ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.8:1,3,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.130:1,2
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Grote God(Lied 190):1,2,3
Lees: Psalm 8 en Matteus 10:26-31 en Sondag 10 (V&A 27)
Kernverse: Ps.8:4-6 en Mt.10:29-31
Tema: God, ons Vader sorg vir alles deur sy groot krag
Sang: Ps.8:1,3,4; Skb.12-3:1,2; Ps.130:1,2; Grote God (Lied 190):1,3; Ps.93:1,2,3; Ps.145:10,11,12
Inleiding
Die voorsienigheid van God die Vader raak elkeen van ons se lewe elke oomblik van elke dag. Hierdie is ‘n baie belangrike waarheid in die Bybel. Dit is ‘n baie belangrike waarheid in elkeen van ons se lewe. Daarom het elke Christengelowige, elkeen van ons nodig om te weet wat die voorsienigheid van God ons Vader is en wat sy voorsienigheid vir ons beteken.
Vanoggend kyk ons en leer ons vier belangrike dinge oor God die Vader se voorsienigheid. Ons kry hierdie vier belangrike dinge in Sondag 10 van die Kategismus. Alles wat in Sondag 10 staan, kry ons in die Bybel. God vertel en leer ons van sy voorsienigheid in sy Woord. Ons, die kerk van Christus antwoord op sy Woord meet hierdie geloofsbelydenis in Sondag 10.
Tema: God, ons Vader sorg vir alles deur sy groot krag
1. God die Vader het almagtige en oralteenwoordige krag
Die waarheid oor God die Vader se voorsienigheid in die Heidelbergse Kategismus begin so: “Die almagtige en oralteenwoordige krag van God”.
God die Vader het groot krag. Ons sien die groot krag van God die Vader in sy skeppping.
God het net ‘n woord gesê en alles was daar –
Al hierdie dinge was daar toe God net gepraat het en ‘n paar woorde gesê het.
Dawid, ‘n gelowige kind van die Here het die hemel die werk van God se vingers genoem. Dit is ‘n beeld waarmee hy ons vertel en leer dat God self die hemel gemaak het.
Dan kom ons by die menslike liggaam.
Dit terwyl God die mens uit die stof van die aarde gemaak het.
God se krag is almagtig. Hy kan en Hy het die menslik onmoontlike, dit wat ver bo ons begrip is, gedoen. Sy krag bly almagtig. Sy krag verswak nie een oomblik nie. Sy krag is ook oralteenwoordig – in die hoogste hemel, in die diepste oseaan, die mees suidelike punt van die aarde tot die mees noordelike punt. God is oralteenwoordig, daarom is sy krag ook oralteenwoordig.
2. Hy onderhou en regeer hemel en aarde asof met sy hand
Die tweede belangrike waarheid is dat God “hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en regeer”.
Wat doen God met sy almagtige en oralteenwoordige krag?
Hy onderhou en regeer hemel en aarde en alles en almal wat Hy geskep het met sy krag.
God regeer die hemel en die aarde met al die geweldige kragte en energie. Hy hou al daardie kragte en energie onder beheer. Die hemel het sy plek, die aarde het sy plek. God hou alles op die plek wat Hy daarvoor gegee het.
God onderhou die hemel en die aarde met al die geweldige kragte en energie. Dag en nag gebeur nie net nie. Die verskillende seisoene kom en gaan ook nie vanself nie. God sorg vir die aarde se draai om sy eie as en sy beweging om die son.
Hy onderhou en regeer elke mens en elke dier, elke plant. Ek staan nie vanself elke oggend op nie. My liggaam werk nie sommer vanself nie. God onderhou en regeer my dat ek in my liggaam kan leef. Hy onderhou en regeer elke dier, van die kleinste tot die grootste. Hy onderhou en regeer elke blom, elke plant, elke boom, elke voël in die lug, elke vis in die see, alles.
God gee aan alles en almal in die hemel en op die aarde ‘n plek in sy skepping. Dawid het as gelowige God geken, daaron kon hy deur die Heilige Gees skryf dat God aan die maan en die sterre ‘n plek gegee het (Ps.8:4) en dat God die mens laat heers oor die werk van sy hande, sy skepping (Ps.8:7).
Hy hou alles en almal op die regte plek. Hy sorg vir alles en almal. Daar is niks en niemand in die skepping wat nie onder God se sorg is nie.
Hy onderhou en regeer alles en almal asof met sy hand. Hierdie woorde beteken dat God nie ver van sy skepping af is nie. Hy is oralteenwoordig. Hy is naby die aarde, naby die son, naby elke ster, elke dier, elke plant, elke mens. Hy is naby my, altyd en oral.
3. Niks gebeur toevallig nie
Die derde belangrike waarheid oor God se voorsienigheid is dat niks “per toeval” gebeur nie. Daar is nie iets soos “die toeval” of “toevallig nie”. Indien God alles in die hemel en op aarde en elke mens, dier, of plant wat Hy geskep het, asof met sy hand onderhou en regeer, dit beteken dat Hy altyd en oral naby alles en almal is, hoe kan daar iets soos toevallig wees.
Daar kan nie!
Toeval bestaan nie!
Veral nie vir ‘n gelowige kind van die Here nie!
Luister hoe het Jesus, God se Seun, hieroor met sy dissipels gepraat: “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie” (Mt.10:29).
God die Vader is naby ‘n klein ou voëltjie soos ‘n mossie wat destyds twee vir ‘n sent verkoop is. Nie een mossie is nie onder die sorg van ons Vader nie. Hy weet selfs hoeveel hare elke kind van Hom op sy of haar kop het. Jesus het sy dissipels geleer en Hy leer ons dat as ons Vader elke mossie onderhou en regeer, sal Hy soveel meer elke kind van Hom se lewe onderhou en regeer.
Iets meer oor die woord toevallig. Dit is ‘n woord waarmee elke Christengelowige regtig moet breek. Wanneer ek van toevallig of die toeval of per toeval praat, praat ek asof iets buite God om gebeur het. Met toevallig sê ek eintlik dat God nie die hemel en aarde onderhou en regeer nie. “Toevallig” is nie ‘n onskuldige woord nie, daarom bely ons op grond van God se Woord in die Heidelbergse Kategismus Sondag 10 dat niks per toeval gebeur nie.
Enigiets gebeur of deur die almagtige en oralteenwoordige krag van God of per toeval. Elke Christengelowige het ‘n geloofskeuse om te maak –
Wanneer ek sê iets het gebeur onder God se onderhouding en regering, praat ek soos ‘n gelowige wat God en sy Woord ken en my deur die Heilige Gees laat lei.
Wanneer ek sê iets het per toeval gebeur, ontken ek in werklikheid dat God alles en almal onderhou en regeer.
4. Voorspoed en teëspoed kom uit God se Vaderhand
Die vierde belangrike waarheid oor God diee Vader se voorsienigheid – God leer ons in sy Woord op baie plekke dat voorspoed én teëspoed uit sy Vaderhand kom. Ja, daar gebeur dinge wat goed en mooi in ‘n gelowige kind van die Here se lewe is. Daar gebeur ook dinge wat baie swaar en ook seer is.
Dit is so belangrik om te weet en te glo dat God die Vader deur Jesus Christus, my Vader is. God het die wêreld, Hy het my so liefgehad dat Hy sy Seun aarde toe gestuur het. Jesus het my so liefgehad dat Hy sy lewe vir my gegee het.
Jesus het vir my aan die kruis gesterf om my van al die straf en skuld van my sonde te verlos. Deur sy dood het Hy my syne gemaak. Ek behoort aan Jesus Christus. Deur Hom behoort ek aan God die Vader. Hy is my Vader vir ewig. Jesus het deur sy opstanding vir my die enuwe lewe, die ewige lewe geegee. Ek is ewig God die Vader kind en erfgenaam van die ewige lewe.
Dit is daarom my Vader uit wie se hand ek kry wat mooi en goed is. Ons bely in die Kategismus – lower en gras, reën, vrugbare jare, kos en drank, gesondheid en rykdom. God die Vader gee al hierdie wat goed en mooi is in ons lewe op aarde. Hy gee nog baie meer wat goed en mooi en reg is.
En…dit is God my Vader uit wie se hand ek ook kry wat vir my swaar is. Ja, daar val ‘n mossie op die grond en ja, daar gebeur met my dinge wat vir my baie swaar is. Ons bely in Kategismus
– droogte, onvrugbare jare, siekte en armoede. Daar is nog baie meer wat swaar en sleg is in ons lewe op aarde.
Maar…waneer dinge gebeur wat my baie swaar laat kry, beteken dit nie God het verander en dat Hy nie meer my Vader is wat my liefhet nie. Onder God die Vader, my Vader se onderhouding en regering gebeur daar ook die swaar en die seer. Ook hierdie dinge kom uit sy hand. Hy is die alwetende God. Hy weet waarom Hy swaar in my lewe laat gebeur. Hy is en bly ewig my Vader deur Jesus Christus, daarom gebeur die swaar en die seer, omdat Hy my liefhet.
Elkeen van ons leef elke oomblik van elke dag onder God die Vader se voorsienigheid. Ek het nodig om van sy voorsienigheid te weet, die betekenis daarvan te ken en te glo dat voorspoed, dit is die mooi en goeie dinge in my lewe én teëspoed, dit is die swaar dinge in my lewe, nie sommer net gebeur nie, maar ook uit die Vader se hand kom. Die Heilige Gees is my Trooster en my Helper. Hy help my om hierdie baie belangrike en diep waarheid te ken en te glo en te aanvaar.
ANTWOORD
Sing:Ps.93:1,2,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.145:10,11,12
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen