Home Preke Van al die mense wat geroep is, sal net ware gelowiges salig wees in die koninkryk van die hemel.

Van al die mense wat geroep is, sal net ware gelowiges salig wees in die koninkryk van die hemel.

Datum: 2022-08-14
|
Kernverse: Mt.22:14

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.45:1,3,16

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.43:3

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.59:1,5,10

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.33:6,7

Lees: Matteus 22:1-14

Kernvers: Mt.22:14

Tema: Van al die mense wat geroep is, sal net ware gelowiges salig wees in die koninkryk van die hemel.

Sang: Ps.45:1,3,16; Ps.43:3; Ps.59:1,5,10; Ps.33:6,7; Ps.31:15,17,19; Ps.84:3,6

Inleiding:

Vanoggend is ons Voorbereidingserediens. Dit is ‘n belangrike erediens. Ons is met hierdie erediens besig om vir nagmaal gereed te maak. Die Here se Woord is by ‘n gelykenis oop, die gelykenis van die bruilof wat die koning vir sy seun gereedgemaak het. Jesus het gelykenisse gebruik om geheime van die koninkryk van die hemel bekend te maak. Hier is die tweede rede waarom vanoggend se erediens baie belangrik is. Vanoggend se geheim is die tema vir die preek.

Tema: Van al die mense wat geroep is, sal net ware gelowiges salig wees in die  koninkryk van die hemel.

  1. Die koninkryk van die hemel is soos ‘n bruilofsfees

Die gelykenis gaan oor die koninkryk van die hemel. Jesus het vertel dat dit met die koninkryk is soos ‘n koning wat vir sy seun ‘n bruilofsfees voorberei het.

Ons kyk na twee belangrike woorde: Koning en bruilofsfees.

Die koninkryk van die hemel is waar God in die harte van almal wat aan Hom behoort, regeer. Hy regeer deur sy Woord en sy Gees. Sy regering deur sy Woord en sy Heilige Gees gee aan ‘n mens ‘n wedergebore hart en saligmakende geloof. Jesus Christus het presies geweet wat die koninkryk van die hemel is, daarom het Hy in die gelykenis die beeld van ‘n koning gebruik.

Jesus het dikwels ook in gelykenisse die koninkryk van die hemel met ‘n bruilof vergelyk (Mt.9:15; Lk.14:16, Mt.25:1-13). Daar is ‘n rede voor. By ‘n bruilof gaan dit oor die band tussen die bruid en die bruidegom. Die verhouding tussen die gasheer en die gaste is ook belangrik. Die gasheer nooi die gaste met wie hy ‘n band het. Dan is ‘n bruilof ‘n feesgeleentheid waar mense gewoonlik baie bly en vol vreugde is.

Om verloste gelowiges te wees wat salig is en op wie volmaakte saligheid in die hemel wag, maak dat gelowiges nou reeds harte vol vreugde het. Hierdie vreugde sal volmaak wees, met die ewige bruilofsfees in die hemel.

In die koninkryk van die hemel is daar ‘n besondere band tussen Jesus Christus en die gelowiges wat in Hom glo. Hierdie band kom deur die Heilige Gees en dit is ‘n ewige band.

Dan is daar ‘n ewige band tussen God en almal wat aan Hom behoort. Hy wil sy kinders en erfgename by Hom hê, nou reeds en in ewige hemelse heerlikheid.

Om onder God se regering met liefde vir Hom en gehoorsaamheid aan Hom te leef, is nie ‘n swaar plig nie. Dit behoort ‘n lewe van vreugde te wees, soos die vreugde van ‘n bruilofsfees.

  1. Mense word geroep om deel van die koninkryk te wees

Die koning het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep. Destyds het die uitnodigings so gebeur:

  • Eers het die gasheer, in hierdie gelykenis, die koning, ‘n uitnodiging na al die gaste laat uitgaan. Hulle moes antwoord. In die gelykenis het hulle waarskynlik geantwoord dat hulle sou kom.

  • Wanneer al die voorbereidings getref is en die bruilof gereed was, het die slawe die genooides gaan roep. Presies so het Jesus vertel. Die slawe moes vir die genooides sê dat die beeste en vetgemaakte vee geslag is en alles vir die bruilof gereed was (Mt.22:4).

Tot sover die gelykenis. Nie elke besonderheid in elke gelykenis het ‘n spesiale betekenis nie. Hier is dit ook so. Die belangrike is dat die koning gaste genooi het.

Die genooides in die gelykenis is in die eerste plek Israel en Juda. Hulle was die verbondsvolk in die Ou Testament. Later was net Juda van die verbondsvolk oor die tyd toe Jesus op aarde was en die gelykenis vertel het.

Hoe is die verbondsvolk geroep om in die koninkryk van die hemel te wees?

Die profete in die Ou Testament het met God se Woord na die verbondsvolk gekom en elke keer gesê: So sê die Here. Die kern van die profete se boodskap was dat Israel in God moes glo, Hom liefhet en gehoorsaam. So ‘n lewe naby God het gepas by gelowiges in die genadeverbond.

In die Nuwe Testament het Johannes die Doper gekom en die weg vir die Verlosser voorberei. Johannes het gepreek dat die verbondsvolk hulle moes bekeer.

Na Johannes het Jesus self begin optree en geleer en gepreek deur sy woorde en wondertekens dat Hy die Verlosser was wat gekom het om sondaars te red, sodat elkeen wat glo in die koninkryk van die hemel sal wees.

Met Jesus se koms, is ook mense buite Juda geroep, die Samaritaanse vrou byvoorbeeld.

Veral na die koms van die Heilige Gees op Pinkster, het dit duidelik geword dat mense tot in die uithoeke va die aarde deur die Evangelie van Jesus Christus geroep sou word om in Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, te glo.

Ons vandag word geroep deur God se Woord, die Evangelie van Jesus Christus wat gekruisig is en uit die dood opgestaan het, wat elke Sondag gepreek word.

  1. Mense reageer verskillend op die roep wat uitgaan

Eers weer by die gelykenis.

Toe die koning se slawe die genooides wat geantwoord het dat hulle na die bruilof sou kom, geroep het, het hulle hulle nie aan die roep gesteur nie. Sommige van die genooides het na hulle eiendomme toe gegaan. Ander het na hulle werkplekke toe gegaan. Nog genooides het kwaad geword vir die slawe, hulle gegryp, mishandel en selfs doodgemaak.

Hierdie woorde in die gelykenis wys op die verbondsvolk wat nie luister na God se bood-skappers nie. Die verbondsvolk het nie besef wie God regtig is nie. Hulle het ook nie besef hoe belangrik sy Woord wat die profete gepreek het, is nie. Daar was ander dinge wat vir Israel en later Juda belangriker was. Die tempel en die wette in die Ou Testament was belangriker as die oproep om in God te glo.

Jeremia is ook op ‘n stadium in tronk gesit (Jer.37). Stefanus is doodgemaak (Ha.7).

Die verbondsvolk van die Ou Testament kan ons sê, is die kerk van die Nuwe Testament. Die gelykenis stel die kerk voor die vraag; Hoe antwoord die kerk op die Evangelie van Jesus Christus wat die kerk elke Sondag hoor? ‘n Tweede vraag: Hoor die kerk nog die Evangelie?

Veral met ons voorbereiding vir nagmaal is hierdie vrae belangrik. Elkeen in ons gemeente het nodig om ‘n antwoord te gee of ons God se Woord regtig hoor en verstaan en met ons hele hart glo.

  1. Uiteindelik sal net ware gelowiges salig wees

Eers weer die gelykenis.

Toe die genooides hulle so sleg gedra het nadat hulle geroep is, het die koning kwaad geword. Hy het baie streng teen hulle opgetree.

Die koning het meer gedoen. Hy het sy slawe uitgestuur na die straathoeke om soveel mense moontlik te nooi. Die slawe het die opdrag gehoorsaam en almal wat hulle gekry het bymekaar gemaak, sodat die feessaal vol gaste geword het.

Hierdie deel van die gelykenis beteken dat aangesien Israel die genade in hulle lewe nie besef het nie en die evangelie van die gekruisigde Jesus nie geglo het nie, het die boodskap van verlossing na die hele wêreld uitgegaan. Die apostels moes dissipels van al die nasies maak (Mt.28:19) en getuies vir Jesus Christus wees tot aan die uithoeke van die aarde (Ha.1:8). Baie heidene wat in die oë van Israel en Juda minderwaardig en sondig was, het die Evangelie gehoor en geglo. Hulle het deur hulle geloof in Jesus Christus in die koninkryk van die hemel gekom. Elkeen wat hoor en glo, leef in die koninkryk van die hemel onder God se regering, sy sorg en sy liefde.

Die gelykenis sluit af met die koning wat na sy gaste kom kyk. Hy sien ‘n man sonder bruilofsklere aan. Die uiteinde was dat die koning vir sy dienaars opdrag gegee het om die man se hande en voete vas te bind en hom in die diepste duisternis buite die bruilofsaal moes gooi.

Destyds het die gasheer self die bruilofsklere (83 vert) of dan die bruilofskleed (53 vert) voorsien. Die gaste by die bruilof het dus uit eerbied vir die koning en onder sy sorg en goedheid die bruilofsklere aangetrek wat hy gegee het, om in te gaan na die fees.

Die betekenis hiervan is dat baie in Israel en Juda deel van die verbondsvolk wou wees, maar hulle wou hulle nie bekeer en in die regte verhouding met die Verbondsgod leef nie.

Vandag beteken hierdie deel van die gelykenis dat daar iemand in die gemeente is wat deel van die gemeente wil wees, gedoop wil word, wil katkiseer en belydenis aflê en nagmaal gebruik, maar nie ‘n lewe van opregte geloof en ware bekering wil leef nie en daarom nie ‘n lewende geloofsverhouding met God wil hê nie. So iemand wil in al die goeie dinge van die kerk deel, maar wil nie opreg in Jesus Christus glo nie. So iemand wil ook nie naby God en vir Hom as ‘n verloste gelowige nuut volgens sy wil leef nie. Vir so iemand wag daar net die ergste oordeel.

Die kernbetekenis van die gelykenis kry ons in Jesus se woorde aan die einde: “Baie is geroep, maar min is uitverkies” (vs 14). Hierdie woorde beteken:

  • God roep baie mense deur sy Woord, die Evangelie van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het.

  • Net die mens wat die geskenk van ware geloof by die Heilige Gees gekry het en ‘n lewe van bekering geleef het, sal salig in die koninkryk van die hemel wees.

Volgende Sondag, as die Here wil, vier ons nagmaal. Vir elkeen met ‘n ware geloof in Jesus Christus en wat ‘n lewe van bekering leef, sal nagmaal regteg betekenis het.

ANTWOORD

Sang: Ps.31:15,17,19

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.84:3,6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.