Home Preke VERRYK JULLE GELOOF DEUR MEKAAR LIEF TE HÊ!

VERRYK JULLE GELOOF DEUR MEKAAR LIEF TE HÊ!

Datum: 2022-07-17

TEMA: VERRYK JULLE GELOOF DEUR MEKAAR LIEF TE HÊ!

  1. Ons is broeders en susters in Christus, daarom moet ons mekaar liefhê.
  2. Broederliefde is prakties.
  3. Broederliefde verryk jou geloof.

PS 18:1,14; PS 18:20; SB 70 (9-3):1,2; PS 133:1,2; SB 21 (9-4):1-3.

Geliefdes in die Here,

  1. Geliefdes, as verloste kinders van die Here het ons twee liefdesgebooie. Die eerste is dat ons God bo alles moet liefhê en die tweede is dat ons ons naaste moet liefhê.

Vanoggend kyk ons na wat God vir ons sê oor liefde vir mekaar. Omdat God vir ons lief is, wil Hy ook hê dat ons mekaar moet liefhê. In ons teks kry ons die opdrag om alles in die stryd te werp om ons geloof met broederliefde te verryk.

Daar is ʼn groot verskil tussen om van iemand te hou en om iemand lief te hê. Om van iemand te hou gaan oor gevoel, maar om iemand lief te hê gaan ook oor dade, wat jy vir iemand doen. Daarom kan ons selfs in die Bybel die opdrag kry om ons vyande lief te hê.

Geliefdes, liefhê in die Bybel is nie ʼn gevoelwoord nie, maar ʼn doenwoord. Liefhê is ʼn werkwoord. Jesus het sy liefde vir ons bewys deur vir ons aan die kruis te sterf. Sy liefde vir ons is sigbaar in wat Hy vir ons gedoen het. Ons mag dus nie toelaat dat ons gevoel oor iemand ons gedrag teenoor daardie persoon bepaal nie. As jy nie van iemand hou nie, beteken dit nie dat jy nou sommer liefdeloos teenoor hom of haar mag optree nie. Nee, ons gehoorsaamheid aan die Here moet ons optrede teenoor ander mense bepaal.

In gehoorsaamheid aan die Here moet ons dus die opdrag in ons teks gehoorsaam: Julle moet alles in die stryd werp om julle geloof met broederliefde te verryk. Die opdrag staan al in Petrus se Eerste Brief: Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê (1 Pt 1:22).

Om alles in die stryd te werp om iets te doen, beteken om iets jou hoogste prioriteit te maak, om dit met toewyding te doen, om dit as lewensbelangrik te beskou. Ons kan dus ook sê: Beskou dit as jou hoogste prioriteit, wy jou daaraan toe, besef dat dit lewensbelangrik is om jou geloof met broederliefde te verryk!

Maar as ek eerlik is, sal ek met skaamte erken: Om liefde aan medegelowiges te bewys is soms baie laag op my prioriteitslys. Baie laer as wat God wil hê dit moet wees. Daar is baie, baie ander dinge wat vir my belangriker is as dit. En dit is verkeerd.

In sy eerste brief gee Johannes twee kenmerke van ʼn ware gelowige (3:10-11): Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.11 Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. Die twee uitstaande kenmerke is dus: ’n Ware gelowige lewe regverdig en hy het sy medegelowiges lief. Daarom gee ook Johannes die opdrag: Ons moet mekaar liefhê!

Johannes herhaal hierdie gedagte as hy verderaan in die hoofstuk (3:20-23) skryf: … wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind. 23 En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.

Liefde vir mekaar in die gemeente is krities belangrik. As daar fout is daarmee, sal min ander dinge reg loop. Die wonderlike is dat ons teks sê dat die uitleef van liefde vir mekaar jou geloof verryk!

  1. Nou weet ek baie mense het ʼn verkeerde idee oor geloofsverryking. Hulle het die idee van: Geloofsverryking beteken dat ek een of ander buitengewone ervaring moet hê. Ek sal een of ander besondere gevoel beleef. Baie mense dink vandag dit is wat geloofsverryking beteken: een of ander ekstatiese ervaring of gevoel of belewenis.

Maar hierdie idee is nie Bybels nie. Nee, geloofsverryking in die Bybel is om jou geloof in dade te laat oorgaan. Om tot aksie oor te gaan. Om iets vir die Here en vir ander te doen! Daarom is daar dalk mense wat teleurgesteld is met die Bybel se idee van geloofsverryking.

Hulle wou iets beleef, maar die Heilige Gees stuur hulle om iets te gaan doen en daarvoor is hulle nie eintlik lus nie.

Luister maar weer wat sê God se Woord: Julle moet alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.

Hier word nie ʼn woord gesê oor gevoel nie, maar alles oor wat ons onder leiding van die Heilige Gees moet gaan doen. Maar as ons hierdie dinge gaan doen, gaan uitleef, gaan beoefen, onder leiding van die Heilige Gees, dan gaan ons geloof verryk word, dan sal ons iets beleef. Jy sal beleef dat jou geloof groei, jy sal dit beleef dat jy Jesus Christus beter leer ken. Jy sal vreugde in jou godsdiens beleef!

  1. Ons teks sê: Werp alles in die stryd om julle geloof met liefde onder mekaar te verryk. Die Griekse woord vir liefde onder mekaar is philadelphia. Letterlik beteken dit: liefde vir jou broer, broederliefde.

Dit gaan dus hier oor liefde vir medegelowiges. Dit is liefde onder mekaar, omdat ons broeders en susters in Christus is. Op grond van die feit dat Christus vir ons gesterf het, op grond van die feit dat Hy deur sy Gees in ons woon, moet ons mekaar liefhê. Omdat Christus iemand liefhet en hom sy kind gemaak het, moet ek ook aan hom of haar liefde bewys.

God sê dus eintlik vir ons: Ek het jou lief. Daarom het Ek my Seun gestuur om vir jou sondes te sterf en te betaal. Jy is nou My kind. Nie omdat jy enige goeie hoedanighede het nie, maar omdat Ek jou gekies het om my kind te wees. Uit genade en deur genade red Ek jou van jou sondes en die ewige dood. Jy moet onthou: as dit nie vir My liefde en My genade vir jou was nie, dan was jy vir ewig verlore.

Ook moet jy onthou: jy is nie die enigste een aan wie Ek my liefde en my genade bewys nie. Nee, daar is ander mense ook vir wie Ek net so lief is soos vir jou. Hulle is ook nou my kinders. Ek het hulle lief, DAAROM MOET JY HULLE OOK LIEF Hê! As Ek hulle liefhet, wie is jy dan om nie liefde aan hulle te bewys nie?

God vra van ons dat ons aan mekaar liefde sal bewys OMDAT ONS IN CHRISTUS BROEDERS EN SUSTERS VAN MEKAAR IS. Dink aan die liefde wat God aan jou bewys het en gaan jy en doen dieselfde aan jou medegelowiges. Die wonderlike is, terwyl jy dit doen, sal jou geloof verryk word!

Geliefdes, kom ons raak prakties:

Om broederliefde aan iemand te bewys wat ek nie ken nie, is eintlik onmoontlik. Ken ons mekaar goed genoeg in hierdie gemeentes? Ken ons byvoorbeeld die mense wie se name onder meelewing in die blaadjie staan? Ken ons die mense wie se name onder verjaardae vir die week staan? Ken ek die mense in my wyk? By hoeveel mense in die gemeente se huise was u al om vir hulle te gaan kuier of hulle by te staan met iets?

As die Here van ons verwag dat ons broederliefde aan mekaar sal bewys, dan verwag Hy natuurlik dat ons mekaar sal ken. Wat gaan u daaraan doen om u medegelowiges beter te leer ken? Hoe gaan u verseker dat u u medegelowiges goed genoeg ken, sodat u broederliefde aan hulle kan bewys?

Gaan u vanoggend by die tee-drink na iemand toe stap wat u glad nie ken nie of dalk net van sien ken en uself voorstel? Gaan u u wyk nooi om volgende week te kom tee drink by u huis? Gaan u ʼn wyksbyeenkoms reël by die kerk? Gaan u die name van almal oor 80 by die skriba kry en gaan u hulle begin besoek?

Gaan u ʼn punt daarvan maak om medelidmate goed genoeg te leer ken sodat u alles in die stryd kan werp om u geloof met broederliefde te verryk? Of gaan u die belangrike opdrag van die Here maar net ignoreer?

Onthou, ons behoort nie aan die kerk om bedien te word nie. Ons behoort aan die kerk om die Here te dien en die Here sê: As jy my wil dien, moet jy ook alles in die stryd werp om jou medegelowiges te dien. So sal jy jou eie geloof verryk.

Ons weet baie keer van iemand wat swaarkry of hartseer is of siek is, maar ons kyk maar anderpad of ons laat die dominee daarvan weet. Deur die dominee van iemand se swaarkry te vertel is reg, maar jy is liefdeloos as jy dink dat JOU VERANTWOORDELIKHEID daarmee afgehandel is.

Nee, God se opdrag is baie duidelik: Werp alles in die stryd om julle geloof met liefde onder mekaar te verryk. Dit sluit in: Dra mekaar se laste. Ware philadelphia is om self te gaan en te gaan help en vertroos.

In ons gemeentes is daar deur God se groot genade ‘n hele paar lidmate wat hulle geloof so verryk, en daarvoor is ons die Here baie dankbaar. Maar is u een van hulle?

Ongelukkig is daar ook lidmate wat op geen manier meeleef nie. Hulle besef nie dat ons hier is om eerder liefde te gee en nie te ontvang nie. Ek moet liefde aan my medegelowiges bewys, nie omdat ek liefde van hulle ontvang nie, maar omdat ek liefde van GOD ONTVANG. Liefde wat tot die ewige lewe lei. Ek verryk my geloof deur liefde te bewys, te gee en nie deur daarop ingestel te wees om dit te ontvang nie.

Broederliefde beteken dus ook dat ons mekaar in liefde sal dien. Party mense dink hulle behoort aan ʼn kerk om bedien te word. Hulle dink die kerk is ʼn passasierskip en die ampsdraers is die kelners. Hulle kan maar net hulle vingers klap en bestellings gee. Nee, die kerk is ʼn oorlogskip.

Hier is nie plek vir passasiers nie. ʼn Passasier is net in die pad op ʼn oorlogskip. Elkeen is hier met ʼn doel, elkeen is hier om iets te doen. Daarom het die Here ook aan elkeen gawes gegee.

Ons is dus hier ter wille van die ander. Almal is nie hier ter wille van my nie. Ek is hier ter wille van hulle. Daarom moet ek ook my geloof verryk deur ander te dien. Soos Jesus bereid was om sy dissipels se voete te was en uiteindelik sy lewe aan die kruis op te offer, so moet ons ook bereid wees om mekaar te dien.

Dit hou ook in dat ons meer met mekaar sal praat as van mekaar.

Broederliefde moet nie net in die gemeente nie, maar ook in die huisgesin bewys word. Broederliefde begin immers in die gesin. In die gesin moet ons soos broeders en susters in Christus lewe. As ons dit daar nie eens doen nie, kan ons maar daarvan vergeet om dit in die gemeente te doen.

Ons bewys ook broederliefde aan mekaar deur te bid vir mekaar. Christus tree elke dag by die Vader vir my in. Daarom moet ek ook vir ander bid. Soos wat Christus nie sy eie belange eerste gestel het nie, maar myne,

so moet ek ook nie my belange vooropstel nie, maar die van my medegelowiges, ook wanneer ek bid. Maar hoe kan ek vir iemand bid as ek hulle nie ken nie en nie weet wat hulle nood en behoeftes is nie?

Sodra ek begin voorbidding doen, nie net vir my eie nood nie, maar ook vir die van ander, dan sal ek dit ook begin regkry om ander se laste te help dra.

Broederliefde beteken ook dat ons mekaar vergewe. Hier sit sekerlik vandag ook van u wat een of ander wrok koester, wat nog nie hulle mans of vrouens of ouers of kinders of ouderling of diaken of predikant of werkgewer of buurman of onderwyser of klasmaat of wat ook al vergewe het nie. Nee, ons het die opdrag om mekaar te vergewe, soos God ons vergewe, anders is ons liefdeloos. Broederliefde beteken ook dat ons mekaar vergewe, omdat God ons vergewe. Ons bely elke Sondag dat ons aan die vergewing van sondes glo. Ons moet self ook hierdie belydenis bevestig deur mekaar te vergewe.

Ons glo mos ook aan die gemeenskap van gelowiges. Dit is die gemeenskap van mense wat deur God vergewe is en wat daarom ook bereid is om mekaar te vergewe.

Maar die gemeenskap van die gelowiges beteken ook dat ons die gawes wat die Here aan ons elkeen gegee het, sal aanwend tot eer van God se Naam en tot voordeel van my broeder en my suster in die Here. Dat ons dit nie net sal doen nie, maar gewillig en met vreugde.

Broederliefde vra van ons dat ons ook alles in ons vermoë sal doen om alles wat hierdie eenheid in Christus bedreig, uit te roei. Los praatjies wat mense teen mekaar opmaak, is sonde en bedreig die eenheid. Dwaalleer en die weiering om my aan die gesag van die Woord te onderwerp, is sonde en bedreig die eenheid. My weiering om mee te leef met my medegelowiges is sonde en bedreig die eenheid.

Nee, ons moet die eenheid in Christus bewaar EN AKTIEF BEVORDER en veg teen alles wat die eenheid kan skaad.

  1. Die opdrag om ons geloof met broederliefde te verryk is moeilik maar belangrik. Daarom loop die opdrag soos ʼn goue draad dwarsdeur die Bybel.

Mag die Heilige Gees ons elkeen so diep onder die indruk bring van God se liefde vir ons, dat ons alles in die stryd sal werp om ons geloof met broederliefde te verryk!

So sal ons met ons lewens bewys dat God ons geroep en verkies het. So sal ons God eer en so sal ons geloof verryk word.

So sal ons as gemeentes aan ons Godgegewe doel beantwoord. So sal ons nie net die gemeenskap van die heiliges bely nie, maar ook verwesenlik en so sal ons vrye en feestelike toegang hê tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

Julle moet mekaar liefhê en julle geloof met liefde vir mekaar verryk. Mag God ons deur sy Gees daartoe lei en help!

AMEN.