Home Preke Vrede met God laat my geestelik groei wanneer ek swaar kry

Vrede met God laat my geestelik groei wanneer ek swaar kry

Datum: 2020-08-02
|
Kernverse: Romeine 5:1-11

Lees: Romeine 5:1-11

Inleiding:

Ons kry dit in die Here se Woord dat Hy swaarkry gebruik om ons geloof beter te maak (Ps.119:71, 1 Pet.1). Hoe doen die Here dit? Hoe maak Hy my geloof beter? In Rom.5:3,4 gee God die antwoord.

Die Bybel is bedoel om ‘n mens se lewe te verander. Dit is baie belangrik. Jy kan nie die Bybel lees en jou lewe verander nie. Waarom nie? Wanneer ek Bybel lees, praat God met my. Hy vertel my Wie Hy is, wat Hy doen en wat Hy wil hê ek moet doen. Om vir God iets te doen, is om my lewe te verander. Die verandering kom nie vanself nie. Ek is die een wat geestelik sal moet werk om te verander en my lewe in ooreenstemming met die Bybel te bring.

Bring nou hierdie twee waarhede bymekaar. God gebruik swaarkry om my geloof beter te maak en Hy wil dat ek deur sy Woord my lewe verander. Bymekaar beteken hierdie twee waarhede dat ek my hart en my gedagtes oor swaarkry sal verander. Die verandering is die tema vir vanoggend se preek:

Tema: Vrede met God laat my geestelik groei wanneer ek swaarkry.

  1. Ek het vrede met God

Elkeen van ons kom van ‘n lewe van onvrede met God af. Waarvan ons in Gen.3 lees, is deel van elkeen van ons se lewe. Onvrede met God werk deur na onvrede tussen mense onder mekaar. Onvrede hou niks goed in nie en bring net geweld. Daar is soveel voorbeelde in die Bybel:  Kain en Abel, Moses en die Egiptenaar wat die Israeliet aangeval het, Dawid en Goliat. Daar is soveel voorbeelde in die daaglikse lewe in ons land: Bendes op die Kaapse vlakte, aanvallers en moordenaars van die boere en hulle werkers.

Geweld lei tot die dood.

Die heel ergste onvrede is tussen God en mens. Die geweld van God se woede maak elke mens ewig dood. God dink nie ligtelik oor sonde nie. Inteendeel! Luister hoe bely ons in die Kategismus:” …sy toorn is verskriklik, sowel oor die erfsonde as die oor die sonde wat ons self doen” (HK, Sondag 4).

Maar….die onvrede tussen God en mens is verby. God het die onvrede beëindig.

Hy het sy Seun gestuur om in ons plek die geweld van sy straf te verduur. Jesus het ons sonde op Hom geneem. Hy het in ons plek bitter swaar gely en ‘n verskriklike dood aan die kruis gesterf. Deur sy dood het Jesus God se straf op ons sonde volmaak en enduit gedra. Hy het aan die kruis al die onvrede tussen God en ons weggeneem. Deur sy opstanding het Hy aan ons nuwe lewe gegee, lewe in vrede met God.

Vrede in die Bybel beteken eenheid, gebind wees aan en gebind leef aan. Vrede met God beteken ons is deur Christus aan Hom gebind in ‘n ewige verhouding met Hom.

Hierdie vrede met God is vir elkeen wat opreg in Jesus Christus as ons enigste Verlosser glo. Vrede met God het gebeur uit genade…..Genade wat nooit weer weg sal gaan nie.

  1. Hierdie vrede maak my bly

Vrede met God is vrede wat ‘n mens se verstand te bowe gaan. Dit is vrede wat jou bly maak met ‘n blydskap wat gekom het om te bly. Dit is blydskap wat die Heilige Gees jou gee.

Ek is bly oor die heerlikheid wat vir my wag.  Ek gaan die hemel betree. Ek was nog nooit daar nie. Ek het so baie van Christus gehoor. Ek gaan Christus sien soos Hy werklik is en ek gaan self verheerlik te wees. Dit nie moeilik om hieroor bly te wees nie.

In Romeine 5 lees ons ook van ‘n blydskap wat nie so maklik is nie.

Ek is bly oor swaarkry. Hierdie is ‘n boodskap wat meer as eenkeer in die Bybel baie duidelik en sterk is.

  • 1:2 – Hy begin sy brief hiermee: “ My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings julle oorval”.

  • 1 Pet.1:6 – gelowiges is verheug oor ons saligheid al is dit nodig om beproef te word.

  • 2 Kor.12:10 – Paulus is bly oor swaarkry.

  • 119:71 – Dit is goed dat ek swaargekry het.

Ons kry vreugde oor swaarkry in die Bybel as opdrag van die Here en as belydenis van gelowiges.

Ek is bly oor God self. Uiteindelik is my diepste blydskap oor God in my lewe.

Hierdie blydskap, hierdie vreugde kom van die Heilige Gees af. Dit is deel van die vrug van die Gees wat Hy in my werk. Blydskap wat van die Heilige Gees af kom, hou nooit op nie.

  1. Ek is met goeie rede selfs oor swaarkry bly

Hoekom sal ek bly wees oor swaarkry?

In Rom.5:3 en 4 gee die Heilige Gees deur Paulus se brief aan die gemeente in Rome, ‘n baie volledige en duidelike rede waarom ek kan bly wees oor swaarkry.

In teologiese opleiding leer studente verskillende lewensuitkyke ken. Een van die baie is Eksistensialisme. As student het ek altyd nog gewonder wat die sin is van al die denkrigtings wat so verkeerd is. ‘n Predikant is tog in die kerk van Christus besig en sal tog nie met hierdie denke te doen kry nie. Toe nou nie. Eksistensialisme gaan oor eksistensie, dit is my bestaan hier en nou. Wat belangrik is, is hier waar ek nou is. Nie die toekoms of die verlede maak regtig saak nie.

Ons as gelowiges moet baie versigtig wees vir hierdie sondige lewensuitkyk, veral wanneer dit by swaarkry kom. Swaarkry kan veroorsaak dat ook ‘n gelowige se lewe so verander dat al wat saak maak die hier en die nou is.

Gebeur dit? Ja, ongelukkig gebeur dit. ‘n Voorbeeld: Wanneer ek slegte tyding kry, verander my lewe byna in ‘n oogwink in ‘n lewe van hartseer en bekommernis wat ek hier en nou beleef. Hartseer en bekommernis kan my gedagtes, my gesprekke en selfs my hele lewe oorneem en maak dat ek God eenkant skuif.

God praat met ons juis hieroor. Hy wat alles weet, wat alle wysheid het, Hy praat met ons. Hy wys ons die pad weg van die hier en die nou in Rom.5:3,4. Die pad wat Hy ons wys, is die pad na Hom toe –

Swaarkry kweek volharding. Hoe? In swaarkry beleef ek my gevoelens van hartseer en bekommernis, ja! Maar ek gaan met my hartseer en bekommernis na God toe. En nie eers wanneer ek weer beter voel nie. Hier is dit so belangrik om baie goed te besef, dat wanneer ek voel ek kry te swaar en ek hou vir eers op om Bybel te lees en te bid, gaan staan ek nie op neutrale grond tot ek beter voel nie. Inteendeel! Wanneer ek ophou om na God te luister en ophou om met Hom te praat, beweeg ek weg van Hom af. Daarom is dit so belangrik om juis wanneer ek baie swaarkry dadelik na God toe te gaan. Oor hartseer sal God vir my sê dat Hy niks vir my gee, wat ek nie kan dra nie (1 Kor.10:13) en dat Hy oral by my is (Jos.1:9). Oor bekommernis sal Hy vir my sê, om alles vir Hom te gee, want Hy sorg vir my (1 Pet.5:7). Wanneer ek elke dag van swaarkry nie my gevoelens my laat oorheers nie, maar na God toe gaan, dan volhard ek, hou ek aan om in Hom te glo en Hom met my lewe te vertrou.

Volharding kweek egtheid van geloof. Wat gebeur wanneer ek aanhou om met my hartseer en bekommernis na God toe te gaan? Swaarkry toets ‘n mens se geloof. Dit is baie maklik om te glo, wanneer dit goed gaan. Maar is geloof wat net wys wanneer dit goed gaan, regtig eg? Egtheid wys wanneer jy swaarkry en jy steeds na God toe gaan en al jou vertroue in Hom alleen stel (1 Pet.1:6,7). Wanneer ons Ps.146:3 sing:” Salig hy wat in die lewe, sonder hulp en sonder raad, as hom alles wil begewe, vlug tot God, sy toeverlaat”, sing ons juis hiervan dat volharding egte geloof kweek. Wanneer ek in my swaarkry na God toe gaan, wys dit die egtheid van my geloof.

Egtheid van geloof kweek hoop. Hoe werk dit? Hoop in ons gewone taalgebruik is ‘n woord met baie onsekerheid in. Hoop in die Bybel is presies die teenoorgestelde. Hoop in die Bybel is om iets te verwag waarvan ek seker is. Iemand met ‘n egte geloof, hoop op God. Dit is: So iemand verwag van Hom alles. So ‘n gelowige is seker oor God dat Hy die beste weet, die beste beskik en dat sy manier en sy tyd altyd die beste is.

 Hoop beskaam nie, maar kom tot volheid. Wanneer ek op God hoop, sal ek nie teleurgestel word nie. God is volmaak. Hy sal alles laat gebeur volgens sy volmaakte wil, op sy volmaakte manier volgens sy volmaakte tyd.

  1. Ek weet swaarkry loop uiteindelik uit op ewige heerlikheid

God wil my deur swaarkry by hoop bring.

Waarop hoop ek?

Anders gestel: Wat verwag ek van God?

Die gelowige wat met die voorspoedgeloof of welvaartgeloof leef, dit is ‘n geloof wat baie vinnig uitbrei iin Suid-Afrika, verwag van God ‘n beter finansiële lewe – beter werk, beter salaris, beter huis, beter kar en alles wat daarmee saamgaan.

God praat ernstig met elke mens hieroor: “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense” (1 Kor.15:19). Hierdie woorde is ‘n waarheid met ‘n waarskuwing. Maak dan baie seker dat jy nie jou hoop op God hoofsaaklik op hierdie lewe vestig nie. Dit is ‘n vergeefse hoop!

Laat die Heilige Gees jou lewe beheers. Hoop deur die Heilige Gees net op Christus en deur Christus net op God, jou Vader in die hemel. God self is jou Enigste Ewige Sekerheid en ‘n lewe deur Christus by Hom en vir Hom, is die enigste lewe wat ewige sekerheid bied.

Uiteindelik sal God my bring by die heerlikheid in die hemel wat Hy voor die skepping van die wêreld al vir my bestem het. Niks wat hier op aarde gebeur, nie die slegste tyding of die pynlikste hartseer, sal kan keer dat God my op die tyd wat Hy bestem het, by Hom in sy Vaderarms sal neem nie.

Hierdie woorde in Rom.5:3,4 behoort ‘n Christen heeltemal anders na swaarkry in hierdie stukkende wêreld te laat kyk.

Die mens wat God nie ken nie, leef met baie verwyte oor die swaarkry in die lewe. Hierdie verwyte bied ‘n verskoning om nie tot bekering te kom en God regtig te leer ken en die ewige lewe deur Christus te kry nie. So ‘n mens bly met verwyte en al buite die koninkryk van die hemel en gaan verlore.

Dit is so belangrik dat ek juis in tye van swaarkry heeltemal anders as die wêreld sal leef. Swaarkrytyd is tyd om nog ernstiger te bid dat God deur sy Gees my sal help dat hartseer en bekommernis nie my gedagtes en my hart sal oorneem nie.

Dit is ook tyd om te bid dat God sal help dat verwyte en opstandigheid nie in my gedagtes en hart sal kom nie.

Dit is veral tyd om te bid vir volhardig, egtheid van geloof en hoop in my hart en gedagtes.

Wanneer ek in swaakrytye so na God toe gaan, sal ek geestelik nader na Hom toe groei. Dit maak dat swaarkry ook goed is en nie net sleg nie.

Klankbaan

Luister na die preek.