordigers net die skatte in sy skatkamers gewys.

  • Die verbondsvolk –

  • Juda was vals in hulle verhouding met die Here. Hulle hande en monde het offers gebring en gebid, maar hulle harte was nie by die Here nie. In hulle harte was daar plek vir baie sonde en baie ander afgode.

  • Die geestelike leiers van die verbondsvolk, die priesterhoofde, priesters en familiehoofde het hulle skuldig gemaak aan opstandigheid teen die Here, diefstal, korrupsie, omkoopgeskenke.

  • Juda het veral die weerlose deel van die verbondsvolk, die weeskinders en die weduwees baie seergemaak en veronreg. Die weerlose deel van die volk is selfs doodgemaak. Oortreding van die sesde gebod was ‘n manier van lewe.

Juda se lewe kan saamgevat word met ontrou en ongehoorsaamheid aan die Here.

Ons sonde

Dit is jammer om te moet sê, maar by verre die grootste deel van ons land is ontrou en ongehoorsaam aan God die manier van leef. Selfs in die kerk is daar ontrou en ongehoorsaamheid.

  •  Ontrou – Vir die Here is trou en ontrou baie belangrik. Luister hoe het Dawid die Here geken: “Maar U, Here, is ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Ps.86:15). Die Here maak Homself bekend as die God wat getrou is. Hy verdra die ontrou van sy verbondskinders en -erfgename nie. Daarom is die so belangrik dat elkeen van ons deur die Heilige Gees ‘n lewe van trou aan die Here en nie ontrou nie, leef! Die vraag is: Wys ek met my lewe dat God vir my die belangrikste is, of bly dit net by woorde?

  • Ongehoorsaamheid – Die Here sien en hoor elke dag hoe elke gebod van Hom in ons land en in sy kerk oortree word. Ongehoorsaamheid aan God het ‘n daaglikse manier van lewe geword.

Skarlakenrooi

Rooi soos skarlaken” en die herhaling “rooi soos purper” wys op Juda se verskriklike sonde voor die Here. Die rooi wys op die geweld en bloed, maar ook op die leed wat Juda mekaar aangegedoen het. Nie net ander mense en veral mense buite die kerk, is skarlakenrooi van sonde nie. Gelowiges in die gemeentes maak mekaar miskien nie fisies dood nie, maar gedagtes en woorde oor ander is vir God ook moord. Die skarlakenrooi is binne die kerk ook.

  1. God tree op teen sonde

Ons kry in Jes.1 al die belangrikste elemente van ‘n regsaak. Die heilige God het ‘n regsaak met Juda gehad oor sonde. Hy het met ons ook ‘n regsaak oor ons sonde.

  • Die Here, ons Verbondsgod is die Regter. Hy lê die klag. Hy gee die uitspraak.

  • Juda destyds en ons vandag is die aangeklaagdes.

  • Daar is ook die getuies.

Ons begin met die GETUIES

Vs 2 – “Hoor, o hemele, en luister o aarde..”. Die Here roep die hemel en die aarde as getuies.

 Die aarde was ‘n baie sterk getuie teen Juda. Sommer daar in Jerusalem het die aarde getuig dat die tempel verniel was, dat baie voorwerpe wat in die tempel moes wees gebreek en weggedra is en dat die deure van die tempel gelsuit was.

Die hemel waar die engele gewoon het, het geweet wat in Juda gebeur en was eweneens ‘n sterk getuie teen Juda.

Verplaas ons die getuiebank destyds na die getuiebank vandag, is die getuies net so sterk, indien nie sterker nie.

Die aarde kan vandag oor twee dinge getuig. Die eerste is hoe kerkgeboue op ‘n Sondag lyk. Is die halfleë kerkgeboue elke Sondag en die vol restaurante en teaters en ander ontspanningsplekke op ‘n Sondag nie ook ‘n sterk getuie teen die verbondsvolk, die kerk van die Nuwe Testament nie?

Die tweede getuienis se bewysstukke is die plastiek en bottels en blikkies in die see, op die strande, in die parke, in die strate en omtrent oral waar ‘n mens beweeg. Hiermee getuig die aarde dat daar onder baie mense nie respek en liefde vir God is nie, want dit is sy aarde wat so verniel word. Die kerk se stem in die wêreld is baie sag en soms heeltemal stil oor die bewaring en bewerking van God se aarde.

In die hemel is Jesus Christus aan sy Vader se regterhand. Hy sien elke hoe elke gebod oortree word in ons land.

Daar is nog meer getuies.

Vs 10 – Die Heilige van Israel noem sy verbondsvolk Sodomsleiers en Gomorrasvolk. Hy roep Sodom en Gomorra in werklikheid ook as getuies! Sodom en Gomorra was verskriklike sondige stede. Abraham het by die Here gepleit om die twee stede te spaar ter wille van tien gelowiges (Gen.18:32), maar daar was nie eers vyf nie. Uiteindelik het die engele vir Lot, sy vrou en twee dogters uit Sodom gevat. Die twee stede en al die inwoners is met vuur en swael uit die hemel vernietig.  Sodom en Gomorra was nog altyd die twee stede wat uitgestaan het vir hulle sonde. Die Here vergelyk Juda met daardie twee stede wat so verskriklik sondig was.

Ons kan sê die lidmate in Christus se kerk leef dikwels ook maar soos die sondige wêreld, sodat die wêreld eintlik ‘n getuie teen die kerk is.

Nou kom ons by die KLAG, in werklikheid meer as een klag.

Vs 2 – “Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar hulle het teen My oortree.” Gelowiges in die Ou en Nuwe Testament is kinders en erfgename van God. Sy kinders behoort aan Hom. Hy verlos hulle. Hy versorg hulle. Hy beskerm sy kinders. Hy gee sy Woord om sy kinders te leer en te lei. Maar Juda en gelowiges vandag steeds, leef  ongehoorsaam aan Hom.

 Vs 3 – Hier gebruik die Here ‘n vergelyking – “’n Os ken sy besitter en ‘n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie.” Toe God alles geskep het, het Hy die eerste twee mense geskep om oor die diere te heers. Ons kan sê Hy het die eerste twee mense oor die diere aangestel. Hoe het die lewe van die mense nie verander nie. Die Here moes sy kinders en erfgename wys op die voorbeeld wat die diere vir hulle gestel het. ‘n Os en ‘n esel ken elkeen sy eienaar, maar die Here se kinders en erfgename in sy genadeverbond ken Hom nie. Dit is verskriklik!

Vs 21Ag, hoe het die getroue vesting ‘n hoer geword! – Die eerste woord van hierdie deel van die klag wys op die tragedie van Juda se sonde. Jesaja gebruik ‘n woord wat gewoonlik gebruik is vir ‘n klaaglied of ‘n klaaggebed wanneer die gelowige in nood uitgeroep het na die Here.

Die Heilige Gees het aan die profeet ‘n klaaglied oor Juda gegee om neer te skryf, want Jerusalem, die stad van Dawid, het ontrou geword. Jerusalem, wys na die inwoners van die stad en die hele land, wat God nie met hulle hele hart liefgehad en gedien het nie.

Oortreding van die Here se gebooie, gebrekkige en soms min kennis van God en ontrou teenoor ons Here, is nie weg uit die kerk van die Nuwe Testament nie. Die Here se klag is vandag nog net so geldig!

 Die Heilige van Israel se UITSPRAAK

In Jes.1:18 hoor ons die uitspraak van die Heilige van Israel, die Verbondsgod:”Kom nou enlaat ons die saak uitmaak, sê die HERE: Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper; dit sal word soos wol.”

Die uitspraak is heeltemal onverwags! Niks wat in die vorige verse staan, gee naastenby die idee dat die Heilige van Israel dit sou sê nie.

Hoe is so ‘n uitspraak moontlik?

Vir die antwoord het ons nodig om na die Nuwe Testament toe te gaan waar ons ook so ‘n verbasende uitspraak kry. Luister hierna: “..want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, maar hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (Rom.3:23,24).

  1. Jesus Christus se dood aan die kruis verander oordeel in genade

In Jes.1:18 het ons die Evangelie van verlossing van sonde reeds in die Ou Testament. Ons wat op Goeie Vrydag 2022 in ‘n erediens saam is, het die Nuwe Testament. Ons kan Rom.3:23,24 en soveel ander dele lees, wat dieselfde sê as wat ons in Jes.1:18 lees en hoor.

Deur Jesus Christus is dit moontlik dat skarlakenrooi in sneeuwit kan verander.

Hoe gebeur dit?

Jesus Christus neem ons sonde op Hom. Hy neem ons ongehoorsaamheid, ons min kennis van sy Vader en ons ontrou op Hom.

Hy verduur die bitterste lyding in ons plek. Hy sterf ‘n wrede en vernederende dood aan die kruis. Deur sy dood dra die Hy volle straf en oordeel wat oor ons moes kom. Deur sy sterwe neem Hy die skarlakenrooi van my sonde heeltemal weg.

Deur Jesus Christus is ek sneeuwit. Ek is verlos, vergewe en vrygspreek!

Jesus Christus se Kruisvrydag is die REDE dat ons vandag Goeie Vrydag kan hê. Vir hierdie wondergenade behoort ons almal die Here met ons hele lewe te dank!

ANTWOORD

Sang: Ps.59:1,5,10

Gebed

Sang: Ps.116:1,5,7,10

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.