Ek wil gereed wees wanneer Jesus Christus weer kom
Mt. 24:1-31; 36-44; 25:31-46
Mt.24
Matteus neem ons met hfst. 24 na die Dinsdag voor Jesus Christus se kruisiging. Ons is dus by die laaste week van sy lewe op aarde voor Hy aan die kruis gesterf het.
Vs 1,2
Die Jode het baie styf vasgehou aan hulle geskiedenis tydens hulle lewe op aarde en aan hulle godsdiens tydens hulle lewe op aarde. Wanneer dit by hulle godsdiens kom, was die tempel vir hule baie belangrik en soms selfs die sentrum van hulle godsdiens. ‘n Voorbeeld hiervan kry ons in Jer.7:3,4,5 – “So sê die Here, die Almagtige, die God van Israel: Maak julle lewe en julle dade reg, dat Ek julle kan laat bly in hierdie land. Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê:’Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!’ Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is…”
Jesus het pas vir die dissipels vertel dat Jerusalem ‘n puinhoop sou word, omdat hulle die Verlosser wat God gestuur het, nie aanvaar het nie. Hulle het van die tempel af weggestap.
Die tempel in Jerusalem was ‘n indrukwekkende en pragtige gebou. Die marmerblokke waarmee die tempel gebou is, was 13m by 5m by 3m. Die blokke was blou en wit en geel. Daar was verskeie gallerye met pilare van marmer tot 13 m hoog. Die tempel het verskillende pleine met ingange gehad. Daar was ‘n plein vir die heidene, ook ‘n plein vir vroue, dan ‘n plein vir die mans, en ‘n plein waar die priesters kon kom. Daar was ook verskillende sale. Baie dele van die tempel was met goud en brons oorgetrek. Binne in die tempel was daar voorwerpe soos kandelaars en kruike en allerhande versierings van goud. Die tempel in Jerusalem was een van die grootste en indrukwekkendste geboue in die antieke wêreld.
Ons kan sê die tempel was ‘n indrukwekkende gebou vol skatte waar baie mense hulle godsdiens kom uitleef het met offers en godsdienstige byeenkomste en feeste.
Die dissipels het, terwyl hulle teen die Olyfberg begin opklim, afgekyk en die tempel gesien. Hulle het Jesus se aandag op die tempel en al die geboue gevestig. Sy antwoord was: “Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word” (Mt.24:2).
[Dit sal ons niks help om aan ons kerkgeboue vas te hou en te dink dit is waaroor ons verhouding met God op aarde gaan nie. Dit sal ook niks help om te dink om aan ‘n kerkgebou vas te hou, ‘n mens behoue sal laat bly met Jesus Christus se wederkoms nie].
Vs 3-31
Hulle het op die Olyfberg gaan sit. Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas het na Jesus gekom en gevra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van die wêreld wees?” (Mt.24:3).
Jesus het die dissipels se vraag, eintlik vrae so geantwoord:
Vs 4,5 – Baie sal kom en sê: Ek is die Christus en hulle sal baie mense mislei. Pas op dat niemand julle mislei nie.
Vs 6 – Daar sal gerugte van oorloë. Moenie daarvoor skrik nie. Dit moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie.
Vs 7 – Een nasie sal teen die ander opstaan.
Daar sal op baie plekke hongersnode wees.
Daar sal op baie plekke aardbewings wees.
Vs 8 – Al hierdie dinge is die geboortepyne van die swaar tyd, die smarte.
Vs 9 – Christene sal mishandel en doodgemaak word.
Nasies sal Christene haat, ter wille van Christus.
Vs 10 – In die tyd sal baie van die geloof afvallig word.
“Christene” sal mekaar verraai en haat.
Vs 11 – Vals profete sal optree en baie mense mislei.
Vs 12 – God se wet sal al meer geminag word, sodat die liefde by die meeste mense sal verkoel.
Vs 13 – Wie tot die einde met opregte geloof in Christus volhard, sal gered word.
Vs 14 – Voor Christus se wederkoms, moet die Evangelie van sy kruisiging en opstanding in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies kan hoor. Eers dan sal die einde van hierdie bedeling aanbreek.
[Die dissipels het hierdie twee vrae gevra. Wat wou hulle met die antwoord maak? Ons het nou Jesus se antwoord op die twee vrae. Die antwoord kry ons uit die Seun van God se mond. Hy is self die almagtige en alwetende God. Die vraag is: Wat maak ek met hierdie woorde uit Jesus se mond?]