ONTMOETING
Votum: Ps.125:1,2: “Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan. Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd.
Seën: Genade, barmjhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Skb.1-2/60:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,17
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.1-1/24:1,2
Lees: Efesiërs 1 en Sondag 21 (V&A 54)
Kernverse: Ef.1:11
Tema: Christus se kerk is heilig, algemeen, Christelik.
Sang: Skb.1-2/60:1,2,3; Ps.9:1,7,10; Ps.38:1,17; Skb.1-1/24:1,2; Ps.105:4,5; Skb.18-7/45:1,2,11
Inleiding:
Kerk is ‘n baie belangrtike woord met ‘n baie diep GEESTELIKE BETEKENIS. Dit is oor hierdie baie belangrike en diep geestelike betekenis dat een van die artikels in ons geloofsbelydenis oor die kerk gaan.
Hierdie waarheid bring ons almal voor die vraag, eintlik meer as een vraag:
Die eerste vraag: Ken ek die diep geestelike betekenis van die kerk?
Die tweede vraag: Is hierdie diep geestelike betekenis in my hart, my gedagtes en my woorde wanneer ek oor die kerk glo en dink en praat?
Die derde vraag: Leef ek volgens hierdie diep geestelike betekenis van die kerk?
Vanoggend kyk ons na Efesiërs 1 en Sondag 21 om seker te maak dat ons by die diep geestelike betekenis van die kerk uitkom.
Tema: Christus se kerk is heilig, algemeen, Christelik.
Die woorde “heilige, algemene, Christelike kerk” hoor ons en bely ons elke Sondag in elke erediens. Die woorde is deel van ons geloofsbelydenis. Die woorde moet daarom vir ons almal iets beteken. Ons mag dit nie net uit gewoonte in ‘n erediens hoor en bely nie. Ons het nodig om opreg te glo wat ons oor die kerk bely.
Wat moet ons oor die heilige, algemene Christelike kerk glo?
Die eerste wat ons almal oor die kerk met ons hele hart moet glo, is: God het die kerk uitverkies.
God het die kerk voor die skepping UITVERKIES.
Die ewige, almagtige, alwetende God het IN DIE EWIGHEID oor die kerk BESLUIT!
God het die eerste tree geneem. Hy het besluit. Hy het gekies. Hy het hierdie alles reeds voor die skepping gedoen.
Dit beteken dat die kerk nie ‘n menslike organisasie is nie. Hierdie is regtig belangrik. Ons mag nie aan die kerk dink en oor die kerk praat en in die kerk doen, soos wat ‘n mens in ‘n gewone organisasie dink en praat en doen nie.
Die kerk is geestelik. Daarom mag ons nie in die eerste plek oor die gebou, die erediens, die organisasie en die vergaderings glo en dink en praat nie. Heel eerste, voorop in al ons doen en late moet die geestelike betekenis van die kerk wees.
Die eerste geestelike betekenis is:
Almal van ons is in ‘n kerk, omdat die ewige allerhoogste God ons uitverkies het. Reeds in die ewigheid het God oor ons besluit. Omdat God so besluit het, is ons vandag in die kerk.
ELKEEN van ons is in die kerk, want GOD HET MY UITVERKIES!
Hierdie baie belangrike waarheid moet elkeen glo en sekerheid oor hê. Ons kan dit glo en kan daarvan seker wees, want God sê in sy Woord dat Hy die kerk uitverkies het (Ef.1:4,5).
Ons almal behoort daarom met harte warm van dankbaarheid en liefde vir God as deel van die kerk te leef.
Die tweede geestelike betekenis:
Wat God in die ewigheid besluit het, doen Hy in die tyd nadat Hy alles geskep het. Die kerk gebeur nie net nie. Die Seun van God, een met sy Vader en die Heilige Gees, daarom self ook God, VERGADER die kerk.
Christus vergader sy kerk van die begin van die wêreld tot die einde van die wêreld. Ons lees dus in die Ou Testament en in die Nuwe Testament dat Christus sy kerk vergader. Daar is soveel verse hieroor. Die volgende is verse oor die Seun van God wat die kerk vergader:
Die Ou Testament.
Jes.43:1 – “MAAR nou, so sê die Here, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!”`
Nuwe Testament
Rom.9:25,26 – “Hulle wat nie my volk is nie, sal Ek roep om my volk te wees, en haar wat geen liefde ontvang het nie, om my geliefde te wees. En in plaas daarvan dat vir hulle gesê is: ‘Julle is nie my volk nie,’ sal hulle geroep word om kinders van die lewende God te wees.”
Christus vergader die kerk deur sy Gees en sy Woord. ‘n Baie duidelike voorbeeld kry ons in Hand.2 met die uitstorting van die Heilige Gees. Petrus het gepreek. Hy het die Ou Testament oor Jesus Christus aangehaal. Hy het die preek oor Christus so afgesluit: “Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” (Hand.2:36).
Toe die mense God se Woord, die evangelie van Christus gehoor het, het die Heilige Gees hulle diep in hulle harte getref. Hulle het in Jesus Christus geglo en is gedoop as teken van vergfinis deur Christus. Omtrent drieduisend mense is daardie dag by die gelowiges gevoeg.
Die Heilige Gees het Petrus laat opstaan en praat. Die Heilige Gees het die mense diep in hulle harte getref. Petrus het die Woord van God, die evangelie van Christus gepreek. Die mense het Petrus se woorde gehoor, geglo en hulle by die gelowiges, die kerk gevoeg.
Ons is die kerk, omdat Christus ons vergader het deur sy Heilige Gees en sy Woord. Christus het my nie in die duister gelos nie. Hy het my nie in die mag van die duiwel en sonde laat bly nie. Hy het my deur sy Woord en sy Gees by Hom vergader, na Hom toe gebring.
Die Heilige Gees gee vir mense geloof in Jesus Christus deur sy Woord. Almal wat in Christus glo, is die kerk.
Ek is deel van die kerk, want CHRISTUS HET MY DEEL VAN DIE KERK GEMAAK!
Dit is wonderlike genade in die lewe van elkeen van ons, dat Christus juis ons by Hom vergader het.
Die derde geestelike betekenis:
Die kerk is op hierdie aarde in ‘n baie onveilige en gevaarlike omgewing. ‘Twee bekende verse hieroor is:
Ef.6:12 – “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug”.
1 Pet.5:7 – “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘m brullende leeu, op soek na iemand om te verslind”.
Die kerk is Christus se kerk. Hy het sy kerk met sy offer aan die kruis en sy opstanding uit die dood, syne gemaak. Sy kerk is vir Hom kosbaar. Christus beskerm die kerk.
Christus beskerm sy kerk. Sy woord is lewend en kragtig en kom in mense se binneste. Die Gees plant geloof in mense se harte. Deur geloof in Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, is mense, is ons, verlos van die mag van die duiwel en sonde. Deur die Woord en die sakramente maak Christus ons geloof sterker. So beskerm Hy ons, sy kerk teen die boosheid in hierdie wêreld.
Die Woord van God en die doop en nagmaal is daarom baie belangrik vir die kerk van Christus.
Christus onderhou sy kerk met hemelse gawes. Dit is nodig om in die eerste plek geestelik oor Christus se onderhouding van sy kerk te dink en te glo. Hy onderhou sy kerk met geestelike gawes.
Ons lees in Ef.1:3 van “die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is”. Hierdie seëninge is wedergebore harte, geloof, verlossing, vergifnis, liefde en nog meer. Wanneer Christus hierdie seëninge gee, neem Hy dit nooit weer weg nie. Christus sorg dat sy kerk hierdie hemelse seëninge behou en daarin groei.
Die kerk kan seker wees dat Jesus Christus sy kerk onderhou, want Hy het ‘n belofte aan sy kerk daaroor gemaak: “…op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt.16:16).
Ons almal leef oral en altyd onder Christus se beskerming en sy sorg. Hierdie waarheid gee vir die kerk hoop vir die toekoms.
Die vierde geestelike betekenis:
Die kerk is die mense wat in Jesus Christus glo. Christus se kerk is sy gelowiges. Geloof kry ons by die Heilige Gees deur God se Woord.
Die Heilige Gees is self die ewige God. Hy verander nie. Die Here se Woord, Christus se evangelie, is ewig. Die geloof wat die Heilige Gees, die onveranderlike God gee, is daarom ook ewig.
Dit is wonderlike genade dat geloof wat die Gees gee, nooit ophou nie. Elkeen wat geloof by die Heilige Gees gekry het, sal nie ophou glo nie, in ewigheid nie! Selfs al word ek so ernstig siek dat ek in ‘n koma gaan of dat ek sterf, sal my geloof nie ophou nie. Dit beteken soveel troos en soveel sekerheid vir die kerk.
Dit is regtig nodig om geestelik oor die kerk van Christus te glo en te dink en te praat. Die kerk is nie die gebou in die eerste plek nie. Geboue word ouer en verval selfs. Kerkgeboue het al afgebrand. Gelowiges in die kerk word siek en sterf. Elke gelowige is ewig ‘n lid van Christus se kerk. Dit is wonderlike genade!
Dan is geloof wat die Heilige Gees gee, geloof wat lewe. Geloof wat lewe, is geloof wat dade word. Jakobus het ‘n brief oor geloof wat dade moet word, geskryf. ‘n Lewende lid van Christus se kerk het daarom nodig om sy of haar geloof uit te leef. Dade van geloof is nodig in die kerk.
In die Bybel kry ons soveel dade van geloof. Vir vanoggend se preek net die volgende:
Ps.1 – Iemand met ware geloof bly besig met die Bybel, ken die Bybel en leef volgens die Bybel.
Ef.4:22-24 – Ware gelowiges leef ‘n lewe van bekering. Bekering is om te breek met die ou sondige mens en nuut te lewe.
Jak.4:7 – Geloof wat leef, laat ‘n mens weerstand teen die duiwel en sonde bied.
Hand.1:8 – Ware gelowiges getuig, dit is praat openlik en met vrymoedigheid van Christus.
Gal.6:2 – Ware gelowiges dra mekaar se laste.
Gal.5:22 – Ware geloof wys die vrug van die Gees.
Elkeen van ons sal ‘n lewende lid van die kerk kan wees, indien ons weet wat ‘n lewende lid van die kerk is. ‘n Lewende lid is iemand wat opregte geloof in Christus by die Heilige Gees gekry het.
Elkeen van ons sal verder ook ‘n lewende lid van die kerk kan wees, indien ons genoeg dele in die Bybel ken waar God ons leer en ons wys hoe om as lewende lid van die kerk te leef.
Die woord kerk het ‘n diep geestelike betekenis. Ons het die Bybel en ons het die Heilige Gees. Ons almal kan hierdie geestelike betekenis leer ken. Ons almal in die kerk kan die geestelike betekenis van die kerk glo en ons kan daarvolgens leef. Wanneer dit alles gebeur, is ons deel van die Heilige algemene Christelike kerk.
ANTWOORD
Sing: Ps.105:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.18-7/45:1,2,11
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen