ONTMOETING
Votum: Ps.121:2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe
Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit
die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Sb.4-6
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord: Ps.119:38,39
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Sb.1-1/24:3,7
Lees: Openbaring 22:6-21
Kernvers: Op.22:12,13
Tema: Jesus Christus kom weer!
Sang: Sb.4-6; Ps.9:1,7,10; Ps.119:38,39; Sb.1-1/24:3,7; Sb.5-3/8:1,2; Sb.2-4/33:1,2,3
Inleiding:
Ons is vanoggend by Op.22, die laaste hoofstuk van die laaste boek in die Bybel. Volgende Sondag, as die Here wil, is die laaste preek uit hierdie baie spesiale boek.
Vanoggend lees en luister ons in Op.22 na God se laaste woorde aan sy kerk en ook die mensdom, wat Hy gesê en laat neerskryf het. Dit is woorde wat mens diep in jou hart behoort te raak; woorde om jou hele lewe deur styf vas te hou en daarmee elke dag te leef.
Tema: Jesus Christus kom weer!
Nadat Johannes die nuwe hemel en die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem in ‘n gesig gesien het, het daar ‘n groot verandering gekom. Johannes het toe nie meer gesien nie. Hy het gehoor.
Johannes het die engel wat hom die nuwe Jerusalem gewys het, het met hom hoor praat. Die engel het vir Johannes gesê dat die woorde van die profesie, die brief Openbaring betroubaar en waar is (vs 7). Betroubaar en waar beteken dat hierdie woorde eg is en regtig so sal gebeur.
Dan gebeur die wonderlike! Die gekruisigde Jesus praat met Johannes! Die belangrike woorde wat Jesus gesê het, is:
“Kyk, Ek kom gou!” – vs 7.
Jesus het vir ‘n tweede keer gesê: “Kyk, Ek kom gou!” – vs 12.
Drie dinge oor hierdie woorde is baie belangrik.
Die eerste – Die gekruisigde Jesus Christus, wat uit die dood opgestaan het, het met Johannes gepraat. Hy het gesê dat Hy weer kom. Wanneer die Seun van die lewende God praat, gebeur wat Hy sê.
Die tweede – Jesus Christus het elke keer sy woorde oor sy wederkoms begin met “Kyk”. In Grieks is hierdie ‘n baie belangrike woord. “Kyk” beteken dat die woorde wat volg baie belangrik is. Die baie belangrike woorde van Jesus is dat Hy weer kom.
Die derde – Wanneer ‘n belangrike waarheid in die Bybel herhaal word, is dit regtig baie belangrik. Jesus Christus se wederkoms is so belangrik dat Hy twee keer gesê het dat dit gaan gebeur.
Hierdie drie belangrike dinge het saam een boodskap:
Jesus Christus se wederkoms gaan regtig gebeur!
Elkeen wat hierdie woorde lees het nodig om diep hieroor na te dink en opreg te glo wat Jesus gesê het. Hierby het ons as Christengelowiges nodig om gereeld te bid dat die Heilige Gees my sal help om te besef en te glo dat Jesus Christus weer kom en om gereed te maak vir wanneer hy weer kom.
Jesus het verder met Johannes gepraat: “ Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het” (vs 12) – Jesus Christus se wederkoms is ‘n geweldige gebeurtenis. Hy kom met die loon vir elke enkele mens by Hom.
Hierdie waarheid van Jesus wat weer kom met elkeen se loon by Hom, kry ons in die Ou Testament (Jes.40:10) en die Nuwe Testament. Jesus het meer as een gelykenis oor die loon wat Hy by Hom sal hê wanneer Hy weer kom. Luister hierna:
Mt.25:21 – “Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!”
Mt.25:26,28 – “Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is ‘n slegte en lui slaaf…..Vat die muntstuk van hom weg en gee dit aan die een wat tien het…En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite…”
Elke mens, opreg gelowig en skyngelowig of ongelowig sal ‘n erfdeel ontvang wanneer Jesus weer kom –
Die ongelowige en skyngelowige se erfdeel sal ‘n oordeelerfdeel wees. Elkeen wat nie in Jesus Christus geglo het en Hom nie geken het nie, sal ‘n baie swaar ewige oordeel ontvang. Die Here is baie duidelik hieroor. Wie nie in Jesus Christus geglo het nie, sal die buitenste duisternis (Mt.25:30), die ewige straf (Mt.25:46) die poel van vuur (Op.20:30) as ewige erfdeel ontvang. Dit is God se verskriklike ewige oordeel.
Aan die anderkant is daar die Christengelowige. Elkeen wat in Jesus Christus geglo het, met die hulp van die Heilige Gees, sal die lewe in ewige saligheid by God ons Vader en Jesus Christus ons Verlosser ontvang. Hierdie erfdeel kan ons ‘n genade-erfdeel noem. Ons kry hierdie ewige erfdeel in die hemel, sonder om iets daarvan te verdien. Dit is die wondergenade in elke Christengelowige se lewe!
Elke Christengelowige het nodig om te weet wat met my gebeur wanneer die gekruisigde Jesus Christus weer op die wolke kom. God laat nie een van sy kinders in onsekerheid oor hierdie baie belangrike waarheid nie. Ek wat deur die Heilige Gees vas en seker glo in Jesus Christus my enigste Verlosser wat vir my gesterf en opgestaan het, kan nou reeds seker wees dat ek die ewige lewe het.
Bid elke dag vir hierdie sekerheid in jou gedagtes en jou hart. Sê ook vir God dankie in jou gebed dat Hy vir jou geloof in Jesus Christus gegee het en sekerheid van jou ewige saligheid, wat jy sál erf.
Dit is lewensbelangrik om gereed te maak vir wanneer Jesus Christus weer kom. Jesus vertel en leer ons hoe elke mens gereed kan maak vir sy wederkoms. Wanneer dit by Jesus Christus, ons Verlosser kom, is daar twee groepe mense in die lewe.
Daar is die groep wat Jesus nie ken nie en beslis nie in Hom glo nie. Hierdie mense sal aanhou kwaaddoen. Hulle sal vuil bly en vuiler word van sonde (vs 11). Hulle is onder andere dwaalleraars, bedrieërs, onsedelikes, moordenaars en afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen (vs 15). In hulle valsheid voeg hierdie groep dinge by God se Woord en neem ook dinge uit sy Woord weg (vs 18,19).
Soveel keer lees ons in die Bybel dat hierdie groep mense met hulle lewe aan sal gaan, gewoonweg soos elke dag. Hulle sal met hulle sondige lewe aanhou.
Dan sal Jesus skielik kom. Die bekende beeld van sy wederkoms is dié van ‘n dief in die nag (2 Pet.3:10). Die baie mense wat nie in Jesus Christus geglo het nie en nie aan Hom behoort het nie, sal heeltemal onverhoeds gevang word. Hulle sal glad nie gereed wees vir Jesus Christus, die Hemelregter nie.
Aan die anderkant is daar die opregte Christengelowiges wat aan die Here Jesus behoort het. Van die groep lees ons dat hulle verlang het dat Jesus weer sal kom. Hierdie groep is die bruid, die kerk van Christus. Hulle het gebid dat Hy weer sal kom. Wanneer Jesus Christus weer kom, sal elkeen wat deur die Heilige Gees in Hom as enigste Verlosser geglo het, gereed wees. Jesus gee ons hierdie sekerheid in die gelykenis van die tien meisies (Mt.25:10).
Die werklikheid van Jesus se wederkoms en die onverwagsheid van daardie dag, bring elkeen van ons voor die vraag: Is ek gereed om Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser te ontmoet?
Niemand sal vanself gereed wees of gereedmaak om die Here Jesus Christus met sy wederkoms te ontmoet nie. Ons het die Heilige Gees nodig om ons te help. Die Heilige Gees maak ons gedagtes en harte vol met Jesus Christus wat weer kom. Die Heilige Gees help en lei ons om te bid dat Jesus gou weer sal kom. Met die Heilige Gees in my, wil ek graag hê dat Jesus weer sal kom en sien ek daarna uit om my Verlosser te ontmoet en vir die eerste keer te sien soos Hy werklik is, waarvan Johannes in sy eerste brief geskryf het (1 Joh.3:).
Johannes het deur die Heilige Gees geskryf dat Jesus Christus self God is. Dat alles wat ontstaan het, deur Hom ontstaan het (Joh.1:1-3).
Dieselfde Johannes het deur die Heilige Gees ook die volgende woorde in die laaste boek van God se Woord geskryf: “Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde” (vs 12).
Waarskynlik weet almal dit, ek deel dit nogtans met julle. Die alfa is die eerste letter van die Griekse alfabet, die taal waarin die Nuwe Testament geskryf is. Die omega is die laaste letter.
Met hierdie geweldige groot en belangrike woorde “die Alfa en die Omega”, leer die Here Jesus Christus ons die volgende –
Die laaste boek van die Bybel vertel van die laaste dag van die wêreld. Bid elke dag dat jy gereed sal wees, want daardie dag kom Jesus Christus weer!
ANTWOORD
Sang: Sb.5-3/8:1,2
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Sb.2-4/33:1,2,3
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die
gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen