Home Preke Waar bekering is, is daar hoop

Waar bekering is, is daar hoop

Datum: 2022-12-16
|
Kernverse: 1 Kon.8:46-51

ONTMOETING

Votum: Ps.124:8

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.118:1,2,4

VEROOTMOEDIGING

Gebed

Sang: Ps.38:1,8,17

VERKONDIGING

Lees: 1 Konings 8:22-66

Kernverse: 1 Kon.8:46-51
Tema: Waar bekering is, is daar hoop

Sang: Ps. 118:1,2,4; Ps.38:1,8,17; Ps.68:1,9; Ps.130:2,3,4

Inleiding:

Die dag toe die tempel in gebruik geneem is en aan die Here gewy is, was ‘n baie groot en baie belangrike dag in die lewe van Israel, die verbondsvolk. Baie belangrike dinge het daardie dag gebeur.

  • ‘n Groot skare was bymekaar. Die oudstes van Israel, al die stamhoofde, die familiehoofde en die res van Israel was daar by die tempel bymekaar.
  • Die priesters en die Leviete het die verbondsark van Jerusalem, die stad van Dawid, ook genoem Sion wanneer die godsdienstige betekenis van die stad beklemtoon word, gebring.
  • Saam met die ark het al die heilige voorwerpe wat die Here in sy tempel wou hê, ook gekom.
  • Salomo en die hele Israel was daar voor die ark bymekaar. Hulle het ‘n menigte beeste en kleinvee geoffer.
  • Daarna het die priesters die ark op sy plek in die Allerheiligste neergesit. In die ark was die twee kliptafels met die wet van die Here op.
  • Die priesters het uit die Allerheiligste gegaan, waarna ‘n wolk die tempel gevul het. Die wolk het gewys op die Here se teenwoordigheid by sy verbondsvolk.
  • Salomo het voor die altaar gaan staan. Hy het sy hande na die hemel uitgebrei. Hy het gebid.

Vandag is Geloftedag. In die geskiedenis van die Afrikanervolk, in die geskiedenis van Suid-Afrika is en bly hierdie ‘n belangrike dag. Geloftedag is ‘n belangrike dag wanneer ons God soek en die dag ‘n dag van gebed maak.

Salomo het oor sonde gebid, oor bekering, oor die smeekgebede van die verbondsvolk en oor die hoop vir die verbondsvolk. Ons sal goed doen, wanneer ons op hierdie gebedsdag, hierdie dankdag oor ons sonde bid, oor ons bekering en met smeekgebede na die Here toe gaan en ons hoop by ons Verbondsgod soek. Ons sal goed en reg doen wanneer elke dagvan ons lewe so lyk.

Tema: Waar bekering is, is daar hoop

  1. Sonde

Salomo se gebed oor sonde was so:

  • Hy het gebid oor wanneer iemand in Israel teen sy naaste sondig (vs 31).
  • Hy het gebid vir wanneer die verbondsvolk Israel in ‘n geveg deur ‘n vyand verslaan word, omdat hulle teen die Here gesondig het (vs 33).
  • In sy gebed het Salomo gedink aan Israel se sonde teen die Her, sodat die Here die reën teruggehou het (vs 35).
  • Salomo het gebid vir wanneer daar hongersnood en peste in die land is, omdat die verbondsvolk teen die Verbondsgod gesondig het (vs 37,38).
  • Salomo het selfs vir buitelanders in die land gebid wat teen God sondig (vs 41).
  • Hy het in sy gebed gedink aan Israel wat uittrek om oorlog te maak en dat die Here hulle aan die vyand oorgee, omdat hulle gesondig het (vs 44,45).
  • Hy het gebid vir die sonde van die hele Israel, want daar is geen mens wat nie sondig nie (vs 46).

Tot sewe keer het Salomo oor sonde gebid – iemand wat teen ‘n ander sondig, die hele verbondsvolk wat sondig en selfs ‘n vreemdeling uit ‘n ander land wat sondig. Hoe moet ons hierdie gebed, eintlike sewe gebede in een verstaan?

Salomo het met ‘n diep sondebesef voor die Here gestaan en daaroor gebid.

Die Afrikaners in Suid-Afrika sal goed doen, indien ons by Salomo leer in hierdie deel wat die Heilige Gees laat skryf het. Ons het baie sonde om voor te bid.

  • Die Afrikaners kom veels te min kerk toe en kry te maklik redes om nie in ‘n erediens te wees nie.
  • Afrikaners is te lief vir geld. Christus se kerk kry swaar, maar die vakansies wat gehou word, die selfone, die toerusting in die huise en al die ander dinge wat gekoop word, wys daar is baie geld en baie liefde vir geld.
  • Afrikaners is te humeurig byvoorbeeld op die pad en selfs in die kerk. Die oomblik wat iemand nie ry soos ek wil hê nie, of my pla op die pad, vererg ek my baie en gebruik soms lelike taal. Die oomblik dat die predikant of die kerkraad iets sê waarvan ek nie hou nie, gaan ek uit die kerk uit.
  • Afrikaners se sondebesef is heeltemal te swak. Ons sondig baie en ons bly bykans in elke gebed net oor sonde bid in ‘n paar woorde aan die einde van my gebed.

2. Bekering

Die Here leer ons in Salomo se gebed in 1 Kon.8 dat gebed en bekering hand aan hand gaan.

Hoe dikwels dink ons nie dat ons gebede nie verhoor word nie!

Baie keer wonder ons en vra ons hoekom die Here ons gebede nie antwoord nie.

Luister saam na hierdie gebed.

 Vs 33“ As u volk Israel verslaan word voor ‘n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul tot U bekeer en u Naam bely en tot U bid…”

Vs 35 – “As die hemel toegesluit bly, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en van hul sonde hul bekeer…”

Vs 46,48“As hulle teen U sondig – want daar is geen mens wat nie sondig nie -…en hulle hul tot U bekeer met hul hele hart en met hul hele siel en smeek…”

Bekeer en bid en die Here se Naam bely, het Salomo oor en oor daardie dag gebid.

Veral Gereformeerde Afrikaners ken die woord bekering goed. Ons praat dikwels van daaglikse bekering. Hoekom lyk dit dan asof ons net by praat oor bekering bly? Te min van ons se lewe wys opregte bekering.

Een van die redes waarom daar so min bekering wys, is die gebrekkige sondebesef. Ons besef veels te min en glo veels te min dat ons deur en deur sondig is.

Gereformeerde Afrikaners het die hele Bybel, die Ou en die Nuwe Testament waarin die Here ons baie van bekering leer. Protestantse gereformeerdes het in 1563 deur die Heilige Gees vir ons die Heidelbergse Kategismus geskryf.

In Sondag 33 bely ons dat bekering uit twee dele bestaan: Die AFSTERWE VAN DIE OU MENS en DIE OPSTANDING VAN DIE NUWE MENS.

Daar is nog meer in die Sondag –

Die afsterwe van die ou mens bestaan in –

  Opregte berou in my hart oor my sonde.

   Ek haat sonde.

   Ek vlug weg van sonde na God toe.

Die opstanding van die nuwe mens bestaan in –

              Ek het in my hart ‘n vreugde dat God my God is deur Christus.

              Ek het ‘n lus en liefde om volgens God se wil te leef.

    Ek wil graag die goeie werke doen wat God wil hê. Goeie werke is werke uit ‘n ware

   geloof, volgens sy wet en tot sy eer.

Sondag 33 is ‘n deel van ons Gereformeerde geloofsbelydenis wat ek uit my kop moet ken en in my hart moet glo. Indien ek die Sondag nie so in my het nie, sal ek mos glad nie ‘n lewe van bekering kan leef nie.

Ek kan my lewe van bekering begin deur die deel van ons belydenis wat oor bekering gaan, deel van my lewe van elke dag te maak. Die Afrikaners het genoeg sonde waarvan ons ons moet bekeer.

3. Smeekgebede

Die Here leer ons in hierdie gebed van Salomo ook hoe om te bid. Die belangrike hoe om te bid, kry ons in hierdie woorde:

Vs 33 – “…en tot U bid en smeek in hierdie huis…”

Vs 38 – “…enige gebed, enige smeking wat enigeen van u hele volk Israel sal doen…”

Vs 45 – “…wil dan in die hemel hulle gebed en hulle smeking hoor…”

Ons, Gereformeerde Afrikaners saam met die res van die land en die wêreld, leef in ‘n tyd vir smeekgebede.

Die land gaan baie vinnig agteruit – die ekonomie, die infrastruktuur, die onderwys, om nie te praat van die morele standaard en die geestelike lewe nie.

Die Afrikaner gaan ook agteruit – die geestelike lewe en morele norme en waardes het baie verswak en gaan al meer agteruit.

Opregte Bybelse geloof is besig om al swakker en al minder te word.

Sonder bekering en saam daarmee smeekgebede sal hierdie sondige en stukkende land mos nie verander nie. Sonder smeekgebede en bekering sal die Afrikaners se sonde ook nie verander en minder word nie.

Na die verskriklike verwoesting van Jerusalem en die skrywer van Klaagliedere die verlate stad gesien het en die ellende die trane uit sy oë laat stroom het, het hy gebid: “Bekeer ons tot U, Here, dan sal ons ons bekeer” (Kl.5:21).

Hierdie smeekgebed, is ‘n gebed wat ons almal met die grootste erns behoort te bid in hierdie tyd waarin ons leef.

4. Hoop

Salomo het gebid met sy hande na die hemel uitgebrei (vs 22).

Daniël het gebid met die vensters van sy kamer oop na Jerusalem (Dan.6:11).

Salomo en Daniël het so gebid, want die Here ons Verbondsgod was hulle hoop.

Ons kan ook na die hemel opkyk wanneer ons bid. In die hemel, aan die regterhand van God, sit sy Seun Jesus Christus.

Jesus Christus het vir ons aan die kruis gesterf en vir ons uit die dood opgestaan. Hy het na die hemel opgevaar en aan sy Vader se regterhand gaan sit. Hy bid vir ons. Hy tree met sy gebede vir ons by sy Vader in.

In hiedie donker land en wêreld is Jesus Christus, God se Seun, ONS ENIGSTE HOOP –

  • Hy is die hoop vir elkeen wat deur die Heilige Gees opreg in Hom as ons enigste Verlosser glo.
  • Deur sy kruisiging en opstanding het Jesus Christus vir elkeen wat in Hom glo die pad na God oopgemaak.
  • Jesus Christus is DIE HOOP vir elkeen wat deur die Heilige Gees ‘n diep sondebesef het, in die krag van die Heilige Gees ‘n lewe van bekering leef en met smeekgebede na God soek en na Hom roep.

Afrikaners het hoop nodig in hierdie land.

Daar is hoop.

Hoop is nie goedkoop nie.

Jesus Christus is ons hoop.

Ons lewe van sondebesef, bekering en smeekgebede sal wys of ons regtig op Christus hoop.

ANTWOORD

Sang: Ps. 68:1,9

Gebed

Sang: Ps.130:2,3,4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.