Home Preke Voorbereiding bring my by belydenis

Voorbereiding bring my by belydenis

Datum: 2021-02-28
|
Kernverse: 1 Johannes 1

Lees: 1 Johannes 1

Inleiding:

Nagmaal is te belangrik te spesiaal en te kosbaar om ‘n gewoonte te wees. Om te keer dat nagmaal ‘n gewoonte by my word, het ek nodig om my goed voor te berei. Vanoggend se erediens gaan juis oor voorbereiding vir nagmaal.

Tema: Voorbereiding bring my by belydenis

  1. Sonde is ‘n ernstige bereiging vir my

Mense, nou gaan dit oor mense wat hulleself gelowiges en selfs Christene noem, doen baie keer vreemde dinge met dit wat in die Bybel staan. Van die vroegste tye af het dit gebeur. Die probleem is dat iemand wat vreemde en verkeerde dinge sê en maak asof dit in die Bybel staan, dikwels ‘n baie sterk invloed het.

Waarmee het Johannes en die Christene wat regtig naby Jesus en vir Hom wou leef te doen gekry?

Vir vanoggend noem ek twee dwalings.

Daar was mense wat hulleself Christene genoem het en die volgende geglo en wyd vertel het:

Die eerste: Jy kan in Jesus Christus glo en jy kan leef soos jy wil. Jou geloof en jou lewe in die wêreld het niks met mekaar te doen nie. Daarom het Johannes die volgende geskryf: “As ons beweer dat ons aan Hom, dit is Jesus, deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie” (1 Joh.1:6).

Die tweede: Omdat jy in Jesus Christus glo, het jy eintlik nie meer sonde nie. Vir hierdie dwaling het Johannes geskryf: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie” (1 Joh.1:8).

Dit was die mense destyds. Hoe gaan dit met ons vandag? Oor sonde dink en glo en sê baie in ons land:

  • Daar is nie regtig iets soos sonde nie. Elke mens het die reg om self te besluit hoe hy of sy wil lewe en niemand het enigiets daaroor te sê nie.

  • As daar nog sprake van sonde is, is dit net dinge wat volgens mense baie verkeerd is, soos diefstal van baie geld en moord.

Om hierdie verkeerde dinge oor sonde te glo en te sê, is ‘n baie gevaarlike pad om te loop.

Die Here leer ons in sy woord wat sonde is. Die woord wat Johannes deur die Heilige Gees in vs 8 gebruik is “hamartia” in Grieks. Dit beteken om jou doel te mis, of om iets te verloor.

My doel op aarde is om God se beeld uit te dra en te wys. Enigiets wat ek doen wat nie God se beeld wys nie, is sonde wat die dood verdien. Daar is baie dele in die Bybel waar die Here ons leer hoe om sy beeld uit te dra (Mt.5-7 en Johannes se drie briewe is goeie voorbeelde). Ek gaan nie vanoggend hierop verder in nie.

Die belangrike is dat ons sonde sal sien soos God sonde sien en nie volgens mensgemaakte idees nie. Dit is baie belangrik om die regte Bybelse siening van sonde te hê, want sonde is ‘n baie ernstige bedreiging vir elke Christengelowige.

‘n Vraag vir elkeen van ons in hierdie voorbereidingstyd: Weet ek wat sonde volgens die Bybel is en ken ek my eie sonde?

  1. My belydenis is baie belangrik en nodig

Omdat sonde ‘n baie ernstige bedreiging is, is voorbereiding vir nagmaal regtig nodig. Voorbereiding beteken nie net een erediens nie. Voorbereiding beteken geestelike werk met die Bybel oop in my hand en met ‘n gebed in my hart dat die Heilige Gees my sal help.

Wanneer ek tydens my voorbereiding vir nagmaal biddend met die Bybel besig is, sal ek by belydenis uitkom.

My eerste belydenis sal wees: Here ek is ‘n sondige mens!

Hierdie belydenis kom uit ‘n hart met opregte geloof.

Hierdie belydenis is met die leiding en hulp van die Heilige Gees.

Die woorde in verse 6 en 8 was ook belydenisse van daardie tyd, maar glad nie sondebelydenisse nie. Die belydenisse bestaan vandag steeds:

  • Die Bybel en geloof is vir Sondag. Ek kan die res van die week doen wat ek wil. .Dit het niks met die Bybel of geloof te doen nie.

  • Jesus het my verlos. Ek is gered. Ek het eintlik nie meer sonde nie. In elk geval doen ek nie die lelike goed wat ander doen nie.

Hierdie belydenisse wat in mense se harte leef en wat sonde ontken of verklein, is die rede waarom so baie vandag dink hulle het Jesus Christus nie nodig nie.

Dit is so belangrik dat ek in ons land en hier in ons omgewing waar ek bly, my sonde voor God sal besef en met ‘n opregte hart vol berou my sonde eerlik voor Hom sal bely. Dit is nodig dat ek elke dag van my lewe met ‘n Bybelse sondebesef sal leef. Dit is verder nodig dat ek dit wat sondig is openlik sal teenstaan. So getuig ek met my belydenis van sonde dat sonde nie iets klein is en eintlik nie so erg en verkeerd is nie.

‘n Vraag vir elkeen in hierdie tyd van voorbereiding: Besef ek my sonde en bely ek alles eerlik voor die heilige God?

  1. God se vergifnis deur Christus is ‘n werklikheid

My belydenis bestaan nie net uit belydenis van my sonde nie. Hoe so? As ‘n ware en opregte Christengelowige het ek die wondergenade van Jesus Christus in my lewe.

Belydenis van my sonde bring my by belydenis van Jesus Christus, die Seun van die lewende God, my Verlosser. Die Jode tydens Jesus se tyd op aarde het ‘n baie gebrekkige sondebesef gehad. Hulle het op hulle goeie lewe volgens hulle eie maatstaf staatgemaak. Daarom het baie van hulle gedink hulle het Jesus nie nodig gehad nie.

Wanneer ek met die Heilige Gees se hulp en leiding my vir nagmaal voorberei en my sonde voor God besef en bely, kom ek ook by my belydenis oor Jesus Christus uit.

Die Heilige Gees leer my elke keer weer wanneer ek die Bybel oopmaak, en Hy herinner my daaraan hoe nodig ek Jesus Christus, my Verlosser het. Die Heilige Gees lei my met ‘n deel in die Bybel soos 1 Joh.1 dat ek Jesus Christus in my lewe het! Ek kry in die Bybel die sterkste getuienis dat:

Jesus Christus regtig mens geword het!

Dat Hy regtig vir ons aan die kruis gesterf en opgestaan het!

Dat Hy ons regtig van al ons sonde volmaak verlos het!

Dat ons deur Hom regtig die ewige lewe het!

Om hierdie belydenis in hierdie besige en deurmekaar wêreld weer vas en seker in my hart te maak, het ek nagmaal nodig. Nagmaal sal alleen vir my regtig betekenis het, indien ek my geestelik goed voorberei het.

Deel van my voorbereiding is my geloofsbelydenis oor my Verlosser, Jesus Christus deur Wie ek volmaakte vergifnis vir al my sonde by God gekry het. Ek bely my geloof in my Verlosser in my gebede voor God. Ek bely verder voor God en sy gemeente dat ek vergifnis by my Verlosser soek en kry, wanneer ek nagmaal gebruik.

Ek weet ek het vergifnis deur Christus by God gekry, want God het dit beloof en Hy is getrou. Hy is ook regverdig, dit beteken Hy doen wat Hy gesê het. Hy het gesê Hy sal ‘n verlosser stuur en Hy het. Hy het ook gesê Hy sal ‘n hart vol berou nie wegstoot nie. Hy sal doen wat Hy gesê het.

‘n Baie belangrike vraag tydens my voorbereiding vir nagmaal is: Besef ek hoe nodig ek Jesus Christus het en glo ek vas en seker dat Hy my volmaak van al my sonde verlos het?

  1. Dat ek verder nuut sal leef, is noodsaaklik

‘n Christengelowige doen deur die Heilige Gees belydenis van jou geloof met jou mond. Jy praat, jy getuig, jy bely met woorde wat jy sê. Ons praat oor so baie dinge wat in die land en in ons lewe gebeur. As Christengelowiges het ons die baie belangrike opdrag en baie goot verantwoordelikheid om ook oor God se genade in Jesus Christus te praat.

Dan doen ‘n Christengelowige ook belydenis van jou geloof deur jou lewe, jou optrede, wat jy doen. Hierdie is baie belangrik.

Woorde is nodig. Die Here sê self so: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word” (Rom.10:9). Maar woorde sonder die lewe beteken niks. Die Here sê dit ook: “Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Hulle die My soos mense dit wil hê, en nie soos Ek wil nie” (Jes.29:13).

As verloste nuwe mens deur Jesus Christus, het ek die direkte opdrag van God af om nuut te leef. Ek lewe nuut wanneer ek my liefde vir God wys deur my gehoorsaamheid aan Hom. Ek lewe ook nuut wanneer ek met liefde vir my medemens leef.

Met my voorbereiding vir nagmaal is die baie belangrik dat ek diep sal nadink oor my lewe na nagmaal. Ek het nodig om voor die Here ‘n vaste besluit te neem om Hom nog liewer te hê en nog meer te gehoorsaam en as gelowige saam met ander nog beter en nog meer volgens God se wil in die gemeenskap van die heiliges te leef.

In my voorbereiding vir nagmaal, staan ek ook voor die volgende belangrike vraag: Is ek vas van plan om, nadat my geloof met nagmaal sterker gemaak is, my geloof nog beter en nog meer uit te leef deur God en my medemens lief te hê, soos Christus my leer?

Nagmaal is spesiaal, kosbaar en nodig. Nagmaal het regtig betekenis, wanneer ek deur die Heilige Gees myself goed voorberei het.

Gebed

Klankbaan

Luister na die preek.