ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.68:1,2 (staande)
VEROOTMOEDIGING
Gebed (broeders staande)
VERKONDIGING
Sang: Skb.2-4/33:1,2,3 (sittend)
Lees: 2 Korintiërs 3 en NGB art.2
Kernverse: 2 Kor.3:2,3
Tema: Gelowiges is die letters in Christus se brief
Sang: Ps.68:1,2; Skb.2-4/33:1,2,3; Skb.14-2/74; Ps.126:1,2,3
Inleiding:
Voor ons oop vanaand is 2 Korintiërs, ‘n brief wat Paulus geskryf het, nadat hy gehoor het dat daar in Korinte teenstand teen die Evangelie van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, was.
Ons is vanaand in ‘n erediens saam om die Hervorming van die sestiende eeu te gedenk en God vir sy genade te dank. Tydens die Hervorming was daar ook sterk teenstand teen die Evangelie van die gekruisigde Jesus as ons enigste Verlosser.
Die teenstand teen die Evangelie dat die gekruisigde Jesus wat ook opgestaan het, ons enigste Verlosser van sonde is, het nog nie opgehou nie. Hierdie teenstand sal voortduur tot die Here Jesus weer kom.
Die Here praat met ons oor ons lewe as Christengelowiges wat steeds in ‘n tyd van teenstand teen die boodskap van die gekruisigde Jesus leef.
Tema: Gelowiges is die letters in Christus se brief
In die NGB art.2 bely ons dat mense wat God geskep het, “groot en klein, die letters is” in die mooi boek waarin ons God kan ken. Hierdie woorde gaan daaroor dat ons God deur mense, dit is in sy skepping kan ken. Die skepping is die eerste manier hoe ons God kan ken. Saam met die skepping gaan God se Woord waardeur ons Hom duideliker en meer volkome kan ken. In 2 Kor. kom God se skepping en sy Woord bymekaar. God gebruik mense wat sy Woord gehoor en geglo het om so te leef en te praat dat Hy deur al meer mense al beter geken kan word en daardeur gered kan word.
Hoe gebruik God mense dat Hy geken kan word? Die antwoord op die vraag kry ons in 2 Kor. 3.
Eers die volgende agtergrond: Toe die Heilige Gees Paulus in 50-51 n.C. tydens sy tweede sendingreis na Korinte gelei het, het hy met die mense daar, Jode en heidene, oor niks anders gepraat as Jesus Christus, die gekruisigde nie (1 Kor.2:2). Die Heilige Gees het deur die prediking van die gekruisigde Jesus Christus, ‘n gemeente van Christengelowiges in Korinte laat ontstaan. Vir ‘n hele ruk was die gelowiges in Korinte die letters in God se mooi boek wat van Hom vertel het. Die letters in God se boek het letters in Christus se brief geword wat vertel het dat God sy Seun uit genade en liefde gestuur het, sodat elkeen wat in Hom as Verlosser glo, die ewige lewe kan hê.
Die Evangelie van die gekruisigde Jesus Christus wat uit die dood opgestaan het, sodat sondaars verlos kan word en die ewige lewe kan hê, is Christus se brief wat gelees moet word. God wil dat hierdie brief van verlossing uit genade vir elkeen wat glo, gelees word.
Van die vroegste tye af, het hierdie brief teenkanting gekry, ook in Korinte, die Griekse stad. Met verloop van tyd het daar Jode in die gemeente gekom wat anders gedink en gepraat het as Paulus. Hulle was mense van die wet wat aan Joodse gewoontes van die Ou Testament vasgehou het. Hulle het met aanbevelingsbriewe na die gemeente gekom. Presies wie die aanbevellingsbriewe gegee het, weet ons nie. Ons weet wel dit was mense wat die gewoontes en wette van die Ou Testament in die gemeente terug wou bring. Om dit reg te kry, het hierdie mense Paulus en sy preke oor Jesus Christus aangeval. Hulle het hom verdag probeer maak deur te vra watter aanstellingsbrief hy wat Paulus was, gehad het. Christus het ‘n brief gehad wat in Korinte gelees moes word. Daar was teenkanting teen die brief dat verlossing alleen uit genade deur Christus alleen kom.
In 2 Kor.3 antwoord Paulus deur die Heilige Gees.
2. Christengelowiges is die letters in Christus se brief
Paulus se antwoord aan die Korintiërs klink so: “Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense” (2 Kor.3:2,3).
Hierdie woorde kan ons so saamvat: Christengelowiges is die letters in Christus se brief dat Hy deur sy kruisiging en opstanding ons van al ons sonde verlos word. Hierdie is wonderlike genade in elke Christengelowige se lewe: Ek is ‘n letter in Christus se brief dat Hy en Hy alleen ons deur sy kruisiging en opstanding van sonde verlos het.
Hierdie wonderlike genade bevat terselfdertyd ‘n baie groot en belangrike roeping. Dit bring ons by die vraag: Hoe is ek as Christengelowige saam met ander Christen-gelowiges ‘n brief van Christus? Hieroor kan mens soveel sê. Vir vanaand die volgende:
Om letters in Christus se brief te wees, gebeur nie vanself nie. Ons het die Heilige Gees nodig wat in ons werk. Ons het ook nodig om ons aan die Gees te onderwerp, sodat Hy ons gedagtes en woorde en ons dade beheers. Wanneer gelowiges en gemeentes deur die Gees beheers word, sal ons letters in Christus se brief wees wat helder en sterk van ons Verlosser vertel.
3. Wie deur die Wet leef, wys letters van die dood
Wat gebeur wanneer iemand nie deur die genade en liefde van Jesus Christus met geloof in Hom alleen leef nie, maar verkies om in die wet verlossing en die ewige lewe te soek?
Die teëstanders van Paulus het self deur die wet geleef. Iemand wat deur die wet leef, leef volgens moet en mag nie. Wat moet en wat nie mag nie is die belangrikste in so iemand se gedagtes en woorde en dade.
Op die oog af lyk die lewe van moet en mag nie na ‘n goeie voorbeeldige lewe. Die baie ernstige probleem met so ‘n lewe, is dat ek as mens en wat ek doen in die middelpunt van my lewe staan. Dit was die ernstige probleem en sonde van die Fariseërs. Daarom het julle Jesus nie verdra nie. Dit was ook die ernstige probleem en sonde van die Roomse kerk, daarom het die kerk destyds baie ver van God en sy Woord weggedwaal. Om hierdie rede was die Hervorming so nodig. Die Hervorming het gegaan oor Christus alleen as die enigste Verlosser, uit genade alleen net vir dié wat in Hom glo.
Wanneer iemand deur die wet leef en moet en mag nie die belangrikste in so iemand se lewe is, wys so iemand letters van die dood. So ‘n lewe van moet en mag nie, volgens die wet, is nie ‘n lewe met Jesus Christus die Middelpunt, die belangrikste nie. Sonder Jesus wat gekruisig is en opgestaan het as enigste Verlosser, is daar nie lewe nie, net die dood.
Hier mag by ons nie misverstand wees nie: Dit is Christus alleen, uit genade alleen, deur geloof alleen! Net Hierdie, niks anders nie!
4. Wie deur die Gees leef, wys letters van die lewe
Teenoor lewe deur die wet, staan lewe deur die Gees. Wie deur die Gees leef, wys letters van die lewe.
Hoe lyk die letters van die lewe in Christus se brief?
Die Christengelowige wat deur die Heilige Gees so leef, wys letters van die lewe in Christus se brief.
Elke Christengelowige in elke gemeente het nodig om die letters van die lewe in Christus se brief vir medegelowiges te wys.
Elke gemeente van Jesus Christus het nodig om die letters van die lewe in Christus se brief aan ander gemeentes te wys.
Ons het die Heilige Gees. Wys dan deur die Gees Jesus Christus vir mekaar! Elke gelowige in elke gemeente het nodig om Jesus vir mekaar te wys. Elke gemeente in ons omgewing, ons klassis het nodig om Christus vir ander gemeentes te wys.
Wanneer ons Christus vir mekaar wys, sal ons Christus vir alle mense wys. Dit is wat die Here en Hoof van elke gelowige en van elke gemeente wil hê.
ANTWOORD
Sang: Skb.14-2/74 (sittend)
Gebed (sittend)
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.126:1,2,3 (staande)
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Amen