Lewe in God se koninkryk is lewe gehoorsaam aan sy Wet
Mt.5:17-18
Ek wil die Here se wet gehoorsaam, want Jesus het my so geleer
Waarom die Wet van alle dinge in die tyd waarin ons leef? Daar is ‘n hele paar redes. Ek noem vanoggend net vier. Daar is meer, maar hierdie vier is reeds genoeg.
Voor ons by die werklike gebooie kom, is noodsaaklike inligting eers nodig. Daar is nie ‘n beter plek, eerder ‘n beter Persoon om by te begin as Jesus Christus ons Here nie.
In sy baie bekende en baie belangrike preek daar teen een van die berge in Kapernaum se omgewing het Jesus ook oor God se Wet gepraat. Hy het baie interessante en meer nog, baie belangrike dinge oor die Wet gesê.
Luister saam met my na ons Verlosser: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry” (Mt.5:17).
Met Jesus se heel eerste woorde oor die Wet is dit reeds so duidelik dat die mens wat glo en sê dat die tyd van die Wet verby is, heeltemal van Jesus verskil. So iemand is daarom heeltemal verkeerd en onder ‘n totale wanindruk. Die mens wat so glo en praat, sal moet verander en terugkom van die dwaalweg weg van Jesus af en weer naby Hom en vir Hom leef.
Kom ons kyk na wat Jesus ons met hierdie woorde van Hom leer.
Die heel eerste wat ons moet besef is dat Jesus Christus, die Seun van die lewende God, ons Verlosser met ons praat. Sy Vader het Hom gestuur om ons van God se wonderverlossingsplan te leer. Hierdie woorde van die Here Jesus is deel van die verlossingsplan van sy Vader waarvan Hy ons leer. Wanneer Jesus oor die wet en die profete, dit is die Hele Ou Testament praat, praat Hy as ons hoogste Profeet en Leraar daaroor met die gesag van God, omdat Hy self God is.
Die agtergrond van hierdie woorde van Jesus is dat die Fariseërs en skrifgeleerdes wat hulleself gesien het as die groot leraars van die Wet Jesus begin beskuldig het dat Hy die Wet omver kom gooi het en daardeur onrus begin veroorsaak het.
Met hierdie woorde het Jesus al die mense, die Joodse geestelike leiers inkluis geleer dat die geestelike leiers heeltemal verkeerd was. Hy wat Jesus is het juis gekom om die hele Ou Testament sy werklike betekenis te gee en dit wat in die Ou Testament staan te doen op die volmaakte manier soos God dit nog altyd wou gehad het.
Verder het Jesus gewys en geleer hoe ernstig Hyself oor die Wet is. Ons kry sy woorde in vs 18: “Dit verseker Ek julle”. In die Grieks staan daar die woord “amen”. Amen beteken dit wat gesê is, is waar, dit is vas en seker. Wat is so vas en seker? Luister na die Here Jesus: “Die hemel en die aarde sal eerder vergaan, as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles vervul is”. Die letter is die kleinste letter in die Hebreeuse alfabet. Sy naam is jota. Hy is kleiner as die helfte van ‘n gewone letter. Die letterstrepie in die Hebreeuse alfabet is nog kleiner. Dit is ‘n baie klein strepie regs onderaan ‘n letter om die een letter van die ander te onderskei.
Wat het Jesus met hierdie woorde gesê?
God se Wet en die res van die hele Ou Testament is volmaak.
Sy Wet en die res van die Ou Testament kan nooit verander nie.
Die vereistes in die Wet is permanent – solank die hemel en die aarde bestaan, solank sal die hele Ou Testament bestaan.
Dan, in alles wat in die Ou Testament staan, het Jesus self ‘n sentrale plek.
Hy gee aan elke kleinste detail in die Ou Testament die werklike betekenis van wat daar staan.
Hy wat Jesus is, het gekom om deur sy Verlossingswerk alles te doen wat in die Ou Testament staan.
Wat beteken hierdie woorde van Jesus vir my vandag in 2021?
Die tyd van die Ou Testament, die wet en profete is nie verby nie en sal in ewigheid nie verbygaan nie. Dit is baie belangrik dat ek dit sal weet en sal glo.
Die Joodse geestelike leiers het die Ou Testament net as wette en reëls gelees met Jesus nêrens in hulle gedagtes en harte nie. So mag ek die OT glad nie lees nie. Hierby kom ons, as die Here wil, môre.
Jesus Christus, my Verlosser, wil glad nie hê dat ek die Wet sal lees as net reëls wat ek moet en wat ek nie mag nie. Wanneer ek die Wet en Ou Testament lees of daarna luister moet ek elke keer na Jesus soek. Hier is dit baie belangrik dat ek sal bid en die Heilige Gees sal vra om my te help.
Wanneer ek die Wet van die Here en die res van die Ou Testament lees met Jesus in die middelpunt, dan leer ek God regtig ken