Home Preke Openbaring Die nuwe Jerusalem, die bruid, die kerk!

Die nuwe Jerusalem, die bruid, die kerk!

Datum: 2022-09-18
|
Reeks: Openbaring
|
Kernverse: Op. 21:9,10 (en vs 2)

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Ps.33:1,6

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.30:1

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.130:2,3

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Sb.18-6/57:1,2,4

Lees: Openbaring 21:9-22:5

Kernverse: Op. 21:9,10 (en vs 2)

Tema: Die nuwe Jerusalem…die bruid….die kerk!

Sang: Ps.33:1,6; Ps.30:1; Ps.130:2,3; Sb.18-6/57:1,2,4; Sb.18-7:/451,3; Sb.18-7/45:10,11,12

Inleiding:

Ons gaan in vanoggend se erediens twee berymings van dele uit die Bybel oor die nuwe Jerusalem sing. Die twee Skrifberymings word gereeld in eredienste gesing en is baie mooi en gewild by gelowiges. Ander geestelike liedere oor die nuwe Jerusalem is ook baie gewild by soveel Christene.

Weet ons almal wat die gesig oor die nuwe Jerusalem in Op.21 en 22 beteken?

Elkeen wat Openbaring lees, moet die heeltyd onthou en besef en glo dat hier baie simbole en beelde en gesigte is met elkeen ‘n dieper betekenis. Daarom is dit nodig dat elkeen seker sal maak dat ek weet wat die Here met die gesig van die nuwe Jerusalem met sy dieper betekenis vir ons sê.

Die Heilige Gees het Johannes meegevoer. Op ‘n hoë berg het die engel vir Johannes die heilige stad Jerusalem gewys wat van God af uit die hemel kom. Eers die vraag: Waarom wys die engel vir Johannes die nuwe Jerusalem? In Op.20 het Johannes die finale oordeel gesien. In Op.21 het Johannes die ewige salige toekoms van die wat aan God behoort het, gesien. Die engel wys vir Johannes die nuwe Jerusalem om hom en al die ander Christengelowiges moed in te praat en hulle geestelik te versterk.

Wat is die nuwe Jerusalem?

Lees noukeurig. Luister met volle aandag na Op.21:9,10

Vs 9 – Die engel het gesê: “Kom hierheen, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam”. In die Nuwe Testament is dit duidelik dat die bruid van die Lam, die kerk van Jesus Christus is. Die engel gaan vir Johannes die kerk van Christus wys. Johannes het die wondergenade om die kerk van Christus sien soos die kerk vanuit die hemel lyk. Hoe lyk die kerk van Christus?

Vs 10 – Wat die engel gedoen het en vir Johannes gewys het, het Johannes so neergskryf: “ …die engel het my na ‘n groot hoë berg geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom.”

Johannes sien Christus se kerk nadat Hy weer gekom het. Die kerk van Christus, die heilige algemene Christelike kerk, die gelowiges wat in Jesus Christus geglo het en aan Hom behoort het, is die nuwe Jerusalem!

Op. 21:9 – 22:5 gaan dus oor Christus se kerk. Ons gemeente hier in Akasia is ook Christus se gemeente. Hierdie verse in Openbaring gaan dus ook oor ons!

Tema: Die nuwe Jerusalem….die bruid….die kerk!

Die nuwe Jerusalem, die kerk van Christus is –

  1. Vas en seker (Op.21:9,14,23)

Die engel het vir Johannes die bruid van Christus, die nuwe Jerusalem gewys. Johannes het gesien (vs 9). Kom ons gaan net eers terug na Op.21:2“En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.”

Die nuwe Jerusalem het twaalf fondamente gehad (vs 14). Die nuwe Jerusalem het ook nie meer die son of maan nodig gehad nie. Die gekruisigde Jesus Christus wat uit die dood opgestaan het, is die stad, die gemeente se lig (vs 23).

Die engel het gewys. Johannes het gesien. Die nuwe Jerusalem, die kerk van Jesus Christus is vas en seker en dit in ewigheid. Dit is wat hierdie drie verse beteken.

Dit is net Christus se kerk wat ‘n toekoms het wat vas en seker is. Hierdie gemeente is reeds deel van Christus se kerk, van die nuwe Jerusalem. Daarom behoort elke Christengelowige wat hier lidmaat is, te weet, te besef en te glo dat die vastigheid en die sekerheid in hierdie lewe net by Christus en sy gemeente lê.

Al die ander dinge in hierdie lewe wat so belangrik lyk en my so dikwels keer om voluit gelowige in Christus se gemeente te wees, is nie een vas en seker nie. Die duiwel, die wêreld en my eie sondigheid laat hierdie dinge net lyk of hulle vastigheid en sekerheid kan gee.

Elke lidmaat van ‘n gemeente behoort deur die Heilige Gees alles te gee om ‘n lewende gelowige van Christus se gemeente te wees.

  1. Heilig (Op.21:11, 12)

Die stad was vol van die heerlikheid van God. Die stad se glans was soos ‘n kristalhelder edelsteen (vs 11). Die nuwe Jerusalem is ‘n ligdraer van God en straal die lig van God uit.

Die stad het ‘n hoë muur met twaalf poorte gehad. Op die poorte is die twaalf stamme van die volk Israel geskryf (vs 12). Israel is die verbondsvolk wat God vir Hom afgesonder. Maar die ware verbondsvolk wat aan God behoort, was nooit elkeen wat natuurlik in Israel gebore is nie. Die ware Israel is elkeen wat God vir Hom afgesonder het om deur Jesus Christus verlos te word van sonde, deur die Heilige Gees in Christus as enigste Verlosser te glo en met geloof en liefde en gehoorsaamheid vir God te leef (Ef.1:4,5).

By die poorte is daar engele wat waghou. Hulle waak oor die stad.

Hierdie beelde het een betekenis: Die nuwe Jerusalem is heilig. Die betekenis vir ons vandag is dat die gemeente waar ek gelowige is, heilig is. In die briewe in die Nuwe Testament word gelowiges “heiliges” genoem (Rom.1:7; 1 Kor.1:2). Ons bely elke Sondag dat ons in die gemeenskap van die heiliges glo.

Die heiliges in Christus se kerk, ons gemeente, moet deur die Heilige Gees self ook heilig leef. Heilig leef beteken anders as die wêreld, naby God en vir Hom met liefde en gehoorsaamheid.

  1. Veilig (Op.21:12)

Johannes het gesien dat die stad ‘n groot hoë muur gehad het. Die muur van elke stad in die Ou Testament het die stad veilig gehou teen enige inval. Toe Jerigo sy muur ingeval het, kon Israel die stad maklik inneem.

Die muur beteken dat die nuwe Jerusalem heeltemal veilig sal wees teen sonde, teen pyn, hartseer en die dood. Niks van die leed hier op aarde, sal ooit in die nuwe Jerusalem wees nie.

Hier op aarde is die kerk, die liggaam van Christus reeds ‘n veilige hawe vir gelowiges. Christus het deur sy dood aan die kruis en sy opstanding uit die dood sondige mense syne gemaak. Hierdie verloste sondaars wat In Jesus Christus glo en aan Hom behoort, is sy kerk. Hy bewaar sy kerk hier op aarde reeds so, dat sonder die wil van ons hemelse Vader nie ‘n enkele haar van my kop sal val nie (HK, Sondag 1).

Gelowiges, ons in hierdie gemeente, het die roeping om die gemeente ‘n veilige tuiste vir mekaar en vir ander te maak. Ons mag daarom nie vreemdelinge vir mekaar wees en bly nie. In ‘n veilige gemeente ken gelowiges mekaar, bid vir mekaar en ondersteun mekaar.

  1. Volmaak (Op.21:15-17)

Die engel het die stad met ‘n goue meetstok gemeet. Die lengte en die breedte en hoogte was ewe, twaalf duisend kilometer elke lengte. Hierdie mate is twaalf maal duisend. Twaalf en duisend is volheidsgetalle. Dit beteken die nuwe Jerusalem is volmaak. Die gemeente van Christus daar voor die hemeltroon van die ewige en almagtige God sal volmaak wees.

Hoe wonderlik sal dit nie wees nie: Ek, saam met al die Christengelowiges, vir altyd volmaak by God in die hemel!

Voor iemand dink, hierdie volmaaktheid is net vir die ewigheid, wag eers. Dink hieraan:

  • Die kerk van Christus, hierdie gemeente van ons, is losgekoop deur die kosbare liggaam en bloed van ons Verlosser. Hy is ons volmaakte Verlosser.

  • Hy het aan die kruis alles vir ons volbring (Joh.19:30). Hy het ons volmaak verlos.

  • Hy en sy Vader het die volmaakte Heilige Gees na ons toe gestuur.

  • Die volmaakte Heilige Gees leef in ons. Hy maak ons elke nuut om soos Christus te wees.

  • Die Here wil dat sy gemeente hier op aarde toegrus moet word om geestelik te werk en mekaar op te bou om geestelik te groei tot ons, Christus se kerk, so volmaak en volwasse soos Hy sal wees (Ef.4:12,13).

Daarom het elke gelowige in ons gemeente nodig om in die krag van die Heilige Gees ons geestelik in te span teen sonde en alles wat afbreek. Ons het nodig om saam te groei en mekaar op te bou om so volmaak soos Christus te word.

  1. Opreg (Op.21:11,18-22,27)

Die stad was glansend soos ‘n helder edelsteen, met geen onsuiwerheid nie. Die stad is met suiwer goud wat soos ‘n spieël lyk gebou. Die fondamente van die muur was met allerhande edelstene versier.Die twaalf poorte is elkeen uit een pêrel gemaak. Die strate was alles van suiwer goud. Daar was ook nie ‘n tempel in die stad nie.

Die nuwe Jerusalem wat die engel vir Johannes gewys het, was ‘n pragtige stad van goud met saffier, smarag ametis en nog ander edelstene en pêrels.

Onthou, hierdie mooi is net ‘n gesig. Die edelmetaal en edelstene beteken opregtheid. In die nuwe Jerusalem is daar net plek vir ‘n gelowige wat God opreg met jou hele hart, hele siel, hele verstand en al jou krag liefgehad het.

Opregtheid is nou reeds so belangrik. Een van God se ernstige probleme met Israel was hulle onopregtheid. “Hierdie volk eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af” (Jes.29:13). Jesus het ook baie hard met die Fariseërs oor hulle onopregtheid gepraat: “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbeendere en allerhande onsuiwerheid is” (Mt.23:27).

In die nuwe Jerusalem sal niks en niemand wat onrein en vals is ooit inkom nie. In die kerk van Christus is daar net plek vir opregte gelowiges.

Elkeen van ons het nou reeds nodig om elke dag vir ‘n opregte hart met opregte geloof te bid.

  1. Lewend (Op.21:24-26, 22:1-4)

In die stad was die rivier met die water van die lewe. Die water van die rivier is kristalhelder en stroom uit die troon van God en van die gekruisigde Jesus uit. God gee lewe. Hy gee lewe deur die Heilige Gees wat deur die lewende Woord van God, die Evangelie van Christus wat gesterf en opgestaan het, lewe in mense se harte gee.

Tussen die rivier en die hoofstraat van die stad het die boom van die lewe gestaan. Elke maand dra die boom sy vrugte. Sy blare bring genesing vir die nasies.

Die water van die lewe en die boom van die lewe is beeld van die lewe wat God gee. In die nuwe Jerusalem is daar net lewe, met geen plek vir die dood nie. Die lewende God regeer die stad. Sy dienaars het sy Naam op hulle voorkoppe. Dit beteken die gelowiges leef openlik vir Hom.

Die kerk van Christus op aarde is die gelowiges uit alle nasies in wie se harte Christus leef. Elke enkele gelowige wat aan Christus behoort, sal in die nuwe Jerusalem leef. Christus maak dit moontlik, want Hy het sy kerk reeds deur sy kruisiging en opstanding van sonde en oordeel genees.

Met Jesus Christus in my hart, kan dit tog nie anders nie, as dat ek ‘n lewende gelowige in die gemeente sal wees waar God my gebring het.

  1. Ewig (Op.22:5)

Die Here sal die stad verlig en die gelowiges sal tot in ewigheid regeer.

Deur die sondeval het die mens wat oor God se skepping moes heers slaaf van die duiwel en sonde geword. Jesus Christus het deur sy kruisiging en opstanding alles verander. Hy het elkeen wat aan Hom behoort, verlos uit die mag van die duiwel, die sonde en die dood. Hy het aan elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe gegee. In die nuwe Jerusalem is daar net die ewigheid.

Elke Christengelowige in Christus se gemeente het nou reeds die ewige lewe. Ek is op reis. Die Heilige Gees lei my na die volmaakte ewigheid by God. By God in die hemel is elkeen in Christus se gemeente ‘n ewige regeerder, ‘n ewige koningskind en erfgenaam.

Hierdie ewige lewe, is waarop ons in hierdie gemeente hier op aarde ons hart en gedagtes, ons hele lewe behoort te rig.

Slot

In Op 21 en 22 se eerste deel, wys die Here ons die gemeente waarvan ons deel gaan wees wanneer Jesus weer gekom het. ‘n Wonderlike volmaakte gemeente!

Ons leef in ‘n sondige en stukkende land. Dit gaan op soveel terreine swaar met Christus se kerk. Die wêreld is so verleidelik. In die krag van die Heilige Gees mag ons nie toelaat dat die swaarkry in hierdie lewe en die verleiding van die wêreld meer word as die wonderlike ewige volmaaktheid wat vir ons wag nie.

Hou vas aan die waarheid van die nuwe Jerusalem. Praat met mekaar en bid vir mekaar dat ons gelowig en vol moed nou reeds ware kerk van Jesus Christus sal wees!

ANTWOORD

Sang: Sb.18-7/45:1,3

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Sb.18-7/45:10,11,12

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.

Ander preke in "Openbaring"