Ek wil gereed wees wanneer Jesus Christus weer kom
Inleiding
Die Bybel bestaan uit twee testamente en ses-en-sestig boeke. Om die beeld van ‘n boom te gebruik: In die Ou Testament het ons die wortels en die stam. In die Nuwe Testament die takke en die blare.
Wanneer ons met Bybelstudie na enige onderwerp kyk, het ons nodig om albei die testamente te ondersoek. Om ons te verdiep in Jesus Christus se wederkoms gaan ons juis dit doen. Ons begin by die Ou Testament en gaan dan na die Nuwe Testament.
In die Ou Testament is die “Dag van die Here” (In Hebreeus die “Jóm Jahweh”) die belangrike. Hierdie uitdrukking kom ongeveer 30 keer in die OT voor en net by die profete.
1.1 Jesaja
Jes.12:1-6 – Op die dag van die Here sal daar uitkoms, dit is verlossing vir Israel, die verbondsvolk wees.
Jes.2:1-5 – (Op die dag van die Here) Aan die einde van die dae sal daar die genade van verlossing vir al die nasies en baie volke wees by die God van Jakob, die Verbondsgod.
Jes.13:1-22 – Die dag van die Here bring verwoesting vir Babel (vs 6). Die dag van die Here is ‘n wrede dag (vs 9).
1.2 Jeremia
Jer.46:10 – Op die dag van die Here is Hy in volle beheer. Hy gaan Hom wreek op sy vyande.
1.3 Klaagliedere
Klaagliedere verskil van die ander profete daarin dat by die ander die dag van die Here in die toekoms lê, terwyl Klaagliedere gaan oor die dag wat reeds aangebreek het (voorlopig).
Hierdie liedere gaan oor die verwoesting van Jerusalem toe Nebukadnesar die stad ingeneem het en die verbondsvolk in ballingskap weggevoer het.
In Klaagliedere maak die Here ‘n belangrike waarheid aan ons bekend. Vir Israel breek die dag van die Here in hulle tyd aan én die dag lê ook in die toekoms. Die dag van die Here ontnugter die verbondsvolk, want die Here tref sy verbondsvolk met sy toorn oor hulle langdurige sonde.
1.4 Amos
Amos is ‘n profeet in die tyd van koning Ussia van Juda en Jerobeam II van Israel. Polities en ekonomies het dit goed gegaan. Godsdienstig was die verbondsvolk baie aktief, maar hulle harte was nie in hulle godsdienstige aktiwiteite nie. Die woord hiervoor is ‘formalisme”. Die vorm van die godsdiens lyk goed, dit is die uiterlike. Die binnekant, wat die eintlike belangrike is, ontbreek. Amos het veral die noordelike ryk, die tien stamme, Israel tot bekering geroep. Israel moes die Here weer as lewende God met hulle harte aanbid en dien.
Die dag van die Here gaan hoofsaaklik oor die Here se oordeel oor sy vyande. Israel het gedink die dag gaan oor die heidenvolke se ondergang en hulle eie verlossing.
Amos se profesie ontnugter egter die verbondsvolk. Die dag van die Here sal kom, maar dit is die dag van afrekening vir die verbondsvolk self! Die dag sal nie lig, dit is verlossing wees nie, maar duisternis, dit is oordeel (Am 5:18).
Omdat Here die genadige en getroue Verbondsgod is, het die profete ook verlossing verkondig (Am.9:11) op die dag van die Here.
Die dag van die Here is die dag van die Here se absolute heerskappy. Hy eis geregtigheid en straf sonde met sy regverdige oordeel. Terselfdertyd gee Hy genade op die dag.
Die dag het vir die profete in die toekoms gelê, maar hulle het ook deurentyd verkondig dat die dag naby is. Naby het nie net met tyd te doen nie. Die dag van die Here is naby in die sin dat die dag reeds aan die kom is. In wat in die geskiedenis gebeur kan die naderkom van die dag van die Here reeds gesien word. Soms het die dag in die geskiedenis van die verbondsvolk aangebreek. Hierdie dag het telkens gewys na die dag van die Here wat in die toekoms lê wanneer Hy finaal sal oordeel en verlos.
In die Nuwe Testament gaan ons, as die Here wil, ons in die volgende boeke en hoofstukke verdiep:
2.1 Mt. 24:1-31, 36-44; 25:31-46
2.2 1 Tes.4:13-5:11
2.3 2 Tes.1:3-2:12
2.4 1 Pet.4:7-11
2.5 2 Pet.3:1-18
2.6 Openbaring