Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lees: Johannes 6:54-71
Inleiding:
Hoekom is elkeen van ons vanoggend by nagmaal? Is jy hier omdat jy hier moet wees? Of is jy hier, omdat jy in Jesus Christus glo? Die Here leer ons in Joh.6:54-71 hoe om hierdie vraag te antwoord.
Tema: Wanneer ek een met Jesus Christus is, leef ek regtig
Jesus Christus dwing niemand om te glo nie
Die dag daar by die see van Galilea soos die Jode die see genoem het, of die see van Tiberias, soos die Romeinse owerheid destyds die see genoem het, was daar baie mense. Hulle het almal agter Jesus aangekom. Daar was letterlik duisende mense gewees. Die getal wat ons in Joh.6:10 kry, is dat die mans alleen vyfduisend was. ‘n Mens sou die getal meer as kon verdubbel. Dit is nie die belangrike nie.
Die belangrike is dat hierdie mense doelbewus agter Jesus aangekom het. Hulle rede was dat hulle die wondertekens wat Jesus aan siek mense gedoen het, gesien het.
Hieroor kan mens baie sê. Vir vanoggend is die volgende belangrik. Daardie duisende mense het uit hulle eie na Jesus toe gekom. Hulle het uit hulle eie van baie plekke oor die land gekom. Hulle het uit hulle eie die hele dag tot laat daar gebly. Ons kan hieruit leer dat Jesus Christus, niemand dwing om naby Hom te wees of dan in Hom te glo nie.
Ek praat hieroor, omdat die gedagte dat ‘n mens kerk toe moet kom, asof God jou dwing, by baie bestaan. “Ek moet kerk toe kom” is die woorde wat mense in die algemeen gebruik.
Presies hier is die onderskeid tussen die enigste ware geloof, ons kosbare Christelike geloof en al die ander gelowe. Die kern van al die ander gelowe in die wêreld is dat ‘n mens altyd iemand te vrede moet stel. Gaan kyk en lees maar al die ander gelowe. Jy sal elke keer op “ek moet” afkom.
Ons Christelike geloof is juis nie so nie. Jesus Christus dwing niemand om Hom tevrede te stel nie. Hy dwing niemand om in Hom te glo nie. Hy het net begin om vir mense te preek dat hulle nie langer ver van God af kan leef nie. Hy het net begin om siekes gesond te maak. Hy het net begin om wondertekens te doen. Deur wat Hy gesê en gedoen het, het Jesus Christus mense na Hom toe aangetrek.
Vir elkeen van ons vandag, is dit baie belangrik om te besef dat ‘n Christen se geestelike lewe nie in die eerste plek oor “ek moet kerk toe kom” gaan nie, ook nie oor “ek moet eerlik wees” of “ek moet vriendelik wees” of “ek moet ander mense help” of watter “ek moet” ook al nie. Niks hiervan gee die ware lewe nie.
Die heel belangrikste in die heel eerste plek is OM IN JESUS CHRISTUS TE GLO!
God die Vader gee geloof deur sy Woord en sy Heilige Gees
Wanneer ‘n mens die kern van jou geestelike lewe as “ek moet” sien en nie as “ek glo” nie, kom ‘n mens nie by ‘n opregte geestelike lewe uit nie. So iemand bly by ‘n oppervlakkige geestelike lewe. Dan gebeur wat daardie dag by die see van Galilea met duisende mense gebeur het. Die vorige dag het die groot skare die wonderteken gesien en beleef dat Jesus met net vyf brode en twee visse duisende mense genoeg kos gegee het, sodat hulle nie meer honger was na die lang dag nie.
Die wonderteken wat hulle gesien en beleef het, het gemaak dat hulle die volgende dag steeds by Jesus wou wees. Hulle het Hom gesoek. Toe hulle Hom nie op die plek gekry het waar Hy die vorige dag die wonderteken gedoen het nie, het hulle selfs in skuite geklim en na Kapernaum toe gevaar om Hom te soek. Daar, in Kapernaum, het hulle Jesus gekry. Die tyd het aangebreek dat Jesus die betekenis van die wonderteken aan hulle sou verduidelik. Hulle het nodig gehad dat Jesus hulle leer, want hulle was ook nog by “wat moet ons doen om te doen wat God vra?” (Joh.6:28).
In sy antwoord het Jesus hulle geleer dat die belangrikste in ‘n mens se geestelike lewe is om in die Verlosser wat God gestuur het, te glo. Die res van sy gesprek met die mense daardie dag het Jesus net oor geloof in Hom gepraat en hulle geleer. Jesus se woorde was baie diep: “Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe…” (Joh.6:54). Vroeër het Jesus reeds verduidelik dat sy woorde beteken dat ‘n mens wat in Hom glo, nie langer verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe het.
Die duisende Jode het gesukkel om Jesus se woorde se dieper betekenis te verstaan en om te vra om hulle te help verstaan. Hulle het by “ek moet die wet” gebly. In werklikheid wou hulle nie by “ek glo in die Verlosser wat God gestuur het” uitkom nie.
Hulle was ontevrede met Jesus en het begin kla. Jesus het verder vir hulle gesê dat niemand na Hom toe kan kom, dit is in Hom as Verlosser glo, as die Vader nie hierdie geloof aan ‘n mens gee nie.
Toe die mense daardie woorde gehoor het, het hulle genoeg gehad. Hulle het gehou van “ek moet die wet”. So, ‘n oppervlakkige “ek moet”– geestelike lewe is maklik en gerieflik. Maar dit is nie DIE LEWE nie! Jesus wou hulle bring by ware lewe, lewe deur GELOOF in Hom, die Verlosser wat God gestuur het. Hulle wou nie. Duisende het weggedraai van Jesus af, terug na hulle “ek moet”-lewe. Die twaalf dissipels het oorgebly.
Hier is soveel baie belangrike dinge vir ons om te ontdek en te leer en ons eie te maak. Vir vanoggend net hierdie een lewenswaarheid:
Ek het GOD SE HULP NODIG om te kan glo!
God help my om weg te kom van “ek moet”. Hy help my om te kom by “ek glo”. Hy help my op net een manier. Sy Heilige Gees gee aan my geloof deur die Bybel, God se Woord. By niemand anders en op geen ander manier kry ‘n mens geloof in Jesus Christus nie.
NET GOD HELP MY!
NET DIE HEILIGE GEES GEE GELOOF!
EK KRY GELOOF NET DEUR GOD SE WOORD!
Geloof in Jesus Christus maak my een met Hom
Waarom word ek net gered deur geloof in Jesus Christus wat ek by die Heilige Gees kry?
Die Heilige Gees gebruik die geloof wat Hy in my hart begin om my aan Jesus Christus te bind. Die Heilige Gees is die Gees van Jesus Christus. Die geloof wat Hy vir my gee is geloof in Jesus Christus wat vir al my sondes aan die kruis gesterf het en vir my uit die dood opgestaan het.
Hierdie geloof bind my so vas aan Christus dat ek met Hom een is. God leer ons in sy Woord hiervan: EK IS IN CHRISTUS deur my geloof en CHRISTUS IS IN MY!
Elke Jood het gedink en geglo “Ek moet”. Daarom het hulle nie by Jesus gebly toe Hy hulle wou help om te glo nie.
Is so ‘n preek nog in ‘n Gereformeerde gemeente in 2021 nodig?
Loop ons nie ook die ernstige gevaar om geestelik by “ek moet” te bly nie? Voorbeelde hiervan is: “Ek moet my kind laat doop”, “ek moet katkisasie toe kom”, “ek moet belydenis van geloof aflê”, “ek moet nagmaal gebruik”. Wanneer ek al hierdie “ek moet” geestelike dinge gedoen het, het ek genoeg gedoen.
MAAR….met “ek moet” kom ook ek nie by Jesus Christus nie!
‘n Mens kan maklik die doop, katkisasie, belydenis, nagmaal en soveel ander belangrike geestelike dinge doen, omdat “ek moet”. ‘n Lewe wat op “ek moet” gebou is, is tevergeefs!
Is ons seker ons kom met die doop, die katkisasie en belydenis van geloof en by nagmaal by “ek glo” uit? Doen deur die Heilige Gees selfondersoek hieroor en kry sekerheid by Hom.
Ek is net een met die Here Jesus DEUR die GELOOF in Jesus Christus wat ek by die Heilige Gees kry!
Deur my geloof in Jesus Christus het ek ware lewe
Die duisende mense het daardie dag in Kapernaum nie langer by Jesus gebly nie. Net die twaalf dissipels het oorgebly. Jesus het hulle gevra:”Wil julle nie ook weggaan nie” (Joh.6:67). Jesus Christus dwing niemand. Lewe by Hom, ‘n verhouding met Hom is nie gegrond in “ek moet “ nie! Lewe in ‘n verhouding met Jesus Christus, is van begin tot einde ‘n lewe van geloof. Luister na Petrus.
Petrus het Jesus geantwoord. God die Vader het in sy hart geloof in Jesus gegee. Petrus het al voorheen uit sy hart gesê dat Jesus die Verlosser is wat God gestuur het. Die dag daar in Kapernaum het Petrus weer geantwoord:”Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is” (Joh.6:68.69).
DEUR MY GELOOF in Jesus Christus het ek die ware lewe.
Niemand van ons mag vanoggend hier wees, omdat “ek moet” nie.
Daar is ‘n baie dieper en ‘n meer as duisendmaal beter rede om by hierdie nagmaal te wees. Die rede is, in Petrus se woorde soos hulle in elkeen van ons se hart behoort te leef:
Here, na wie toe sal ek gaan?
Ek is vanoggend by nagmaal, omdat ek net by U die ewige lewe kry.
Ek glo vas U is die Verlosser wat God ook vir my gestuur het.
Is jy met hierdie geloof in jou hart vanoggend hier, dan wag die tekens van Jesus se liggaam en bloed vir jou!
Seën: Die genade van ons Here, Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen