Home Preke Wie niks voor God is, ontvang alles van Hom om in sy koninkryk te leef -Mt.5:3

Wie niks voor God is, ontvang alles van Hom om in sy koninkryk te leef -Mt.5:3

Datum: 2018-09-09

Vanoggend se preek gaan oor een van die belangrike geheime van die koninkryk van die hemel. By verre die meeste mense op die aarde ken nie hierdie geheim nie. Dit is in werklikheid baie erg, want wie hierdie geheim van die koninkryk van die hemel nie ken nie, is nie in die koninkryk nie. So ‘n lewe buite die koninkryk stuur op die ergste rampspoed af.

Ons het die wondergenade van die Bybel, God se Woord. Die Here maak hierdie belangrike geheim van sy geestelike hemelryk vir ons oop. Ons almal het vanoggend die geleentheid om iets waarsonder ons nie kan klaarkom nie, te leer. Hierdie tyd in die erediens is dus genadetyd. Kom ons elkeen gebruik dit goed.

Tema: Wie niks voor God is, ontvang alles van Hom om in sy koninkryk te leef

  1. Die waarheid: God het alles en ek het niks

Die Here ons God het sy Woord aan ons gegee, sodat ons Hom kan ken. Elkeen wat die Bybel oopmaak, moet elke keer die Bybel oopmaak om Hom te leer ken. In die Bergrede van Jesus Christus leer ons God baie goed ken. In Mt.5:3 leer ons Hom ken as God wat alles het om oor sy koninkryk te regeer. Kom ons dink goed na oor wat Hy alles het. Dit is amper onmoontlik om alles te noem wat Hy het. Vir vanoggend se preek kyk ons na die volgende –

Hy het die heelal, die stoflike deel en die geestelike deel.

Hy het lewe – tydelike en ewige lewe.

Hy het die ewige saligheid.

Hy het die Verlosser.

Hy het die Heilige Gees.

Hy het die insig en wysheid oor alles en almal van ewigheid tot ewigheid.

Hy het alle hemelse gawes.

Hy het die begin en die einde van alles.

Hy besit en regeer die koninkryk van die hemel.

Dus – Hy besit die koninkryk van die hemel en Hy het alles in die hemel en op die aarde om oor sy koninkryk te regeer.

Wat het ek om in die koninkryk van die hemel salig te kan leef?

Ek het niks. Miskien dink iemand: Dit is darem nie waar dat ek niks het nie. Miskien dink jy vanoggend aan jou stabiele gesin, of aan jou goeie werk wat jy al jare het, wat vir jou ‘n goeie vaste inkomste gee en hoe hard jy werk of miskien dink jy dat jy ‘n goeie mens is en elke dag probeer om ‘n goeie mens te wees. Wel Jesus leer ons oor elkeen van hierdie dinge dat nie een daarvan my saligheid en lewe in die koninkryk van die hemel kan gee nie.

Kom ons Luister na Jesus:

  • Oor my gesin – “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan my te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan my te behoort nie” (Mt.10:37). My gesin kan juis ‘n probleem wees wat my uit die koninkryk hou.
  • Oor my my goeie werk en my vaste inkomste – Jesus het die gelykenis vertel van die saaiboer wat hard gewerk het en so voorspoedig was dat hy later nie meer plek gehad het vir die volgende oes nie. Hy het besluit om sy skure af te breek en groter te maak om al sy graan en sy ander goed daarin te stoor, sodat hy kan aftree en rustig verder lewe. Dan volg Jesus se woorde in die gelykenis:”Maar God het vir Hom gesê:’Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaar gemaak het?’ So gaan dit met elkeen wat vir homself skatte vergader het en nie ryk is by God nie” (Lk.12:20,21).
  • Oor die feit dat ek ‘n goeie mens is en probeer wees – “Daarop sê Jesus vir Hom – die ryk jongman – :’Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen’” (Mk.10:18).

‘n Ongelowige of ‘n ateïs kan ook ‘n stabiele gesin en ‘n goeie werk hê en ook dink hy of sy is ‘n goeie mens, maar so iemand is steeds buite God se koninkryk en verlore.

‘n Laaste argument wat iemand mag dink om te gebruik, is: Ek is ‘n kerklidmaat. Wel, die kerk is nie dieselfde as die koninkryk nie. Kerklidmaatskap beteken nie jy is in God se koninkryk en jy is salig nie!

Daar is net een waarheid wat vas staan, en dit is:  In myself, op my eie, is ek niks en het ek niks.

Hierdie gesindheid is vir die wêreld heeltemal vreemd. In die wêreld moet jy selfversekerd wees, selfvertroue hê en sukses uitstraal. Jou kar en huis en ander besittings moet van geld en suskses getuig.

Niks van hierdie aardse dinge het die geringste betekenis in die koninkryk van die hemel nie. Geen wonder nie, Jesus het geleer jy kan nie God en die wêreldse besittings gelyktydig liefhê nie. In die koninkryk van die hemel is mense arm van gees of besef hulle hoe afhanklik hulle van God is.

Dus – Ek het niks om in die koninkryk van God te kan kom en in sy ryk salig te kan leef nie. Dit beteken ek het ‘n baie groot probleem, want: Buite sy koninkryk is ek sonder Hom, is ek geestelik dood en wag die verskriklikste ellende op my!

  1. Die genade: Hy gee alles, sodat ek in sy koninkryk salig kan lewe

Om in die koninkryk van die hemel te kan leef, sal ek voor die lewende God moet gaan staan en ek sal moet weet: Hy besit die koninkryk van die hemel en Hy het alles om oor sy koninkryk te regeer en ek het niks.

Dit beteken nie, alles is verlore nie! Want…..Die Here is ‘n God van liefde en van genade!

Uit liefde gee Hy sy Seun vir my.

Sy Seun word mens, ly baie swaar en sterf uit liefde vir sondaars wat niks is en niks het nie aan die kruis op Golgota vir my vir my.

Hy staan op uit die dood.

Hy vaar na die hemel op en gaan sit aan die regterhand van sy Vader vir my.

Hy en sy Vader stuur die Heilige Gees vir my.

Deur die Gees word ek weergebore en leef ek salig in die koninkryk van die hemel, nou en in ewigheid!

God gee alles wat ek nodig het om in die koninkryk van die hemel in te gaan en salig te leef.

Al hierdie hemelse geestelike geskenke kry ek net uit genade.

  1. Die eis: Hy verwag van my om te wys hoe afhanklik ek van Hom is

As weergebore mens glo ek in Jesus Christus. My geloof beteken: Ek aanvaar Hom met my hart as my enigste Verlosser. Ek weet met my verstand dat Hy my enigste Verlosser is en ek dink gedurig aan Hom. Ek voel in my binneste die sekerheid dat Christus in my is. In my lewe soek ek Christus se wil en gehoorsaam ek Hom in alles.

As weergebore gelowige leef ek in die koninkryk van die hemel ‘n lewe wat heeltemal anders is as die lewe van al die ander mense wat net natuurlik gebore is en nie ook geestelik wedergebore is nie. Ek leef anders deur Christus se wil vir elkeen en daarom ook vir my, in die koninkryk van die hemel te gehoorsaam.

Wat is Christus se wil vir my in die koninkryk van die hemel?

Vanoggend leer ek sy wil vir my in Mt.5:3 ken: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (83 vert) “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (53 vert).

Christus wil dat ek arm van gees moet wees. Anders gestel: Sy wil vir my is dat ek baie goed moet besef hoe afhanklik ek van God is.

Arm of afhanklik beteken nie: Om skaam te wees of om teruggetrokke te wees of om op die agtergrond te bly en min te sê of te doen nie.

Arm van gees beteken wel: Absolute nederigheid voor die Here met die besef dat jy niks is en niks het nie. ‘n Voorbeeld in die Ou Testament is Jesaja. Luister hoe reageer hy wanneer hy voor die Heilige God staan: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is…”(Jes.6:5). In die nuwe Testament is Paulus een goeie voorbeeld wanneer hy getuig: “As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer…Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus..” (Fil.3:4,7).

Arm van gees of dan afhanklik van God beteken die afwesigheid van: Trots en selfversekerdheid en selfvertroue en die besef dat ek niks voor God is nie.

Hoe voel ek oor myself wanneer ek aan myself dink as ek voor God staan?

Besef ek hoe afhanklik ek van God is?

Dit bring ons by die belangrike vraag: Hoe kry ek dit reg om so afhanklik van die Here te wees soos Hy wil hê ek moet wees?

Die Heilige Gees help my. Net Hy kan help. Hy help deur God se Woord, die Bybel. Lees die Bybel goed. Leer God ken vir Wie Hy is, wat Hy doen en wat Hy van jou verwag. Wanneer jy Hom regtig leer ken, gebeur die volgende:

 

“Tot nou toe het ek net gehoor van wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou in sak en as.” Dit is Job se getuienis, nadat hy die Here regtig leer ken het (Job 42:5,6).

Hoe beter jy God leer ken, hoe nader jy aan Hom leef, hoe armer sal jy word van gees. Hoe meer en hoe dieper sal jy besef hoe afhanklik jy van God is.

Die Heilige Gees sal jou deur die Woord so lei.

  1. Die seën: Met God in my lewe besit ek die koninkryk van die hemel

Wie besef hoe afhanklik jy van God is, is salig, geseënd, want die koninkryk van God behoort aan jou. Luister mooi na Jesus. Hy praat van die koninkryk van die hemel en Hy sê dat hierdie koninkryk aan mense behoort….mense wat weet hoe afhanlik hulle van God is!

Hoe gebeur dit dat die koninkryk van die hemel aan my behoort, wanneer ek besef hoe afhanklik ek van God is?

Die koninkryk van die hemel is God se regering deur Christus. Hierdie geestelike koninkryk is in elke wedergebore gelowige. Die Heilige Gees help en lei elke weergebore gelowige om te besef hoe afhanklik ‘n mens van God is.

Indien jy so ‘n weergebore gelowige is, is jy in die koninkryk van die hemel en is die koninkryk van die hemel in jou. As dit waar is van jou, dan het Jesus daardie dag teen die berg naby van Kapernaum ook van jou gepraat.

Dit beteken: DIE KONINKRYK VAN DIE HEMEL BEHOORT OOK AAN JOU!

Is dit nie die wonderlikste genade en seën in enige mense se lewe nie – Om uit die mond van die Seun van die lewende God te kan hoor: Die koninkryk van die hemel behoort aan jou!

  • Moenie wegskram daarvan om voor God te staan met die besef in jou hart en die belydenis oor jou lippe dat jy niks is en niks het nie. Die koninkryk van die hemel is juis vir so iemand.
  • Breek met enige gedagte of gevoel dat jy iets voor die heilige God is of het wat enige waarde het.
  • Maak deur die Heilige Gees Jesus se woorde in 5:3 jou eie.
  • Jy ken nou die geheim: Leef elke dag, jou hele lewe lank met die besef hoe afhanklik jy van God is.

Dit is hoe iemand aan wie die koninkryk van die hemel behoort, se lewe lyk!