Home Preke Ware geloof in JESUS CHRISTUS wat gesterf het en nou lewe, IS AL hoe ek verlos Word!

Ware geloof in JESUS CHRISTUS wat gesterf het en nou lewe, IS AL hoe ek verlos Word!

Datum: 2022-02-13
|
Kernverse: Ha.25:19

ONTMOETING

Votum: Ps.121;1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.

Lof aan God: Ps.107:1,3

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 35

Sang: Ps.103:2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Sb.1-3/61:1,2,3

Lees: Handelinge 25:1-27

Kernvers: Ha.25:19

Tema: Ware geloof in JESUS CHRISTUS wat gesterf het en nou lewe, IS AL hoe ek verlos Word!

Sang: Ps.107:1,3; Ps.71:9; Ps.103:2; Sb.1-3/61:1,2,3; Sb.1-4/62:1,2,3,4; Sb.2-4/33:1,3

Inleiding:

Tema: Ware geloof in JESUS CHRISTUS wat gesterf het en nou lewe, IS AL hoe ek verlos Word!

Vanoggend is ons Voorbereidingsdiens. Die Here ons God wys vanoggend vir ons drie persone en twee wêrelde in sy Woord, in Handelinge 25. In hierdie drie persone se lewe leer God ons dat ek net verlos word deur ware geloof in Jesus Christus wat gesterf het en nou lewe. Vir voorbereiding is dit nodig dat ek met die Heilige Gees se hulp na elkeen van hierdie drie mense en dan na myself sal kyk.

  1. Paulus – ‘n Gelowige wat in Jesus Christus glo

Wanneer ons Ha.25 lees, is Paulus se derde sendingreis agter die rug. Na sy derde reis was hy terug in Jerusalem. Die Jode het teen hom saamgesweer en oproer in die stad veroorsaak. Die Romeinse beamptes het Paulus toe gevangegeneem.

Die Jode wou Paulus doodmaak. Hulle plan was dat die kommandant van die Romeinse weermagafdeling Paulus voor die Joodse Raad moes roep. Op pad daarheen wou hulle hom voorlê en doodmaak. Die kommandant het hiervan gehoor en vierhonderd-en-sewentig soldate beveel om Paulus Sesarea toe te vat waar Antonius Felix die Romeinse goewerneur gebly het.

Waarom het die Jode so teen Paulus opgetree?

Paulus het Jesus Christus regtig ontmoet. Hy het tot bekering gekom en in Jesus Christus as ons enigste Verlosser geglo. Die Here Jesus het Paulus gestuur om sy evangelie van verlossing onder die heidene te preek, wat Paulus met oorgawe gedoen het.

‘n Belangrike deel van Paulus se preke was dat Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, al die seremonies van die Ou Testament tot ‘n einde gebring het. In Kol.2:16,17 kry ons juis so ‘n preek:”Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet   en drink nie, of dat julle jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.”

Ons weet van Paulus dat hy ‘n Christengelowige wat Jesus Christus goed geken het en ‘n lewende geloofsverhouding met Hom gehad het. Dit was bekend dat hy met baie mense oor Jesus Christus as ons enigste Verlosser gepraat het.

Ons kan van Paulus sê dat hy met sy lewe gewys het dat hy Jesus Christus behoort het.

Hierdie is ons Voorbereidingsdiens. Elkeen van ons het nodig om baie seker van die volgende te maak:

  • Glo ek met my hele hart in Jesus Christus wat sy lewe aan die kruis gegee het en uit die graf opgestaan om my syne te maak?

  • Wys ek met my lewe dat ek aan Jesus Christus behoort?

  1. Festus – ‘n Wêreldmens wat iets van Jesus weet, maar nie in Hom glo nie

Die tweede persoon wat ons in Ha.25 ontmoet is goewerneur Porcius Festus. Hy was ‘n amptenaar in diens van die Romeine. Teen die tyd dat Porcius Festus in Antonius Felix se plek as goewerneur aangestel is, was Paulus al twee jaar in die gevangenis.

Goewerneur Festus het Jerusalem toe gegaan om die Joodse leiers te ontmoet. Die Joodse leiers het die nuwe goewerneur probeer oortuig om Paulus terug te stuur Jerusalem toe. Hulle wou hom op pad voorlê en vermoor. Goewerneur Festus het die leiers aangesê om saam met hom terug te gaan Sesarea toe. Hulle kon daar ‘n klag teen Paulus lê.

Terug in Sesarea het Goewerneur Festus Paulus voor hom laat verskyn. Die goewerneur wou die Jode ‘n guns bewys en het Pauus gevra of hy bereid was om Jerusalem toe te gaan vir die verhoor. Paulus het besef hy sou nie ‘n regverdige verhoor kry nie, nie in Jerusalem nie en ook nie in Sesarea nie. Hy het hom toe op die keiser beroep. In daardie tyd het die wet bepaal dat die verhoor gestaak word en die beskuldigde, Paulus, na Rome geneem word om voor die keiser te verskyn.

Na ‘n tyd het koning Agrippa Sesarea toe gekom om die nuwe goewerneur te verwelkom. Festus het Paulus se saak met Agrippa bespreek. Hy het vir Agrippa die geskiedenis vertel. Op ‘n stadium in sy verduideliking, het Festus woorde gesê, wat sy hele lewe op ‘n manier geraak het, wat hy nie besef het nie. Luister na Festus se woorde: “Dit het alles gegaan oor twisvrae in hulle eie godsdiens en ’n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat Hy lewe” (Ha.25:19).

’n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer Hy lewe” – Kom ons dink goed na oor hierdie woorde van die Romeinse goewerneur.

  • Goewerneur Festus ken Jesus se Naam. Die Naam Jesus beteken “Die Here red”. Dit is ‘n Griekse Naam. Grieks was destyds die een wêreldtaal. Festus het geweet wat hierdie Naam beteken.

  • Die goewerneur het geweet dat Jesus gesterf het en opgestaan het. Paulus het oor Jesus se opstanding met die vorige goewerneur, Felix oor Jesus se dood en opstanding Festus het  of by Felix of by Paulus van Jesus gehoor en ook geweet dat Jesus uit die dood opgestaan het.

Hierdie goewerneur het die evangelie van Jesus Christus, die Verlosser van sondaars gehoor. Hy het alles wat hy moes weet, in sy besit gehad. Hy het die een persoon wat Jesus Christus afgesonder en gestuur het, juis om die boodskap van verlossing te aan ander te vertel, baie naby aan hom gehad. Hy kon Paulus enige tyd roep om by hom alles te hoor wat ‘n mens nodig het om van ons verlossing te hoor.

Maar….goewerneur Porcius Festus verkies om Jesus Christus op ‘n afstand te hou. Hy praat van “’n sekere Jesus” (Ha.25:19).  Die goewerneur het verkies om nie in die Here Jesus Christus te glo nie. Wat baie erg is, is die volgende: Met hierdie gesindheid is goewerneur Festus op dieselfde vlak as Satan. Hy weet van Jesus Christus, maar hy glo nie.

Die Romeinse goewerneur se lewe bring elkeen van ons in die tyd van ons voorbereiding vir nagmaal voor hierdie lewensvraag:

Weet ek van Jesus Christus, ons Verlosser  OF ken ek Hom met my hart en glo ek in Hom met my hele hart?

  1. Agrippa – ‘n Wêreldleier wat Jesus nie ken nie en daarom nie in Hom glo nie

Die derde persoon in hierdie openbaringsgeskiedenis is koning Herodus Agrippa II. Hy het ‘n  belangrike pos in die regering in Rome gehad. Hy was ‘n raadgewer van keiser Nero oor Palestina. Hy was regeerder oor ‘n groot gebied en het in daardie tyd saam met sy suster, Bernice, gekom om met goewerneur Festus kennis te maak.

Agrippa was ‘n seuns van Herodus Agrippa I, koning van Judea en agterkleinseun van koning Herodus wat tydens Jesus se geboorte in Palestina regeer het. Agrippa het die Jode se godsdiens geken. Agrippa se plan was om én die Romeinse owerheid én die Jode tevrede te stel.

Festus wou by hom advies hê oor wat om te doen, nadat Paulus hom op die keiser beroep het. Na ‘n tyd het Agrippa gesê dat hy self na Paulus wil luister. Festus het ‘n vergadering in ‘n saal in die paleis gereël en hooggeplaaste mense in Sesarea genooi. Nadat almal hulle sitplekke ingeneem het, is Paulus ingebring met boeie aan sy hande.

Agrippa het Paulus aangehoor. Op ‘n stadium tydens die verhoor het Paulus Agrippa gevra of hy die profete van die Ou Testament glo. Die profete het van die Verlosser wat sou kom, getuig. Die koning wat die Jode en die Romeine tevrede wou hou se antwoord was om Paulus te spot. “Jy probeer in ‘n kort tydjie om van my ‘n Christen te maak” (Ha.26:28).  Kort hierna het koning Agrippa en sy suster met hulle gevolg die vertrek verlaat.

Hierdie koning het Jesus Christus, ons Verlosser, nie geken nie en nie belanggestel om Hom te ken nie. Daarom het hy ook nie geglo nie. Wie Jesus Christus nie ken nie (Joh.17:3) en nie in Hom glo nie (Joh.3:16) sal ewig verlore gaan onder God se heilige en ewige oordeel.

Met ons Voorbereidingsdiens het elkeen van ons nodig om te weet dat ons in ‘n land bly waar by verre die meeste mense Jesus Christus nie regtig ken nie en ook nie in die Verlosser van sondaars belangstel nie. Ons leef in ‘n tydsgees waar baie nie van Jesus Christus, die Verlosser van sondaars wil weet nie.

Die vraag aan elkeen van ons is: Is my geloof in Jesus Christus wat vir my gesterf en opgestaan het, so vas en seker dat ek:

  • Nie deur die tydsgees in ons land beïnvloed sal word nie?

  • Net in Jesus Christus God se Seun, as ons enigste Verlosser glo en sal bly glo?

  • My lewe nie in myself nie, maar in Jesus Christus, my Verlosser sal soek?

  • Nie sal stilbly in ‘n land wat besig is om al verder van Jesus Christus weg te leef nie, maar met ander met wie ek in aanraking kom, oor die Here Jesus sal praat?

In hierdie drie persone sien ons aan die eenkant die wondergenade van geloof en verlossing en aan die anderkant die tragedie van moedswillige ongeloof met God se ewige oordeel wat wag.

Het jy die genade van geloof in Jesus Christus in jou hart? Koester en beskerm jou geloof. Dank die Heilige Gees elke dag vir die kosbare geskenk van geloof in Jesus Christus waardeur jy gered is.

ANTWOORD

Sang: Sb.1-4/62:1,2,3,4

Gebed

Sang: Sb.2-4/33:1,3

Seën: God wat alle genade gee en julle geroep het om in Jesus Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.