Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.33:1,6,11
Lees: Markus 6:45-52
Sing: Ps.130:1,2
Gebed
Kernverse: Mk.6:45,48,50
Tema: Die Seun van God se pad met ons.
Sang: Ps.33:1,6,11; Ps.130:1,2; Ps.69:1,3,6; Skb.15-5/41:1,4,5,7
Inleiding:
Die Heilige Gees het elkeen van die skrywers van Jesus Christus se evangelie gelei om die evangelie vir ‘n bepaalde doel te skryf. Johannes het die evangelie geskryf, dat ons kan glo dat Jesus die Christus is en deur ons geloof in Hom die ewige lewe kan hê (Joh.20:31). Lukas het geskryf, sodat Teofilus, maar ons ook kan weet dat alles wat hy oor Jesus Christus geskryf het, heeltemal betroubaar is (Lk.1:4). Matteus het die evangelie van Jesus Christus geskryf, sodat die destydse Jode in die eerste plek, maar ook ons kan weet Jesus Christus is die Een wat in die Ou Testament beloof is (Mt.1:22, 2:15 en baie ander plekke). Ons is vanaand by die evangelie wat Markus geskryf het. Die Heilige Gees het Markus gelei, hom meegevoer om die evangelie te skryf oor Jesus Christus, die Seun van God (Mk.1:1).
Die tema van vanaand se preek uit Mk.6:45-52 is daarom: DieSeun van God se pad met ons.
Tema: Die Seun van God se pad met ons
1. God se Seun dwing ons op die moeilike pad.
In Markus 6 is ons by die dag dat Jesus met vyf brode en twee visse ‘n wonderteken, soos Johannes geskryf het, meer as vyfduisend mense genoeg gegee het om te eet. Met Mk.6:45 is ons by die tyd net na Jesus die wonder gedoen het. Die wonder was nie bloot om vir baie mense aan die einde van ‘n dag kos te gee nie. Jesus Christus, die Seun van God, het die wonder gedoen, sodat die mense in Hom as die Seun van God, die Verlosser by Wie ware lewe te vind is, kon glo.
Die Jode het ongelukkig oppervlakkig oor die wonder gedink. Hulle wou Jesus met geweld koning maak om hulle lewe op aarde onder die heidense Romeinse regering beter te kan maak.
Toe Jesus dit sien en hoor, het Hy drie dinge gedoen.
Vir vanaand se preek is die belangrike dat Jesus, die Seun van God, sy dissipels verplig het, gedwing het om teen die aand met die boot oorkant toe te vaar. Dit was na die oorkant van die see van Galilea toe.
Dit is nodig om die volgende te besef:
Ons kan sê: Jesus Christus, die Seun van God, het sy dissipels op ‘n moeilike pad gedwing wat hulle nie self sou gekies het nie.
Vir vanaand kan ons sê: die Seun van God, aan sy Vader se regterhand, Hy deur wie sy Vader alles en almal regeer, dwing ons ook op ‘n pad wat ons nie self sou gekies het nie.
Ek wys net op ‘n paar dinge –
Niks hiervan gebeur sommer net nie. Ek, ons, sou hierdie dinge ook glad nie gekies het nie.
Die Seun van God, is self die alwetende God. Alles gebeur onder sy koningsheerskappy. Hy is die Hoof van die heelal. Hy is die Hoof van sy kerk. Ook die moeilike pad, is die pad waarop die Seun van God my bring, my dwing.
Die Here vertel en leer ons in sy Heilige Skrif, die Bybel, op baie plekke wat die rede vir die moeilike pad is. Een rede kry ons in 1 Petrus 1. God se Seun dwing ons op die moeilike pad om ons geloof te toets en eg en suiwer te maak. Hy doen dit, sodat elkeen wat aan Hom behoort, met die dag van sy wederkoms aan sy regterhand kan staan. Die Seun van God sal elkeen se geloof aan sy regterhand lof en heerlikheid en eer waardig ag en by Hom in ewigheid neem.
Die vraag vir elke Christengelowige is: Sien en beleef ek hierdie moeilike pad as ‘n politieke en ekonomiese saak, of glo ek dat die Seun van God my op hierdie moeilike pad dwing om my geloof eg en suiwer te maak vir wanneer Hy weer kom?
2. Hy sien ons raak in ons moeilike omstandighede.
Later die aand het Jesus van die berg afgekom. Hy was alleen daar. Die dissippels se boot was teen daardie tyd in die middel van die see.
Markus het die volgende geskryf: “Hy het gesien dat hulle worstel met die roeiery, want die wind was teen hulle. Teen ongeveer die vierde nagwaak, kom Hy op die see na hulle toe aangeloop, en Hy wou by hulle verbygaan” (vs 48).
Vroeër die dag, het Jesus die skare gesien. Hy het hulle jammer gekry. Hy het hulle begin onderrig (vs 34) en later deur ‘n wonder vir hulle genoeg kos gegee om te eet (vs 42).
Laat daardie aand, eintlik reeds die nag, het Jesus na die dissipels gekyk. Hy het gesien hoe hulle in die storm teen die wind sukkel. Hy het vroeg daardie oggend, ongeveer die vierde nagwaak, dit is tussen drie uur en ses uur die oggend, na hulle toe geloop.
Wat het daar gebeur? Jesus Christus, God se Seun, sien sy gelowiges raak op die moeilike pad waarop Hy hulle gedwing het.
Hierdie waarheid is vir ons in 2024 ook bedoel. God se Seun het uit liefde aarde toe gekom om sondaars te verlos. Hy kyk met liefde na ons, na elkeen wat in Hom glo.
Die dissipels het gesukkel onder die moeilike omstandighede. Ons, gelowiges wat aan Jesus Christus behoort sukkel in 2024 ook onder moeilike omstandighede. Om ernstig siek te wees, om verswak te wees is moeilik. Om met depressie en angs te leef, is ‘n moeilike pad. Vir ‘n gelowige wat naby Christus en vir Hom wil leef, is die verkeerd en die sleg en die onbekwaamheid in die land soms baie erg en moeilik.
Christus Jesus, die Seun van God is “gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid” (Hebr.13:8). Hy sien ons raak in ons moeilike omstandighede. God se Seun kyk met liefde na elkeen wat aan Hom behoort. Hy sien hoe siek jy is. Hy sien hoe swaar jy emosioneel kry. Hy sien alles raak wat in hierdie land gebeur.
Hy sien tot in die hart en gedagtes van elkeen in hierdie land wat nie in Hom glo nie. Vir elkeen wat nie glo nie, sal die Seun van God aan sy linkerhand maak staan, wanneer Hy weer kom. Elkeen aan sy linkerhand sal ewig verlore gaan.
Maar…Jesus, die Seun van God kyk anders na na jou, wat in Hom glo. Hy kyk met liefde na jou. Hy sien hoe elkeen wat in Hom glo, op die moeilike pad, sukkel en swaar kry.
Hy is nie ver van ons af, van jou af in moeilike omstandighede nie. Hy kom nader. Hy is naby. Deur sy Heilige Gees, is Christus by ons. Ons leef onder elke omstandigheid onder die oë van die Seun van God wat met liefde na ons kyk.
3. Christus se stem gee vrede in die plek van vrees.
Die dissipels was ontredderd daar op die see na ‘n nag van sukkel teen die wind en die strom. Hulle het Jesus op die see gesien loop. Hulle het gedink dat dit ‘n spook was. Hulle het bang geword en hard geskreeu. Vir hulle het die pad nog moeiliker geword. Daardie nag het ‘n nag van vrees geword.
Toe die dissipels so bang geword het, het Jesus dadelik met hulle gepraat. “Hou moed, dit is Ek! Moenie langer bang wees nie!” (vs 50).
Die dissipels het die Seun van God se stem geken. Hy het by hulkle in die boot geklim. Hulle het voor Hom neergekniel en gesê:”Waarlik, U is die Seun van God!” (Mt.14:33).
Die wind het gaan lê. Die onstuimige see het bedaar. Die dissipels was verbaas. Met Jesus Christus, God se Seun by hulle, was die vrees weg.
Hoe hoor ek, hoe hoor ons vandag God se Seun se stem? Met die Heilige Gees in ons, hoor ons Jesus Christus, die Seun van God se stem in die Bybel, die Ou en die Nuwe Testament. Wanneer ek die Bybel oopmaak en lees, maak die Heilige Gees in my, my verstand en my hart oop, dat ek die Seun van God met my kan hoor praat. Om hierdie rede is dit regtig nodig om elke dag met die Bybel besig te wees. So hoor ek en so ken ek die Seun van God se stem!
Omdat Hyself die onveranderlike God is, is sy woorde ook onveranderlik. Van daardie oggend vroeg op die see van Galilea tot in 2024 in Suid-Afrika klink die Seun van God se stem, se woorde dieselfde: “Hou moed, dit is Ek! Moenie langer bang wees nie!”
Ook in 2024 gee Jesus Christus, die Seun van God se stem vrede in die plek van vrees.
Wat ook al die moeilike omstandighede in my lewe is, wat ook al hierdie week, as die Here wil, in ons land gebeur, alles gebeur onder die heerskappy van die Seun van God.
Is dit ‘n moeilike pad, dan kom die moeilike pad van Hom af en sal die moeilike pad my louter vir wanneer Hy weer kom.
Op hierdie moeilike pad, is ek, is ons wat in die Seun van God glo, nie op ons eie aan onsself oorgelaat in hierdie land nie. Die Seun van God sien raak wat met my, met ons gebeur.
Wanneer daar onrustigheid of vrees in my hart en gemoed is oor wat in my lewe gebeur, oor wat in ons land gerbeur, dan het ons die Seun van God se stem om na te luister. Sy stem gee vrede in die plek van onrustigheid en vrees.
Sing: Ps.69:1,3,6
Gebed
Sing: Skb.15-5/41:1,4,5,7
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen