Home Preke VERKONDIG DIE OPSTANDING KRAGTIG, TEN SPYTE VAN BEDREIGINGS

VERKONDIG DIE OPSTANDING KRAGTIG, TEN SPYTE VAN BEDREIGINGS

Datum: 2021-04-25

TEMA: VERKONDIG DIE OPSTANDING KRAGTIG, TEN SPYTE VAN BEDREIGINGS

  1. Dit kan gevaarlik wees om die Woord te verkondig
  2. Wanneer die Woordverkondiging bedreig word, moet gelowiges:
    1. God meer gehoorsaam as mense
    2. Bid
    3. Met die Gees vervul wees
  3. Verkondig die Woord kragtig, dan sal God se groot genade nie uitbly nie!

PS 33:1,2,6; PS 33:11; SB 70 (9-3):1,2; PS 2:1,6; PS 66:5,7; SB 78 (13-3).

Geliefdes in die Here,

  1.  Dit word al hoe gevaarliker om die Evangelie van Jesus Christus te verkondig. Al leef ons in ‘n tyd van godsdiensvryheid in baie lande, begin godsdiensvryheid al hoe meer die gedaante kry van: Jy kan enige godsdiens verkondig, jy mag net nie die Bybelse Evangelie verkondig nie. Die wêreld sê: Die Bybelse Evangelie laat mense skuldig voel, dit lê hulle sonde bloot, dit leer dat ‘n mens jou nie self kan red nie en boonop verkondig dit die belaglike idee dat iemand doodgemaak is en toe op die derde dag uit die dood opgestaan het. Daarom kan jy enige godsdiens verkondig, net nie die een wat daarop aanspraak maak dat daar net een God, net een Verlosser en net een pad van verlossing is nie.

Die bedreiging om die Evangelie van Jesus se opstanding uit die dood te verkondig word al hoe groter. Die kans dat jy in die tronk gaan beland of doodgemaak gaan word as jy dit doen is al lankal ‘n werklikheid in baie lande en die bedreiging word groter selfs in lande met sogenaamde godsdiensvryheid.

Maar vervolging van die kerk en die verbod om te preek is niks nuut nie. Kyk maar wat het met die apostels gebeur, enkele weke nadat die Here Jesus uit die dood uit opgestaan het en opgevaar het na die hemel. Ons lees in Handelinge 3 dat Petrus en Johannes ‘n verlamde man genees het en dan lees ons in Handelinge 4:1 Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs op Petrus-hulle afstorm. 2 Die priesters en die ander was onthuts omdat die apostels die mense geleer het en verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding ’n werklikheid geword het. 3 Hulle het Petrus en Johannes gevange geneem, en hulle, omdat dit al laat was, in die tronk gesit tot die volgende môre. 4 Tog het baie van die mense wat hulle prediking gehoor het, gelowig geword; en die getal gelowiges het aangegroei tot omtrent vyf duisend.

5 Die volgende môre het die raadslede, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergader. 6 Ook die hoëpriester Annas, en Kajafas, Johannes, Aleksander en al die ander lede van die hoëpriesterlike familie was teenwoordig. 7 Hulle het die apostels voor hulle laat bring en hulle ondervra: “Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?”  8 Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Raadslede van die volk, en familiehoofde, 9 julle verhoor ons vandag oor ’n weldaad aan ’n siek man en oor hoe hy gesond gemaak is. 10 Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan—dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. 11 Hy is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. 12 Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”

Ja, die apostels was nie bang om die Evangelie van Jesus Christus se opstanding te verkondig nie en hulle was nie bang om te verkondig dat Hy die enigste ware Verlosser is nie, selfs al het dit hulle in die tronk laat beland.

So, selfs in die apostels se tyd al was die gevaar groot dat jy as ‘n gewone krimineel beskou sou word en dat jy in die tronk gestop sou word as jy die Evangelie van Jesus se opstanding sou verkondig en as jy sou verkondig dat Hy die enigste ware Verlosser is.

  1. Na beraadslaging, lees ons, het die raad toe, soos baie regerings vandag, die apostels beveel om glad nie verder iets in die Naam van Jesus te verkondig of te leer nie. So asof ‘n menslike instelling hoër gesag het as God wat gesê het: Moenie wegbly van die samekomste van die gemeente nie (Heb. 10:25) en Christus wat gesê het: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Mat 28).

Dan gee Petrus en Johannes die beroemde antwoord: 19 Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. 20 Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” 21 Nadat die Raad die apostels daarby nog ernstig gedreig het, het hulle hulle losgelaat, lees ons.

Ja, uit die apostels se antwoord is dit duidelik dat God se gesag hoër is as enige regering se gesag en dat ons eerder aan God gehoorsaam moet wees as aan mense. Toe Petrus en Johannes vrygelaat is, is hulle na hulle medegelowiges toe en het hulle hulle alles vertel wat gebeur het. Wat is die reaksie van die gelowiges. Het hulle bang en verskrik uitmekaargespat? Het hulle gesê: Die risiko is net te groot, ons moet maar liewer ophou om Jesus Christus te verkondig? Nee, hulle bid! Hulle wend hulle tot hulle almagtige hemelse Vader wat gesag het selfs oor regerings en maghebbers!

“Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. 25 En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê: Waarom het heidennasies te kere gegaan, en het volke sinlose planne beraam? 26 Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde.

27 Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, 28 en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het. 29 “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. 30 Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” 31 Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.

Gebed en vervulling met die Heilige Gees is wat nodig is om nie deur dreigemente afgeskrik te word nie en met vrymoedigheid te volhard met die verkondiging van die blye Evangelie van Jesus se opstanding uit die dood!

  1. Geliefdes, dit bring ons by ons teks: 33 Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. Ja, selfs na die gevangeneming en die ernstige dreigemente lees ons: Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het. Ten spyte van die bedreigings en dreigemente en risiko’s het hulle aangehou om met alle krag te getuig.

Letterlik staan daar dat die apostels met groot krag getuienis gelewer het oor die opstanding van die Here Jesus. Ons kan dit ook vertaal met: Hulle het met alle mag die Here Jesus se opstanding verkondig.

Die hele Evangelie word ingesluit by “die opstanding van die Here Jesus”. Die Evangelie staan of val immers by die opstanding. As Jesus nie werklik opgestaan het nie, dan is die hele Evangelie vals en daarmee heen.

Daarom skryf Paulus ook in 1 Korintiërs 15:3-4: Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4 Hy is begrawe EN OP DIE DERDE DAG OPGEWEK, volgens die Skrifte. Daarna noem Paulus ʼn hele klomp mense aan wie Jesus na sy opstanding uit die dood verskyn het, waarby Petrus en Johannes en die ander apostels natuurlik ingesluit was.

En dan lees ons in vers 16-19: 16 As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. 17 En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. 18 Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

Die Here het gesterf, maar Hy het ook opgestaan! Ja, die Here het waarlik opgestaan! Dit is die hart van die Evangelie wat ons bely en die bron van ons vreugde: Dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het! Daarom sê ons teks ook: Die apostels het met groot krag getuienis gelewer oor die opstanding van die Here Jesus!

Die opstanding is egter iets wat van die begin af ontken is deur die Jode. Selfs vandag nog verwerp ongelowiges die opstanding van die Here Jesus. Vandag aanvaar selfs alle mense wat hulle self Christene noem dit nie meer dat die Here Jesus opgestaan het uit die dood nie! Ja, selfs mense wat hulleself Christene noem, begin om dit te betwyfel dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het.

Maar hoe weet ons dat dit alles gebeur het, dat Jesus gesterf het, maar ook opgestaan het uit die dood? Ons weet dit, want die Bybel, God se Woord, leer dit vir ons. Die apostels, wat ooggetuies was, het dit kragtig verkondig.

Geliefdes, dit is hier waar GELOOF ter sprake kom. Om te glo, is tog om iets te aanvaar selfs al is daar geen bewyse daarvoor nie. Ons hele geloof, ons hele saligheid is van die Here Jesus se opstanding afhanklik.

As Hy nie werklik opgestaan het nie, as sy opstanding ook maar net ʼn storietjie is, dan is ons geloof nutteloos.

Dan is die dood nog nie oorwin nie en dan het ons ook nie die ewige lewe nie.

Hier is daar nie ʼn ander uitweg nie. Jy glo dit of jy glo dit nie. Geloof is juis om teen alle ander dinge in iets as die WAARHEID te aanvaar. En as jy dit glo, wil jy dit ook bely, nie net met jou belydenisaflegging nie, maar met jou hele lewe!

Daar is dus 2 verskillende reaksies op God se Woord. Die een reaksie is om ongelowig alles te bevraagteken en gedurig na ʼn teken en ʼn bewys te vra. Die ander is om in geloof die Evangelie van Jesus Christus as die WAARHEID te aanvaar en om daarom jou hele lewe daarop te bou.

Daarom moet ons nie in die slaggat trap om die opstanding van Jesus uit die dood te probeer bewys nie. Dit is nie iets wat bewys moet word nie, maar iets wat geglo moet word. Ons glo Jesus het uit die dood opgestaan, want die Bybel sê so! Iemand wat dus sê dat Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, sê dus eintlik dat God lieg. Hy sê mos baie duidelik in sy Woord dat Jesus opgestaan het uit die dood. Mense wat dit betwyfel sê dus: God praat nie die waarheid nie.

Ons kan dit glo, want ons leef immers elke dag met die lewende Christus in ons harte. Ons ken Hom, ons praat met Hom in gebed, ons dien Hom, ons ondervind sy krag en sy leiding. Hy lewe, ons weet dit, ons glo dit, ons bely dit.

Daarom kan ons ook daarvan getuig, kragtig daarvan getuig. Daarom mag ons ook nie daarvan terugdeins om Jesus se opstanding te verkondig nie, selfs al word ons gedreig as ons weier om op te hou daarmee.

Dit bring ons by die heerlike gevolge van waar die Evangelie van die Here Jesus se opstanding verkondig word. Ons teks sê: 33 Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, EN DIE GENADE VAN GOD WAS GROOT OOR HULLE ALMAL.

33 Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, EN DIE GENADE VAN GOD WAS GROOT OOR HULLE ALMAL. Geliefdes, God stort sy genade oorvloedig uit waar die Evangelie van die Here Jesus se opstanding volhardend, ten spyte van bedreigings onbevrees en onbeskaamd verkondig word!

Geliefdes, die Griekse woord (Xapis) wat hier met genade vertaal word, kan ook vertaal word met goedgesindheid. Genade is immers gegrond in God se goedgesindheid teenoor ons in Christus Jesus. Genade is ook iets wat nie verdien kan word nie. Dit is om juis die teenoorgestelde te ontvang as wat jy verdien. Ons verdien die dood oor ons sonde, maar ons ontvang die genade van die ewige lewe omdat die Here Jesus daarvoor betaal het, omdat Hy gesterf het aan die kruis en uit die dood uit opgestaan het.

Boonop sê ons teks “en die genade van God was groot oor hulle almal”. Ons kan dit ook vertaal “en die genade van God was massief-groot oor hulle almal. Ja, God skenk sy onverdiende genade en goedgesindheid oorvloedig waar die Evangelie van die Here Jesus se opstanding volhardend en onbeskaamd verkondig word, selfs ten spyte van dreigemente!

Daarom: As ons dalk gedreig gaan word om op te hou om die Woord te verkondig, wat gaan ons doen? Gaan ons skrik en ophou? Of gaan ons ook ons toevlug tot die almagtige God neem? Gaan ons ook ons hemelse Vader smeek om ons genadig te wees, om ons vol te maak van sy Gees en om ons die krag te gee om aan te hou om die Woord kragtig te verkondig?

En dit gaan nie hier net oor die amptelike verkondiging van God se Woord nie, maar ook oor ons elkeen se persoonlike getuienis. Toe die Joodse Raad die apostels se monde wou snoer met dreigemente, het hulle geantwoord: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. 20 Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Met ander woorde, ons kan nie stilbly as God self vir ons die opdrag gee om te verkondig nie. En boonop: “20 Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

Iemand wat vol is van die Heilige Gees, kan nie anders as om te praat oor die groot dade van God nie, kan nie anders as om met ander te praat oor die opstanding van die Here Jesus en die verlossing wat Hy vir ons bewerk het nie. Daarom hoef nie een van ons bang te wees om met ander te praat oor die Evangelie van die Here Jesus nie. Ja, jy kan dalk beledig word. Ja, jy kan dalk aangerand word. Ja, jy kan dalk gedreig word.

Maar ons sal ons toevlug neem tot ons almagtige hemelse Vader. Ons kan nie stilbly as God self vir ons die opdrag gee om te verkondig nie. En boonop behoort dit ook vir ons onmoontlik te wees om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.

As ons dalk bang is of terugdeins, moet ons ook bid soos die gelowiges in vers 29: “Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u Woord sal verkondig.”

Geliefdes, die almagtige God self het vir ons die opdrag gegee om die Evangelie te verkondig. Hy self maak ons vol van sy Gees. Hy self gee aan ons oorvloedige genade, daarom kan ons en moet ons en wil ons vir soveel as moontlik mense vertel van ons Here Jesus se opstanding!                                                      Amen.