ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.68:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,17
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.130:1,2
Lees: Rut 1:1-17; 2:1-9; 4:7-22
Kernverse: Rut 1:16,17; 2:3; 4:22
Tema: Van afgodsland na belofteland
Sang: Ps.68:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.38:1,17; Ps.130:1,2; Ps.130:3,4: Ps.42:1,3,5
Inleiding:
“Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes.55:6). Dit is waarom ons vanoggend in hierdie erediens is….’n voorbereidingsdiens vir nagmaal volgende Sondag, as die Here wil. Hierdie is ook ‘n diens vir verootmoediging voor die heilige God.
Tema: Van afgodsland na belofteland
Ons ontmoet Rut in die land Moab deur ‘n gesin uit Juda wat na Moab toe getrek het. Elimeleg en sy vrou Naomi het met hulle twee seuns Maglon en Kiljon na Moab toe getrek, omdat daar ‘n hongersnood in Israel was. Daar in die heidense Moab het die twee seuns met twee vroue uit Moab getrou. Die vroue was Orpa en Rut.
Nou laat ons die res van hierdie gesin en hulle geskiedenis daar en bepaal ons aandag by die land Moab en by Rut.
Oor die land Moab en sy inwoners kan ons die volgende sê –
Hierdie paar grepe uit die geskiedenis is genoeg om te wys dat Moab ‘n afgodsland was met bykans geen morele waardes nie.
Om afgode te dien en lae of geen morele waardes nie, loop hand aan hand. Elkeen van ons wat in Suid-Afrika bly, behoort dit te weet. Indien ‘n mens oor afgode in ons land wil praat, is daar te veel om op te noem.
Hierdie afgode maak van ons land ook maar ‘n afgodsland. Die belangrike vraag is: Leef die kerk anders of is daar in ‘n gemeente ook afgode?
Die eie-ek is ‘n afgod wat ook in die kerk leef. My behoefte en wat ek kan kry, staan dikwels voorop. Hierdie gesindheid is sonde. Op so ‘n manier is ‘n mens se eie-ek die afgod. Die regte Bybelse gesindheid is: Wat kan ek in die gemeente vir die Here doen? So ‘n gesindheid getuig van geloof in die enigste ware God en liefde vir Hom.
Ons almal moet weet: ‘n Land vol afgode, is ‘n verlore land. ‘n Verlore land wat openlik in sonde bly leef, sal verlore gaan onder die heilige God se ewige oordeel. Daarom is dit dringend nodig dat enige afgod of selfs sweem van ‘n afgod uit ‘n gemeente verwyder moet word.
2. God is ewig die almagtige en genadige Verbondsgod
God is barmhartig en genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou (Eks.34:6). Naomi en Maglon en Giljon het Rut aan hierdie Verbondsgod bekendgestel. Dit was Israel se manier van doen destyds. Hulle het van die Verbondsgod en sy verbond met Abraham en sy nageslag vertel. Hulle het dikwels oor God en al sy wonderdade in Israel gepraat.
Hierdie getuienis het mense in heidenlande bereik. Ragab het byvoorbeeld van die Here gehoor en in Hom geglo (Jos. 2). Rut was nog iemand in ‘n heidense land wat van God gehoor het en in Hom geglo het. Sy het op die volgende manier van haar geloof in God getuig: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: Net die dood sal ons skei” (Rut.1:16,17).
Hierdie woorde van Rut is in werklikheid geweldige woorde. Wat sy gesê het, is so ‘n sterk getuienis van haar geloof en haar bekering. Rut het gebreek met die heidense Moab, met al die afgode en die lae morele waardes. Sy het daarna verlang om deel van die genadeverbond te wees met die Verbondsgod as haar God.
In hierdie woorde van Rut sien ons die almagtige en genadige God. Hy gebruik ‘n verskriklike hongersnood en die twyfelagtige besluit van ‘n man en sy gesin om uit die beloofde land Kanaän na ‘n heidense land te trek. Hy gebruik baie moeilike omstandighede en mense om iemand wat aan Hom behoort, aan Hom en sy verbond van genade bekend te stel.
Dit was God in sy almag en sy genade, wat aan Rut die geloof gegee het, dat sy nie meer in die afgodsland wou bly nie, maar deel van die verbondsvolk in die beloofde land, die belofteland wou wees.
God is vandag steeds die almagtige en genadige Verbondsgod. Indien ons in hierdie afgodsland iewers wil kom, sal ons na die almagtige en genadige God moet kyk, na Hom moet soek en Hom moet aanroep en smeek….meer as wat ons tans doen!
3. By Hom is daar altyd die belofte van uitkoms
Die woorde aan die einde van die boek Rut, is in weklikheid verstommende woorde. Mens kan so maklik daardie woorde net lees as die einde van die boek. Daarby is die einde ook nog ‘n geslagsregister waarvan iemand dalk nie hou nie.
Kyk net wat het die Here in Rut se lewe laat gebeur. Van Rut, die heidense vrou uit Moab het niks oorgebly nie. Rut in die afgodsland het geword Rut in die belofteland. Sy het met Boas, ‘n gelowige in Juda getrou. Sy en Boas het ‘n seun gehad. Hulle het hom Obed genoem. Obed het in die genadeverbond getrou. Hy en sy vrou het ‘n seun gehad en hom Isai genoem. Vir Isai en sy vrou is ‘n seun, Dawid gebore. Dawid was hulle jongste.
Hier kom die wonder! Uit die geslag van Dawid sou die Verlosser wat die Here God in die Tuin van Eden beloof het, gebore word. Hierdie belofte was die wonderlikste belofte met die heel beste uitkoms. Rut het nog net nie van die volle wonder van hierdie belofte geweet nie.
Haar hele lewe het in werklikheid op die belofte van uitkoms berus. Daar was die belofte om deel van die verbondsvolk in die beloofde land te word. Daar was die belofte van kos, indien sy are op die land kon optel. Daar was die belofte van sorg en veiligheid en liefde indien Boas met haar sou trou. Al hierdie beloftes het deur die almag en genade van die Verbondsgod waar geword.
Die beste van al die beloftes in Rut se lewe, was dat die Verlosser uit haar nageslag gebore sou word. Hierdie belofte weet ons wat die Nuwe Testament het, het waar geword. Dawid is uit Rut se geskag gebore en Jesus Christus is uit Dawid se geslag gebore.
By God was daar vir Rut uitkoms. Hy het uitkoms gegee tydens Rut se lewe op aarde. Hy het ewige uitkoms gegee deur sy Seun wat uit haar nageslag gebore is.
God is ewig die onveranderlike almagtige en genadige Verbondsgod. God verander nie. Sy almag en sy genade word nie minder nie en is nie vandag minder nie. Hy is steeds dieselfde almagtige en genadige Verbondsgod. By Hom is daar ook vir ons vandag uitkoms.
Die uitkoms lê op twee terreine. Die eerste terrein is die lewe hier en die nou in Suid-Afrika, solank Jesus nog nie gekom het nie. Watter belofte het ons van God? Ek haal een psalmvers aan: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer” (Ps.50:14).
Die tweede terrein is die belofte oor die ewige lewe in die hemel. Wanneer Jesus weer kom, sal Hy alles nuut maak. Hy sal elkeen wat aan Hom behoort, by Hom in die hemel neem. Lewe by God en by die gekruisigde Jesus wat opgestaan het, sal volmaak wees, ewig volmaak.
4. Deur opregte geloof en ware bekering deel ons in God se belofte
Rut het sommer maar die voorgeslag van Dawid geword nie. Sy is nie sommer deel van die geslagsregister van Jesus Christus nie. Sy het nie outomaties in die genadeverbond gekom nie.
Sy het God leer ken. In haar hart het God geloof in Hom gegee. Met haar geloof het Rut die heidense lewe sonder God prysgegee. Sy het tot bekering gekom. Sy het met die lewe in die afgodsland gebreek. Sy het verlang na lewe in die belofteland. Sy het gaan lewe in die belofteland. In hierdie geskiedenis van Rut leer God ons dat ‘n mens deur geloof en bekering in God se belofte van uitkoms deel.
Vir ons vandag beteken dit: Ons sal deel in God se belofte van uitkoms vir hierdie land, net deur geloof en bekering. Vandag is ‘n dag dat ons vir God sê ons weet ons geloof moet verdiep en ons bekering moet meer en beter. Maar ons sal dan moet verdiep en verbeter, anders help ‘n dag van verootmoediging nie. So ‘n dag word dan ‘n aanklag teen ons en ‘n getuienis teen ons dat ons ‘n dag van verootmoediging het, maar ons leef nie ‘n lewe van verootmoediging nie.
Dieselfde geld vir verlossing deur Jesus en die ewige lewe. Niemand deel in hierdie belofte, sonder geloof en bekering nie. Sonder geloof, dit is opregte geloof in Jesus wat gekruisig is en opgestaan het, bly ‘n mens ewig verlore.
Daarom het ons die Heilige Gees so nodig. Hy lei ons op die dag van verootmoediging. Hy lei ons om deur opregte geloof en ware bekering ‘n lewe van verootmoediging te leef. ‘n Gelowige wat deur die Gees ‘n lewe van verootmoediging leef, is ‘n gelowige wat in God se belofte van uitkoms deel, vir lewe in hierdie land en vir lewe in die hemel.
ANTWOORD
Sang: Ps.130:3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.42:1,3,5
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak
Amen