Home Preke VEROOTMOEDIG JOU VOOR DIE HERE WAT HOMSELF VOLLEDIG KENBAAR SAL OPENBAAR MET SY WEDERKOMS

VEROOTMOEDIG JOU VOOR DIE HERE WAT HOMSELF VOLLEDIG KENBAAR SAL OPENBAAR MET SY WEDERKOMS

Datum: 2020-10-04
|
Kernverse: 1 PETRUS 1:6, 7, 13; 4:12, 13 OAV

Preek deur Ds Malan van Rhyn tydens gesamentlike erediens

Lees:  1 PETRUS 1:6, 7, 13; 4:12, 13 OAV

TEMA: VEROOTMOEDIG JOU VOOR DIE HERE WAT HOMSELF VOLLEDIG KENBAAR SAL OPENBAAR MET SY WEDERKOMS.

  1. Swaarkry, wat tot verootmoediging lei, is deel van Christen wees.
  2. Wederkoms = apokalupsis/openbaring.
  3. Met sy wederkoms openbaar Jesus Hom as die Vervuller van God se raadsplan wat altyd by ons wil woon.

PS 46:1; PS 46:6; PS 9:7,9,10; SB 43 (15-7):4,5; SB 45 (18-7):1,11,12

Geliefdes in die Here,

Ons verootmoedig ons vandag voor die Here, want ons staan amper aan die einde van „n ongekende tydperk van meer as 6 maande waarin kerke baie swaar gekry het onder baie streng inperkings maatreëls.

Ja, landswyd verootmoedig Gereformeerde Kerke hulle vandag voor die Here. Die oproep wat ons ontvang het sê baie duidelik hoekom verootmoediging nodig is:

“Ons is dankbaar vir die verligting wat ingetree het met betrekking tot die uiters streng inperkingsregulasies.

Tog voel die kerke steeds die druk, nood en dringende behoefte om weer in die volle gemeenskap van die heiliges te funksioneer.

Ons versoek dat:

  1. Elkeen selfondersoek doen en verootmoedig voor die Here.
  2. Elkeen die Koningsheerskappy van Christus sal erken en nie die uitkoms by mense soek nie.
  3. Ons voorbidding doen vir die owerheid in hierdie belangrike saak om in verantwoordelikheid voor God op te tree.
  4. Ons voorbidding doen vir ‟n goeie reënseisoen, sodat daar genoeg kos en werk sal wees vir alle mense in die land.
  5. Die kerk in gehoorsaamheid aan God, ons lig in besonder sal uitstraal in hierdie tyd met liefde en omgee vir alle mense en in besonder vir die mense in nood, sodat die triomf van die evangelie eindeloos sal wees.
  6. Die kerke die Here dank vir die bewaring wat die kerk grootliks ontvang het en die seëning van ‟n hoë herstelpersentasie onder mense wat die virus opgedoen het.

Deur die eeue het die kerk van die Here al baie beproewings gely. Dit wat ons as kerke nou deurgemaak het, is dus nie iets nuuts nie. Een van die maniere waarop God ons troos, wanneer ons swaarkry, is om ons daaraan te herinner dat Hy sy raadsplan deurvoer en dat Jesus Christus op pad is om alles te voleindig met sy wederkoms!

  1. Swaarkry, wat tot verootmoediging lei, is deel van Christen wees.

Ja, die wederkoms van Jesus Christus is ʼn wesenlike deel van die boodskap van die Nuwe Testament. ʼn Mens kan jouself nie indink hoe anders die boodskap van die Evangelie sonder die idee van die wederkoms sou wees nie!

Om die wederkoms in die Bybel weer te gee, word daar verskillende woorde in die oorspronklike Grieks gebruik. Al hierdie woorde, daar is omtrent 6 van hulle, verwys gewoonlik na net een saak en dit is die wederkoms van Jesus Christus. Elkeen van die verskillende woorde in die oorspronklike taal belig egter „n besondere aspek van die wederkoms.

Wat baie interessant is, is dat nie een van hierdie Griekse woorde letterlik wederkoms beteken nie. Nee, al hierdie woorde wat ons met wederkoms vertaal, beteken letterlik: aankoms, koms, teenwoordigheid, teenwoordig wees, verskyning, openbaring, bekendmaking of iets soortgelyks. Nie een van die Griekse woorde bevat die idee dat dit ʼn tweede koms, ʼn wederkoms, ʼn weer kom van die Here is nie.

Wat nog meer interessant is, is dat elkeen van hierdie Griekse woorde iets meer wil sê as net dat Jesus weer gaan kom. Petrus gebruik ook een van hierdie woorde in ons teksverse. Die woord wat hy gebruik is apokalupsis, wat die Ou Vertaling met die openbaring van Jesus Christus vertaal en die Nuwe Vertaling met die wederkoms van Jesus Christus.

Die laaste Bybelboek, Openbaring, se Naam in die Grieks is ook Apokalupsis. Ons ken almal die Engelse woord apocalypse, en dalk minder bekend is die Afrikaanse woord apokalips of apokalipsis wat verwys na die eindoordeel van God. Hierdie woorde is direk van die Griekse woord apokalupsis afgelei, wat nie die eindoordeel van God beteken nie, maar wat openbaring beteken en wat ook gebruik word vir die wederkoms van Christus.

Petrus het vir Christene geskryf wat vervolg is as gevolg van hulle geloof. Dit is nie ʼn lekker gevoel om te voel asof jy nie tuis is in hierdie wêreld nie. As die wêreld teen jou diskrimineer omdat jy ʼn Christen is, as jy jou werk verloor omdat jy op jou beginsels staan, as jou vriende jou nie meer wil ken nie omdat jou geloof jou lewe verander het, dan kan ʼn mens baie maklik moedeloos word en begin wonder of dit werklik die moeite werd is om die Here te dien.

Dit is vir sulke mense wat Petrus skryf. Hulle het vervolging en verdagmakery en verontregting en aan hulle eie lyf gevoel. Hulle moeilike omstandighede, juis omdat hulle gelowiges was, het hulle so teen hulle omstandighede laat vaskyk, dat hulle perspektief verloor het.

Party het dit oorweeg om nie meer teenstand te bied teen die wêreld se versoekings nie en om maar saam met die stroom te gaan. Ander het dit oorweeg om die reg in eie hande te neem en die ongelowiges terug te kry. Ander weer het dit oorweeg om die Here nie meer openlik te dien nie, maar in die geheim.

Daarom is hierdie brief van Petrus ook in hierdie tyd waarin ons leef so uiters aktueel.

Die mense vir wie Petrus in die eerste plek geskryf het, het gewoon in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. Al hierdie gebiede is vandag in die hedendaagse Turkye. Omdat hierdie gelowiges soveel gely het vir hulle geloof, begin Petrus in hoofstuk een om hulle te bemoedig en om hulle te wys op die sin van hulle lyding, dat hulle geloof daardeur getoets en gesuiwer word.

Maar dit is nie al wat hy doen nie. In ons teksverse herinner hy hulle ook aan Jesus se wederkoms. (Ek herhaal ons tekste uit die Nuwe Vertaling:

1:6, 7: 6Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‟n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.

1:13 Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die WEDERKOMS van Jesus Christus.

4:13 Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.)

Omdat hulle moes ly vir hulle geloof, moes hulle verstandelik wakker en nugter wees. Hulle moet dus gefokus bly en hulle nie deur allerhande dinge laat beïnvloed nie. Daarom moes hulle hulle hoop volkome vestig op die genade wat hulle deel sal word by die WEDERKOMS van Jesus Christus.

Petrus sê dus eintlik vir hulle: Onthou, al kry julle nou swaar, Jesus Christus is op pad en wanneer Hy kom, sal julle deur genade die ewige lewe ontvang. Al gaan dit hoe swaar, of al gaan dit hoe goed, ons moet dit nooit uit die oog verloor nie: Jesus kom beslis weer!

Daar gebeur 3 goed met ons geloof wanneer ons swaarkry. Eerstens word dit getoets. Geliefdes, baie mense verstaan hierdie toets verkeerd. Hulle dink dat God met beproewings kyk of ons geloof eg is. Maar dit kan tog nie wees nie. Hy weet mos alles. Boonop het Hy self die geloof aan ons gegee. Nee, hierdie toets beteken God kyk nie of ons geloof eg is nie. Hy bewys dat ons geloof eg is. Soos wat Hy aan die Satan bewys het dat Job se geloof eg is.

Hierdie is dus nie ʼn toets wat ons uit eie krag kan slaag nie. Nee, dit is ʼn toets wat God se krag in ons slaag.

Deur beproewings bewys God dat my geloof eg is.

Die tweede ding wat met my geloof gebeur, is dat deur beproewings word my geloof gesuiwer. Net soos wat egte goud wel onsuiwerhede kan bevat, net so kan geloof, al is dit ʼn ware geloof, onsuiwerhede bevat. Soos wat vuur gebruik word om goud te louter, net so word beproewings gebruik om geloof te suiwer.

Die derde ding wat met my geloof in beproewings gebeur, is dat my geloof voorberei word vir die wederkoms van Jesus Christus! Ja, ons besef dit nie altyd nie. Daar is ʼn direkte verband tussen my beproewings en die wederkoms van Jesus Christus. Vers 7 sê: die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.

By die wederkoms sal my geloof finaal as eg en as gesuiwer bewys word! Dan sal dit lof en heerlikheid en eer waardig wees. Ja, God self sal die geloof wat Hy self aan my gegee het, wat Hy deur beproewings eg bewys het, wat Hy deur beproewings gesuiwer het, prys by die wederkoms van Jesus Christus. Daarom kan ek bly wees oor beproewings!

Openbaring 1:7 sê: 7 Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker! Die kerk, ons, die gelowiges, het dus ʼn gewaarborgde ewige toekoms, die genade wat ons deel sal word wanneer Jesus weer kom! En dit is ʼn gewaarborgde genade.

Dit word gewaarborg deur die bloed van Jesus Christus en deur die waarheid van die Woord van God.

Daarom hoef ons nooit te twyfel aan die toekoms van die kerk nie. Die toekoms is ewig en staan vas. Ons kan maar ons hoop volkome vestig op die genade wat ons deel sal word by Jesus se wederkoms.

Nou mag dit dalk nie die moeite werd lyk om ʼn gelowige te wees nie, om jouself aan die Here en vir jou medemens te offer nie, maar wanneer Jesus weer kom en ek dan in sy heerlikheid deel en die ewige lewe beërwe, dan sal ek weet: Dit was alles die moeite werd. Dit was die spot en die verkleinering en opofferings wat ek van jongs af in my diens aan die Here gemaak het uit en uit werd.

  1. Wederkoms = apokalupsis/openbaring.

Watter troos put ons uit die feit dat Petrus spesifiek die woord apokalupsis gebruik om die wederkoms mee aan te dui?

Die basiese betekenis van kalupto, die stam van die woord, is om iets weg te steek of selfs in die grond te begrawe. In die Nuwe Testament word die woord letterlik en figuurlik gebruik. Die woord word letterlik in Matteus 8:24 gebruik, waar golwe die boot “verberg” of “begrawe” en in Lukas 8:16 waar ʼn lamp met iets (soos ʼn emmer) toegemaak word. Die woord word ook figuurlike gebruik, soos in Matteus 10:26 waarin dit gestel word dat niks bedek is wat nie bekend gemaak (geopenbaar) sal word nie. Apokalupto is dan juis die teenoorgestelde van om iets toe te maak of weg te steek.

Letterlik beteken die woord dus om iets of iemand te ontsluier. Iemand wat ʼn sluier oor het, se gesig kan nie gesien word nie. Sodra die sluier weggeneem word, kan jy sy of haar gesig sien en kan jy die persoon herken. Sodra die sluier weggeneem is, is die persoon dus herkenbaar. Die persoon word as‟t ware aan jou geopenbaar met die wegneem van die sluier.

Jesus  Christus  is  ook in  ʼn  sekere  sin  nou  nog versluier.  Ons  weet  Hy is  hier  deur  sy Gees  by ons teenwoordig. Maar ons kan Hom nog nie sien nie en ons kan nie aan Hom raak nie. Met sy wederkoms sal Hy egter aan ons geopenbaar word, die sluier sal weggeneem word. Ons sal Hom kan sien en aan Hom kan raak!

Paulus skryf 1 Korintiërs 13:12: 12Nou kyk ons nog in ‟n dowwe spieël en sien ‟n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. Wanneer Christus weer kom en ten volle aan ons geopenbaar word, dan kyk ons nie meer in ʼn dowwe spieël nie, maar dan sal ons Jesus Christus volmaak kan ken!

Een van die verstommende dinge van die lewende God, is dat Hy Hom aan ons openbaar, bekendmaak, dat Hy self die sluier wegneem sodat ons Hom kan ken. In die Ou Testament openbaar die lewende God Hom as die God van die geskiedenis. Hy openbaar Homself as heilig en genadig. Hy openbaar Homself as die Skepper en Onderhouer van die wêreld.

Anders as die gode waarvan die mense geglo het dat hulle hulle net openbaar aan die mense wat hulle gedien het, het God nie so ʼn beperking op sy openbaring gestel nie. Alhoewel God Israel as sy uitverkore volk gekies het, beperk Hy nie sy openbaring tot hulle nie, maar maak Hy as die enigste ware God Hom ook ander volke en gelowe bekend.

In die Nuwe Testament gee Hy selfs die opdrag: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels.

Dus: Jesus vervul en realiseer die profesieë van die Ou Testament en Hy vervul die openbaring van die God van die verbond. Dit gebeur wanneer Hy geopenbaar word by sy wederkoms.

Apokalupsis beteken dus eintlik: God wat na ons toe kom en Homself aan ons openbaar, sodat ons Hom kan ken en in gemeenskap met Hom kan lewe.

Dit is duidelik dat apokalupsis veel meer is as net die aankoms van Jesus met sy wederkoms, maar dat in sy aankoms God en sy Woord en sy raadsplan geopenbaar word as vervulde waarheid.

Daarom kan daar ook sprake wees van die apokalupsis, die openbaring, van die heerlikheid van Christus, soos in 1 Petrus 4:13 waar daar staan: 4:13 Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. Letterlik staan hier, soos die Ou Vertaling dit vertaal: 13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.

Ons kan dus dit dus beter vertaal met: Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms, dit is wanneer sy heerlikheid geopenbaar sal word.

Nou is Jesus se heerlikheid nog versluier. Nie alle mense erken Hom as God nie, maar wanneer Hy met sy wederkoms geopenbaar gaan word, sal sy heerlikheid as Groot Koning ook bekend en geopenbaar wees!

Dan sal profesieë soos Filippense 2:9–11 ook vervul word: 9Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

Die hele openbaringsgeskiedenis, alles wat in die Bybel staan, staan dus in die lig van die openbaring wat sal plaasvind  by die wederkoms van Christus. Die wederkoms is  immers  Godsopenbaring.  God openbaar Homself ten volle en sigbaar as die enigste ware God wie se Woord die waarheid is op daardie dag wanneer Jesus Christus weer kom en geopenbaar sal word.

Die wederkoms is Godsopenbaring!

Die woord apokalupsis sê: Dit is die Godgewilde openbaring van Jesus Christus met sy wederkoms, sodat God, sy Woord, sy raadsplan en sy verbond volledig geopenbaar, vervul en verwesenlik kan wees en Hy vir ewig in gemeenskap met sy kinders kan wees.

Onthou, al kry ons nou dalk swaar, Jesus Christus is op pad en wanneer Hy kom, sal Hy homself sigbaar en kenbaar aan ons openbaar, sodat ons vir ewig in volmaakte gemeenskap met Hom kan lewe. Dit is ons troos en dit is waarna ons uitsien, om in volmaakte gemeenskap met die ten volle geopenbaarde Drie-enige God te lewe!

Amen.