Home Preke Verootmoediging en verlossing

Verootmoediging en verlossing

Datum: 2021-05-02
|
Kernverse: Daniël 9

Lees: Daniël 9

Inleiding:

Daniël 9 bevat sy gebed en Gabriël die engel se verklaring van wat Daniël in Jeremia se profesie gelees het. Hierdie hoofstuk bevat soveel inligting dat ‘n reeks preke uit die hoofstuk kan kom. Vanoggend se preek oor Daniël 9 verduidelik die hoofstuk in twee woorde: Verootmoediging en verlossing.

Tema: Verootmoediging en verlossing

  1.  God leer ons in sy Woord dat Hy teen sonde optree

In die eerste regeringsjaar van Darius, seun van Ahasveros, het Daniël in die lees van God se Woord by Jeremia gekom. Ons weet reeds dat Daniël gereeld gebid het. Hier leer ons hom ken as iemand wat gereeld met God se Woord besig was.

In Daniël se manier van doen leer die Here ons hoe om in moeilike omstandighede te leef. Ons beleef tans moeilike omstandighede – Die geweld in ons land, die korrupsie met miljarde rand. Dan het Covid-19 ons hele lewe omver gegooi. Dit is nou tyd om te bid en te groei in ons gebedslewe en om met God se Woord besig te wees en te groei in ons kennis van en geloof in Hom.

Iemand dink dalk: Te min tyd maak dat ons nie genoeg met die Bybel besig kan wees nie. Tyd is nie die eintlike faktor nie. Daniël was een van drie ministers in koning Darius se regeergebied. Die bestuur van daardie Medies-Persiese ryk was sy werk. Hy was met die Bybel besig. Die eintlike belangrike faktor is wat in my hart leef. Wanneer my hart na God se Woord smag, sal daar altyd tyd wees.

Daniël het in Jeremia agtergekom dat Jerusalem vir ‘n volle sewentig jaar ‘n puinhoop sou wees. Jeremia het in hfst.25:11,12 en hfst.29:10 van die sewentig jaar geskryf . Juda, die verbondsvolk sou na 70 jaar in Babel terugkeer na Palestina.

Jeremia was ‘n profesie. Dit beteken die 70 jaar kan of sewentig werklike jare wees of dit kan die volle tyd wees wat God Juda in ballingskap wou hê, beteken. Die rede vir hiérdie verstaan is dat 3 en 4 en 7 en 10 vir die Jode volheidsgetalle was. Sewentig jaar is 7 x 10 jaar en dit wys op die volle tyd wat God vir die ballingskap vasgestel het. Die geskiedenis vertel dat Koning Kores van Persië na 70 jaar Juda laat terugkeer het. Die tydperk in Jeremia was dus 70 werklike jare, maar dit was ook die volle tyd wat God vir die ballingskap vasgestel het.

Teen die tyd dat Daniël hierdie dele in Jeremia gelees het, was Nebukadnesar lank reeds nie meer koning nie en Babel ook nie meer die wêreldregering van ouds nie.

Daniël het die vernietiging van Babel gesien as die tyd wat die Here bepaal het om die einde van die ballingskap te wees. Daniël het verder geweet en onthou waarom Juda in ballingskap was. Juda se sonde was die rede.

Ons leer in die boek Daniël dat ‘n lewe naby God ‘n lewe van sondebesef is. Hoe verder ‘n mens van God af leef, hoe minder besef jy jou sonde. Hoe nader ek aan God leef, hoe meer en hoe slegter en leliker word my sonde.

Toe Daniël besef het dat die ballingskap naby aan sy einde is, kon hy verskillende dinge gedoen het:

  • Hy kon gewag het om te sien wanneer gebeur dit waarvan Jeremia geprofeteer het.

  • Hy kon na die koning gegaan het om te vra wat die moontlikheid vir Juda was om terug te keer na hulle eie land.

  • Hy kon na al die Judeërs toe gegaan het en hulle vertel het om gereed te maak om terug te keer.

Daniël het nie een van hierdie dinge gedoen nie. Sy goeie verhouding met God het hom juis na die Here toe laat gaan. Hy het gebid.

2.  Ons geloof bring ons by verootmoediging voor Hom

 Daniël het gebid, gesmeek, gevas, rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Wat het al hierdie dinge beteken?

  • Daniël se gebed was sy erkenning dat die Here die allerhoogste God is wat die ganse mensdom regeer en die geskiedenis beskik.

  • Daniël het onthou waarom Juda in ballingskap was – die baie en verskriklike sonde van die verbondsvolk vir baie lank.

  • Hy het God gesmeek vir vergifnis.

  • Sy gebed was nie net woorde van berou nie.

  • Daniël het sy berou oor sonde voor God gewys deur te vas – Om te vas beteken sy gebed is so belangrik, dat hy bereid was om homself kos te ontsê. Hy het geestelike voedsel nodiger as liggaamlike kos.

  • Daniël het rouklere aangetrek. Dit was gewoonlik ‘n gebreide bokvel. Hiermee het Daniël bely dat sy en Juda se sonde so erg was dat hulle nie verdien het om goeie en gerieflike klere te dra nie.

  • Dan het Daniël as op sy kop gegooi. Destyds het ‘n mens of in as gesit, of daarin gerol en op jou kop gestrooi as teken van diep harsteer oor sonde.

Wat leer die Here ons hier?

God se Woord bring ‘n gelowige heel eerste tot ‘n opregte en diep sondebesef. Sondebesef maak dat jy bid en smeek. Ons het in Afrikaans ‘n woord hiervoor: Verootmoedig.

Verootmoediging kan nie net woorde wees nie. My hele menswees moet ‘n besef hê van my sonde en die sonde van my gemeente en die volk en land waarin ek gebore is. My hele wese moet wys dat ek die allerhoogste God bid en smeek vir vergifnis.

Met ‘n opregte sondebesef en verootmoediging voor die allerhoogste God sukkel ons in die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Onlangs in die verlede het ons ‘n dag van verootmoediging gehad wat ons kerke tydens ‘n skoolvakansie vasgestel het. Ons almal weet dat mense dikwels weg gaan en nie by ‘n erediens tydens vakansies is nie. Ons hou met katkisasie op in vakansies, maar ons het ‘n dag van verootmoediging tydens ‘n skoolvakansie! Ons lewe het daardie keer nie gewys dat die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika ons sonde voor God regtig besef nie. Daar is meer voorbeelde. Hierdie een is genoeg.

Daniël se sondebesef en berou het in sy lewe gewys. Wanneer ek my sonde besef, is daar net een pad vorentoe en dit is na die Here toe. Ontkenning van sonde is ‘n doodloopstraat. Net so wanneer ek dink sonde is nie regtig so erg nie. Sonde loop uit op die ewige dood. Daarom moet ek van sonde af wegkom. Dit gebeur alleen wanneer ek na God toe met my sonde gaan en bid.

Daniël se gebed het uit twee baie belangrike dele bestaan: Sondebelydenis en gebed vir vergifnis.

Die Here is die almagtige en alwetende God. Hy ken elke enkele sondige gedagte of woord of daad. Ek kan niks vir Hom wegsteek nie. Dit is nodig dat ek my sonde ken en alles met ‘n opregte hart voor God bely.

Wanneer ek my sonde voor God in gebed wil bely, kan ek baie by die Heilige Gees in Daniël 9 leer. Kyk saam na die volgende:

Vs 4 – Daniël het sy gebed begin deur God te eer en Hom groot te maak.

Vs 5-14 – Hy het Juda se sonde voor die Here bely. Luister hoe het hy gebid –

Ons het gesondig

Ons het oortree

Ons het verkeerde dinge gedoen

Ons was opstandig

Ons het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie

Ons het nie geluister na u dienaars die profete nie

Dit is onsself wat hierdie ellende oor ons gebring het

Ons was nie aan U, Here ons God, gehoorsaam nie

Ons het nie volgens u wil gelewe nie

Die Hele Israel het u wil oortree; hulle het afvallig geword en nie na U

geluister nie.

Ons het nie vir genade gebid en ons bekeer van ons sonde nie

Wanneer dit by sondebesef kom, skiet ons ver tekort. Iewers het ons by iemand geleer om elke keer aan die einde van ons gebed en dan net in ‘n paar woorde te bid vir vergifnis van ons sonde. Ons is nie reg in wat ons doen nie.

Die Heilige Gees het Daniël hierdie gebed laat neerskryf en Christus se kerk gelei om hierdie gebed in die Bybel op te neem, sodat ons hieruit kan leer.

Jesus leer ons in sy gebed, wat ons die Onse Vader noem, ook heeltemal anders.

Ons sal moet besef ons land baie sondig is.

Die bevolkingsgroep waaraan ons behoort, doen baie sonde.

Ons gemeentes is sondig.

Elke familie en gesin doen baie sonde.

Elkeen van ons sondig in wat ons dink en sê en doen en in alles wat ons nie doen nie, terwyl God dit van ons vra.

Hierdie sonde in elkeen van ons se lewe is heeltemal te veel om in elke gebed net in een kort sin voor die Here te bely.

Vs 16-19 – Daniël het verder ook gepleit vir vergifnis. Hier het ons ook baie om te leer. Luister na Daniël –

Here, neem tog u toorn en u woede weg van Jerusalem.

Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking.

Verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom.

Luister tog, my God! Hoor ons tog!

Sien tog ons verlatenheid raak.

Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar          op grond van u groot barmhartigheid.

Hoor Here! Vergewe Here! Gee tog ag op ons en tree op!

Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God.

Dieselfde wat ek genoem het by ons belydenis van ons sonde is net so geldig by ons gebed vir vergifnis. Ons almal het vergifnis baie meer nodig en ons is baie meer van vergifnis afhanklik as wat ons met een kort sin aan die einde van elke gebed bid.

Pleit vir vergifnis. Vergifnis is nie sommer so vanselfsprekend asof God verplig is om my te vergewe, wanneer ek daarvoor bid nie. Sonde voor God is baie erg en verdien die ewige dood. Daarom is my pleitgebed vir vergifnis regtig baie belangrik.

3.  Net Jesus Christus alleen herstel ons verhouding met God

Daniël het op grond van God se genadeverbond sy barmhartigheid vir vergifnis gepleit. Barmhartig is een van die woorde wat die Here as ons Verbondsgod beskryf (Eks.34:6, Ps.103:8). Barmhartigheid beteken God het vir ons plek in sy hart en dan net uit onverdiende genade en liefde.

Ek is ook in God se genadeverbond, want ek behoort aan Jesus Christus (Gal.3:29). God is daarom ook my God vir ewig. Maak nie saak wat ek verkeerd gedoen het nie. Ek kan voor die Here kom en vra, pleit: Here vergewe!

Ek kan verwag om op grond van Jesus Christus by God barmhartigheid te kry, daarom kan ek ook om hierdie rede vir vergifnis bid.

Ek kan met sekerheid in my hart bid, want Jesus Christus is die Rede waarom ek by God vergifnis sal kry.

Die laaste deel van Daniël 9, dit is Dan.9:20-27 gaan oor die sekerheid wat God in sy genadeverbond gee, vir die gelowige wat met verootmoediging Hom leef.

Ek lig vanoggend enkele belangrike sake in die deel uit.

  • God antwoord ‘n gelowige se gebed uit liefde.

  • God beskik die lewe van sy verbondsvolk. Vir ons in die Nuwe Testamentiese tyd is die verbondsvolk, die ware kerk van Christus.

  • Jesus Christus is die beloofde Verlosser wat God gee. Sy verlossingswerk word in Dan.9:24 in ses uitdrukkings beskryf –

    Hy maak ‘n einde aan goddeloosheid – goddeloosheid beteken opstand teen God deur ongehoorsaamheid.
    Hy maak ‘n einde aan sonde – sonde is om God se doel met jou lewe te mis.
    Hy doen versoening vir oortredinge – Oortreding is om af te wyk van wat God sê.

Daniël het gehoor dat daar ‘n einde aan al hierdie boosheid sal kom. Ons wat die Nuwe Testament het, weet dat Jesus Christus deur sy kruisiging en opstanding ‘n einde gemaak het aan die sonde wat onsself so ver van God verwyder het.

  • Die engel het vir Daniël ook nog die volgende van die Verlosser wat sou kom, se werk gesê –

    Hy bring ewige geregtigheid tot stand – Die Verlosser bring sondige mense in die regte verhouding met God.
    Hy vervul die visioen en profesie – Met sy koms sal al die profesieë en gesigte waar word en tot ‘n einde kom.
    Hy sal die tempel (dit wat hoogheilig is) weer salf – Hierdie woorde wys dat die Verlosser die tempel, die altaar, al die offers en die priesterdiens sal vervul en tot ‘n einde bring.

Met die Nuwe Testament oop voor ons, weet en glo ons Jesus Christus het sondaars in die regte verhouding met God gebring. In Hom het al die profesieë en gesigte in die Ou Testament waar geword. Jesus Christus is die werklikheid van die tempel in die Ou Testament en alles wat in die tempel gebeur het.

In Dan.9:25-27 gee die engel ‘n uitleg van wat Hy in vs.20-24 vir Daniël gesê het. Ons kan die geskiedenis so saamvat:

  • Van die wegvoer in ballingskap tot die terugkeer sal sewe tydperke wees. Die Here sal ‘n regeerder kies wat Juda sal laat terugkeer en Jerusalem weer opbou. Koning Kores van Persië was hierdie regeerder.

  • Vir twee-en-sestig tydperke sal Jerusalem opgebou bly. Die stad sal ‘n lang tyd herstel word en voortbestaan. Dit sou moeilike tye wees. Ons weet watter probleme Nehemia alles gehad het met die opbou van Jerusalem.

  • Twee-en-sestig is ‘n simbool met 6 die getal van die mens en 2 wat bevestiging gee. Die tyd sal die mens sy sonde uitleef. Die opbou van Jerusalem was met moeite en die sondigheid van eers die Griekse wêreldregering en daarna die Romeine het die wêreld oorheers.

  • Met sewe en daarna twee-en-sestig van die tydperke verklaar, bly daar nog een tydperk van die sewentig oor waarvan Jeremia geprofeteer het. Hierdie een tydperk word in Dan.9:27 in twee dele beskryf. Die eerste regeerder sal ‘n vaste ooreenkoms, dit is die genadverbond duidelik laat word en die offers van die Ou Testament “afskaf” dit is vervul en nie hulle nie meer nodig nie laat word. Hy sal onskuldig doodgemaak word en die stad sal verwoes word. Hierdie woorde wys op Jesus Christus se kruisiging en Jerusalem se verwoesting. God sal Jerusalem oordeel en laat verwoes, omdat Juda die Verlosser verwerp het. Die tweede regeerder waarvan ons in vs.27 lees, is nie noodwendig net een persoon nie. Daar was elke keer een regeerder. Een het die tempel verwoes. Na hom het weer een gekom wat tempel in ‘n toestand van verwoesting laat bly het en na hom weer een. Die tempel in Jerusalem is vandag steeds verwoes. Uiteindelik sou God elkeen van hierdie regeerders veroordeel, volgens sy ewige en onveranderlike besluit.

Wanneer ‘n mens Daniël 9 wil saamvat, maak twee baie belangrike en baie sterk woorde hierdie hoofstuk duidelik :

Verootmoediging en verlossing.

Die verloste gelowige deur Jesus Christus, wat met opregte verootmoediging voor God leef, sal die ewige lewe hê, nou reeds en in ewigheid na Jesus se wederkoms. Alles net uit genade!

Die mens wat sonder Jesus Christus is en nie met opregte verootmoediging voor God leef nie, sal volgens God se besluit die verskriklike oordeel tot in ewigheid moet verduur.

Gebed

Klankbaan

Luister na die preek.