Home Preke WERP ALLES IN DIE STRYD OM JOU GELOOF MET GODSVRUG TE VERRYK.

WERP ALLES IN DIE STRYD OM JOU GELOOF MET GODSVRUG TE VERRYK.

Datum: 2022-07-03
|
Kernverse: 2 PETRUS 1:6 C + PSALM 51

2 PETRUS 1:6 C + PSALM 51                                               PTAN + AKASIA 3/7/2022

TEMA: WERP ALLES IN DIE STRYD OM JOU GELOOF MET GODSVRUG TE VERRYK.
1. Inleiding: Werp alles in die stryd om jou geloof te verryk.
2. Godsvrug is ʼn gesindheid van: Ek wil God uit dankbaarheid gehoorsaam.
3. Godsvrug vat grond in die regte lewe.
PS 98:1,2; PS 98:3; PS 51:1,6; PS 107:20,21; SB 73 (14-1):2,3.

Geliefdes,
1. Al hierdie dinge wat Petrus noem waarmee ons ons geloof moet verryk, is soos die krale van ʼn halssnoer. As een ontbreek is die halssnoer Onvolledig. ʼn Mens kan vir jou in jou geestesoog dit voorstel hoe Petrus een vir een die krale in hierdie geloofshalssnoer inryg as hy sê:

Julle moet alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. Vir ons geloof om volledig te wees het ons dus deugsaamheid, kennis, selfbeheersing, volharding, GODSVRUG, liefde onder mekaar en liefde vir alle mense nodig.

Die gedeelte begin met ‘n opdrag, die opdrag dat ons alles in die stryd moet werp om ons eie geloof te verryk. God se Woord sê: En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk … Die rede waarom ons alles in die stryd moet werp om ons geloof te verryk, is omdat God se genade oor ons so groot is. Hy het sy Seun gegee om in ons plek vir ons sondes gestraf te word en om vir ons sondes te betaal. Hy gee die kosbaarste geskenk wat daar is aan ons: geloof wat tot die ewige lewe lei.

Maar omdat geloof so ʼn kosbare geskenk is, gee God aan ons die opdrag: En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk. Ons besef dit nie altyd nie, maar ons het elkeen ʼn verantwoordelikheid teenoor ons geloof. God gee dit aan ons, maar ons moet dit verryk onder leiding van die Heilige Gees.

Om alles in die stryd te werp, beteken om jou uiterste bes te doen, om geen moeite te ontsien nie, om dit die belangrikste ding in jou lewe te maak.

Ons moet dus insien dat dit ʼn opdrag van God is. Ons moet insien dat dit ʼn opdrag aan ons elkeen persoonlik is. Ons moet insien dat dit ʼn opdrag is wat inspanning en opofferings gaan verg. Ons moet ook insien dat daar oorvloedige geestelike seën wag vir mense wat alles in die stryd werp om hulle geloof te verryk.

Jy moet alles in die stryd werp om dit te doen. Ander kan vir jou raad en leiding gee, maar jy moet dit doen. Dit is juis ook die doel van hierdie teksgedeelte (en van hierdie reeks preke), om vir ons te leer hoe ons ons geloof moet verryk, maar jy en jy alleen bly verantwoordelik vir die verryking van jou eie geloof, met die krag van die Heilige Gees.

Dit gaan dus opofferings verg, dit gaan moeite verg, dit gaan inspanning verg. Dit gaan ook toewyding vra. Maar dit is noodsaaklik, want as jy nie alles in die stryd werp om jou geloof te verryk nie, dan gaan jy geestelik uitteer. Dan gaan jou geloof maer en uitgeteer en kragteloos wees.

Daarom sê Petrus in :9: Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig, nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. Iemand wat nie alles in die stryd werp om sy geloof te verryk nie het dus eintlik vergeet dat hy ʼn kind van God is. Hy het vergeet van hierdie kosbare geskenk wat God aan hom uit genade gegee het.

2. Vandag staan ons stil by die opdrag: WERP ALLES IN DIE STRYD OM JOU GELOOF MET GODSVRUG TE VERRYK. Sonder godsvrug is ons geloof nie volledig nie. Sonder godsvrug is daar ʼn leemte in ons geloofs-samestelling.

Godsvrug. Wat is godsvrug? Dit is nie ʼn baie bekende woord in Afrikaans nie en daarom is dit belangrik dat ons presies sal weet wat die Skrif met hierdie woord bedoel. Godsvrug beteken godvresendheid, godsdienstige toegewydheid, vroomheid. Die Engelse woord vir godsvrug is “godliness”. Godsvrug is ʼn gesindheid wat tot ʼn spesifieke optrede lei. Godsvrug is die gesindheid van: Ek is so dankbaar vir God se genade in Jesus Christus dat ek God wil dien deur aan Hom gehoorsaam te wees. Ek sê dit weer:

Godsvrug is die gesindheid van: Ek is so dankbaar vir God se genade in Jesus Christus dat ek God wil dien deur aan Hom gehoorsaam te wees.

Godsvrug beteken dus toegewyd aan God lewe, vroom wees, afgesonder vir God wees, heilige toewyding. Dit is dus gehoorsaamheid aan God se Woord, omdat jy dankbaar is vir God se genade in Christus. As jy jou geloof met godsvrug verryk, beteken dit dat jy in alles aan die Here toegewy te wil wees en dat jy daarom die Here in alles gehoorsaam. ‘n Gelowige wat godvrugtig lewe, wys met sy lewe dat hy God se Gees in hom het.

Waar kom hierdie gesindheid vandaan om in alles aan die Here gehoorsaam te wil wees? Waar kry ek dit? In :3 lees ons (Ou Vertaling): Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien. Dit kom dus van God. Hy gee deur sy Gees aan my hierdie gesindheid wat tot gehoorsaamheid lei. Die Heilige Gees maak my dankbaar deur my te laat besef: Christus het in my plek gesterf, sodat ek kan lewe, ewig kan lewe. Daarom wil ek my lewe van gehoorsaam wees aan God as ʼn dankoffer voor sy troon lê.

Soos Dawid in Psalm 51. Hy vra van God om Hom die regte gesindheid te gee. Hy bid daarvoor. Daarom: Begin deur vir jouself en vir ander te bid: Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien. Ja, as ʼn mens die Here met toewyding dien, dan bring dit vreugde in jou lewe! Dawid wou ʼn godvrugtige kind van die Here wees, daarom bid hy in Psalm 51: Laat my U weer met toewyding dien. Hy weet dat net God ons werklik toegewyd of godvrugtig kan maak. Dit is nie iets wat ons self kan doen nie. Daarom bid hy daarvoor.

Hoe het Dawid by hierdie punt gekom dat hy ʼn kind dissipel wou wees? Geliefdes, Dawid het eers vreeslik gesondig. Hy het moord en owerspel gepleeg. Toe het God, omdat Hy getrou is en omdat Hy sonde haat en omdat Hy lief is vir sy kind, sy profeet Natan na Dawid gestuur om hom te vermaan.

Dawid kon vir Natan weggejaag het as hy wou. Dawid kon alles ontken het as hy wou. Hy kon vir Natan gesê het: Ek wil nie met jou praat nie, dit het niks met jou te doen nie. As ek tevrede is met my manier van lewe, dan moet die Here ook daarmee tevrede wees.

Julle kinders weet mos hoe voel dit as jy iets verkeerd gedoen het en Pappa of Mamma kom dit agter. Dan wil ek eers sê: Dit was nie ek nie, of dit was nie my skuld nie. Grootmense is ook maar so. Maar gelowige mense, soos Dawid, weet: Dit help nie om nog oor my sonde te jok ook nie, of om dit goed te praat of om dit te ontken nie. Erken liewer dat jy verkeerd gedoen het en gaan na die Here toe daarmee. Soos Dawid. Hy ontken nie sy sonde nie. Nee, hy verootmoedig hom voor die Here en hy bely sy sonde.

Uit sy hart uit bid hy: Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! 4 Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! 5 Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. 6 Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.

Dawid bely sy sonde en hy het berou daaroor. Daarom vlug hy na God met sy skuldbelydenis: 7 Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het. 8 Maar U verwag opregtheid diep in ’n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. 9 Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. 10 Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel; laat my weer jubel. 11 Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit!

As ons enigsins toegewyd wil wees aan die Here, as ons ook ons geloof met godsvrug wil verryk, sal ons dieselfde berouvolle gesindheid as Dawid oor ons sonde moet hê. Ons sal eers alle selfverontskuldiging en alle selfvoldaanheid en alle hardheid van ons harte moet laat vaar. Daar is min mense wat so min toegewyd is as iemand wat nie sy sonde wil erken en bely nie en wat vermanings minag.

Eers wanneer ek berou het oor my sonde, eers dan weet ek wat dit beteken dat God my vergewe het. Eers dan kan ek werklik dankbaar wees en dan eers, wanneer my dankbaarheid geen perke ken nie, dan eers kan ek die Here met toewyding dien en my geloof met godsvrug verryk.

Dawid weet ook dat hy hierdie vergifnis nie kan koop nie. Hy weet: Al gee ek duisende rande per maand as dankoffer, betaal dit nie ʼn sent van my sondeskuld nie. Daarom bely hy ook: ’n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ’n brandoffer wil U nie hê nie. 19 Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.

Verootmoediging lei tot berou, berou lei tot vergifnis, vergifnis lei tot dankbaarheid en dankbaarheid lei tot godsvrug!

Geliefdes, om toegewyde kinders van die Here te wees, moet ons God bo alles liefhê. Bo alles. Selfs bo myself en my eie belange. As ek dit werklik verstaan dat God se liefde vir my geen perke ken nie, dan sal my toewyding aan Hom ook geen perke ken nie!

Uit 1 Timoteus 3:16 leer ons hoe God aan ons godsvrug gee: Daar staan: En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens (godsvrug) groot is: As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig dat die reg aan sy kant is, aan die engele het Hy verskyn; aan die heidennasies is Hy verkondig, in die wêreld is Hy geglo, en in heerlikheid is Hy opgeneem. As ʼn mens hierdie dinge glo, lei dit tot godsvrug. Sonder hierdie geloofsbelydenis, sonder hierdie kennis is ʼn godvrugtige lewe onmoontlik.

In Titus 1:1 lees ons: Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, die waarheid wat lei tot die diens van God (Godsvrug) en wat hoop gee op die ewige lewe. ʼn Mens moet dus die waarheid oor Jesus Christus ken en glo om ʼn godvrugtige lewe te kan lei. Dit is immers die kennis van hierdie waarheid wat tot dankbaarheid lei. Daarom moet ons ook eers ons geloof met kennis, met die ken van God, verryk en dan met godsvrug.

3. Ons het gesê godsvrug is ʼn gesindheid wat tot sekere optrede lei. Dit is dankbare toewyding wat tot gehoorsaam wees, lei. Die dankbaar wees en die gehoorsaam wees word al twee saamgevat met die woord godsvrug. Godsvrug is dus iets wat grondvat in die regte lewe. Dit is prakties. Dit laat jou iets doen. Dit gaan oor in aksie. Dit bring jou in beweging.

Dit is u godsvrug wat maak dat u vandag by die erediens is. Die Heilige Gees maak ons so dankbaar vir God se genade dat ons nie anders kon as om hierheen te kom om die Here te kom dien en te kom dank nie.

Dit is godsvrug wat maak dat man en vrou liefde aan mekaar en aan hulle gesin bewys. Hulle is so dankbaar vir God se liefde aan hulle dat hulle nie anders kan as om liefde aan mekaar te bewys nie.

Dit is godsvrug wat maak dat jy ander kan vergewe. Jy is so dankbaar dat God jou al jou sondes vergewe dat jy ander ook wil vergewe wat teenoor jou verkeerd optree.

Dit is godsvrug wat maak dat jy siekes en oues en beproefdes gaan besoek en dat jy jou medegelowiges se laste wil help dra deur byvoorbeeld mee te leef met die lidmate in jou wyk. Jy is so dankbaar vir die gesondheid en genade wat God aan jou gee dat jy graag ander geestelik wil bemoedig.

Dit is godsvrug wat maak dat jy barmhartigheid aan ander in nood wil bewys. Jy is so dankbaar vir alles wat die Here aan jou gee om van te lewe, dat jy ander in nood wil help.

Dit is godsvrug wat maak dat jy die gawes wat die Here aan jou gegee het, aanwend tot voordeel van jou medegelowiges. Jy is so dankbaar dat die Here ook aan jou gawes gegee het en dat Hy jou in sy diens wil gebruik dat jy ander daarmee wil dien.

Dit is godsvrug wat maak dat jy gereeld elke dag wil Bybellees en bid. Jy is so dankbaar dat God Homself aan jou bekendmaak deur sy Woord dat jy Hom steeds beter wil leer ken. Jy is so dankbaar vir die voorreg om ʼn oop, direkte lyn met God te hê, dat jy Hom gereeld loof en prys en dank in jou gebede. Daarom kry ons die opdrag: WERP ALLES IN DIE STRYD OM JOU GELOOF MET GODSVRUG TE VERRYK.

Geliefdes, ten slotte is dit baie belangrik om in te sien dat daar oorvloedige geestelike seën wag vir mense wat alles in die stryd werp om hulle geloof so te verryk. Petrus sê in :8: As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken.

God gee ʼn heerlike vrug aan elkeen wat alles in die stryd werp om sy geloof te verryk: So-iemand leer ons Here Jesus Christus beter ken! Verder sê Petrus: As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

Werp dus alles in die stryd om u geloof, onder leiding van die Gees, ooreenkomstig die Woord, met godsvrug te verryk, godsvrug wat grondvat in die regte lewe, en u sal nie teleurgesteld staan nie.

Amen.
Dr Malan van Rhyn