Die wapenrusting wat God gee, is die volmaakte wapenrusting teen die duiwel en al sy magte. Die wapenrusting wat Hy gee, is die enigste wat kan help en wat sal werk in ons geestelike oorlog teen die Bose. Vanoggend kyk ons na geloof as deel van die wapenrusting wat God gee.
Die beeld. ‘n Pyl en boog was in die vroeë tyd ‘n dodelike wapen. Die skutter het op ‘n afstand gestaan en die pyl geskiet. Soms het die boogskutters agter mure of die skip se wand geskuil. Wanneer die soldate die pyle sien aankom, was dit te laat om te vlug. Soms is die pyle blykbaar aan die brand gesteek. Sulke pyle het dodelike gevolge gehad en kon daartoe lei dat ‘n hele skip of ‘n soldatekamp of selfs ‘n stad vernietig word.
Die werklikheid – Die pyle van die Bose is brandend met vuur, want die pyle kom uit die hel en is bedoel om mens in die hel te laat beland.
Mense in die Bybel wat deur die Bose se pyle getref is:
Elkeen van ons vandag wat deur pyle getref word:
Die Bose se pyle tref wanneer wat in die wêreld gebeur, vir my mooier en lekkerder en beter is, as dit wat in die koninkryk van die hemel gebeur.
Hierdie is die pyle waarmee die Bose na jou toe skiet.
Die leë banke in die kerkgebou, die kerk se leë bankrekening en al die redenasies oor kerkbesoek en dankoffers en die agteraf praat, wys dat die Bose raak skiet en die pyle hier tref. Die Bose se pyle tref harte in die gemeente, verstande, ore, monde en hande.
Die Bose se pyle is pyle wat brand. Vuur is ‘n baie sterk beeld in die Bybel van God se oordeel. Die hel word beskryf as die poel van vuur.
Die Woord van God is ‘n tweesnydende swaard. Dit beteken, daar is die mens wat die Woord hoor, in God glo, tot bekering kom, gered word en naby God leef. Maar…daar is ook die mens wat die Woord hoor en nie glo nie, nie tot bekering kom nie, veroordeel word en verlore gaan. Daarom verwag die Here van elkeen wat preek om verlossing deur Christus, maar ook die oordeel van God te preek.
Die hel is nie ‘n beeld in die Bybel of ‘n storie of ‘n speletjie nie. Die ongelowige of die lidmaat in die gemeente wat aanhou wys dat die pyle van die Bose tref, sal in die hel beland. Die heilige God self sal daarvoor sorg. Wanneer Hy sy Seun stuur, sal Jesus met sy wederkoms finaal oordeel. Hy sal elke mens wat nie deel van sy kerk was nie oordeel. Hy sal ook elke lidmaat wat deur kerkbesoek en dankoffers en te min lees en bestudeer van die Bybel en te min getuienis en te min aangemoediging van ander om aktief deel van Christus se gemeente te wees oordeel. Hy sal oordeel, want hierdie ongelowiges en hierdie lidmate het gewys dat die Bose se pyle getref het. Christus sal al hierdie mense van Hom af weg stuur na die buitenste duisternis, die hel. Daar wag die duiwel en al sy bose magte.
Daar is nog tyd, maar dis genadetyd wat nie gaan aanhou en aanhou tot ek reg is om my van my sondes te bekeer nie. Vandag is die dag om nie jou hart te verhard nie (Hebr.4:7) maar te besef dat jy die skild van geloof nie gebruik het nie of nie naastenby goed genoeg gebruik het nie. Vandag is die dag om die wapenrusting wat God gee aan te trek, jou eie te maak en in die stryd teen die Bose te gebruik!
Die groot skild was die wapen wat spesiaal so gemaak was, dat hy die soldaat heeltemal beskerm het teen die pyle wat die vyand afgeskiet het.
God ken die vyand. Hy ken elke gedagte en elke plan en elke pyl van die Bosel. Hy weet volmaak wat ons nodig het om ons teen die pyle van die Bose te kan verdedig.
Hy gee die skild van geloof.
Meer oor hierdie wapen.
God gee die wapen. Dit is die regte wapen. Dit is die veiligste wapen. Dis beste die wapen. Dis die wat werk.
Die wapen wat God gee om jou teen die Bose sy pyle te verdedig, is geloof.
Geloof in God die Heilige Gees – Hy is die Een wat jou geloof gee. Die Gees het deur God se Woord geloof in Christus geplant, sodat jy ‘n Christengelowige geword het. Jy laat nie langer jou lewe deur jou sondige natuur beheers nie, maar deur die Heilige Gees. Glo in die Heilige Gees.
Geloof in God die Seun – Geloof bind jou aan Jesus Christus. Hy het vir jou aan die kruis gesterf en Hy het vir jou opgestaan. Hy het sy lewe gegee om jou te verlos. Hy is jou lewe en jy lewe vir Hom. Omdat jy vir Christus lewe, is hierdie wêreld nie meer vir jou die belangrikste nie. Nee, Christus wat sy lewe vir jou aan die kruis gegee het, Hy is die belangrikste. Glo in Hom.
Geloof in God die Vader – Die Vader het uit liefde sy Seun vir jou gegee en uit genade jou volmaak vergewe. As sy kind kan jy naby Hom lewe, nou en in ewigheid. En… kan jy Hom met jou lewe vertrou. Glo in God, jou Vader.
Hierdie geloof is ware geloof en die wapen waarmee jy jouself kan verdedig en weerstand kan bied teen alles waarmee die Bose na jou toe kom.
Elke gelowige moet “geloof as skild in die hand hê” (Ef.6:16). Dit beteken jy moet jou geloof gebruik, uitleef. Hoe leef ‘n mens jou geloof uit, sodat jy jou teen die Bose kan verdedig?
Die geestelike stryd teen die Bose is ‘n geweldige stryd. Die skild wat God gee, geloof in God Drie-enig, is ‘n baie sterk wapen waarmee jy jouself sal kan verdedig en oorwin.
Maar…jy sal hierdie wapen dan moet gebruik!