Home Preke Oujaar / Nuwejaar Die Here het ‘n uitweg waar geen uitweg moontlik lyk nie

Die Here het ‘n uitweg waar geen uitweg moontlik lyk nie

Datum: 2025-01-05
|
Reeks: Oujaar / Nuwejaar
|
Kernverse: Eks.14:14

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.89:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Deuteronomium 5
Antwoord op die Wet: Skb.9-3/70:1,2
Gebed

VERKONDIGING
Sang: Ps.91:1,2
Lees: Eksodus 14
Kernvers: Eks.14:14
Tema: Die Here het ‘n uitweg waar geen uitweg moontlik lyk nie.
Sang: Ps.89:1,2; Ps.71:9; Skb.9-3/70:1,2; Ps.91:1,2; Ps.42:1,3,5; Ps.66:6,7.

Inleiding:

Tema: Die Here het ‘n uitweg waar geen  uitweg moontlik lyk nie.

Ons het 2025 ingegaan. Die almagtige en alwetende Skepper van hemel en aarde het dit goed gedink om ons hierdie nuwe jaar hier op aarde te gun.

Wat die jaar vir ons inhou, weet ons nie. Ons weet wel dat die gebeure van 2024 wat nie goed en maklik was nie, nie net  verdwyn het nie. Ons weet ook dat daar waarskynlik in 2025 ook moeilike en swaar tye gaan wees, tye waar dit vir ons sal lyk asof daar geen uitweg is nie. Ons leef immers in ‘n gebroke wêreld.

Die Here praat met ons in Eks.14 oor tye wanneer dit vir ‘n  gelowige lyk of daar geen uitweg is nie, net ‘n doodloopstraat. Hy leer ons en help ons met Eks.14 dat daar by Hom altyd ‘n uitweg is, selfs al lyk ‘n uitweg nie moontlik nie.

  1. Soms lyk omstandighede soos ‘n doodloopstraat.

In Eks.14 het ons Israel pas uit Egipte weg. Vir baie jare het hulle baie swaar gekry onder die Egiptenare. Ons ken daardie geskiedenis. Na baie jare van onmenslike onderdrukking en wrede behandeling deur die Egiptenare het die Here Moses wat geruime tyd gelede uit Egipte gevlug het, laat terugkom om Israel uit Egipte te lei.

Die Here het Moses naby die berg Horeb geroep en hom teruggestuur Egipte toe om Israel uit te lei. Na sy eerste gesprek met die Farao het sy opdragte nog strenger en onmensliker geword (Eks.5:1-19.) Daarna het Israel die eerste nege plae wat die Here oor Egipte laat kom het, beleef. Die laaste nag in Egipte, met die tiende plaag, is al die eersgeborenes van Egipte dood, maar niemand in Israel het gesterf nie. Onder hierdie omstandighede het die Farao Israel as’t ware uit Egipte weg gestuur (Eks.12:31-33.)

Nadat Israel uit Egipte weg is, het die Here hulle na die Rooisee laat trek (Eks.14:2.)

Intussen het die Farao spyt gekry dat hy Israel laat gaan het. Die Here het hom koppig gemaak. Die Farao het sy ses honderd  beste strydwaens gevat, saam met al die ander strydwaens, elkeen  met drie soldate. Die Egiptiese leër het Israel agterna gesit om  hulle met geweld terug te bring.

Toe die Egiptiese strydwaens nader gekom het, was Israel in ‘n onmoontlike situasie met geen uitweg nie! Voor hulle was die Rooisee. Agter hulle was die aanstormende die leër van Egipte. Daar was vir hulle geen uitweg moontlik nie!

Israel was nie die enigste wat omstandighede gehad het waar daar nie ‘n uitweg was nie.

Ons as Christengelowiges leef steeds in ‘n gebroke wêreld in 2025. In ons land is daar soveel wat nie reg is nie, wat ook nie lyk of enigiets regtig ten goede sal verander nie. Baie keer lyk dit soos ‘n doodloopstraat – die onderwyswet en die nuwe veranderings deur die Belawet, die geweld, die korrupsie, die gebrek aan wet en orde, die besoedeling van veral water en die afbreek van die land. Al hierdie slegte omstandighede hou aan en aan. Dit sal die lewe van oud en jonk in 2025 steeds baie benadeel.

Daar kan ook persoonlike omstandighede hierdie jaar op ons pad kom, waar die lewe na ‘n doodloopstraat lyk, sonder enige uitweg. Ons kyk vanoggend net na die volgende –

  • Ernstige gesondheidsomstandighede. Daar is deesdae soveel ernstige siektes wat op ons pad kan kom, waar die beste spesialiste en die beste behandeling net geringe verligting vir ‘n tydjie bring en nie regtig meer kan help nie.
    Saam met onomkeerbare gesondheidsomstandighede kan pyn of benoudheid kom wat ons lewe baie swaar maak en ook vir ons as gelowiges soos ‘n doodloopstraat sonder enige uitweg lyk en voel.
  • Dan sal die duiwel met sy listigheid en boosheid, die wêreld met sy verleidelikheid en ons eie sondige swakheid, ons drie doodsvyande, ons hierdie jaar weer probeer verlei om weg van God af te leef. ‘n Lewe ver van God af, maak swaar tye net nog swaarder. Wanneer ons sukkel om met sonde te breek, kan dit ook lyk asof ons in ‘n  doodloopstraat is.

2. Die Here, almagtig en getrou, het altyd ‘n uitweg.

Daar tussen die Rooisee voor en die Egiptiese strydwaens agter, het Israel baie bang geword. Hulle het benoud na die Here geroep. Hulle het Moses verwyt omdat hy hulle uit Egipte laat trek het, om in die woestyn te sterf.

Is dit nie maar hoe ons gewoonlik reageer wanneer ons nie ‘n uitweg sien nie – bang, benoud, bekommerd, verwyte? Om wanneer moeilike omstandighede op ons pad kom, bang en benoud en  bekommerd te word en iemand te soek om te verwyt, bring ‘n mens nêrens.

Moses het Israel se verwyte met sy bekende woorde geantwoord: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg” (Eks.14:14).

Daardie dag by die Rooisee het die Here deur ‘n wonderwerk vir Israel geveg.  Daar was in werklikheid meer as een wonderwerk –

  • Die Engel van die Here (Dit is Jesus Christus wat reeds in die Ou Testament verskyn het) het agter Israel tussen hulle en die Egiptiese leer gaan staan. Die wolk wat voor Israel was, het na agter hulle geskuif, ook tussen Israel en die Egiptiese leër.
  • Moses het sy hand uitgesteek. Die Here het ‘n sterk oostewind laat opkom wat die hele nag sterk gewaai het. Die een deel van die see het weggevloei. Die ander deel het ‘n wal gevorm. Daar het ‘n droë pad deur die see die nag gekom. Israel kon op droë grond deur die see trek!
  • Die oggend vroeg het die Here die Egiptenaars se waens se wiele laat uitval en die waens in die grond laat insak, sodat hulle baie moeilik vorentoe beweeg het en die Egiptenaars so moedeloos gemaak het, dat hulle besluit het om om te draai.
  • Toe het die Here vir Moses beveel om sy hand weer oor die see uit te steek. Die water het weer begin vloei en die droë pad in ‘n oogwink toegespoel, sodat dit net weer see was. Al die Egiptenaars het verdrink.

Vir Israel het dit na ‘n doodloopstraat gelyk. Die Here het ‘n uitweg gehad, waar geen uitweg moontlik gelyk het nie!

Ons kry in die Bybel baie kere waar die Here deur ‘n wonderwerk vir sy gelowiges geveg het – Israel die dag by die Rooisee, Sadrag, Mesag en Abednego in die brandende oond, Daniël in die leeukuil, die Romeinse regeringsamptenaar se seun wat op sterwe gelê het.

God het sy Seun as Hoof van die heelal aangestel. Jesus Christus is die middelpunt van die geskiedenis, ook die geskiedenis van ons land. Op sy tyd, sal ook die regering van  ons land voor Hom moet buig.

Die Here veg vir ons en sorg vir ‘n uitweg deur ‘n barmhartige Samaritaan op ons lewenspad te stuur. Iemand wat ons help en bystaan – ‘n dokter, ‘n verpleegster, ‘n vriend of familielid.

Verder veg die Here vir ons deur sy genade. Hy neem nie die moeilike omstandighede weg nie. Hy gee sy genade en sy genade is genoeg vir elke omstandigheid. Hy het Paulus van sy genade verseker (2 Kor.12:9). Hy verseker ook ons van sy genade.

Dan was Israel se deurtog op droë grond deur die see en Farao se weermag wat verdrink het, in werklikheid ‘n afbeelding van die doop. Die doop is ‘n teken wat God vir ons ‘n uitweg uit sonde gehad het, waar dit gelyk het asof die ganse mensdom in ‘n doodloopstraat was.

God se uitweg was dat sy Seun. Jesus het deur ‘n almagtige wonder mens geword. Wat vir die mensdom na ‘n doodloopstraat gelyk het, was vir God ‘n moontlikheid. Sy Seun is uit die maagd Maria gebore. Hy het baie swaar vir ons gely en uiteindelik aan die kruis op Golgota gesterf. Waar Jesus aan die kruis gehang het, het dit weereens soos ‘n doodloopstraat gelyk. Maar…..juis deur Christus se dood aan die kruis het Hy ons heeltemal skoon gewas van al ons sonde. Nou is ons nie meer in die mag van die sonde nie. Ons is in Christus se mag en deur Hom in God se mag en onder sy sorg as sy kinders.

Die Here sorg vir ‘n uitweg, selfs wanneer dit in die dal van doodskaduwee lyk of daar geen uitweg is nie. Ons het ‘n duidelike voorbeeld in Stefanus se lewe. Terwyl die Jode hom gestenig het en hy besig was om te sterf, het hy uitgeroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” (Hand.7:59). Selfs, wanneer  ons sterf, het die Here ‘n  uitweg. God se Seun, ons Here Jesus, kom haal ons siel, sodat ons by Hom in die hemel kan wees.

  1. Ons kan die nuwe jaar met ‘n vaste geloof ingaan.

Met hierdie geskiedenis leer die Here ons dat daar by Hom altyd ‘n uitweg is. Al sien ons nie enige uitweg nie, al voel ons ons is in ‘n doodloopstraat, by die Here ons God is daar altyd ‘n uitweg.

Daarom kan ons en moet ons hierdie jaar ingaan met ware geloof in God in ons harte. Die Heilige Gees gee aan ons geloof.

Met harte wat brand van geloof, kan ons aan Eks.14:14 vashou: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” Met geloof in ons harte kan ons seker wees dat die Here vir ons sal veg. Ons kan  met sekerheid in 2025 leef, dat die Here ‘n goeie plan vir ons lewe het.

Ons kan en ons moet hierdie jaar ook met gebed ingaan. Ons behoort sonder ophou te bid (1 Tes.5:17). “Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking” (Jak.5:16). Die gebed in ons harte en op ons lippe kan  hierdie jaar wees: “Here, veg vir ons en help ons om kalm te bly, terwyl ons op U wag!”

Sing: Ps.42:1,3,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.66:6,7
Seën: Die Here sal julle seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor julle laat skyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.

Ander preke in "Oujaar / Nuwejaar"