ONTMOETING
Votum: Ps.121:1
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Hoe groot is U (L464):1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.25:3
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.71:1,9,14
Lees: Genesis 1:1-2, 26-27; Deuteronomium 6:4-5; 2 Korintiërs 13:13; Efesiërs 4:4-6 en Sondag 8
Kernverse: Gen.1; Dt.6; 2 Kor.13; Ef.4
Tema: Elkeen met ware geloof in die Drie-enige God het die ewige lewe
Sang: Hoe groot is U(Lied 464):1,2,3; Skb.12-3:1,2; Ps.25:3; Ps.71:1,9,14; Ps.33:6,11; Skb.18-7:1,3,12
Inleiding:
Ons kan God op twee maniere leer ken: Deur sy skepping, die natuur en deur die Heilige Skrif, die Bybel. Om God te ken, is baie belangrik, want net die mens wat God ken, het die ewige lewe.
Elke keer wanneer ek die Bybel lees, kan ek God beter en op ‘n dieper vlak leer ken. My hart behoort daarom warm te klop, van geloof en liefde en dankbaarheid, want ek het die genade om nog meer van die enigste ware God te wete te kom en in my geloof in Hom te groei.
Ondersoek saam vanoggend God se Woord, om Hom beter en op ‘n dieper vlak te leer ken.
Tema: Elkeen met ware geloof in die Drie-Enige God het die ewige lewe
1. Uit God se Woord weet ons daar is net een God
Die tweede vraag in Sondag 8 van die Heidelbergse Kategismus is: “Terwyl daar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees”?
Met die woorde “Terwyl daar tog net een, enige Goddelike Wese is” bely ons dat daar net een God is. Ons belydenis kom uit die Heilige Skrif. Die dele waar die Bybel vanoggend oop is, is van die dele waar ons hierdie belydenis kry.
Gen.1:1 – “In die begin het God die hemel en die aarde geskep”. In Hebreeus, die taal waarin die Ou Testament oorspronklik geskryf is, kan mens uit die woord “geskep” duidelik agterkom dat net een persoon geskep het. Daardie een Persoon was God.
Die volgende vers maak die waarheid dat daar net een God is, nog duideliker bekend:
Gen.1:27 – “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep”. Die Heilige Gees het Moses elke keer laat skryf “Hy het geskep”. Daar was net Een wat geskep het, God.
Wanneer ek Gen.1 lees, mag ek nie vs 1 vinnig lees en dan bloot verder aangaan na die res van die hoofstuk oor die skeppingsdae nie. Ek het nodig om die Bybel elke keer te lees om God beter en dieper te leer ken. Daarom behoort vs 1 en vs 27 van die eerste boek van die Heilige Skrif my hart aan te gryp – Ek lees van die enigste Ware God. Ek het genadetyd om die Allerhoogste, die almagtige Skepper van hemel en aarde beter en dieper te leer ken.
Die Heilige Gees het hierdie baie belangrike geestelike waarheid dat daar net een God is in meer as een plek in die Bybel deur meer as een skrywer laat neerskryf.
Dt.6:4 – Moses het deur die Heilige Gees geskryf dat die Here die enigste God is. Paulus het deur dieselfde Heilige Gees geskryf dat daar net een God en Vader van almal is (Ef.4:5).
Uit die Heilige Skrif, God se Woord weet ons en glo ons dat daar net een Goddelike Wese is. Hy is die enigste ware God.
2. Uit die Woord weet ons die Een Wese is Drie Persone
In ons geloofsbelydenis, die Twaalf Afrtikels, bely ons God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die vraag in die Kategismus is daarom waarom ek as Christengelowige in die een ware God glo en dan van drie praat, die Vader, Seun en Heilige Gees.
Die antwoord is: “Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige ware, ewige God is”.
Elkeen van ons het as Christengelowige nodig om God se Woord te ondersoek en uit sy Woord, die Heilige Skrif te weet en te glo dat die enige ware ewige God, drie Persone is.
Gen.1 en 2 – Die een God het die hemel en die aarde geskep en die Gees van God het oor die waters gesweef. Reeds in hierdie twee verse heel in die begin van die Heilige Skrif, die Bybel, leer ons dat God een is, maar ook meer.
Vs 26 maak dieselfde bekend – “Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld….”
Ook in ander dele van die Bybel, kry ons hierdie belangrike geestelike waarheid dat God Een is, maar ook meer.
2 Kor.13:13 – “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God ons Vader een die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees”. Paulus het deur die Heilige Gees oor God geskryf, maar hy het van drie Persone geskryf wat duidelik van mekaar onderskei kan word.
Ons kry hierdie selfde waarheid ook in die brief aan die Efesiërs waar Paulus deur die Heilige Gees van die een Gees en die een Here en een God en Vader geskryf het. Hy het van God gskryf, terwyl hy drie duidelike Persone genoem het (Ef.4:4-6).
Uit die God se Woord, sy Heilige Skrif weet ons dat die Een Wese Drie Persone is!
Die enigste ware God is Een Wese en Drie Persone!
Ons kan sê Hy is een Wese in wie drie Persone is.
3. Met hierdie geloof leef ons op aarde
Ons leef in ‘n tydsgees oor die hele wêreld en ook in ons land waar geglo en gesê word dat elke mens volgens elkeen se wil en reg in elkeen se god mag glo en dat elke geloof reg en goed is. In Suid-Afrika leef ons as Christengelowiges saam met ander gelowe wat glo dat hulle god een is en nog ander gelowe met baie verskillende gode.
Teenoor hierdie tydsgees en al hierdie gelowe glo en bely ons as gereformeerde Christengelowiges dat die enigste ware God drie Persone in een Goddelike Wese is.
Omdat God Homself in sy Heilige Skrif as drie Persone in een Wese bekend maak, weet ek en glo ek vas en seker so in Hom. Ek, saam met al die ander Christengelowiges glo en bely dat die drie Persone, die Vader en die Seun en die Heilige Gees die een geestelike Wese is, wat ons God noem.
Ons bely God die Vader as die enigste Skepper.
Ons bely God die Seun, Jesus Christus as ons enigste Verlosser.
Ons bely God die Heilige Gees as ons Trooster en Helper wat ons lei in ‘n lewe van heiligmaking.
Hierdie geloof in die Drie-Enige God, as die enigste ware God, het ek van die Heilige Gees gekry.
Die Gees het my hierdie geloof deur God se Woord gegee.
Hierdie geloof is ware geloof.
Met hierdie geloof leef ons as Christengelowiges op aarde.
Die Heilige Gees gebruik nagmaal om my ware geloof in die ware God sterker en vaster en dieper te maak.
Hierdie geloof kan ek nie net vir myself hou en binne my wegsteek nie. Ek het nodig om toegerus te wees in ware geloof in die enigste ware God om in ons land en in die wêreld as ware gelowige te kan leef. Daarom het ek nodig om voortdurend met die Bybel besig te wees om God goed te leer ken. Die Heilige Gees sal my toerus met ware geloof in die enigste ware God.
As die Here wil, het ons volgende Sondag nagmaal. Nagmaal se bedoeling is om die ware geloof in my hart sterker te maak, sodat ek regtig met ware geloof in die ware God kan leef.
4. Deur hierdie geloof is ons seker van die ewige lewe
In die wêreld en in ons land is daar baie gelowe. Maar…daar is net een ware geloof waardeur ‘n sondige mens salig word en nie meer verlore gaan nie. Hierdie ware geloof is geloof in die Drie-Enige God: God die Vader ons Skepper, die Seun ons Verlosser en die Heilige Gees ons Heiligmaker.
Daar is tans in die wêreld en in ons land baie onsekerheid oor omtrent alles. Ware geloof in die Driee-Enige God gee sekerheid, gee vastigheid, wys die regte pad aan, die pad na die lewe, die ewige lewe.
Ware geloof in die enigste ware God is daarom baie kosbaar. Dit is ‘n geskenk uit genade, ‘n genadegawe wat ons net by die Heilige Gees en net deur God se Woord kry.
Elke keer wanneer ek die Bybel vat om te lees of te luister, het ek die genade om die ware God beter en dieper te leer ken. Die Heilige Gees laat ook die ware geloof in my hart vaster en dieper groei deur die Bybel, die Heilige Skrif.
Daarom behoort my hart van geloof en en liefde en dankbaarheid warm te klop, elke keer wanneer ek die Bybel oopmaak om van God te lees of te hoor.
ANTWOORD
Sing: Ps.33:6,11
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.18-7:1,3,12
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Amen