Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lees: 1 Johannes 3:4-10
Inleiding:
In Johannes se eerste brief kan elke Christengelowige soveel leer oor Jesus Christus en my verhouding met Hom. Vanoggend leer ons die wonderlike genade dat ek een met Jesus Christus kan wees. Wanneer ek een met my Verlosser is, is die mag en skuld van sonde weg in my lewe.
Tema: Wanneer ek een met Jesus is, is die mag en die skuld van sonde weg in my lewe
Jesus het gekom om sonde weg te neem
Johannes het geskryf:”Julle weet dat Jesus gekom het om die sonde weg te neem” (1 Joh.3:5). Hier is ons by die kern van Jesus se koms na die aarde. Daar is baie getuienis in die Bybel dat Jesus gekom het om sondaars te verlos –
Mt.1:21 – Die engel se woorde aan Josef: “Sy sal ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”
Mk.10:45 – Jesus se woorde aan sy dissipels:”Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.”
Joh.1:29 – Johannes die Doper se woorde oor Jesus:”Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe:’Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem’”.
Twee vrae is baie belangrik:
Die eerste: Hoe neem Jesus sonde weg?
Die tweede: Wat beteken dit dat Hy sonde wegneem?
Die eerste antwoord: Jesus neem sonde weg deur ons sonde op Hom te neem. Hy sterf aan die kruis in ons plek vir ons sonde. Hy dra die straf en oordeel. Ons kan sê: Jesus het sy liggaam en sy bloed, dit is sy lewe vir ons sonde gegee. Jesus het ook uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy die dood oorwin en aan ons die nuwe lewe gegee.
Die tweede antwoord: Jesus het die mag wat die sonde oor ons gehad het gebreek, sodat sonde nie meer oor ons kan heers nie. Dan het Jesus ook die sondeskuld wat ons voor God gehad het ten volle betaal. Ons sondeskuld was dat ons moes sterf vir ons sonde. Jesus het in ons plek gesterf en so ons sondeskuld voor God weggeneem.
Dit is nodig om nog ‘n belangrike saak oor Jesus aan te raak. Die laaste jare het sommige Christene al meer van Jesus verwag om hulle gesond te maak wanneer hulle ernstig siek is en om te help wanneer hulle in finansiële probleme het. Daar is nog ander verwagtings wat hierdie Christene het, wat ook met die lewe op aarde te doen het.
Hier moet elke Christen baie versigtig wees en nie met hierdie verwagtings leef nie. Wanneer ek uitkoms in hierdie lewe soek, sal ek dit op ‘n ander manier moet doen, soos God my in sy Woord leer en nie my hoop op Jesus plaas vir verligting en uitkoms uit al die probleme wat hoofsaaklik met hierdie lewe te doen het nie. Luister wat die Heilige Gees ons hieroor leer: “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense” ( 1 Kor.15:19).
Om hierdie dan saam te vat: Ek kan nie en ek mag ook nie verwag dat Jesus sy liggaam en bloed moes gee dat dit op aarde met my goed sal gaan nie. Jesus het vir ‘n ander rede aarde toe gekom. Luister weer na Johannes se woorde in sy brief:”Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem…” (1 Joh.3:5).
Ek het nodig om een met Hom te wees
Johannes was die dissipel vir wie Jesus liefgehad het. In hierdie brief het Johannes die wonderlikste dinge oor Jesus Christus geskryf. Eintlik moet mens sê dat die Heilige Gees Johannes gelei het om die wonderlikste dinge oor Jesus Christus te skryf.
Dit is nodig daarom om die brief met aandag en ‘n gebed in die hart te lees.
Kom ons kyk dan met aandag en ‘n gebed in die hart na die volgende woorde: “Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie…” (1 Joh.3:6). Ons kan hierdie woorde so verstaan: Iemand wat een met Jesus Christus is, is nie meer in die mag van sonde om aan te hou sondig nie.
Jesus het die mag en skuld van sonde weggeneem. Hy het dit gedoen deur op Golgota, net buite Jerusalem aan die kruis te sterf en op die Sondag uit die graf in die tuin van Josef van Arimatea op te staan. Hierdie verlossingswerk het Jesus meer as 2000 jaar gelede en meer as 9000 km van Pretoria af, waar ons bly, gedoen.
Die vraag is: Hoe kom Jesus Christus se verlossingswerk by my uit?
Die Heilige Gees, self almagtige en ewige God oorbrug hierdie afstand en hierdie tyd. Hy gee vir my geloof in Jesus Christus wat vir my gesterf en opgestaan het. Met die geloof wat Hy my gee, maak Hy my een met die Here Jesus. Hierdie eenheid met Jesus Christus deur my geloof, bind my aan Jesus oor eeue en oor duisende kilometer. Trouens, hierdie eenheid met Jesus is so sterk, dat ek hier op aarde gebind is aan Jesus wat in die hemel aan die regterhand van sy Vader is.
Hierdie is baie belangrik: My sonde is alleen weg, wanneer ek een met Jesus Christus is.
Sonder Jesus is ‘n mens steeds in die mag van die duiwel en sonde
Ons kom nou by een van die groot tragedies in ons land en in die wêreld. Dit is ‘n tragedie wat in ons land grootliks geïgnoreer word. Die tragedie is: Sonder Jesus is ‘n mens steeds in die mag van die duiwel en die sonde.
Ek gebruik vir vanoggend twee voorbeelde.
Die eerste voorbeeld is in Suid-Afrika en die wêreld. Al die miljoene mense met die Islamgeloof, is in werklikheid nog sonder Jesus Christus, die enigste Verlosser van sondaars. Die waarheid oor hierdie miljoene mense in die wêreld is dat die mens sonder geloof in Jesus Christus as ons enigste Verlosser, steeds in die mag van die duiwel en die sonde is.
Hierdie voorbeeld raak ander mense in ons land en in die wêreld.
Die tweede voorbeeld is baie nader en gaan oor elkeen van ons.
Die baie belangrike lewensvraag is: Het ek Jesus Christus in my lewe?
Hierdie vraag is die belangrikste vraag vir elkeen van ons. Niemand het Jesus vanself in jou lewe nie. Elkeen van ons moet besef: Sonder Jesus is ‘n mens steeds in die mag van die duiwel en sonde. Die ontstellende is dat so ‘n lewe in die ewige dood sal eindig.
Dat ek lidmaat van ‘n kerk is, dat ek hard werk, dat ek ‘n vriendelike mens is wat ander help waar ek kan, maak nog nie dat ek uit die mag van die duiwel en die sonde is nie. Ek het Jesus Christus nodig, want net Hy en Hy alleen, verlos my uit die mag van die duiwel en die sonde.
Ek het daarom nodig om in my lewe sekerheid oor Jesus Christus te kry. Die sekerheid lê nie in myself nie. Die sekerheid kry ek by die Heilige Gees. Hy gee vir my deur die Bybel, die Evangelie van Jesus Christus wat vir my gesterf en opgestaan het, geloof in die Here Jesus as my enigste Verlosser. Wanneer ek deur die Heilige Gees in Jesus glo, wanneer ek opreg glo dat Hy en net Hy my van al my sonde verlos het, is ek nie meer in die mag van die duwel en die sonde nie.
Met Jesus in my en ek in Hom, is my lewe nuut en ewig
Ons kom nou by woorde in twee verse in hierdie deel van 1 Johannes waarmee ons besig is, waaroor ons duidelikheid sal moet kry. Die verse en woorde is:
1 Joh.3:6 – “Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie…”. Hierdie woorde beteken dat iemand wat deur geloof een met Jesus is, hou nie net aan sondig nie, maar breek met sonde. Ons geloofsbelydenis, Sondag 33 van die Kategismus gebruik die woorde: Ek sterf die sonde af. Met Jesus in my en ek in Hom, leef ek nuut. Ek leef ‘n lewe van bekering. Bekering is om met sondige gedagtes, woorde en dade te breek en met liefde volgens God se wil vir Hom te leef.
Ons kan sê: Iemand wat een met die Here Jesus is, hou nie aan sondig nie, maar hou aan met bekering en breek so met sonde my hele lewe deur.
1 Joh.3:9 – “Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy ‘n kind van God is.”
Eers net die volgende: Johannes het nie hier geskryf dat ek as Christengelowige sonder sonde is nie.
Hoe moet ons hierdie woorde verstaan?
Iemand wat ‘n kind van God is, is iemand wat uit God gebore is. Johannes het oorspronklik geskryf “iemand wat uit God gebore is”. Om uit God gebore te wees, is om deur die Heilige Gees weergebore te wees. Uit my wedergebore hart waarin die Heilige Gees leef, kom daar nie sonde nie. Die sonde kom uit die ou mens in my wat nog wil sondig en waarteen ek nog moet veg deur bekering. Luister hoe het Paulus hieroor geskryf: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon” (Rom.7:19,20).
Die woorde “en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy ‘n kind van God is” bly nog oor. Ek kan as wedergebore gelowige myself nie meer net oorgee aan sonde nie, is wat Johannes bedoel. Ek is deur Jesus Christus verlos van die mag wat sonde oor my gehad het. Ek is deur die Heilige Gees ‘n wedergebore gelowige wat nuut lewe. Sonde oorheers nie meer my lewe, sodat ek niks anders kan as om in sonde te leef nie. Inteendeel! Ek stel myself nie meer in diens van sonde nie (Rom.6:13). Ek veg teen die bose (Ef.6:12). Ek bied weerstand teen die sonde, want dis vir my ‘n stryd om lewe of dood (Hebr.12:4). Ek staan die duiwel teë (Jak.4:7).
Met Jesus in my en ek in Hom deur die Heilige Gees, is my lewe nuut en ewig. Ek leef daarom ‘n lewe van bekering deur elke dag teen die sonde in my lewe te veg en daarmee te breek. Ek leef ook as wedergebore naby God en vir Hom. So ‘n lewe deur die Heilige Gees is nuut en ewig.
Dit is die lewe wat ek uit genade by God gekry het!
Gebed
Antwoord op die Woord: Sb.5-3:1,2
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen