Home Preke God die Vader Geduld…Dankbaarheid…Vertroue.

Geduld…Dankbaarheid…Vertroue.

Datum: 2024-03-10
|
Reeks: God die Vader
|
Kernverse: Jes.40:31; Dt.8:10,11; Rom.8:38,39

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here, deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.34:1,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.59:1,5,10
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.138:1,4
Lees: Jesaja 40:27-31; Deuteronomium 8:6-14; Romeine 8:35-39 en Sondag 10 (V&A 28)
Kernverse: Jes.40:31; Dt.8:10,11; Rom.8:38,39
Tema: Geduld…Dankbaarheid…Vertroue
Sang: Ps.34:1,4; Ps.71:9; Ps.59:1,5,10; Ps.138:1,4; Ps.42:1,3,5; Ps.68:9

Inleiding:

Ons is vanoggend vir die tweede Sondag besig met die voorsienigheid van God. God se voorsienigheid is sy krag – almagtig en oralteenwoordig – waardeur Hy almal en alles onderhou en regeer. Onder sy regering kom voorspoed  en teëspoed op ons lewenspad.

Die vraag in Sondag 10 waarna ons dieper kyk, is: “Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?” Die antwoord op die vraag kan ons so saamvat: Geduld in teëspoed, dankaarheid in voorspoed en vertroue vir die toekoms.

Vanoggend se preek is bedoel om ons almal uit God se Woord te leer, om ons toe te rus, ons in staat te stel om met geloof die voorsienigheid van God te beleef en te aanvaar en in alles nader aan Hom te groei.

Tema: Geduld…Dankbaarheid…Vertroue

1. In teëspoed – geduld

Ons kyk eers na die teëspoed in Juda se lewe. Wanneer ons van Juda in ballingskap lees, dan moet ons onthou hulle was gewone mense: Ouers met kinders, babas en jonger kinders, tieners, grootouers, werkende mense en al die ander verskillende mense destyds in die samelewing. Hulle was mense net soos almal van ons.

Die teëspoed waarvan ons in Jesaja lees, was die ballingskap. Nebukadnesar van Babel het Juda ingeval, in die geveg oorwin en baie mensee weggevoer. Dit opsigself was baie erg. Dink maar hoe erg Rusland se inval in Oekraïne vir ons was en hoe ontstel en pla Hamas se inval in Israel verlede jaar en die oorlog wat steeds voortduur ons. En dit is gebeure in lande baie ver van ons af!

Dan het die teëspoed en swaarkry nie opgehou toe Juda weggevoer is nie. In Babel is hulle verplig om die heidense manier van lewe aan te leer. In die koning se paleis het die Jode daar name wat na heidense afgode wys, gekry. Hulle moes kos eet wat aan heidene geoffer is.

Wat baie erg vir Juda was, was die heidene wat soms arrogant en spottend gevra het dat Juda hulle geestelike liedere oor die Here se beskerming moes sing. Hulle kon nie die Here se liedere in die vreemde heidense land sing nie.

Hierdie swaarkry het Juda laat dink dat die Here nie meer raaksien wat besig was om met hulle te gebeur nie. Dit het vir hulle gevoel asof hulle swaarkry by die Here verby gegaan het. Hulle het nie gesien dat die Here enigiets doen om die teëspoed minder en die swaarkry ligter te maak of te laat ophou nie.

Juda was nie al mense wat so gevoel het nie. Is dit nie juis hoe ek voel wanneer ek baie swaarkry en dit nie ophou nie? Sien God nie? Het Hy my dan vergeet?

God het Juda geantwoord. Sy antwoord is vir elkeen van ons bedoel: “…die wat op die Here wag, kry nuwe krag” (Jes.40:31).

Wag op die Here beteken: Vertrou Hom, wees geduldig, aanvaar dat God alwetend is en presies weet hoeveel swaar om op my lewenspad te bring en vir hoe lank én waar Hy my wil bring. Net iemand met ‘n gelowige hart, sal op die kan Here wag.

Wanneer ek in so in teëspoed geduldig op die Here wag, het Hy ‘n belofte: Hy sal vir my nuwe krag gee om deur die swaar tyd te kom. Wanneer God belowe, gebeur dit. Ek het daarom hierdie sekerheid: God se belofte van nuwe krag, sal ook in my lewe waar word.

2. In voorspoed – dankbaarheid

Moses het op ‘n keer die hele Israel bymekaar geroep en met hulle as verbondsvolk gepraat. Hy het die Here se Wet weer aan hulle voorgehou en hulle baie verskillende belangrike dinge geleer hoe hulle as gelowige verbondsvolk moes leef.

Een van die belangrike dinge kry ons in Dt.8:10: “ Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het.”

Met hierdie woorde het Moses van die beloofde land, Kanaän gepraat. Israel was nog op pad soontoe, maar die Here het Moses aangesê om vooraf met hulle te praat. Die Here sou hulle bring in ‘n goeie land – ‘n land met waterstrome, fonteine en riviere, ‘n land met allerhande soorte graan, wingerde en vrugtebome, ‘n land met volop minerale – ‘n land waarin genoeg sou wees om van te leef. So het dit ook gebeur.

Moses het gepraat en geleer, maar dit was in werklikheid die Here wat gevra het: Israel moes elke keer dat hulle genoeg geëet het, dankie sê. Hiermee sê God vir ons dat dankbaarheid van sy gelowige kinders vir Hom baie belangrik is – vir Israel destyds…vir elkeen van ons vandag steeds.

Omdat dankbaarwees vir God so belangrik is, kry ons dankbaarheid meer as eenkeer in die Heidelbergse Kategismus –
Sondag 10 – dankbaarheid in tye van voorspoed
Sondag 24 – vrugte van dankbaarheid deur elkeen wat in Christus glo
Sondag 32 – gelowiges doen goeie werke uit dankbaarheid
Sondag 45 – Gebed is die vernaamste deel van die dankbaarheid wat God van ons vra

Trouens, die hele derde deel van die Kategismus met die Wet van die Here en die Onse Vader gaan in werklikheid oor dankbaarheid.

Hieruit moet elkeen van ons weet dat dankbaarheid vir God baie belangrik is. Elkeen van ons het baie in ons lewe om vir God dankie voor te sê –

  • Elkeen van ons kon vanoggend wakker word met oë wat kan sien. Ons kan God se ooi skepping om ons sien. Ons kan die woorde in die Bybel sien wat Hy vir ons laat neerskryf het.
  • Ons kon vanoggend al die verskillende voëls hoor. Ons kan in ‘n erediens sit en die Here se Woord hoor. Ons kan die orrel en ons sang hoor.
  • Ons kan vanoggend hier uitstap die week in met die sekerheid dat ek nie een oomblik op my eie is nie. Ek is God se kind en erfgenaam. Ek leef elke oomblik onder my Vader in die hemel se genade, sy liefde en sy sorg.
  • Ja, ons leef in ‘n land met baie slegte probleme en ja, ek het baie ernstige probleme in my persoonlik lewe, maar ek het ook baie om vir God dankie voor te sê.

Dankbaarheid begin by my hart vol geloof. Met my gelowige hart weet ek dat ek baie van God, my Vader, kry. Wanneer ek voorspoed op my lewenspad kry, vergeet ek nie die Here nie. Uit my hart met geloof sê ek vir God dankie vir al die mooi en goed in my lewe, in my gesin en familie se lewe, in ons gemeente en oral waar ek die voorspoed sien wat die Here gee. Ek sê vir God dankie in my gebedslewe. Ek behoort in elke gebed genoeg plek vir dankbaarheid te maak.

Dankbaarheid wys ook in my lewe wanneer ek God gehoorsaam. God wys my op soveel plekke in sy Woord hoe ek Hom met my gehoorsaamheid kan dank. Met die Heilige Gees leef ek ‘n lewe van dankbaarheid oor al die voorspoed, die goed en mooi in my lewe.

3. Vir die toekoms – vertroue

Die derde manier hoe om gelowig op God se voorsienigheid te antwoord, is ‘n vaste vertroue vir die toekoms in ons getroue God en Vader.

Paulus het vir die gelowiges in Rome ‘n brief geskryf. Aan die einde van hoofstuk 8 het hy hierdie drie verse geskryf:
In vs 35 kry ons die vraag – “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of die swaard?”
In vs 38,39 – kry ons die antwoord – “Hiervan is ek oortuig: Geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige kragte of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Die toekoms van ons land en sy mense lyk baie keer baie onseker. Soveel slegte en sondige planne word gemaak en dinge word byna daagliks gesê.

Die toekoms van die kerk van Christus wat aan sy evangelie getrou bly, lyk ook baie keer soos ‘n baie steil opdraande wat voorlê.

Waar ek nou in my lewe is, kan dit wees dat my eie toekoms en die toekoms van die mense wat ek liefhet baie moeilik en baie swaar en onseker lyk. Die gesondheidsprobleme of emosionele en geestelike swaar en seer kan te veel lyk om te dra.

Lees weer Rom.8 se drie verse. Maak daardie verse jou eie. Hou daaraan vas. God is jou Vader in die hemel. Hy onderhou en regeer jou lewe deur sy voorsienigheid. Jy is oral en altyd, elke dag en in ewigheid onder sy genade, sy liefde en sy sorg. Die toekoms is vir God se gelowiges veilig en seker.

Een vraag bly oor: Hoe kan ek seker wees van God se genade en sy liefde en sy sorg vir my?

Daar was ‘n kruis op Golgota, net buite Jerusalem. Jesus het aan daardie kruis gehang vir jou. Daar het Hy sy lewe gegee en gesterf vir jou. Sy liggaam is gebreek en sy bloed het uit sy wonde gevloei, om jou van sonde te verlos. Hy het jou met sy lewe verlos, sodat Hy jou syne kon maak. Hy hét jou syne gemaak. Deur Hom, God se Seun, is jy nou kind van God jou Vader.

Daar was s’n oop graf in die tuin van Josef van Arimatea. Jesus het in daardie graf uit die dood opgestaan vir jou. Hy het deur sy opstanding vir jou nuwe lewe, lewe met God, die ewige lewe gegee.

Jesus Christus wat vir jou gesterf en opgestaan het, is jou sekerheid dat jy oral en altyd onder die genade en liefde en sorg van jou Vader leef.

Wanneer swaar en seer onsekerheid en twyfel in jou gedagtes en jou hart wil inkruip, is dit waarvoor die Heilige Gees gekom het. Hy is jou Trooster en jou Helper. Hy gee jou die geloofsekerheid dat jou Vader in die hemel jou deur sy voorsienigheid elke dag van jou lewe onderhou en regeer met sy genade en sy liefde en sy sorg.

ANTWOORD
Sing: Ps.42:1,3,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.68:9
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.

Ander preke in "God die Vader"