Home Preke Vrede op aarde is moontlik, maar net deur Jesus Christus

Vrede op aarde is moontlik, maar net deur Jesus Christus

Datum: 2021-12-19
|
Kernverse: Johannes 14:15-31

Votum: Ons is nou voor die HEILIGE GOD – Ps.124:8

Die seën waarmee God ons in die erediens ontvang : Genade, barmhartigheid en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.

Lees: Johannes 14:15-31

Tema: Vrede op aarde is moontlik, maar net deur Jesus Christus

Inleiding:

Met Kerstyd bevind ons ons in die seisoen van vrede. Is vrede op hierdie aarde moontlik? Hoe moet ons die “vrede” waarvan Jesus Christus gepraat het, verstaan? Luister vanoggend saam na wat Ons Verlosser vir ons oor vrede sê.

Tema: Vrede op aarde is net moontlik deur Jesus Christus

  1. “Vrede laat Ek vir julle na”

“Vrede op aarde” is van die bekendste woorde rondom Kersfees. Die engele uit die hemel het in ‘n koor oor vrede, juis hierdie bekende woorde gesing. Voor Hy later gevange geneem sou word, het Jesus daardie aand met sy dissipels oor vrede gepraat. Sy woorde was “vrede laat ek vir julle na” (vs 27).

Hoe sien ‘n mens dan so min vrede op aarde?

  • Daar is nie mediese vrede nie. Hospitaalpersoneel het verlede jaar gepraat van ‘n oorlog teen Covid. In ons land staan twee groepe mense teenoor mekaar in onvrede: Inent of nie.

  • Daar is nie sosiale vrede nie. Hierdie jaar in Julie se onluste het gewys dat daar nie vrede in die land is nie. Die aanrandings en moorde wat amper alledaags geword het, wys onrus en onvrede.

  • Daar is nie politieke vrede nie. Nie in ons land nie, Nêrens in die wêreld nie – Amerika met sy twee partye wat mekaar se vyand is, Israel en Palestina wat vir dekades al oorlog maak, China en Hongkong en Taiwan, Afghanistan waar die Taliban oorgeneem het en mense wat anders dink eenvoudig onderdruk en selfs doodmaak.

  • Daar is nie finansiële vrede nie. Onteiening sonder vergoeding is steeds ‘n knelpunt in ons land. Die werkloosheid wat hopeloos te veel is, die munisipaliteite wat Eskom nie betaal nie, die baie hoë brandstofprys en die IMF se waarskuwings aan Suid-Afrika oor die land se finansies is alles tekens van onrus en onvrede.

  • Ons kan nog praat oor onrus in gesinne, in die polisie, die wildlewe waar soveel as 24 renosters reeds hierdie Desember gestroop is en talle ander terreine van die lewe.

Nou kom ons vanoggend by ‘n vers soos Joh.14:27. Jesus Christus, God se Seun, het gesê: “Vrede laat Ek vir julle na”.

Wanneer ons na hierdie woorde kyk is die volgende belangrik:

  • Wie die woorde sê – Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser is aan die woord. Onmiddellik moet elkeen besef dat hier ‘n dieper betekenis aan hierdie woorde is. Dit sal nie oor gewone vrede, wat afwesigheid van vyandigheid en oorlog beteken, gaan nie.

  • Vrede – Die Griekse woord vir “vrede” beteken – eenheid, eenwees, naby mekaar wees.

  • Nalaat – Jesus Christus laat iets op die aarde agterbly. Wat Hy gedoen het en Wie Hy was, gaan nie net verdwyn nie. Hy gaan iets agterlaat en ons weet dit is vrede.

  • Julle – Die eerste hoorders is die dissipels. Maar hulle was op daardie tydstip nie net elf mans wat vroeër die aand saam met Jesus die pasga wat toe die nagmaal geword het, gebruik het nie. Hulle was elf, want Judas Iskariot was toe al weg. Die dissipels was die begin van die kerk van die Nuwe Testament. Jesus het dus met sy kerk gepraat.

Die kerk van Jesus Christus het dus die eenwees, die eenheid wat ons Verlosser nagelaat het.

Iets oor die opmerking wat die laaste tyd dikwels in ons land gehoor word: Die kerk kan my nie in die hemel bring nie. Dit is die woorde van ‘n mens wat nie aan ‘n gemeente behoort nie, nie die nodigheid daarvan insien nie en ook nie ‘n gelowige in ‘n gemeente wil word nie.

Wel, die vrede wat Jesus Christus nalaat, is net vir sy kerk bedoel. Niemand anders het hierdie vrede nie. Verder in die preek, sal die belangrikheid van hierdie vrede en die noodsaaklikheid om deel van Christus se kerk te wees duideliker word.

  1. “My vrede gee Ek aan julle”

Die vraag is: Hoe laat Jesus die vrede vir sy kerk na?

  • Hy neem die onvrede tussen God en mens weg.

  • Hy bring nuwe vrede tussen God en mens.

  • Hy leer sy kerk van hierdie vrede.

  • Nadat Hy opgevaar het, stuur Hy en sy Vader die Heilige Gees om sy kerk in vrede met God te help leef.

  • Jesus Christus neem die onvrede tussen God en mens weg.

  • Jesus Christus, God se Seun word mens deur ‘n almagtige wonder. Ons herdenk juis hierdie wonder met Kerstyd. Selfs met Kerstyd is dit reeds nodig om aan Jesus Christus en die volheid van sy verlossingswerk te dink en God uit ons harte daarvoor te dank.

  • Jesus Christus laat Homself doop. Hy het nie nodig gehad om die teken wat wys op die afwas van sonde te ontvang nie, maar Hy het. deur sy doop gewys Hy neem ons sonde op Hom.

  • Met ons sonde op Hom verduur ons Verlosser die bitterste lyding en sterf Hy ‘n verskriklike dood aan die kruis.

  • Dit alles neem Hy op Hom, om in ons plek die straf en oordeel wat ons moes kry, voor sy Vader te dra. Deur sy dood betaal Hy die skuld wat die mensdom voor God gehad het, die dood.

  • Hierdeur het Hy die onvrede tussen God en mens weggeneem – eenmaal aan die kruis en tot in ewigheid volmaak weggeneem.

  • Hy bring vrede tussen God en mens

  • Hy oorwin die dood en verwerf die ewige lewe by God vir elkeen wat Hy verlos het. By die kruis op Golgota en die leë graf in die tuin van Josef van Arimatea word die nuwe mensdom gebore, die kerk van Jesus Christus.

  • Deur Jesus Christus, is elkeen wat in Hom glo, kind en erfgenaam van die ewige lewe in die ewige genadeverbond. Elke gelowige in die genadeverbond het vrede, ewige vrede met God. Hierdie vrede beteken ‘n innige verhouding met God en ‘n lewe onder sy liefde, sy genade, sy sorg, sy beskerming.

  • Net die kerk van Christus, dit is die opregte gelowiges in Jesus Christus, is kinders en erfgename van die ewige lewe en het vrede met God. Daarom bely ons: Buite die kerk is daar geen saligheid nie.

  • Jesus leer sy kerk van hierdie vrede

  • Jesus het soms dinge gesê wat sy dissipels baie ontstel het. Hy het byvoorbeeld gesê dat een van die binnekring van sy dissipels Hom sou verraai. Daardie laaste aand het Hy ‘n paar keer gesê dat Hy binnekort sou weggaan. Om sonder Jesus te moet wees, het hulle hewig ontstel en met allerhande vrae gelaat. Jesus Christus het ook aarde toe gekom om mense te leer van God se wonderverlossingsplan. Deel van hierdie verlossing was Jesus se hemelvaart en die koms van die Heilige Gees. Jesus het sy dissipels, dit is sy kerk by meer as een geleentheid verseker dat Hy sy kerk nie alleen agter sou laat nie. Wat sou Jesus doen?

  • Daardie aand het die dissipels ook gehoor dat Jesus Christus Iemand soos Hy, so moet ons die woorde in vs 15 “’n ander Helper” verstaan, sou stuur. Jesus Christus sou sy verlossingswerk waarvoor Hy gekom het, volmaak voltooi op aarde. Daarna sou die Heilige Gees, die Gees van die waarheid, kom om die dissipels, die kerk te lei in ‘n lewe aan Jesus Christus gebind en deur Hom aan God gebind. Lewe deur die Gees is ‘n lewe in ‘n innige verhouding met Jesus Christus, ‘n lewe van nabywees, van eenwees met die Here Jesus en deur Hom met die Allerhoogste God.

  • Hierdie lewe is ‘n lewe van vrede op aarde!

  • Hierdie vrede kom net deur Jesus Christus!

  • Hierdie vrede is net vir die gelowige wat in die Here Jesus glo en aan Hom behoort, dit is sy kerk!

  • Die Heilige Gees help die kerk om met vrede te leef

  • Wie vrede met God het, leef heeltemal anders as iemand sonder hierdie vrede. So iemand leef in vrede met God, dit is leef met liefde vir Hom en gehoorsaam aan Hom naby Hom.

  • Hierdie lewe gebeur nie vanself nie. Hierdie lewe gebeur deur die Heilige Gees. Deur die Heilige Gees leef Christus se kerk, dit is die gelowiges in vrede met God en in vrede met mekaar.

Een vraag is nog belangrik. Waar is hierdie vrede? In die hart en die gedagtes, die verstand van elkeen wat in Jesus Christus glo. Vrede wat Jesus Christus gee, is binne-in my, as Christen gelowige.

  1. Nie die vrede wat die wêreld gee nie

Die vrede waarvan Jesus gepraat het, het Hy verder beskryf met die woorde: Dit is nie die soort vrede wat die wêreld gee nie.

Watter vrede gee die wêreld? Die wêreld se vrede hang van omstandighede af.

‘n Baie goeie voorbeeld is juis die uitbreek van die Koronavirus die afgelope twee jaar. Met die uitbreek van die virus is die hele wêreld omver gegooi en was daar onrus. Toe die enstowwe vervaardig is, was daar rustigheid om dit so te noem. Dit is, tot die uitbreek van die Delta-variant wat die rus en vrede weer laat verdwyn het. Toe die entstowwe goed begin werk het ook teen daardie variant,  was daar rustigheid en vrede, net om deur die Omikron-variant weer omver gegooi te word. Dit wys presies hoe kortstondig en hoe onseker die vrede is wat die wêreld gee.

Wanneer dit by ekonomiese vrede kom, as dit nie die olievoorraad of die rentekoerse in die VSA is nie is dit die onenigheid tussen China en die VSA of die onenigheid in die Midde-Ooste of die besluit van die olieproduserende lande wat olieproduksie minder wil maak nie, maar daar sal altyd ‘n omstandigheid wees wat onrus en onvrede op ekonomiese gebied bring.

Daar sal in hierdie sondige en stukkende wêreld altyd een of ander gebeurtenis wees wat onrus en onvrede veroorsaak. Vrede wat van omstandighede afhanklik is, is nie die regte ware vrede wat bly nie. Daarom dat Jesus vir sy dissipels gesê het dat sy vrede nie die vrede is wat die wêreld gee nie.

Die vrede wat Jesus Christus gee, het juis gekom in die mees ontwrigtende en ernstigste omstandighede in sy lewe, met sy sterwe aan die kruis! Deur sy onvrede het Jesus Christus vir sy kerk, sy gelowiges ware, ewige vrede met God gebring.

  1. Moenie ontsteld of bang wees nie

Jesus het sy woorde oor vrede afgesluit deur te sê: “Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie”. Jesus se eintlike woorde was “Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie”.

Die dissipels was ontsteld, dit is hartseer, verward en met ‘n warboel van emosies wat nie goed was nie. Die dissipels was veral ontsteld en bang, want hulle het by Jesus gehoor dat Hy weg sou gaan. Om sonder Hom agter te moes bly, kon hulle hulle nie indink nie en dit ook nie aanvaar nie.

Jesus het hulle getroos. Hulle hoef nie bang te wees nie. Ontsteld wees en bang wees maak  mens onseker en laat jou terugdeins en baie swaar kry in hierdie wêreld.

Jesus het die dissipels op ‘n spesiale manier getroos. Hy het vir hulle werk gegee om te doen, geestelike werk. Hulle moes aan hulleself werk dat elkeen se hart nie ontsteld en bang moes wees nie.

Die moeilike omstandighede van hierdie wêreld moet my nie ontstel en bang maak nie. Nou is daar juis soveel wat my hart ontsteld en bang kan maak.

  • Covid is ‘n baie gedugte en gevaarlike siekte wat mense baie bang maak.

  • Ander ernstige siektes, soos osteoporose, diabetis, hartprobleme en baie ander kan my hart ontsteld en bang maak.

  • Die onteiening van eiendom sonder vergoeding en ander soms roekelose uitsprake van politici kan my hart ontsteld en bang maak.

  • My hart sal veral ontsteld en bang wees, wanneer ek dink dit is net ek of wanneer ons dink dit is net ons in hierdie sondige en deurmekaar wêreld. Dit gebeur wanneer ons vergeet dat Jesus Christus, die Seun van die lewende God, ons Verlosser by ons is. Hy is deur sy Heilige Gees by ons, in ons.

Die Heilige Gees in my, wat my seker maak van my vrede met God en wat my lei en help om met vrede te leef, gee my die geloofskrag, die geestelike krag om nie met ‘n ontstelde en bang hart te leef nie. Die Heilige Gees help my om aan myself te werk dat ek nie met ‘n bang en onstelde hart leef nie.

Wanneer dinge gebeur wat my hart onstel en my hart bang maak –

  • Onthou Jesus Christus se woorde in 14:27.

  • Maak sy woorde joune in jou hart, jou gedagtes, jou geheue.

  • Gebruik sy woorde wanneer omstandighede jou ontstel en bang maak.

  • Bid dat die Heilige Gees jou sal help dat die onsteltenis en die bangwees nie meer word as die vrede in jou hart nie.

Wanneer Kersdag kom, as die Here wil, en ons die geboorte van ons Verlosser herdenk, dink aan aan sy Woorde daardie aand: “Vrede laat ek vir julle na. My vrede gee ek aan julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle hart moet nie ontsteld en bang wees nie”.

Glo in Jesus Christus, die Vredevors!

Leef deur die Heilige Gees met die vrede wat ons Verlosser vir jou gee!

Gebed

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.