Jesus Christus, ons Here, het regtig opgestaan! Mens kan of in verleentheid wees oor Jesus se opstanding of jy kan vol verwondering daaroor wees. Destyds met Jesus se opstanding was daar verleentheid en daar was verwondering. Vandag is dit steeds so. Kom ons kyk vanoggend in die lig van God se Woord na die Here Jesus se opstanding en ons maak ons geloof en ons getuienis nog vaster oor hierdie baie belangrike waarheid in elkeen van ons se lewe….die waarheid dat Jesus Christus opgestaan het uit die dood.
Tema: Van verleentheid tot verwondering
Jesus is die Vrydag gekruisig. Die Saterdag was die Joodse Sabbat en almal het die Sabbat onderhou. Vroeg die Sondagoggend, toe die Sabbat verby was, het ‘n groep vroue na Jesus se graf gegaan om soos die gewoonte was, sy liggaam te gaan balsem en te versorg. Op pad het hulle nog gewonder hoe hulle in die graf sal kan inkom, want ‘n groot klip het die ingang van die graf toegemaak (Mk.16:3.)
By die graf aangekom, het hulle gesien die klip was reeds weggerol. Hulle het ingegaan en die graf leeg gekry. Jesus se liggaam was weg. Daar het die vroue in verleentheid gestaan en nie geweet wat om te dink of te doen nie.
Nadat die engele vir hulle verduidelik het wat gebeur het, en hulle Jesus se woorde onthou het, het hulle vinnig teruggegaan en alles wat hulle gesien en gehoor het vir die elf dissipels en die ander gelowiges wat Jesus gevolg het, vertel.
Vir die dissipels het dit wat die vroue vertel het, na onsin geklink. Hulle het die vroue se verhaal gehoor, maar dit nie geglo nie. In hulle oë kon dit wat die vroue gesê het, eenvoudig net nie waar wees nie. Hier was ook verleentheid, want medegelowiges het ‘n leuen vertel en dit oor iets so belangrik soos Jesus se opstanding!
Hierdie verleentheid oor Jesus se opstanding is ongeveer 2000 jaar gelede ervaar. Hoe staan sake vandag, wanneer dit by die opstanding van Jesus kom?
Daar is natuurlik die mense wat nie Christene is nie, wat hulle nie steur aan Jesus se kruisiging en opstanding nie. Dit gaan in vanoggend se preek nie oor hierdie mense nie. Die vraag is hoe staan sake by die kerk wanneer dit by die opstanding van Jesus kom?
‘n Deel van die kerk aanvaar gelowig, sonder enige twyfel dat Jesus uit die dood opgestaan het. Die kerke en die kerkverband waaraan ons behoort, die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika, glo vas dat Jesus uit die dood opgestaan het. Ons bely dit baie keer in ons Belydenisskrifte (NGB art.19, 20,26, Heidelbergse Kategismus Sondag 17.)
Maar ‘n deel van die Christelike kerk is in verleentheid oor Jesus se opstanding. Daar is Afrikaanssprekende professore in Teolgie en predikante en lidmate in Pretoria vir wie die geloof dat Christus uit die dood opgestaan het, ‘n verleentheid is. Die deel van die kerk se argument is, dat ons weet dit is biologies onmoontlik om uit die dood uit op te staan. Daarom het Jesus nie werklik liggaamlik uit die dood opgestaan nie. Dit kon wetenskaplik nie gebeur het nie, daarom het dit nie regtig gebeur nie.
En jy?
Hoe dink jy en hoe glo jy oor Jesus se opstanding?
Die vroue se eerste verleentheid het daardie oggend gou oorgegaan in verwondering toe hulle Jesus se woorde onthou het. Die engele het hulle aan Jesus se woorde herinner: “Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het: ‘Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word en op die derde dag opstaan?’” (Lk.24:6,7.)
Hier sien ons die rede vir die verleentheid oor Jesus se opstanding by sommige mense. Hulle onthou nie God se Woord nie. Wanneer mens God se Woord nie ken nie en nie onthou nie, dan maak die leë graf, dan maak Jesus se opstanding nie sin nie. Jy weet nie wat gebeur het nie. Jy staan in verleentheid.
Maar……..wanneer mens die Woord van God ken oor Jesus se verlossingswerk, wanneer mens sy Woord onthou, wanneer mens sy Woord ter harte neem, dan is daar geen verleentheid nie!
Verleentheid maak dan plek vir verwondering!
Toe die vroue God se Woord onthou het, het hulle opgewonde en vinnig teruggegaan. Matteus vertel dat hulle terug gehardloop het, om te gaan vertel dat Jesus opgestaan het (Mt.28:7.) Dieselfde het met Petrus en die ander dissipels gebeur. Toe hulle gesien en besef het God se Woord is waar en Jesus het regtig opgestaan, was hulle vol verwondering wat gebeur het. Hulle verwondering het gemaak dat hulle onder mekaar en aan ander vertel het dat Jesus opgestaan het!
Hierdie verandering van verleentheid tot verwondering kom van die Heilige Gees af. Die Heilige Gees werk deur die Woord van God in ‘n mens. Hy gebruik die Woord om jou te laat glo in Jesus wat gesterf en opgestaan het. Hy laat jou glo dat Jesus vir jou opgestaan het, sodat jy die nuwe lewe, die ewige lewe kan hê!
Wanneer ‘n mens deur die Heilige Gees glo dat jy deur Jesus Christus se opstanding die ewige lewe het, vul dit jou met verwondering. Jy is dan ‘n Christen vol verwondering! Jy is vol verwondering, want Christus het jou deur sy opstanding ‘n nuwe mens gemaak!
Jy het as nuwe mens geloof in Jesus Christus!
Jy is nou nie meer in die mag van die sonde, die duiwel en die dood nie!
Jy het die lewe met God, dit is die ewige lewe!
Jou bestemming is die hemelse heerlikheid waar jy ewig by Christus en by God sal wees!
Verwonder jy jou oor Christus wat opgestaan het?
Is jy ‘n Christen vol verwondering oor Jesus Christus wat deur sy opstanding vir jou die nuwe lewe gegee het?
Net soos Jesus by herhaling oor sy opstanding gepraat het, het Hy by herhaling gesê dat ons lig vir die wêreld, sout vir die aarde, getuies vir Hom moet wees. Ons is in die wêreld om as nuwe verlostes deur ons getuienis aan God alleen die eer te gee!
Ons gee aan God die eer wanneer ons vol verwondering leef oor Christus se opstanding.
Hoe doen ‘n mens dit?
Glo vas sonder om te twyfel, in Jesus wat opgestaan het!
Beveg deur die Heilige Gees enige twyfel dat Jesus uit die dood opgestaan het!
Herinner mekaar hoe belangrik Jesus se opstanding is!
Besef gelowig dat Jesus Christus se opstanding jou lewe elke dag raak!
Lewe deur die Heilige Gees die nuwe lewe van ‘n nuwe mens!
Leef nuut en wees uit liefde vir God gehoorsaam aan Hom!
Gehoorsaam God se tien gebooie wat elkeen van ons in Eksodus 20 en Deuteronomium 5 kan lees. Verdiep jou in elke gebod deur die Kategismus Sondag 34 tot 44, dit is die verduideliking van die gebooie, goed te ken.
Bied weerstand teen die sonde en die verkeerde in jou lewe!
Al sondig jy steeds, moenie daar bly nie, staan in die krag van die Heilige Gees op en veg opnuut weer teen die duiwel en sonde!
Lewe nuut en dra die vrug van die Gees in jou lewe! Ons kan almal die Bybel by Gal.5:22 oopmaak en die vrug van die Gees leer ken. Bid dan die Heilige Gees dat Hy elke dag in jou sal werk, sodat jy as nuwe mens sy vrug in jou lewe wys.
Sien uit na die dag dat Jesus weer gaan kom om jou siel en liggaam te verheerlik en by Hom in die hemel te neem!
Wanneer mens so oor Jesus se opstanding dink en glo, dan is daar nie meer plek vir verleentheid nie, net verwondering. Dan wil mens aan God alleen al die eer gee vir die genade van Jesus se opstanding in jou lewe!
Leef dan in verwondering!
Leef met die krag wat die Heilige Gees gee as nuwe mens!
Gee met jou lewe aan God al die eer!