Home Preke Van Pasga tot Nagmaal en van Nagmaal tot in my hart

Van Pasga tot Nagmaal en van Nagmaal tot in my hart

Datum: 2022-05-22
|
Kernverse: Lk.22:7,8,14,19,20

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.118:1,12

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Sb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.86:6

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.45:1,5,6

Lees: Lukas 22:7-23

Kernverse: Lk.22:7,8,14,19,20

Tema: Van Pasga tot Nagmaal en van Nagmaal tot in my hart

Sang: Ps.118:1,12; Sb.12-3:1,2; Ps.86:6; Ps.45:1,5,6; Ps.145:9; Tafel – Ps.105:1,2,3,4,5; Ps.145:10,11,12

Inleiding:

 Nagmaal is ‘n geskenk van Jesus Christus aan sy gelowiges. Met hierdie geskenk wil Jesus Christus sy kerk, sy gelowiges se hart raak, sodat ons geloof in Hom nog meer en nog dieper sal groei.

Tema: Van Pasga tot Nagmaal en van Nagmaal tot in my hart

  1. Pasga was baie belangrik vir Juda

Die hoofstuk waar die Bybel vanoggend oop is, en die deel waarna ons geluister het, begin by die pasga. Pasga was naas die Groot Versoendag die belangrikste godsdienstige geleentheid vir Juda. Met die fees het die Jode die grootste gebeurtenis in hulle geskeidenis herdenk.

Die Here self het in fyn besonderhede die voorskrifte gegee hoe die pasga gevier moes word. Hiervan lees ons in Eks.12:1-28. Die Here, ons Verbondsgod het al die voorskrifte vir pasga so noukeurig gegee, want die uittog uit Egipte was vir die verbondsvolk baie belangrik. God se genade het die uittog moontlik gemaak. Die uittog was verder verlossing van die heidense sondige land en verlossing uit die dood. Met pasga het die verbondsvolk hulle verlossing uit Egipte deur God se genade herdenk.

In Lk.22 is ons by pasga in Jerusalem daardie jaar. Op die dag van die ongesuurde brood, dit is die dag waarop die ete vir pasga gereedgemaak moes word. Die skaaplam, die ongesuurde brood, die wyn, die sous en die bitter kruie moes alles voorberei word.

Jesus het sy dissipels, Petrus en Johannes gestuur om die ete in ‘n sekere huis voor te berei. Hulle sou iemand in die stad raakloop, ‘n man wat ‘n kruik water dra. Die man sou hulle ‘n huis wys. Petrus en Johannes moes die eienaar van die huis vra waar Jesus met sy dissipels die paasmaaltyd kan eet. Die huiseienaar sou hulle ‘n groot bovertrek, dit is ‘n vertrek op die dak van die huis, wys. Daar moes Petrus en Johannes al die voorbereidings vir die ete tref.

Hierdie is meer as net geskiedenis wat ons lees. Ons kan die volgende belangrike waarhede in Lk.22 kry:

  • Jesus Christus gehoorsaam sy Vader en Hy leer sy dissipels om ook gehoorsaam te wees. Elke Christengelowige het nodig om by Jesus te leer hoe belangrik gehoorsaamheid aan ons Vader in die hemel is.

  • Die pasga was nog deel van die skadutyd, om Paulus se woorde in 2:17 te gebruik. Maar, Jesus het die pasga nie net gelos nie. Hy het sy dissipels gehelp en gelei om van die skadutyd, die tyd van die Ou Testament, die Ou Verbond oor te gaan na die werklikheid, die tyd van die Nuwe Testament, die Nuwe Verbond.

  • Ons wat die Nuwe Testament het, kan met dankbaarheid in ons harte die Ou Testament lees. Met die Heilige Gees in ons kan ons verstaan, besef en glo dat God deur Jesus Christus al die beloftes en simbole van die Ou Testament deur Jesus Christus waar gemaak het. Die Nuwe Testament vertel ons van God se genade, sy liefde en sy trou teenoor almal in sy genadeverbond.

  1. Jesus Christus verander pasga heeltemal

Tydens pasga was daar vier bekers wyn wat rond gestuur is. Jesus het presies by die bepalings wat sy Vader gegee het, gebly.

Maar…..by die derde beker, die beker van danksegging het alles verander! Voor die beker het Jesus die brood geneem. Hy het die brood gebreek en vir die dissipels gegee. Terwyl Hy die brood gegee het, het Jesus die volgende gesê:

“Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis” (vs 19). Die brood wat Jesus gebreek het, was die ongesuurde brood. Die suurdeeg moes weg uit die brood, om uit te beeld dat die verbondsvolk hulle moes afskei van ‘n sondige lewe. Toe hulle uit Egipte weg is, was hulle weg van die heidense en sondige lewe in Egipte, wat rondom hulle was. Maar hulle was nie weg van die sonde in hulle nie. Uit Egipte op pad na Kanaän het die verbondsvolk steeds gesondig.

Wanneer Jesus die brood breek, uitdeel en sê: “Dit is my liggaam” is die tyd van die ongesuurde brood verby. Jesus het sy dissipels, dit is sy kerk, vertel en geleer dat sy liggaam wat gebreek sou word, sonde sou wegneem. Ons weet uit die res van die evangelie wat Lukas geskryf het en die ander evangelies dat Jesus sy liggaam aan die kruis gegee het en gesterf het vir ons sondes.

Nadat hulle die brood geëet het, het Jesus die beker van danksegging geneem. Hy het die beker met wyn uitgedeel met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond, verseël deur my bloed wat vir julle vergiet word” (vs 20). Met hierdie woorde van Hom, het Jesus ‘n einde aan die paaslam wat vir pasga geslag en geëet is, gebring. Hy het in werklikheid ‘n einde aan die pasga gebring.

Ons kan sê Jesus Christus het die pasga heeltemal verander. Hy het ‘n einde aan die pasga gebring. Met Jesus wat sy liggaam en bloed aan die kruis gegee het, het die tyd van die pasga tot ‘n einde gekom.

Hierdeur het Jesus gewys dat die verlossing uit Egipte vooruit gewys het na die werklike verlossing. Die werklike verlossing is dié van sonde en die dood. Hierdie verlossing kom deur Jesus Christus wat sy liggaam en bloed, dit is sy lewe gegee het.

  1. Hy gee nagmaal vir sy gelowiges

Wat het daardie aand in die bovertrek van die huis in Jerusalem waar Jesus en sy dissipels saam aan tafel was, gebeur?

Jesus Christus het die pasga heeltemal verander. Hy het die skadutyd van die pasga tot ‘n einde gebring. Ons kan sê wanneer Jesus Christus, God se Seun op die toneel verskyn, wanneer Hy teenwoordig is, bly niks dieselfde nie.

Jesus het daardie aand in die bovertrek nie net die pasga van die ou verbond tot ‘n einde gebring nie. Hy het die nagmaal van die nuwe verbond begin. Ons kan sê dat Jesus nagmaal vir sy gelowiges gegee het.

Daardie aan, die laaste aand voor sy kruisiging die volgende dag het Jesus hierdie belangrike geskenk vir sy gelowiges in die nuwe verbond gegee.

Ons elkeen het nodig om dit van nagmaal te weet, te besef en te glo: Ons het hier ‘n geskenk wat ons by ons Verlosser gekry het. Jesus Christus het nagmaal vir ons gegee uit liefde en uit genade.

“Gebruik dit” het Jesus gesê (vs 19). Sy woorde is ook vir ons gemeente bedoel. Jesus wil hê dat sy gemeente, sy gelowiges nagmaal sal gebruik. Ons gemeente het nagmaal, want Jesus Christus, God se Seun wil hê ons moet nagmaal gebruik.

  1. Die belangrike tydens nagmaal is wat in my hart gebeur

Jesus het gesê dat sy gelowiges nagmaal moet gebruik. Maar Hy het meer gesê as dit. Sy woorde was: “Gebruik dit tot my gedagtenis” (vs 19). Lukas het in Grieks in werklikheid geskryf “Doen dit tot my gedagtenis”. Lukas het die woord “doen” so geskryf dat dit beteken “doen dit gedurig tot my gedagtenis”. Jesus wil hê dat ons sal aanhou om nagmaal te gebruik.

Maar om nagmaal te gebruik is nie net om uiterlik die brood te eet en die wyn te drink nie. Nagmaal wat Jesus vir ons gegee het, is baie meer as net brood en wyn. Ek kan nagmaal net tot Jesus Christus se gedagtenis gebruik, indien iets in my binnekant gebeur.

Wat behoort met nagmaal te gebeur?

  • Ek het nodig om met my hart vas en seker te glo dat Jesus Christus sy liggaam en bloed vir my gegee het.

  • Wanneer ek die brood en die wyn met nagmaal sien of gebruik het my hart nodig om uit te gaan na Jesus Christus wat vir my aan die kruis gesterf het.

  • My hart het nodig om vol te word van my Verlosser en wat Hy vir my gedoen het.

  • My hart het nodig om te brand van geloof in Jesus wat sy liggaam en sy bloed vir my gegee het.

  • My hart behoort te verlang, te hunker om in die hemel saam met Jesus Christus nagmaal te vier.

Niks van hierdie noodsaaklike dinge gebeur sommer net nie. Ek het nodig om met ‘n gebed nagmaal toe te kom. Ek het nodig om die Heilige Gees in my gebed te vra om my hart vol te maak met Jesus Christus, sodat ek nog nader aan Hom en nog meer vir Hom wil leef.

Wanneer ek so, met die Heilige Gees in my, met my hart vol van Jesus Christus, by nagmaal is, sal ek nagmaal tot my Verlosser se gedagtenis gebruik, soos Hy daardie eerste aand van sy gelowiges gevra het.

Nagmaalformulier

Sang voor Nagmaal: Ps.145:9

Sang tydens Nagmaal: Ps.105:1,2,3,4,5

Voltooiing van die Nagmaalformulier

ANTWOORD

Sang: Ps.145:10,11,12

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.