Bekering

Datum: 2020-02-09
|
Reeks: Heidelbergse Kategismus

Sondag 33.2

“Vraag: Wat is die opstanding van die nuwe mens?”

Met hierdie vraag is ons by die tweede deel van bekering. Ons belydenisskrif kry hierdie woorde “opstanding van die nuwe mens” in Ef.4:23,24.

“Antwoord: Dit is ‘n hartlike vreugde in God deur Christus en ‘n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeiewerke te lewe.”

‘n Hartlike vreugde – Om vreugde in jou lewe te hê, dit is om bly te wees, is baie belangrik. Een van die briewe in die Nuwe Testament gaan hoofsaaklik oor blydskap. Dit is Paulus se brief aan die gemeente in Filippi.

Fil.3:1“Verder my broers, wees bly in die Here!”

Fil.4:4 – “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”

Hierdie blydskap moet in ‘n gelowige se hart wees.

In God deur Christus – Die rede vir blydskap in ‘n mens se hart is God. Hy gee hierdie blydskap deur Christus.

Hy gee sy Seun as Verlosser.

Jesus Christus vertel ons van God se verlossingsplan.

Hy is self ons Verlosser.

Hy sterf aan die kruis en staan uit die dood op.

Deur sy dood aan die kruis en sy opstanding verlos Jesus ons van sonde en gee Hy aan ons die nuwe lewe.

Deur Jesus Christus is ek nou ‘n nuwe mens met ‘n nuwe lewe op pad na die hemel waar ek ewig by God sal wees.

Hierdie wonderlike waarheid is die rede waarom ek in my hart bly is.

‘n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe – Omdat ek ‘n nuwe mens is, is ‘n lewe volgens God se wil nie ‘n swaar plig nie. Inteendeel! Ek is lus om so te lewe. Dit beteken ek wil graag volgens God se wil lewe.

Ek het God ook lief en ek het die Bybel lief, daarom lewe ek volgens God se wil.

My liefde vir God kan nooit net ‘n gevoel of net woorde wees nie. Liefde wat God vra, is liefde wat doen. Ek wys daarom my liefde vir God deur geoeie werke te doen.

Vraag: Wat is goeie werke?”

Hierdie is ‘n belangrike vraag. God wil dat ek goeie werke doen, daarommoet ek weet wat goeie werke is. Goeie werke is nie enige iets wat goed lyk nie. Ons as mense kan nie besluit wat goeie werke is nie.

“Antwoord: Slegs die wat uit ‘n ware geloof, volgens die Wet van God  tot sy eer gedoen word en nie dié wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie.”

Slegs – met hierdie een woord bely ons dat goeie werke spesiale werke is en nie sommer enigiets nie.

Uit ‘n ware geloof, volgens God se Wet, tot sy eer – ‘n Goeie werk as nuwe mens, kom van iemand met ‘n opregte geloof in Jesus Christus ons Verlosser.

Werke volgens God se Wet is goeie werke. Daarom is dit so belangrik om die Wet, die Tien Gebooie wat ons in Eksodus 20 en Deuteronomium kry, goed te ken. Hiermee saam kom die verduideliking van elke gebod in Sondag 34 – 44 van die Heidelbergse Kategismus. Dan is Mt.5 -7, Jesus se Bergrede ook ‘n baie belanagrike deel in die Bybel wat God se Wet duidelik maak.

Goeie werke is tot God se eer – Wanneer ek goed doen, behoort ek niks terug te verwag nie. Veral behoort ek nie te verwag dat mense my eer vir die goed wat ek doen nie. Goeie werke wat eg is, is tot eer van God.

Nie die wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie – Die dinge wat ons as mense uitdink en wat ons dink goed is, is nie goeie werke nie. Gewoontes en ‘n manier van lewe wat ons by ons ouers geleer het, is ook nie noodwendig goeie werke nie, al lyk dit vir ons of so iets goed is.

Hierdie deel van ons belydenis bring my by die vraag: Weet ek wat goeie werke is en doen ek goeie werke?

Ander Gesonde Leer in "Heidelbergse Kategismus"