ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.135:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Skb.12-2:1,2,3
Lees: Jakobus 2:14-26
Kernverse: Jak.2:14
Tema: Vals geloof is net woorde, ware geloof word dade
Sang: Ps.135:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.86:6; Skb.12-2:1,2,3; Skb.12-2:4,5; Ps.105:1,3,4
Inleiding:
Jakobus, Jesus se broer, is deur die Heilige Gees gelei om ‘n brief aan die vroegste Christene uit die Jode te skryf. God het hierdie brief bewaar laat bly. Die Heilige Gees het Jesus Christus se kerk gelei om hierdie brief in sy Woord op te laat neem as een van die 66 boeke van die Bybel. Die Gees het dit laat gebeur, sodat ook ons kan lees en glo en doen wat God sê.
Doen wat God sê, is waaroor die brief van Jakobus gaan. Vir Christene wat Jesus Christus reeds in ons lewe het, skryf Jakobus, sê God: Opregte geloof is geloof wat doen. Hier is ons by die kern van Jakobus se brief. Hierdie waarheid dat geloof wat waar en eg is in dade wys, was in die eerste eeu n.C baie belangrik en is vandag steeds baie belangrik.
Tema: Vals geloof is net woorde, ware geloof word dade
“Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?” Met hierdie vraag, eintlik twee vrae begin Jakobus hierdie deel van sy brief.
Hierdie vrae het nie sommer uit die lug geval nie. Jakobus het deur die Heilige Gees in die lewe van die vroegste gelowiges iets raakgesien. Hy het gesien dat baie mense gesê het dat hulle gelowig was.
Dit was goed en reg. Om te sê dat ek glo, is baie belangrik. Een van die bekendste dele in die Here se Woord hieroor is Rom.10:9 – “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.”
Woorde wat sê dat ek glo, my geloofsbelydenis met my mond dat ek in Jesus Christus glo, is baie belangrik. Wanneer ek met my hart glo en my geloof bely, word ek gered. Paulus het hierdie brief geskryf om die Christene in Rome te wys en te leer dat ‘n mens nie deur wat jy self doen, gered word nie. Jy word net gered deur geloof in Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het. Hierdie geloof gee die Heilige Gees in ‘n mens se hart. Die Gees laat ‘n mens ook hierdie geloof bely.
Jakobus het aan ander lesers oor iets anders geskryf. Hy het in sy brief geleer dat ‘n mens nie net kan sê dat jy in Christus glo, maar jou lewe wys nie jou geloof nie. Geloof kan nie net woorde wees nie.
Paulus en Jakobus skryf nie die teenoorgestelde van mekaar nie. Ek noem dit vir die gelowige leser wat dalk wonder oor Paulus wat skryf “net geloof” en Jakobus wat skryf “geloof moet dade word”.
Terug by Jakobus se vrae. Jakobus het onder die eerste gelowiges gesien dat hulle geloof dikwels net by woorde gebly het. Dit was nie reg nie. Deur die Heilige Gees gelei, het hy hierdie deel geskryf wat met hierdie twee vrae begin.
Die vrae is so geskryf dat daar elke keer net een antwoord op die vraag is. Die antwoord is: Nee, ‘n geloof wat net by woorde bly en nie deur dade bevestig word nie, help ‘n mens niks. So ‘n geloof kan ‘n mens nie red nie.
In vs 15 en 16 gee Jakobus ‘n voorbeeld van geloof wat net by woorde bly. Indien iemand in die gemeente nie klere het nie en ook nie kos nie, sodat so ‘n medegelowige honger ly, en die ander gelowiges wens so iemand die beste toe en sê: Gaan trek warm klere aan en eet genoeg kos, maar gee nie klere of kos wat nodig is nie, dan help daardie woorde niks. Dit bly leë woorde wat niks beteken nie.
So is geloof wat net by woorde bly, dood. ‘n Geloof van net woorde is ‘n vals geloof. ‘n Vals geloof is eintlik maar dood en beteken niks.
Jakobus het verder geskryf dat iemand kan sê: Dit mag so wees, maar een persoon het geloof en die ander weer dade. Persone verskil mos van mekaar. Jakobus se antwoord is: “Goed, wys my jou geloof wat sonder dade is…” (vs 17 se eerste deel). Geloof wat sonder dade is, kan so iemand nie wys nie, want dit is ‘n vals geloof, geloof wat dood is. Geloof wat dood is,het nie dade nie. Trouens, die duiwels het ook so ‘n geloof sonder dade en hulle sidder van angs vir God (Jak.2:19).
Hoe ver is hierdie manier van doen van ons af – geloof wat net by woorde bly? Dink maar hoeveel keer word daar nie vir mense mooi woorde gesê nie soos “baie sterkte” of “laat weet as julle enigiets nodig het”. Dit is woorde wat klink of hulle uit ‘n gelowige hart kom, maar die dade wat uit die gelowige hart moet kom, ontbreek. Hierdie woorde verskil nie van die wat Jakobus in sy voorbeeld gebruik het nie.
Nog ‘n voorbeeld: Die woorde wanneer ‘n gelowige belydenis van geloof aflê, is baie mooi en diep woorde. Maar wanneer iemand se geloof net by daardie woorde daardie dag bly, het so ‘n lidmaat ‘n vals en dooie geloof.
Elkeen van ons sal goed doen, indien ek weer daardie woorde van belydenisaflegging gaan lees en my lewe in die gemeente daaraan meet.
God vra van my meer as woorde, want geloof wat net by woorde bly is vals en dood.
2. Daar is ware geloof
Jakobus het deur die Heilige Gees ook oor ware geloof geskryf. Dat ware geloof in mense se harte bestaan, is nie net woorde nie. Dit is die waarheid. Jakobus skryf oor twee bekende mense in die OT. Hierdie twee mense het geloof gehad. Hulle geloof het nie net by woorde gebly nie. Hulle geloof in God het dade geword. Hulle dade het gewys dat hulle geloof waar en eg was. Geloof wat waar en eg is, is geloof waardeur ek gered word.
Die eerste voorbeeld is Abraham – Jakobus gebruik die deel van Abraham se lewe toe hy sy seun, Isak mos gaan offer het. Ons kry die geskiedenis in Gen.22. Net toe Abraham sy seun om die lewe wou bring, het God gesê: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie! Nou weet Ek dat jy my dien: Jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie” (Gen.22:12). Uit Hebr.11:17-19 weet ons dat Abraham bereid was om Isak aan die Here te offer, omdat hy vas geglo het dat God Isak lewend aan hom sou teruggee. Abraham het sy geloof gewys in sy gehoorsaamheid aan God en sy liefde vir God wat meer was as sy liefde vir sy eie seun. Abraham se geloof was ware geloof wat gewys het in wat hy gedoen het.
Die tweede voorbeeld is Ragab – Ragab was ‘n heidense Kanaänitiese vrou. Sy was verder ook ‘n prostituut wat haar liggaam vir geld verkoop het. Sy het gehoor hoe die Here die water van die Rooisee laat opdroog het en Israel se oorwinning oor konings Sihon en Og. Ragab het vir die verkenners van Israel wat by haar geskuil het, gesê: “Ek weet die Here gee vir julle hierdie land” (Jos.2:9). Dit was woorde van geloof.
Haar geloof het nie net by woorde gebly nie. Sy het twee verkenners van Israel weggesteek teen die koning van Jerigo se soldate. Sy het verder ‘n tou uit haar venster teen die muur laat afsak as die teken wat sy met die verkenners van Israel afgespreek het en sy het haar familie in haar huis gehou, in die geloof dat hulle lewens gespaar sal bly tydens die inval van Jerigo. Ragab se geloof was ware geloof wat in haar dade gewys het. Dat haar dade gewys het dat haar geloof waar en eg was, en sy deur haar geloof gered is, word duidelik wanneer ons in Mt.1:5 lees dat Ragab opgeneem is in die geslagsregister van Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser.
Om die eerste lesers van sy brief destyds en ons vandag te leer wat die twee voorbeelde van Abraham en Ragab beteken, het Jakobus die woorde van vs 22 en 24 geskryf. Dit is twee verse wat ‘n mens saam moet lees en saam moet verstaan en glo.
Die verse beteken die volgende: Abraham se geloof waardeur hy gered is, het met dade gepaard gegaan. Die dade het gewys dat sy geloof waar en eg was. Dit is vs 22. Daarom is die volgende uit Abraham en ook uit Ragab se lewe duidelik: ‘n Mens word vrygespreek op grond van dade, dit is dade wat wys dat geloof waar en eg is, en nie net op grond van geloof nie, dit is geloof sonder dade wat vals en onegte geloof is. Dit is vs 24.
Ware geloof is ‘n werklikheid. Die Heilige Gees wys ons hoe ware geloof lyk in Jakobus se brief se tweede hoofstuk. Ware geloof word dade en bly nie net by woorde nie.
3. Die geloof wat ek het
Wanneer ek Jakobus se brief lees, moet ek daarby uitkom om selfondersoek te doen en te vra: Watter geloof het ek? Daar is vals geloof en daar is ware geloof. Watter een van die twee is die geloof wat ek het?
Onthou die vrae aan die begin van hierdie deel: Dit help nie ek sê dat ek ware geloof het, maar ek het nie die dade wat wys dat ek glo nie.
Vals geloof is die geloof van woorde. Die duiwels het ook so ‘n geloof – vals en leeg en dood.
Ware geloof begin by die band met Jesus Christus wat vir my gesterf en opgestaan het. Die Heilige Gees gee vir my ware geloof in die gekruisigde Jesus Christus wat vir my ook uit die dood opgestaan het, sodat ek nie meer verlore sal gaan nie, maar gered is en die ewige lewe het.
Hierdie ware geloof lê nie net stil hier binne my nie.
Ware geloof leef!
Ware geloof doen!
Watter dade doen iemand met ‘n ware geloof? Daar is soveel om op te noem. Die Bybel is vol hiervan –
Die Ou Testament: Die Tien Gebooie in Eks.20 en Dt.5 en die Here se wet in Lev.19 waarna ons gereeld luister.
Die Nuwe Testament: Die Bergrede van die Here Jesus in Mt.5-7, Ef.4-6 en die hele brief van Jakobus, en nog meer.
Jakobus het ware geloof gehad. Hy het gedoen. Hy het hierdie brief met die Heilige Gees se hulp geskryf.
En ek? As ek sê dat ek ‘n ware geloof het, sal ek deur die Gees dade moet doen wat my geloof wys. My geloof sal moet wys, want vals geloof bly net by woorde, terwyl ware geloof dade word.
ANTWOORD
Sang: Skb.12-2:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.105:1,3,4
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen