Home Preke Sonde bring net ellende, maar bekering bring uitkoms by die Here

Sonde bring net ellende, maar bekering bring uitkoms by die Here

Datum: 2021-10-24
|
Kernverse: Rigters 6:1-6

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lees: Rigters 6:1-6

Inleiding:

Vanoggend begin ons ‘n nuwe reeks uit Rigters 6 tot 8. Hierdie eerste preek gaan oor sonde en die slegte gevolge, die ellende wat sonde veroorsaak, terugkeer na die Here en die uitkoms wat net by Hom is.

Tema: Sonde bring net ellende, maar bekering bring uitkoms by die Here

  1. Die Here laat sonde nie net begaan nie

In die boek Rigters het ons die openbaringsgeskiedenis van die verbondsvolk tussen die tyd dat hulle in Kannaän aangekom het en Josua gesterf het en die tyd van die eerste koning en daarna.

Agter die verbondsvolk se rug het die openbaringsgeskiedenis van die almag en genade van God gelê. Ek wys net op drie geweldige gebeurtenisse.

  • Die eerste – die uittog uit Egipte, veral die laaste nag in Egipte toe die Here elke eersgeborene in Egipte laat sterf het, maar niemand in Israel nie.

  • Die tweede – die almagtige en genadige wonder by die Rooisee toe Israel op droë grond kon deur gaan, maar die Egiptiese wat hulle agtervolg het, leër verdrink het.

  • Die derde – Jerigo se mure het inmekaar geval sonder dat Israel iets hoef te gedoen het.

Daar is nog baie ander wonders wat die Here gedoen het om vir Israel uitkoms te gee. Hierdie is vir vanoggend genoeg.

Ten spyte van al die wonders van God in hulle lewe, die Here se Wet en hulle belofte aan Josua by Sigem dat hulle die Here alleen sal dien, kry ons in Rigters 6 die woorde: “Die Israeliete het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here” (Rigt.6:1).  Tydens hulle lewe in Kanaän het Israel voortdurend die volgende verkeerd gedoen:

  • Hulle het nie die heidense volke uit die land verdryf soos hulle moes nie.

  • Israel het ingegee onder die heidense volke in Kanaän se invloed en dikwels hulle afgode aanbid.

  • Saam met die aanbidding van die afgode het Israel ook deelgeneem aan seremonies wat eie was aan die heidense godsdiens.

  • Onder die heidene se invloed het Israel dan onreg gepleeg teen die weerlose deel van die bevolking soos die kinders sonder ouers en die vroue wie se mans gesterf het.

In Rigters 6 kry ons Israel in ellendige omstandighede. Die Midianiete het van die suidooste gekom.

  • Hulle het Israel se oeste elke keer vernietig.

  • Hulle die diere of weggevoer of doodgemaak en nie een dier lewend agtergelaat nie.

  • Wat hulle in die hande kon kry, het hulle gevat en die land kaal gestroop, sodat Israel heeltemal verarm het.

  • Die Midianiete het elke keer gekom en in Kanaän tent opgeslaan vir ‘n tyd asof die land aan hulle behoort. Na hulle geroof en gesteel en gestroop het, is hulle weer terug na hulle woongebied.

Israel het later langs bergstroompies en in grotte gaan bly. Van die land van melk en heuning was daar niks oor nie.

Niks hiervan het sommer gebeur nie. Die Here het Israel se sonde raakgesien. Hy is barmhartig en genadig, lankmoedig, vol liefde en trou. Maar, Hy is ook die Heilige van Israel wat sonde nie net laat begaan nie.

Dit is baie belangrik dat ons die Here sal ken as die heilige God wat sonde nie net laat aangaan en aangaan nie. Die Christengelowiges in Suid-Afrika en in die wêreld het nodig om hierdie openbaring van God te lees, te hoor, te aanvaar en te glo en te besef wat hierdie waarheid vir ons inhou.

  1. Hy tree teen sonde op t.w.v. sy gelowiges se bekering

Dit is asof mens ‘n lewenspatroon van Israel in Rigters kry: Die volk sondig – die Here laat hulle swaarkry – hulle bid vir genade – die Here beskik ‘n rigter wat die verbondsvolk van die onderdrukkers verlos – vir ‘n tyd leef Israel weer naby God – Daarna sondig hulle weer en doen wat verkeerd is voor die Here. Hierdie kringloop vertel die tragiese mislukking van die verbondsvolk van die Ou Testament.

Die Midinaniete het nie net gebeur nie. Hulle het nie net met hulle kamele gekom en Kanaän geplunder nie. Die Here het Israel, sy verbondsvolk aan die Midianiete oorgegee vir sewe lang jare. Die Midianiete het in Israel se lewe gebeur, omdat die heilige God teen Israel se sonde opgetree het.

Die Here het teen Israel opgetree om hulle in hulle sondige lewe te stuit. Hy wou sy verbondsvolk laat aanhou leef tussen die heidene soos die heidene nie. So ‘n lewe het net een bestemming en dit is die ewige dood. Die Here het teen Israel opgetree, om hulle tot bekering te bring. Hy wou hulle weer naby Hom gehad het.

Dit was die verbondsvolk in die Ou Testament en die Here se optrede teen sy verbondsvolk. Die vraag is: Hoe leef die verbondsvolk van die Nuwe Testament, die kerk van Christus?

In Suid-Afrika het christelike kerke die volgende begin doen:

  • Christene het hulle eie god geskep. Hierdie god het niks met beproewing en swaarkry te doen nie. Hy is net liefde.

  • Christene het soos die wêreld begin leef en God begin dien met ‘n wêreldse godsdiens. Preke en gebede het begin draai om ‘n beter lewe van meer geld, bevordering by die werk en om altyd gesond te word.

  • Suid-Afrikaners het los van God se Woord en sy kerk geraak en dit beteken ook los van God self. Mense leef vandag asof God, sy Woord en sy kerk nie nodig is in hierdie lewe nie.

God is die Ewige en Onveranderlike. Hy sal die sonde van die Nuwe Testamentiese kerk nie net laat aangaan nie. Hy sal teen die sonde van Christene in 2021 ook optree.

Hier moet mens versigtig wees om te beweer dat droogte en Covid-19 die gevolg van sonde is, omdat ons dit in die Ou Testament kry. Daar is sonde wat direk tot moeilike omstandighede lei. Indien iemand drink en bestuur, gevang word en ‘n baie swaar boete kry, is dit straf direk as gevolg van sonde. Ons kan nie vandag sê alle moeilike omstandighede is straf op sonde nie.

Waarom nie?

Dit is baie belangrik om te besef en te glo dat tussen die verbondsvolk van die Ou Testament en die kerk van die Nuwe Testament EEN GROOT VERSKIL IS!

Die verskil is JESUS CHRISTUS WAT GEKOM HET!

  • Jesus Christus het mens geword.

  • Hy het al ons sonde op Hom geneem.

  • Hy het met al ons sonde op Hom in ons plek aan die kruis gesterf.

  • Deur aan die kruis te sterf het Jesus die straf op al ons sonde volmaak gedra en ons skuld voor God volmaak betaal.

  • Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan.

  • Deur sy opstanding het Hy aan ons die nuwe lewe, die ewige lewe met God gegee.

Ons kan nie en ons mag nie teruggaan tot voor die kruisiging en opstanding van Jesus Christus nie. Daarom mag ons nie glo en vir mekaar sê Covid-19 is die Here se straf op sonde nie. Die kruisiging van Jesus Christus was mos genoeg!

Wat ons wel kan en ook moet sê, is dat

  • Die Here ons tugtig om ons op te voed om as opregte Christene te leef (Hebr.12:7). Sy tugtiging maak gewoonlik diep seer, want Hy is ons hemelse Vader..

  • Die Here is besig om ons geloof suiwerder te maak vir die dag van Jesus se wederkoms (1 Pet.1:6,7). Hierdie suiwering van ons geloof brand gewoonlik soos vuur.

Hier is ons by die wondergenade wat ons by God gekry het.

Hy HET REEDS teen ons sonde OPGETREE!

Hy het sy EIE SEUN GEGEE!

Jesus Christus HET REEDS GESTERF EN OPGESTAAN vir ons sonde!

Die Here tree teen sonde op, sodat ons ons kan bekeer en ken lewe.

Hy gebruik moeilike omstandighede in sy skepping om ons op te roep om ons te bekeer.

Hy roep ons deur die Evangelie van Jesus Christus nog dudieliker op om ons te bekeer.

  1. Ons kan altyd weer na die Here terugkeer

Toe Israel baie arm was en baie gesukkel en swaargekry het onder die Midianiete, het hulle gebid. Die woorde in Rigters is “…toe het die Israeliete tot die Here geroep om hulp” (Rigt.6:6).

God is die onveranderlike God wat altyd luister wanneer sy kinders in hulle nood na Hom roep.

Ons kan altyd na God terugkeer.

Terugkeer bestaan uit –

  • Besef van sonde en berou uit die hart oor sonde.

  • Baie sterk ontevredenheid oor sonde. Ons kan selfs sê om ‘n wrewel of haat teen sonde te hê.

  • Wegvlug van sonde en na God toe.

  • Hierdie wat in my hart leef, het ek nodig om vir God in gebed te sê.

Sal God my weer terugneem?

Ek het dan gesondig teen Hom?

Ja, ek kan altyd weer na God terugkeer.

Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het die gordyn voor die Allerheiligste deel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur.

Hierdie skeur beteken dat Jesus deur sy kruisiging die pad na God altyd oopgemaak.

  1. By die Here alleen is daar uitkoms en lewe

Israel se probleme en ellende het begin toe hulle nie meer naby die Here geleef het nie en nie meer net vir Hom geleef het nie.

Hulle het die enigste ding gedoen wat ‘n einde aan hulle swaarkry sou maak. Hulle het in hulle nood na die Here geroep.

Met ons in die Nuwe Testament sal dit nie anders wees nie.

God is ewig en onveranderlik.

Hy alleen kan as Almagtige en Genadige uitkoms gee.

Hy is die lewe. Hy het die lewe. Hy alleen kan lewe gee.

Ons beleef tans moeilike omstandighede in ons land bykans op elke terrein van die lewe.

Covid-19 het in die eerste deel van verlede jaar bygekom om die swaar baie meer te maak.

Van ons leef onder moeilike omstandighede wat gesondheid betref.

Met die Bybel oop en die Evangelie van Jesus Christus wat ons elke week hoor, met die moeilike omstandighede in ons land en in ons persoonlike lewe, is die regte ding om te doen om die Here te soek en aan te roep en Hom al meer te soek en al meer aan te roep in gebed.

DIE HERE LEEF!

By Hom en Hom alleen is daar uitkoms en lewe.

Gebed

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.