Home Preke Hervorming Hervorming: Altyd terug na God en Nader aan Hom

Hervorming: Altyd terug na God en Nader aan Hom

Datum: 2025-10-26
|
Reeks: Hervorming
|
Kernverse: Matt.16:15-19

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.150:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Skb.9-3:1,2
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.46:1,6
Lees: Matteus 16:13-28
Kernverse: Matt.16:15-19
Tema: Hervorming: Altyd terug na God en nader aan Hom
Sang: Ps.150:1,2,3; Skb.12-3:1,2; Skb.9-3:1,2; Ps.46:1,6; Ps.68:1,9; Ps.145:1,11,12

Inleiding:

Vandag is Hervormingsondag. Elke jaar is die naaste Sondag aan die 31e Oktober, Hervormingsondag. Die 31e Oktober was die dag in 1517 toe Martin Luther sy verskille met die Roomse kerk aan die kerkgebou se deur in Wittenberg gaan vas spyker het.

Daar was destyds net een kerk, die kerk van Rome. Skryf was die manier van  kommunikeer. So ’n skrywe aan die dorp se kerk se deur het baie mense se aandag getrek. Martin Luther se openlike verskille met die Roomse kerk in sy 95 stellings was die groot deurbraak vir die Hervorming weg van die Roomse kerk en nader na God toe. Die datum 31 Oktober is daarom belangrik.

Ons mag dink dat 31 Oktober vir ons nie regtig so belangrik is nie. Die volgende drie voorbeelde van hoe die kerk was en vandag steeds kon wees, behoort elkeen van ons te laat besef hoe belangrik die Hervorming vir ons was.

Die kerk se manier van doen destyds was die volgende:

  • Sonde – Die pous het briewe van vergifnis geskryf. Die briewe is aflaatbriewe genoem. Die ampsdraers van die kerk het die briewe verkoop. Wie so ‘n brief gekoop het, sê  sonde is afgelaat, vergewe. Mens het dus met geld vir vergifnis betaal.
  • Gesag – Die pous het die hoogste gesag gehad. Hy het mense heilig verklaar, dan was hulle heilig en sonder sonde. Die pous kon mense uit die kerk verban. So iemand was dan afgesny van  die kerk, bloot deur die besluit van een ampsdraer.
  • Werkheiligheid –Mens moes deur jou eie lewe self sorg dat jy heilig voor God is, sodat jy vergewe kan word. Die ampsdraers was die ingeligtes wat heilig was. Hulle het neergesien op die lidmate, oningeligtes wat hulle die leke genoem het. Niemand van die leke was volgens die ampsdraers in die kerk ooit goed genoeg vir God nie.

Die eeue dat die kerk hierdie dinge geglo en gedoen het, was donker tye. Die geskiedenisboeke skryf van die donker Middeleeue. Gedurende die donker Middeleeue het die kerk vêr weg van God en sy Woord gedwaal.

Die Hervorming was ‘n terugkeer van die kerk na God toe. Ons kerkverband en ons gemeente se wortels lê by die gelowiges wat in die donker eeue na God toe teruggekeer het. Daarom is die Hervorming vir ons belangrik.

Tema: Hervorming: Altyd terug na God en nader aan Hom

  1. Christus alleen!

Ons kyk in Matteus 16 na vyf belangrike pilare of dan geloofswaarhede uit die Bybel wat uit die Hervorming gekom het. Die eerste pilaar is: CHRISTUS  ALLEEN! Ons kyk na hierdie pilaar in Matt.16.

Op Petrus se belydenis dat Jesus die Christus is. Het Jesus gesê dat Hy sy kerk bou. Ons kan sê dat Christus die Bouer van sy kerk is. Dit is nie mense nie, nie ampsdraers of lidmate wat die kerk van Christus bou nie. Christus self, Hy alleen bou sy kerk.

Christus bou sy kerk met sy Evangelie dat hy die Verlosser is. Hy is die BELOOFDE VERLOSSER wat gekom het om die duiwel se kop te vermorsel, dit is om hom te oorwin. Hy het gekom om sy lewe aan die kruis te gee en uit die dood op te staan. Christus is die Verlosser, net Hy alleen!

In die donker eeue het die kerk geleer betaling vir vergifnis, die eet van die brood met nagmaal en die water van die doop verlos ‘n mens van sonde. Dit is alles vals geloof en heeltemal nutteloos.

Van hierdie valshede leef vandag nog. Die geloof dat goeie werke ’n mens red, leef vandag nog in kerke.

Die werklikheid wat ons keer op keer in die Bybel kry, is dat Christus ALLEEN ons enigste Verlosser is.

  1. Geloof alleen!

Jesus het op ‘n dag in die gebied van Sesarea Filippi gevra wie die mense gesê het dat Hy is. Na Petrus geantwoord het, het Jesus gevra wat die dissipels sê dat Hy is. Petrus het geantwoord dat Jesus die Christus is.

Daarop het Jesus geantwoord: “Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my kerk bou en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt.16:18).

Die rots waarvan die Here Jesus gepraat het, is Petrus se geloof dat Jesus die Christus is, die Seun van God. Hierdie geloof is dat Jesus die beloofde Verlosser is wat God gestuur  het om sondaars te verlos.

Daar was Jode wat in Jesus geglo het. So het die dissipels die mense hoor praat. Maar…die mense het geglo dat Jesus Elia is, of Johannes die Doper of Jeremia of een van die profete is. Hulle het geglo, maar dit was tevergeefse geloof.

Daar is vandag steeds sulke vals geloof oor Jesus in ons land. Een so ‘n vals geloof is dat Jesus ons Verlosser is, ja, maar…Hy is ons Verlosser wat sorg vir ‘n goeie werk met goeie inkomste. Hy is ons Verlosser wat moet sorg dat ons gesond sal wees. Hierdie is nie ware geloof nie. Trouens, in 1 Kor.15:19 lees ons dat indien ons van Christus net aardse behoeftes verwag, ons die bejammerenswaardigste van alle mense is!

Die geloof waarvan Jesus gepraat het, is geloof dat Hy die Verlosser van sonde is! Deur hierdie geloof en hierdie GELOOF ALLEEN, word ons van sonde verlos.

  1. Genade alleen!

Baie Jode het geglo dat die nakom van die Here se wet ’n mens red. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het geglo dat ‘n mens deur die wet na te kom, verlossing en saligheid verdien.

Hulle het ook geglo dat hulle die wet volmaak nakom en daarom gered is. Paulus het so oor homself as Fariseër geskryf: “…in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik…” (Fil.3:6). Hierdie geestelike leiers het die Jode ook geleer dat ‘n mens jou verlossing en saligheid kan verdien.

Die kerk in die donker eeue van wegdwaal van God en sy Woord het ook geglo dat ‘n mens so kan leef dat jy jou eie verlossing en saligheid kan verdien.

Die boodskap wat God baie duidelik keer op keer in sy Woord laat neerskryf het, is dat niemand deur die wet gered word nie. Niemand kan die wet so volmaak nakom soos God verwag nie, daarom kan niemand deur die wet gered word nie.

Petrus het ook nie sy geloof verdien nie. Nog minder het hy verdien om deel van Christus se kerk te wees en om die ewige saligheid te ontvang. Dit was God se genade, sy goedgesindheid dat Petrus in Jesus as die Christus geglo het.

Dit is met elkeen van ons ook so. Ons word gered uit GENADE ALLEEN!

  1. Die Skrif alleen!

Die Jode het baie uitgesien na die Verlosser wat God beloof het. In die verlede het profete dikwels van die Verlosser geprofeteer. Die Jode, die verbondsvolk kon vashou aan die profesie oor die maagd wat swanger sal word (Jes.7:14), die Kind wat gebore is, die Seun wat gegee is (Jes.9:5) en die Regeerder wat uit Betlehem sou kom (Miga 5:1).

Ten spyte daarvan dat die Jode in die Bybel van die Verlosser gelees het, hulle in hulle lewe dikwels aan mense vasgehou. Toe die Verlosser gebore is en die dinge waarvan in die Ou Testament oor Hom geprofeteer is, gedoen  het, was die Jode verward en het hulle aan mense vasgehou om gered te word. Elia wat nie gesterf het nie, maar opgeneem is, was byvoorbeeld te belangrik vir die Jode, daarom het sommige van hulle geglo Jesus is Elia of een van die ander.

In die donker eeue het die kerk ook aan mense vasgehou. Die ampsdraer by wie gebieg is, was een so ‘n mens waaraan die kerk vasgehou het. Wat die pous gesê het, was net so belangrik soos die woorde in die Bybel.

Hoe is dit vandag gesteld?

Wat mense sê en doen, is dikwels die maatstaf en nie meer die Bybel nie. Omstandighede laat ons besluit en nie God se Woord nie. So dwaal mens weg van God in die duiwel se wagtende arms in.

Wat in ware Christene met opregte geloof behoort te leef, is die SKRIF ALLEEN!

  1. Aan God alleen die eer!

Die Jode met vals geloof in Jesus is nie gered nie. Die Jode het op die wet staatgemaak het,  is ook nie gered nie. Petrus het in Jesus as die Christus, die Verlosser geglo. Petrus is gered.

Dit was nie mense nie, so het Jesus gesê, wat Petrus in Hom as Verlosser laat glo het nie. Ons Vader in die hemel het vir Petrus die genadegawe van geloof gegee, sodat hy in Jesus as die Christus, die beloofde Verlosser geglo het.

Geloof waardeur ons gered word en salig word, kom nie deur mense nie. Net God gee geloof waardeur ons gered word. Daarom kom al die eer Hom toe.

Ons behoort God te eer met ons gedagtes en harte wat vol van Hom is. Ons kan en ons moet Hom eer met die woorde van ons mond. Ons behoort Hom te eer met ons lewe van liefde vir Hom en gehoorsaamheid aan Hom. Ons eer Hom wanneer Hy in alles die belangrikste is.

Die kerk in die donker eeue het die ampsdraer wat die doop bedien het en die brood en wyn met nagmaal uitgedeel het, die eer gegee. Die mens het die belangrikste in die kerk geword.

Jesus het ons geleer om so te leef dat ander ons geloof kan sien en hoor dan aan God al die eer te gee. God met verheerlik word. Nie aan mense nie, maar AAN GOD ALLEEN AL DIE EER!

Die vyf pilare uit die Bybel waaraan elke ware gelowige veral in hierdie tyd sal moet vashou, is: Christus alleen! Geloof alleen! Genade alleen! Die Skrif alleen! Aan God alleen die eer!

Die Heilige Gees lei en help elke ware gelowige om so altyd nader aan God te leef.

ANTWOORD
Sing: Ps.68:1,9
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.145:1,11,12
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.

Ander preke in "Hervorming"