Home Preke Openbaring Die saligheid wat God gee

Die saligheid wat God gee

Datum: 2022-10-02
|
Reeks: Openbaring
|
Kernverse: Op.1:3; Op.14:13; Op.16:15; Op.19:9; Op.20:6; Op.22:7; Op.22:14

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe

           Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit

           die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Ps.105:1,2

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Sang: Ps.86:6

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Sb.1-2/60:1,2,3

Lees: Openbaring 1:1-7

Kernverse: Op.1:3; Op.14:13; Op.16:15; Op.19:9; Op.20:6; Op.22:7; Op.22:14

Tema: Die saligheid wat God gee

Sang: Ps.105:1,2; Ps.71:9; Ps.86:6; Sb.1-2/60:1,2,3; Sb.7-2/69:1,2; Sb.1-3/61:1,2,3

Inleiding:

Vanoggend is ons by die laaste preek uit Openbaring, die laaste boek van die Bybel. Openbaring is ‘n boek vol gesigte, beelde, getalle en simbole. Elkeen van hierdie het elke keer ‘n dieper betekenis.

Wanneer mens dieper na Openbaring kyk, kom jy agter dat die getal sewe ‘n baie belangrike plek in die boek het. Kyk saam hierna:

  • Op.2:1-3:22 – In die begin het ons die sewe briewe wat Johannes aan die sewe gemeentes in Asië moes stuur.
  • Op.6:1-8:1 – Johannes sien die sewe seëls wat God se volmaakte raadsbesluite oor die wêreldgeskiedenis bevat.
  • Op.8:2-11:19 – Die sewe engele met die sewe trompette maak God se oordele oor die sondige wêreld bekend.
  • Op.15:1-16:21 – Hier kry ons die sewe engele met die sewe bakke. Dit is die laaste gesig wat Johannes gesien het oor God se finale oordeel oor die wêreld.

Een belangrike rede is dat sewe ‘n volheidsgetal is wat byna elke keer die betekenis het dat iets of iemand volmaak is.

Met vanoggend se preek kyk ons na nog ‘n getal sewe, die laaste wat daar is. Sewe keer moes Johannes skryf: “Salig is…” en wat daarop volg. Die getal sewe wys op die volmaakte saligheid wat God gee.

Tema: Die saligheid wat God gee

1. Salig is die volmaakte geluk wat God gee

Salig is nie ‘n onbekende woord vir gelowiges wat gereeld Bybel lees en gereeld op ‘n Sondag in die erediens is nie.

Sewe keer moes Johannes skryf: “Salig..”. Sewe keer in Openbaring beteken hierdie is ‘n baie belangrike woord. Daarom is dit regtig nodig dat elke Christengelowige die woord “salig” goed sal ken, en sekerheid sal hê wat die woord beteken en hoe hierdie woord wat die Here in Sy Woord laat skryf het, elkeen se lewe raak.

Die Griekse woord is “makarios” (makarios – die Grieks). Indien ons die woord in maklik verstaanbare Afrikaans vertaal, kan ons sê salig beteken “gelukkig”. Wanneer ons die woord in Openbaring lees, moet ons eintlik sê salig beteken “volmaak gelukkig”. Hierdie saligheid kom van God af. Van Hom kom net wat heeltemal volmaak is.

Salig is dan die VOLMAAKTE GELUK WAT GOD GEE!

Hy gee hierdie volmaakte geluk nou reeds in hierdie lewe. Daar staan elke keer: “Salig is…”. Die begin van die volmaakte geluk wat God gee, is nou reeds deel van ‘n mens se lewe. Daarom is Openbaring so ‘n belangrike boek om nou reeds te lees en weer te lees.

Die wêreld, ons land is so deurmekaar. Soveel loop verkeerd. Daar is soveel druk, soveel ongelukkigheid, soveel swaar. Dan is daar nog die verleidelikheid van hierdie wêreld wat my as gelowige weg van Christus wil verlei. Al hierdie dinge wil my geluk wat ek by God kry, van my wegneem. Soms gebeur dit ook. Daarom: Maak die Bybel by Openbaring oop. Soek die sewe verse waar die Here laat skryf het: “Salig…”. Lees die verse. Drink elke woord gretig in. Glo wat jy lees. Luister en glo wat God vir jou sê. Laat die Heilige Gees deur God se Woord in jou werk. Laat die Gees elke keer weer lewe en geluk in jou werk deur God se lewende en kosbare Woord.

2. Saligheid kom deur God se Woord

Hoe gee God vir ons hierdie saligheid, hierdie gelukkigheid?

Ons kry die antwoord op hierdie belangrike vraag wanneer ons in Openbaring die volgende agterkom:

  • In Op.14:13 en 19:9 kry Johannes elke keer die opdrag: “Skryf – salig is die wat” en wat dan verder volg. Die Here het in sy Woord laat skryf wie salig is, daarom weet ons wie die mense is wat volmaak gelukkig is.
  • In Op.1:3, Op.22:7 en 22:14 – lees en hoor ons dat elkeen wat die woorde in Openbaring lees, hoor, glo, bewaar en daarvolgens lewe, salig is.

Hierdie verse, vyf van hulle, het elkeen een boodskap, met een waarheid. Die baie belangrike waarheid is wanneer dit by saligheid kom, die Here se Woord baie belangrik is. Ons kan sê: Saligheid kom deur God se Woord.

Hierdie waarheid bring ons by die belangrikheid en die kosbaarheid van God se Woord. Hieroor vir vanoggend, die volgende:

  • Geluk, werklike geluk wat vir altyd bly, kry ‘n mens net deur God se Woord, deur die Bybel.
  • Gereelde lees, ondersoek van, goed nadink oor die Bybel, is regtig baie, baie belangrik. Saam hiermee gaan die verstaan van die Bybel, die inneem van wat ek in die Bybel lees in my gedagtes en in my hart en dan om volgens die Bybel te leef.
  • Ek behoort te verlang om in die erediens te wees, want daar is God se Woord oop en luister ek saam met ander gelowiges wat God vir my sê.
  • Die mens wat gelukkig wil wees, sonder die Bybel, sal bedroë daarvan afkom en werklike geluk nie vind nie.

Dat saligheid deur God se Woord kom, is ‘n baie duidelike en vaste waarheid in die Ou en in die Nuwe Testament:

  • Ps.1:1,2 – “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.”
  • Joh.6:66-68“Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan ne nie meer saam met Hom gewandel nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.”

Elke keer wat ek die Bybel sien en in my hand hou, wanneer ek die Bybel lees of na die Bybel luister, het ek regtig nodig om te weet, te besef en te glo:

                                             Hierdie Boek is die BOEK VAN DIE LEWE!

                                              Deur hierdie Boek WORD EK SALIG!

3. Die boodskap van Openbaring is: Christus die Middelpunt van alles

Openbaring is ‘n boek van 22 hoofstukke met 404 verse oor hoe God die wêreldgeskiedenis laat verloop. Die lewende God vertel en leer ons ook in Openbaring dat die gekruisigde Jesus Christus wat ook uit die dood opgestaan het DIE MIDDELPUNT van die wêreldgeskiedenis is!

Ons kyk na twee verse waar God ons in Openbaring wys en leer dat Christus in die Middelpunt van alles is.

  • Op.14:13“Salig is van nou af die dood wat in die Here sterwe.” Wie is die dode wat in die Here sterwe? Elke mens wat by die Heilige Gees geloof in Jesus Christus gekry het, is een met die Here Jesus. Wanneer ek een met Hom is, is ek in Hom. Hierdie is ‘n ewige verhouding. Ek glo net in Christus as my enigste Verlosser. Hy is die Middelpunt van my lewe.

Wanneer ek sterf, is dit Hy wat my kom haal om ewig in die hemel by Hom te wees. Hy is ook die Middelpunt van my sterwe. Omdat Christus of ek lewe en of ek sterwe die Middelpunt van my lewe is, is ek salig, gelukkig wanneer ek lewe. Ek is ook salig, gelukkig wanneer ek sterf. Met my sterwe is ek, Christengelowige by my Verlosser en by Hom is daar vir my net volmaakte geluk.

  • Op.19:9“Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam.” Aan die einde is Jesus Christus die ENIGSTE EEN wat bepaal wat met elke enkele mens sal gebeur. Almal wat deur die Heilige Gees in Jesus Christus glo en aan Hom behoort, is genooides na ‘n hemelse fees. In die hemel sal ek saam met al die ware Christene by Christus wees. Almal sal salig, volmaak gelukkig wees. Jesus Christus is die Rede vir, die Middelpunt van hierdie ewige saligheid.

Aan die anderkant sal daar die wees wat die uitnodiging nie aanvaar het nie en nie wou gehad het nie. Hulle het nie in Jesus Christus geglo nie en nie aan Hom behoort nie. Christus gee hierdie ongelwoiges oor aan ewige pyn en smart in die buitenste duisternis.  Christus is die Middelpunt van hierdie ewige oordeel.

Dat Christus die Middelpunt van alles is, staan duidelik en verstaanbaar in die laaste boek van die Bybel. Die grootste deel van die mensdom steur hulle nie aan Christus nie, glo nie in Hom nie en verwerp die idee dat Hy die Middelpunt van alles is.

Jy, Christengelowige het die Heilige Gees in jou. Glo daarom met ‘n opregte hart wat God vir jou in Openbaring sê. Glo dat Jesus Christus die Middelpunt van die wêreldgeskiedenis en ook die Middelpunt van jou geskiedenis is. Leef deur die Heilige Gees met ware geloof in Jesus Christus wat vir jou gekruisig is en opgestaan het.

4. Elkeen wat aan Christus behoort en vir Hom leef, is salig

‘n Laaste belangrike waarheid om raak te sien, is dat die woord “salig”, dat saligheid nie in die lug hang nie. Saligheid het ‘n adres, kan ons sê. Saligheid is vir ‘n mens bedoel, ‘n sekere mens.

Wie is daardie mens?

Die mens wat Openbaring en die res van die Bybel lees en verstaan en glo dat  God sy Seun na hierdie wêreld gestuur het en dat Jesus Christus vir al ons sonde aan die kruis gesterf het en vir ons uit die dood opgestaan het, is ‘n Christengelowige wat aan Christus behoort.

My Christenwees is nie net woorde en ‘n gevoel nie. Inteendeel! Ek wys ek het my Verlosser  lief met my hele lewe. Omdat ek Hom liefhet leef ek naby Hom en vir Hom.

Hierdie lewe kom nie sommer vanself nie. Die Heilige Gees gee vir my geloof in Jesus Christus wat vir my gesterf het en opgestaan het. Deur die geloof wat die Gees gee, is ek een met Christus en behoort ek aan Hom.

Elkeen wat aan Christus behoort en vir Hom leef, is die mens wat salig is.

Vir Christus se kerk, vir elke Christen, vir alle Christengelowiges lê daar swaar tye voor. Wanneer dit voel of die swaar en die seer en die moedeloosheid wil oorneem, maak die Bybel by Openbaring oop. Begin by hierdie sewe verse oor ons saligheid. Lees die hele boek.

God sal jou weer troos en moed gee, want dit is die rede waarom Hy hierdie boek met hierdie sewe verse laat neerskryf het en in sy Woord laat opneem het.

ANTWOORD

Sang: Sb.7-2/69:1,2

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Sb.1-3/61:1,2,3

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle

           genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.

Ander preke in "Openbaring"