ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: O Heer my God:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.119:6,7
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.31:15,17
Lees: Openbaring 21:1-8
Kernvers: Op.21:5
Tema: Die Here gaan alles nuut maak – wat ‘n wonderlike vooruitsig!
Sang: O Heer my God: 1,2,3; Ps.71:9; Ps.119:6,7; Ps.31:15,17, Sb.18-6/57:1-5; Sb.10-2/59
Inleiding:
Die dag toe ek gedoop is, het God die Heilige Gees ‘n belofte aan my, en dit is elkeen van ons, gemaak. Hy het beloof dat Hy in my wil bly, my geloof in Jesus Christus wil gee, en my wil lei in ‘n nuwe lewe tot waar ek saam met almal wat aan Jesus Christus behoort, ewig in die hemel sal wees.
Openbaring 21:1-8 wat vanoggend voor ons oop lê, gaan oor daardie belofte. Johannes het gesien dat die Heilige Gees se belofte aan elkeen van ons waar geword het.
Tema: Die Here maak alles nuut – wat ‘n wonderlike vooruitsig!
God maak die hemelgordyn oop vir ons
Kom ons gaan eers terug na Op.4 toe. Die gekruisigde Jesus wat opgestaan het uit die dood en na die hemel opgevaar het, het vir Johannes gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal jou wys wat gou moet gebeur” (Op.4:1). Die Heilige Gees het Johannes “meegevoer”, lees ons in Op.4:2. Deur die Heilige Gees het Johannes alles gesien.
In Op.21 is ons by nog een van die baie gesigte wat Johannes gesien het. Dit was die wonderlikste gesig. Niemand op aarde het hierdie nog ooit gesien nie. Hy het die nuwe hemel en die nuwe aarde gesien. Dit was steeds die aarde en steeds die hemel, maar onherkenbaar nuut.
Hoe moet ons dit verstaan?
Die nuwe aarde –
Daar was geen verganklikheid nie meer nie. Niks was meer net vir ‘n tyd nie. Alles was ewig.
Die aarde het nie meer gesug om los te kom van die sonde se gevolge meer nie (Rom.8:22).
Daar was geen natuurrampe meer nie. Alle droogtes, vloede, stormwinde, veldbrande, aard-bewings, haelstorms, plae en pandemies was eens en vir altyd verby om nooit weer op die nuwe aarde te bestaan nie.
Die nuwe hemel –
In ewigheid geen opstandigheid van sondige engele meer nie (Judas vs 6).
Geen teenwoordigheid van die duiwel ooit weer nie (Job 1:6). Hy en almal wat agter hom aangegaan het, sal ewig in die hel wees.
Die vers gaan verder so: “Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie”. Verdwyn beteken verbygaan. Die eerste hemel en die eerste aarde het ten tye van hierdie gesig reeds deur vuur gegaan om heeltemal nuut te word. Die see wat so ‘n groot deel van die aarde uitgemaak het en wat soveel verwoesting kon aanrig, sal ook nie meer daar wees nie.
Johannes het ook die heilige stad, die nuwe Jerusalem uit die hemel sien neerdaal, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. In Op 21:9-22:5 beskryf Johannes die nuwe Jerusalem soos die Heilige Gees hom die gesig laat sien het. In ‘n volgende preek, as die Here wil, kom ons daarby.
Met hierdie gesig wat Johannes gesien en vir ons neergeskryf het, kan ons sê dat die laaste deel van die hemelgordyn oopgeskuif het. God maak vir ons die hemelgordyn oop. Hy laat ons die wêreldgeskiedenis en vanoggend die einde daarvan sien, omdat Hy ons liefhet. Hy weet alles. Hy weet dat dit emosioneel, geestelik en finasieel met sy kerk, sy gelowiges swaar gaan. Hy maak vir ons die hemelgordyn oop om ons moed te gee vir die dag van môre.
Wat meer is: Elke gelowige kan vas en seker weet die nuwe hemel en die nuwe aarde sal gebeur. Luister maar net weer na wat die engel vir Johannes gesê het: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar” (Op.21:5).
Die volmaakte nuwe lewe wag vir ons
In vs 3,4 het Johannes vir ons geskryf hoe die nuwe hemel en die nuwe aarde sal wees.
Johannes sien. Hy hoor ‘n harde stem. Ons weet nie aan wie die stem behoort het nie.
Die belangrike is: Johannes hoor woorde oor God.
Die stem het gesê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense”. Oorspronklik staan daar “die tabernakel van God is nou by die mense”.
Vir die soveelste keer kry ons die wonderlike eenheid tussen die Ou en die Nuwe Testament.
In die Ou Testament was daar die tabernakel, ‘n tent. Later het Salomo vir die Here die tempel gebou, ‘n vaste gebou. Die tempel was die woonplek van die Here onder sy verbondsvolk. Daar was Hy in hulle midde, by hulle, omdat hulle syne was en Hy hulle God was en hulle liefgehad het . Lees gerus Lev.26:11,12.
Twee belangrike is nodig om oor die tempel te sê:
In die tempel was daar die allerheiligste deel. Daar het die verbondsark gestaan. Soms het die Here in die vorm van ‘n wolk daar verskyn, om vir die verbondsvolk te sê dat Hy by hulle is. Voor die ingang van hierdie allerheiligste deel het ‘n gordyn gehang. Die gordyn se meer bekende naam is voorhangsel. Die gordyn het daar gehang om vir almal in die verbondsvolk te sê daar is ‘n baie groot afstand tussen God en mens. Niemand mag in die allerheiligste ingegaan het nie. Niemand, behalwe die hoëpriester eenkeer per jaar op die Groot Versoendag. Voor die tyd moes hy homself ook eers reining met ‘n handeling waar hy vir homself ‘n dier geoffer het. Daarna kon hy vir die verbondsvolk ‘n offer bring en vir hulle bid.
Nou gaan ons Nuwe Testament toe. Eintlik moet mens soveel meer sê, maar vir vanoggend gaan ons nou na Golgota waar Jesus aan die kruis gehang het. Net nadat Jesus gesterf het, het die voorhangsel voor die allerheiligste deel van die tempel, die gordyn van bo tot onder in twee geskeur.
Kom ons maak net seker ons almal besef wat daar gebeur het. Die gordyn wat die verbondsvolk buite gehou het en wat vir elkeen van ons ook beteken het dat die afstand tussen God en ons onoorbrugbaar groot is, skeur van bo tot onder in twee. Die allerheiligste het oopgegaan. Jesus het met sy sterwe aan die kruis die gordyn van afstand laat skeur. Hy het vir ons die pad na God heeltemal oopgemaak. Na sy dood aan die kruis was daar niks wat meer kon keer dat ek by God kan wees nie. My sonde is vergewe en weggeneem voor God. My sondeskuld is betaal. Jesus het in my plek gesterf en my skuld betaal. Ek wat met my hele hart glo dat Jesus vir my gesterf het, kan nou by God wees. My lewe hier op aarde by God, sal na Jesus vir my gesterf het uitloop op lewe in die hemel by God.
Dit is wat Johannes gehoor het. Met die nuwe hemel en die nuwe aarde sal die woonplek van God by die mense wees. Nou nie meer in ‘n wolk agter ‘n gordyn nie, maar by almal wat aan Hom behoort. God sal by almal wat aan Hom behoort, bly en hulle sal sy volke wees. Hierdie is so ‘n wonderlike waarheid dat Johannes die woorde ‘n tweede keer hoor en nou nog duideliker: “God sal self by hulle wees as hulle God.”
Hoe sal die lewe in die hemel so by God wees? Niemand van ons weet regtig wat hierdie woorde beteken en hoe dit moet wees nie. Dit is woorde in ewige taal. Dit is woorde in hemelse taal. Hierdie woorde klink so:
God sal al die trane van hulle oë afdroog – Trane is so deel van ons lewe. Die kleinste baba huil. Tot in ons ou dag hier op aarde is daar trane. Solank ons hier op aarde is met al die stukkend, seer en swaar is trane nodig. Ons hoef nie op te krop en alles binne hou nie. Ons kan huil. Die eerste wat God in die hemel doen, is om die trane uit ons lewe weg te neem. Jesus het gesê:”Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word” (Mt.5:4). Daar in die hemel word sy belofte waar.
Die dood sal daar nie meer wees nie – Een van die groot redes hier op aarde vir trane is die dood. Die dag toe Adam en Eva die rug op God gedraai het en die duiwel geglo het, daardie dag het hulle die dood in ons lewe ingebring.
Die dood het soveel gesigte – ‘n dokter wat uit die teater kom, ‘n bed in die hospitaal se intensiewe eenheid, ‘n ernstige motorongeluk, ‘n geweer, of tenk of missiel in ‘n oorlog.
‘n Mens kan jou dit nie indink dat die dood nie meer daar sal wees nie. Maar….in die hemel is dit alles weg. In die nuwe hemel en op die nuwe aarde laat God die dood nie langer toe nie. Die dood sal heeltemal weg wees om in ewigheid nie meer plek in ons lewe te hê nie.
Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie – Die leed van gebroke huise, die vernietigende las van droogtes en watervloede, teleurstellings, verlies van werk en soveel ander leed en seer wat ‘n mens kan noem, niks hiervan sal meer deel van ons lewe wees nie.
Die dinge van vroeër het verbygegaan – Alles, al die swaar en die seer wat so deel van hierdie lewe is, sal verby wees. Nooit weer sal enigiemand hoef te sê: Dit is maar hoe die lewe is, of dit is nou maar een van daardie dinge nie. Alles sal heeltemal volmaak wees.
“Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar”, het die engel gesê. Johannes het geskryf. Ons kan lees en ons kan hoor.
Wag gelowig op die Here
Ons leef in ‘n sondige en stukkende land en wêreld. Al die swaar en seer wat, na God alles nuut gemaak het, in ewigheid nie meer sal wees nie, is nog deel van ons lewe. Ons weet en beleef dit almal. Dink maar net wat alles onder meelewing in ons gemeente se nuusbrief staan.
Wat staan ons te doen in die tyd voor alles nuut sal word?
Glo –
Glo met jou hele hart dat God wat alles begin het, ook alles tot ‘n einde sal bring.
Besef dat jy geestelik dors is en dat net geloof in Jesus Christus wat vir jou gesterf en opgestaan het, hierdie dors, hierdie verlange kan stil maak.
Glo in Jesus Christus ons Verlosser en Here. Glo met jou hele hart dat Hy vir jou aan die kruis gesterf het en uit die dood opgestaan het. Glo met jou hele hart dat Hy deur sy kruisiging en opstanding die duiwel, die sonde en die dood oorwin het. Verlang na die dag dat die Here Jesus weer sal kom en jou in die hemel by Hom sal inneem, waar jy ewig nuut en vry in oorwinning sal leef. Dan sal die duiwel en die sonde en die dood vir eens en vir altyd in alle ewigheid geen plek meer in jou lewe hê nie.
Die ergste ramp, die tweede dood, wag op elkeen wat nie gelowig op die Here God wag om alles nuut te maak nie.
Daarom: GLO MET JOU HELE HART!
Jy het die Heilige Gees in jou. Hy gee vir jou geloof. Hy help en Hy lei jou om met ‘n hart wat verlang, oë wat sy Woord lees en ‘n mond wat bid met opregte geloof te wag vir die Here Jesus Christus om weer te kom, sodat alles nuut kan word!
ANTWOORD
Sang: Sb.18-6/57:1,2,3,4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Sb.10-2/59
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen