Home Preke Die kerk Die gemeenskap van die heiliges

Die gemeenskap van die heiliges

Datum: 2024-09-08
|
Reeks: Die kerk
|
Kernverse: 1 Kor.12:14-20

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God die Vader en Jesus Christus, ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.33:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Skb.9-3:1,2
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Skb.5-4:1,5,6
Lees: 1 Korintiërs 12:1-31 en Sondag 21 (V&A 55)
Kernverse: 1 Kor.12:14-20
Tema: Die gemeenskap van die heiliges.
Sang: Ps.33:1,2; Skb.12-3:1,2; Skb.9-3:1,2; Skb.5-4:1,5,6; Ps.105:2,3; Skb.2-4:1,2,3

Inleiding:

Jesus Christus se kerk is geestelik. Sy kerk is nie ‘n gewone menslike instelling nie. Ons mag daarom regtig nie op ‘n gewone menslike manier oor die kerk dink en as gemeente leef nie. Die Here Jesus se kerk is die gemeenskap van die heiliges. Ons moet daarom geestelik oor die kerk dink en geestelik as die gemeenskap van die heiliges in die gemeente leef.

Tema: Die gemeenskap van die heiliges.

  1. Werklike geestelike eenheid met Christus.

Paulus het die gemeente in Korinte tydens sy tweede sendingreis in 50-51 n.C gestig. Die gemeente vanJesus Christus het in die groot hawestad in Griekeland met ‘n wêreldse heidense tydsgees te doen gekry. Die slegte wêreldse invloed het in die gemeente begin indring, sodat Paulus drie jaar na die gemeente gestig is hierdie ernstige brief vir hulle moes skryf.

In Korinte was daar baie Griekse afgode. Die gelowiges in die gemeente was voorheen Griekse heidene wat die afgode gedien en in hulle geglo het.

Die Heilige Gees het Paulus gelei en gehelp om hierdie brief te skryf dat daar net een God is. Paulus het ook geskryf dat daar net een Here is. Hy is Jesus Christus, die Here.

Die Naam Here beteken Oorwinnaar en Eienaar. Jesus het deur aan die kruis te sterf en op te staan, die duiwel en sonde oorwin. Deur sy dood en sy opstanding het Jesus elkeen wat in Hom glo, syne gemaak. Jesus is elkeen wat in Hom glo, se Here.

Niemand glo en sê vanself: “Jesus het vir my die duiwel en die sonde oorwin nie”. Niemand glo en sê uit eie wil: “Ek behoort aan Jesus” nie.

Dit is alleen DEUR DIE HEILIGE GEES  dat ‘n mens sal sê: JESUS IS HERE!

Dit was destyds van die gelowiges in die gemeente in Korinte waar. Dit is vandag van die gelowiges in ons gemeente nog net so waar. Dit is net met die Heilige Gees in ons dat ons kan glo en sê:

JESUS IS ONS HERE!

Om te kan glo dat Jesus ons Here is, is wonderlike genade in ons elkeen afsonderlik en ons almal saam se lewe. Om so in Jesus te kan glo, is lewensveranderend.

Dié genade en die verandering kom deur die Heilige Gees. Die Heilige Gees maak ons geestelik een met Christus. Hierdie geestelike eenheid gebeur deur in Jesus Christus, die Here te glo. Ons geloof wat ons by die Heilige Gees kry,  maak ons een met Christus die Here.

Gelowiges wat een met die Here Jesus Christus is, deel in al sy skatte en gawes. Jesus Christus ons Here se skatte en gawes is:  Wedergebore harte met geloof, verlossing, vergifnis, vryspraak, oowinning oor die duiwel en die sonde en die dood, die ewige lewe, liefde vir sy Vader, ‘n ewige erfdeel in die hemel. Daar is nog meer.

Die Naam Here is ‘n baie belangrike en baie kosbare Naam vir alle Christengelowiges, ook vir ons. Die skatte en gawes wat ons by die Here Jesus gekry het, is eweneens baie belangrik en baie kosbaar.

Elke gelowige wat aan die Here Jesus Christus behoort, is heilig. Gelowiges wat saam aan die Here Jesus behoort, is die gemeenskap van die heiliges. Elke Sondag kan ons hierdie waarheid in die erediens bely met harte vol liefde vir Christus en dankbaarheid dat ons aan Hom behoort.

Wat regtig nodig is, is dat ons sal glo en sal besef dat ons die gemeenskap van die heiliges is.

2. Werklike geestelike eenheid met mekaar.

 Die gemeenskap van die Heiliges het ook ‘n tweede baie belangrike betekenis. Paulus het hieroor geskryf en die beeld van die liggaam gebruik. Die Heilige Gees het hom gelei om so oor die gemeenskap van die heiliges te skryf.

Die liggaam bestaan uit baie lede. Die gemeenskap van die heiliges is ‘n gemeenskap van gelowiges wat saam een gemeente vorm.

Niemand in die gemeente mag dink en sê dat hy of sy nie deel van die gemeente is nie.

God is alwetend, almagtig en genadig. Hy beskik elke gelowige se lewe. Hy voeg elke gelowige afsonderlik in die liggaam volgens sy wil. Hy voeg gelowiges in ‘n gemeente saam volgens sy wil. Dit is regtig genade om deel van ‘n gemeente van Christus te wees.

Dan gee die Here Jesus Christus genadegawes aan elke gelowige. Hy verwag van die gemeenskap van die heiliges om die liefde wat ons van Hom gekry het, aan mekaar te bewys. Ons bely hierdie waarheid so in die Kategismus: “Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.”

Die gawes wat ons in Sondag 21 bely, is die gawes wat ons by Christus gekry het. Hy gee die gawes deur die Heilige Gees. Die gawes wat die gemeenskap van die heiliges met mekaar kan deel en ook moet deel, is die gawes wat Christus gegee het. Hierdie gawes is geestelike gawes.

Wanneer iemand in die gemeente moeernstig siek is en dink dit is God se straf, kan ons die wondergenade van vergifnis met mekaar deel. Ons as gelowiges kan mekaar hoop en moed gee, met die verlossing wat ons by die Here Jesus Christus gekry het.

Wanneer dit voel of die wêreld en die lewe te veel word, kan ons as die gemeenskap van die heiliges mekaar herinner aan Christus se oorwinning oor die wêreld en dat almal wat in Hom glo, reeds in die oorwinning deel.

In ‘n wêreld en ‘n land waar daar soveel vyandigheid en rusie en geweld is, het die gemeenskap van die heiliges die baie belangrike roeping en baie groot verantwoordelikheid om heeltemal anders te leef en liefde aan mekaar te bewys.

Ons kan met mekaar oor die dood praat. Indien iemand bang is vir die dood, kan ons as die gemeenskap van die heiliges so iemand help en leer dat Jesus Christus die dood oorwin het en dat om te sterf beteken ons Verlosser kom ons haal om by Hom te wees.

Ons kan mekaar ook reghelp met die werklikheid van die ewige lewe, wanneer die hier en die nou op aarde te belangrik word.

Die rede vir die gebruik van die gawes wat Christus in die gemeente gegee het, is dat dit tot nut en saligheid van die ander gelowiges in die gemeente sal moet wees. Wanneer ons ons gawes in die gemeente gebruik, moet dit goed vir die ander gelowiges te wees.

Die vraag om te vra wanneer ons iets doen, is: Is dit goed vir die ander gelowiges?

Wat veral belangrik is, is dat ons ons gawes sal gebruik, dat dit geestelik vir mekaar goed sal wees. In die woorde van die Kategismus die gawes wat die gemeenskap van die heiliges in die gemeente gebruik, moet tot saligheid van die ander gelowiges dien.

Wanneer die gawes in die gemeente tot nut en saligheid van die ander gebruik word, is die gemeente regtig die gemeenskap van die heiliges en regtig die liggaam van Christus.

Hierdie eenheid met Christus en die eenheid van gelowiges met mekaar is so ‘n belangrike waarheid in die Bybel, dat dit in ons geloofsbelydenis opgeneem is. Die Heilige Gees het Christus se kerk deur die Heilige Skrif, die Bybel gelei om hierdie waarheid as een van die dele in die Twaalf Artikels op te neem.

Wanneer ons die gemeenskap van die heiliges elke Sondag bely, het ons nodig om die belangrike waarheid met opregte harte te bely. Ons het verder nodig dat ons belydenis nie net by woorde bly nie. Ons het die Heilige Gees in ons. Ons het die Here se Woord. Ons het nodig om in ons gemeente te leef wat ons bely.

Die gemeenskap van die heiliges is so belangrik in die Here se Woord en behoort so belangrik vir ons te wees dat ons baie daaroor sal bid. Ons behoort te bid dat die Heilige Gees ons sal help en lei dat ons gemeente regtig soos die gemeenskap van die heiliges sal leef.

ANTWOORD
Sing: Ps.105:2,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.2-4:1,2,3
Seën: Die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God die Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.

Ander preke in "Die kerk"