DIE WET VAN DIE HERE
- Die Wet kom van die Here af.
- Die Wet is God s’n.
- Hy het die Wet uitgedink. Hy het die Wet gegee
- Wanneer die Here iets gee, moet ons weet dit is baie belangrik.
- Die Wet is deel van God se Woord. Hy praat met ons. Wanneer die lewende God praat, moet elke mens luister, onthou wat die Here gesê het en dan presies doen wat Hy gesê het.
- Die Wet self
- Mens kry die Wet in Eksodus 20:1-17 en Deuteronomium 5:6-21.
- Om die Wet nog beter te verstaan en te ken, kan, eintlik moet mens Matteus 5 -7 lees en ook Sondag 34 – 44 in die Kategismus.
- Die Wet bestaan uit tien gebooie.
- Die tien gebooie bestaan uit twee dele. Die eerste deel gaan oor die liefde wat ons aan God verskuldig is. Hierdie deel bestaan uit die eerste vier gebooie. Die tweede deel gaan oor die liefde wat ons aan ons naaste verskuldig is. Hierdie deel bestaan uit 6 gebooie.
- God het sy Wet op ‘n unieke manier gegee. Wat in elke gebod staan, is net ‘n deel. Die Here vra meer as die woorde in elke gebod. Ek kan begin deur Matteus 5 -7 en Sondag 34 – 44 te lees om die Wet beter te verstaan. Ander dele en boeke in die Bybel sal my verder help om die Wet nog beter te ken. Jakobus se brief sal byvoorbeeld ook baie kan help.
- Die gevaarlike misverstand oor die Wet
- 3:20 – “Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die Wet leer ‘n mens wat sonde is.”
- Daar is gelowe en kerke wat dink en vas glo dat ‘n mens deur die Wet te gehoorsaam self kan sorg dat jy gered word. In die Nuwe Testament kry ons die Fariseërs wat so geglo het. Die Roomse kerk glo ook so.
- Mense wat dink jy kan deur die Wet te gehoorsaam gered word, maak ‘n baie groot fout, leef onder ‘n baie groot misverstand en sondig. Om so te dink en te glo, is baie gevaarlik, want jy is verlore met hierdie geloof, al het jy ‘n geloof en al is jy lidmaat van ‘n kerk.
- Die eintlike plek van die Wet
- Die Here wil dat ek deur sy Wet my sonde sal ken. Daarom is dit nodig dat ek, om te begin, elke gebod goed ken. Verder sal ek ook die volle betekenis van elke gebod moet ken.
- Die Here wil verder dat ek deur die Wet sal besef hoe nodig ek Jesus Christus het. Ek kan die Wet nie gehoorsaam soos ek moet nie, want ek is sondig. Jesus Christus het my van my sonde verlos en Hy het vir my die Wet volmaak gehoorsaam.
- Deur sy Wet leer die Here my hoe om vir Hom dankie te sê vir my verlossing. Ek mag nie op my eie manier dankie sê nie. Die Here het tien gebooie gegee om my ty wys hoe om dankie te sê. Daarom is dit baie belangrik dat ek elke gebod baie goed sal ken. Om hierdie rede luister ons in die erediens elke Sondag na God se Wet.
Omdat die Wet oor dankbaarheid gaan, is die Wet in die derde deel van die Kategismus wat oor dankbaarheid gaan.