In die Tien Gebooie is die lewende God persoonlik aan die Woord
Eks.20:2
53 vert – “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland uit die slawehuis uitgelei het.”
83 vert – “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het.”
Ek is –
Gen.17:1 – Ek is God, die Almagtige
Gen.46:3 – Ek is God, die God van jou vader.
Eks.3:6 – Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob
God maak Homself bekend.
Hy wil dat ons Hom ken en dan goed ken.
Hy is die lewende God.
Hy is Persoonlik in die lewe van gelowiges teenwoordig.
Hy is ewig – nie aan tyd hier op aarde gebind nie.
Hy is getrou – God maak beloftes. ‘n Groot belofte is die genadeverbond. Hy bly volmaak by al sy beloftes. Hy is volmaak getrou.
Die Here jou God –
Die Naam/ Name wat die Here gebruik het om Homself bekend te stel is:
Jahweh Elohim
Eers net dit: Israel het Hebreeus gepraat. God wil dat Israel Hom goed sal ken. Hy het Homself in Israel se taal geopenbaar. In die Nuwe Testament gebruik die skrywers die Grieks vir Jahweh, dit is Kurios, en vir Elohim is dit Theos. Die manier van praat en skryf wat mens elke nou en dan raakloop om net die Hebreeuse Name vir God en vir Jesus te gebruik, is teenstrydig met hoe die Heilige Gees die skrywers van die Nuwe Testament gelei het. Die manier van praat en skryf kom nie van die Heilige Gees af nie en is ‘n dwaling weg van die waarheid van God se Woord.
HERE (53 vert) / Here (83 vert) – is die Naam waarmee God Homself aan Moses bekend gemaak het, toe Hy Moses naby Horeb uit die brande doringbos geroep het om Israel uit Egipte te lei.
Hierdie is die Verbondsnaam waarmee die Here Homself bekend maak.
Sy Verbondsnaam vertel die volgende –
Genade – die allerhoogste God kom na ‘n sondige mens toe. Hy kom met volmaakte, ewige goedgesindheid. Sy genade hang nie van mense af nie, maar van wie en hoe Hy is.
Liefde – liefde wat gee – Homself in die eerste plek. Hieruit volg – lewe, geloof, verlossing, hoop, ‘n ewige toekoms.
Almag – Die Verbondsgod besit alles en almal. Hy bepaal die ewige lewe of die ewige dood van elke mens. Hiervoor het Hy ‘n ewige testament van die lewe waarin Hy mense volgens sy wil as kinders en erfgename opneem.
Ewigheid – God het nie ‘n begin of einde nie. Sy genadeverbond is die ewige genadeverbond. In die ewigheid het Hy oor sy testament besluit. Sy testament van die lewe beteken ewige lewe vir elkeen in die testament, die verbond.
Jou God – Die Allerhoogste bind Hom aan ‘n nietige en sondige groep mense, Israel sy verbondsvolk. Hy bind Hom aan elke enkele gelowige in Israel.
Hy bind Homself ook aan elkeen wat aan Jesus Christus behoort.
Die Here ons God, is die God wat verlos.
Die plek van slawerny het vir Israel verskriklike onderdrukking en die dood ingehou.
Die Here het nie net vir Israel destyds van sondige bose onderdrukking en die dood verlos nie. Ons almal was ook in ‘n plek van slawerny waar ons op ‘n sondige en bose manier onderdruk is en waar die ewige dood op ons gewag het. Ons eerste ouers, het in die tuin van Eden die duiwel in hulle en ons almal se lewe toegelaat. Daardeur het hulle ons almal onder sy sondige en bose onderdrukking laat beland. In die duiwel se verskriklike bose mag het die ewige dood op ons gewag. Hierdie lewe in die mag van die duiwel het voor enigeen vanons se geboorte gebeur. Was dit nie vir God nie, was ons almal steeds in hierdie plek van slawerny.
Maar ons is nie. God het alles verander. Hy het ons uit hierdie slawerny verlos. Dit het Hom die lewe van sy enigste Seun gedoen, maar Hy het ons verlos. Jesus het deur sy kruisiging en opstanding elkeen van ons se lewe heeltemal verander – van donker na lig, van dood na lewe, van heeltemal verlore na heeltemal volmaak verlos! Deur Jesus Christus, my Verlosser is ek nou ‘n nuwe mens. Wat meer is. Ek het ook die Heilige Gees gekry. Weer eens: Ek het nie eers iets gedoen of gevra nie. Die Heilige Gees het na my toe gekom. Hy het in my gekom. Hy leef in my, Hy help my, Hy lei my om as nuwe verloste mens te leef.
Dan hoef ek ook nie self uit te vind hoe om as nuwe verloste mens te leef nie. Die Here, ons genadige en liefdevolle God wys elkeen wat Hy verlos het en wat nou aan Hom behoort, hoe om nuut naby Hom en vir Hom te leef om vir Hom dankie te sê vir sy verlossing. Hy gee sy Wet.