ONTMOETING
Votum: Dié wat op die Here vertrou, is soos die Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan. Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.66:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.116:1,5
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.10-1:1,2
Lees: Ps.33; Ef.1:3-6 en Sondag 9
Kernverse: Ps.33:6,13,20
Tema: Ek leef onder die oë van God die Vader
Sang: Ps.66:1,2; Ps.116:1,5; Ps.86:6; Skb.10-1:1,2; Skb.10-1: 3,4; Skb.2-4:1,2,3
Inleiding:
Die Heilige Gees het met nagmaal verlede Sondag ons geloof sterker gemaak. Die tyd na nagmaal is ‘n tyd om met ‘n sterker geloof dieper oor God na te dink. Vanoggend se preek is bedoel om elkeen van ons toe te rus en te help om dieper oor God die Vader na te dink en in my verhouding met Hom te groei.
Tema: Ek leef onder die oë van God die Vader
1. Die Vader van Jesus Christus
In die Twaalf artikels is ons besig met ons geloofsbelydenis oor die Here ons God. Hy is die Drie-enige God. Omdat ons belydenis, in hierdie geval die Heidlbergse Kategismus, uit God se woord, die Bybel kom, is ons ook met die dele in die Bybel besig waarin God Homslf as die Drie-enige bekend maak.
Heel in die begin is dit baie belangrik en baie nodig dat ons die volgende verse in die Ou Testament sal onthou, sal besef wat daar staan en die woorde ook glo:
Jes.55:8,9 – “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes”.
Elkeen van ons wat elke Sondag bely: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde” kan daardie woorde uit ons eie sê nog minder uit ons eie verstaan. Dit is nie gewone woorde nie. Dit is woorde waarmee ons sê hoe ons in God glo. Ons het die Heilige Gees nodig om ons te lei en te help om met gelowige harte daardie woorde te bely. Daarom moet elkeen van ons, ons vir elke erediens voorberei en vir ons deelname aan elke erediens bid en die Heilige Gees se hulp vra.
Die eerste wat ons met die eerste van die Twaalf Artikels bely is:
God is die ewige Vader van Jesus Christus – Hierdie baie belangrike waarheid kry ons baie keer in die Bybel. Een van die dele in die Bybel is Ef.1:3. Dat daar tussen God die Vader en sy Seun, Jesus Christus ‘n ewige Vader-Seunverhouding, wys hoeveel liefde God vir ‘n sondige wêreld en sy sondige mense het. Hy het uit liefde sy ewige Seun uit die hemel weggestuur na ons toe. Hy het uit liefde sy ewige Seun opgeoffer vir ons sondige mense. God die Vader het sy Seun gestuur, sodat ons deur Hom die wonderlikste hemelse seëninge kon kry. Verlossing, vergifnis, vryspraak, wedergeboorte, geloof en die ewige lewe is van die hemelse seëninge wat die ewige Vader van Jesus Christus vir ons deur sy Seun gegee het.
Paulus het in sy brief aan die Efesiërs in werklikheid ‘n lied geskryf oor wat die ewige Vader van Jesus Christus alles vir ons deur sy Seun gedoen het. Verlede Sondag se nagmaal het ons weer gewys en verseker van die hemelse seëninge wat ons deur Jesus Christus se dood aan die kruis gekry het. Elkeen van ons behoort na nagmaal met ‘n lied van geloof en liefde en dank in ons harte te leef vir alles wat ons by die Vader van Jesus Christus gekry het.
2. Die Vader van die skepping
God is ook die Vader van die skepping. Dit is die tweede waarheid wat ons oor God die Vader bely. Jesus se broer, Jakobus het in sy brief oor die Vader van die ligte geskryf (Jak.1:17). God is die Skepper van die hemelligte. Dit beteken Hy is die Vader van die skepping.
Hy het die aarde uit niks gemaak. Om iets uit niks te maak, is om te skep. Hierdie is ‘n baie belangrike waarheid: God het alles uit niks geskep. God het geskep deur net ‘n woord te sê. Hy, en net Hy is die Skepper. Niks het sommer net ontstaan nie. Hierdie is ‘n baie duidelike en vaste waarheid in God se Woord. Ps.33:6,7 is twee van die baie verse in die Heilige Skrif waar ons hierdie waarheid kry.
Die ganse skepping behoort aan Hom. Hy is die Eienaar van die skepping. God die Vader besit die skepping.
Nadat God alles geskep het, het Hy na sy skepping gekyk (Gen.1:31). Hy kyk vandag nog na sy hele skeppping. Hy regeer en onderhou sy skepping deur sy ewige raad en voorsienigheid. God se ewige raad is die besluite wat Hy in die ewigheid geneem het. Sy voorsienigheid is sy almag en sy alomteenwoordigheid waardeur Hy alles laat gebeur.
Niks en niemand in die skepping word nie deur God die Vader onderhou en regeer nie.
3. Hy is my Vader
Die ewige Vader van Jesus Christus en die almagtige en alomteenwoordige Vader van die skepping is my Vader. Hierdie wonderlike waarheid bely elkeen van ons saam met ander gelowiges in die erediens.
Die volgende is hier baie belangrik –
Hoe het dit gebeur dat God die Vader my Vader geword het?
Ef.1 gee die antwoord op hierdie belangrike vraag.
Ek het die Allerhoogste God as my Vader deur Jesus Christus sy Seun!
Jesus het aarde toe gekom. Hy het deur ‘n almagtige wonder mens geword. Hy het al ons sonde op Hom geneem. Hy het met ons sonde op Hom die straf en oordeel wat op ons moes kom, verduur en enduit gedra. Hy het aan die kruis gesterf. Deur sy dood aan die kruis het Hy my van die mag wat sonde oor my gehad het, verlos. Deur vir my te sterf, het Jesus my syne gemaak. Ek behoort aan Hom en deur Hom aan God die Vader.
Jesus het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy die dood vir my oorwin en aan my nuwe lewe, die ewige lewe met God, my Vader gegee.
Hierdie wondergenade dat God my Vader is, behoort my hart warm van geloof in God en liefde vir Hom te laat klop.
4. Ek leef met vertroue in my God en Vader
“Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense” (Ps.33:13). Lewe op aarde gaan nie net aan dag na dag en jaar na jaar nie. Alles gebeur ook nie net nie. Elke enkele mens leef onder die oë van God die Vader.
Die mens wat God nie ken nie en nie naby Hom leef nie, glo en besef nie dat ons onder God se oë leef nie.
God se oë sien hierdie sonde. Hy sal met elke ongelowige afreken wanneer Hy sy Seun stuur om weer te kom.
Maar…ek is anders!
In ‘n deurmekaar land en tyd, leef ek met geloof en sekerheid dat die ewige Vader van Jesus Christus, die almagtige Skepper van hemel en aarde, my Vader is. Hierdie waarheid gee my sekerheid en vastigheid in my lewe. Daarvoor behoort ek vir my Vader elke dag uit my hart dankie te sê.
ANTWOORD
Sing: Skb.10-1:3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.2-4:1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen