Home Preke Oujaar / Nuwejaar Verlossing gee vreugde en hoop

Verlossing gee vreugde en hoop

Datum: 2023-12-31
|
Reeks: Oujaar / Nuwejaar
|
Kernverse: Ps.126:1,2,6

ONS ONTMOET DIE HERE
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en ons Here Jesus Christus deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Skb.4-6
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.9:1,7,10

ONS VEROOTMOEDIG ONS VOOR ONS GOD
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord: Ps.130:2,3
Gebed

ONS LUISTER NA GOD SE WOORD
Sang: Ps.59:1,5,10
Lees: Psalm 126
Kernverse: Ps.126:1,2,6
Tema: Verlossing gee vreugde en hoop

Sang: Skb.4-6; Ps.9:1,7,10; Ps.130:2,3; Ps.59:1,5,10; Ps.138:4; Ps.126:1,2,3

Inleiding:

Op hierdie laaste Sondag van die jaar, wat terselfdertyd ook die laaste dag van die jaar is, dink mens terug oor die afgelope jaar en ook oor die nuwe jaar wat op hande is, as die Here wil.

Luister saam na wat die Here vir ons in Psalm 126 oor vreugde en oor hoop sê. Kom ons pas dit toe op 2023 en op 2024.

Tema: Verlossing gee vreugde en hoop

1. Vreugde omdat God ons verlos het

Die agtergrond van wat gebeur het, kan help om die psalm beter te verstaan. Dit is nie altyd moontlik by elke psalm nie, maar by van die psalms wel. Psalm 126 is een van die psalms waar die agtergrond wel bekend is.

Die agtergrond van die Psalm is die terugkeer uit ballingskap in Babel. Vir baie lank het Juda ver van die Here weggedwaal. Die profete het gewaarsku en nogmaals gewaarsku. Juda wou nie luister nie.

In die tyd van koning Jojakim het die Here gedoen wat Hy vir baie lank deur sy profete gesê het. Hy het Juda in die hand van ‘n vyand oorgegee. Babel se leër het Juda binnegeval. Die land is gestroop, die hoofstad, Jerusalem, verwoes en die tempel afgebreek. Daarna het die heidense vyand Juda in ballingskap weggevoer.

Sewentig jaar was Juda in gedwonge ballingskap.

Na sewentig jaar, soos Jeremia in sy profesie gesê het, het God uitkoms gegee. Koning Kores van Persië het ‘n bevel uitgegee: Juda, die Jode, soos hulle na die ballingskap genoem is, kon terugkeer.

Ons weet vandag hoe erg die Jode oor hulle land en hulle volk is. Destyds was hulle nog meer so. Hulle land was vir hulle die land wat God aan hulle beloof het. Dit was vir die Jode ‘n allesoorheersende vreugde om na sewe dekades terug te kon keer.

Die woorde van Ps.126 vertel van hierdie vreugde: “Toe die Here die lot van Sion verander het, was ons soos mense wat droom. Daarna is ons monde met lag gevul, ons tonge met jubelkrete…” (Ps.126:1,2). Ons kry woorde van vreugde ook in vs 3: “Die HERE het iets groots aan ons gedoen. Ons was verheug.”

Daar is ook ander psalms van vreugde oor die Here wat sy verbondsvolk verlos het. Ps.105 is een van die psalms oor hoe die Here Israel uit Egipte verlos het. Luister na die woorde van vreugde: “Prys die HERE, roep sy Naam uit; maak onder die volke sy dade bekend. Sing vir Hom, besing Hom!” (Ps.105:1,2) en vs 3 “…laat die harte van hulle wat die Here opsoek, bly wees.”

Is daar nie te min vreugde by ons oor ons verlossing nie? Ons het die afgelope week met Kersfees die geboorte van God se Seun, ons Verlosser gevier. Luister weer na die engel se woorde aan die skaapwagters: “Kyk, ek bring vir julle ‘n goeie boodskap wat vir die hele volk ‘n bron van groot vreugde sal wees. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid gebore, Christus die Here” (Lk.2:10,11).

Jesus Christus se geboorte is ‘n bron van vreugde vir God se volk! Nie net die Jode is God se volk nie. Elke Christen, is deel van die volk van God. Ons twee gemeentes wat hier saam is, is deel van die volk van God. Ons kan sê die ware volk van God is Jesus se Christus se kerk. Jesus se geboorte is ook vir ons ‘n bron van groot vreugde! Leef hierdie vreugde in ons elkeen se hart?

Reeds met sy geboorte was Jesus die Koning (Mt.2:2) en Christus die Here (Lk.2:10). Die Kind wat vir ons in Betlehem gebore is, het later in sy lewe vir ons sondes aan die kruis gesterf. Hy het vir ons uit die dood opgestaan en aan ons nuwe lewe gegee. Hy het vir ons na die hemel opgevaar en aan sy Vader se regterhand gaan sit. Sy Vader het Hom Hoof van die heelal en Hoof van sy kerk gemaak. Die allerhoogste God regeer alles en almal deur sy Seun, Jesus Christus ons Verlosser.

Is dit nie ‘n onbeskryflik wonderlike gerusstelling nie? Elkeen van ons se lewe elke dag, elkeen van ons se toekoms is onder Jesus Christus se regering. Hy regeer elkeen van ons met liefde en genade en ewige getrouheid. Hierdie waarheid behoort elkeen van ons se hart vol vreugde te maak.

Juda het die vreugde oor hulle verlossing nie vir hulleself gehou nie. Hulle het van die wonderverlossing uit die ballingskap in Babel, vertel. Die nasies van die wêreld het gehoor wat Juda vertel het. Hulle vreugde het die Jode met soveel oorgawe laat vertel dat selfs die mense van ander nasies wat nie in God geglo het nie, gesê het: “Die HERE het iets groots gedoen aan hierdie mense” (Ps.126:2).

Israel en Juda het die manier gehad om oor God se wonderdade te praat. Ons kry dit ook in Josua. Ragab het vir die twee verkenners wat by haar weggekruip het gesê: “Ons het gehoor hoe die HERE die water van die Rietsee voor julle laat opdroog het met julle uittog uit Egipte…” (Jos.2:10).

Ons het soveel om oor te praat, soveel om oor ons verlossing deur Jesus Christus te sê – Ons enigste Verlosser vir ons gebore, vir ons gekruisig, vir ons opgestaan, vir ons na die hemel opgevaar en vir ons aan die regterhand van sy Vader gaan sit om vir ons weer te kom! Praat mekaar moed in met Jesus wat ons lewens regeer. Hy, wat vir ons gebore is en sy lewe vir ons gegee het, uHy regeer elkeen wat in Hom glo se lewe met liefde en genade en sorg.

Vertel ook vir ander buite ons gemeentes, buite ons gesinne, buite ons families dat alles elke dag oral en altyd onder Jesus se beheer is. Vertel dit met sekerheid en met blydskap.

Kla en moedeloos en teneergedruk wees, is makliker as vreugde. Maar…nie een van hulle kom van die Heilige Gees nie! Vreugde is deel van die vrug van die Gees wat in Gal.5:22 vir ons vertel en geleer word.

Daarom, bid dat die Heilige Gees vir jou oor jou verlossing vreugde in jou hart sal gee. Gryp die vreugde dat Jesus jou Verlosser is, styf vas in jou hart en bêre hierdie vreugde diep in jou hart. Bid die Gees ook om woorde van vreugde oor jou lippe te laat kom.

2. Hoop op God al kry ons swaar

In Ps.126:4-6 kry ons die anderkant van die lewe. Luister saam na die woorde wat die Heilige Gees die psalmdigter laat skryf het:

Vs 4 – “Verander weer ons lot HERE, soos stroombeddings in die Negev.”

Vs 5 – “Die wat met trane saai…”

Vs 6 – “Die draer van die saadsak wat loop en huil…”

Hoe moet ons hierdie deel van die Psalm verstaan?

Die skrywer van die psalm gebruik twee beelde in die alledaagse lewe van destyds.

Die eerste: Die Negev is ‘n woestyngebied in die suide van die land wat vir die grootste deel van die jaar droog was. Onverwagse reën het soms strome water gebring en die hele landskap verander.

Die tweede: Dikwels wanneer dit droog was, het die boere met trane in hulle oë gesaai. Dit was droog, maar hulle het tog gesaai en gehoop vir reën, al was dit met trane van swaarkry.

Met hierdie twee beelde het die Heilige Gees die psalmdigter oor hoop laat skryf. Die Here het dikwels in die verlede uitkoms gegee. Die uittog uit Egipte, die deurgang deur die Rietsee en baie ander kere het die Here gered, toe redding onmoontlik gelyk het.

Met die Heilige Gees in sy hart, het die psalmdigter hierdie lied oor hoop geskryf.

Hoop was baie nodig. Juda se terugkeer uit ballingskap na sewentig jaar, was ‘n in die begin ‘n tyd van groot vreugde! Maar….die terugkeer het nie maklik gebeur en voorspoedig afgeloop nie.

  • Vrees en moedeloosheid en twyfel het baie gekeer om terug te gaan.
  • Te veel Jode het begin aanpas by die heidense lewe in Babel. Hierdie Jode wou nie terugkeer nie.
  • Verder het die Jode wat in die land aangekom het, hulle in ernstige teenkanting vasgeloop toe hulle Jerusalem en die tempel weer wou begin opbou. Die Jode se vyande het met geweld, omkopery, beledigings om hulle moedeloos te maak, vals berigte om hulle te verwar en ‘n brief met vals woorde aan koning Artasasta probeer keer dat die land en die hoofstad weer opgebou word. Van hierdie pogings van die Jode se vyande het gewerk. Vir ‘n hele paar jaar is die bouwerk gestaak.
  • Dan was daar onder die mense terug uit ballingskap die gesindheid dat hulle eie behoeftes eerste moes kom en die Here se wil tweede. Die Here se profeet Haggai het die Jode baie sterk hieroor aangespreek.

Die vreugde van terugkeer uit ballingskap het plek moes maak vir swaarkry en moedeloosheid en ‘n sondige gesindheid in baie se harte. Dit was asof die terugkeer nie gewerk het nie.

In die wêreld en in ons land werk min dinge vandag uit –

  • Oral in die wêreld misluk regerings, presidente en eerste ministers – Suid-Afrika, Amerika, Rusland, China en hoeveel lande in die wêreld.
  • Oral in die wêreld misluk groot vergaderings – die pas afgelope Wêreldkonferensie vir Klimaatsverandering het omtrent niks gedoen om klimaatverwarming te keer nie, terwyl die grootste lande en belangrikste regeringsleiers en hulle afgevaardigdes daar was.
  • In ons eie land doen die regering weinig om die land en sy mense goed te regeer en op te bou. Ongereelde elektrisiteit het deel van ons lewe geword. Al meer gebiede met ongereelde water kom ook reeds voor. Vals woorde, omkopery, selfsug, magsug en geldsug is die manier van doen deur ons land se huidige regering.
  • Baie van ons land se mense, dit kan selfs die grootste meerderheid wees, leef nie meer naby die Here en naby sy Woord en naby sy kerk nie.
  •  Dan is daar soveel in baie van ons se lewens wat nie uitwerk nie: Persoonlike omstandighede, ernstige gesondheidsprobleme, verhoudings in gesinne en families en soveel meer wat nie vorder of beter word of uitwerk nie.

Al hierdie dinge, en daar is nog meer, laat gelowige kinders van die Here geestelik en emosioneel baie swaar kry en dikwels met trane leef.

2023 was juis so ‘n moeilike jaar in baie opsigte.

Luister weer na die laaste vers van Psalm 126: “Die draer van die saadsak wat loop en huil, sal beslis terugkom met jubelkrete terwyl hy sy gerwe dra.”

Hierdie woorde is woorde van hoop. Hoop in die Bybel is altyd sekerheid wat God gee. Die Heilige Gees het die psalmdigter hierdie woorde van hoop laat skryf, omdat die Here wat water deur die woestyn laat stroom het, dieselfde Here was toe hy met die saadsak oor die kurkdroë grond geloop het.

WAT is óns HOOP?

Die Kindjie wat in doeke toegedraai in die krip gelê het…vir jou,

Die Man aan die middelste kruis met bloed wat uit al sy wonde gedrup het…vir jou,

Die Verlosser wat in almag uit die dood opgestaan het en die doeke netjies opgevou agtergelaat het…vir jou,

Die Hoof van die heelal en van die kerk wat aan sy Vader se regterhand gaan sit het …vir jou,

HY, JESUS CHRISTUS DIE HERE, HY IS ONS HOOP!!!

Die vraag is eintlik: WIE is ons HOOP?

Die Here Jesus is gister en vandag en in ewigheid dieselfde onveranderlike Verlosser wat sy lewe vir jou gegee het. Sy genade, en sy liefde en sy getrouheid en sy sorg waarmee Hy jou lewe beheer, was in 2023 dieselfde as die nag met sy geboorte en dag aan die kruis. Dit sal presies dieselfde wees in 2024, as ons die nuwe jaar gegun word.

Wat ook al in 2023 met jou gebeur het en wat ook al in 2024 vir jou wag, hou deur die Gees styf aan jou Verlosser vas, want Hy, Jesus Christus die Here, is jou HOOP!!!

Die diepste betekenis van Psalm 126 is dan: 
Jesus Christus is jou vreugde en jou hoop. Hierdie vreugde en hierdie hoop kom van die Heilige Gees af, daarom kan niks en niemand dit van jou wegneem nie.

ONS ANTWOORD DIE HERE
Sang: Ps.138:4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.126:1,2,3

Seën: Die HERE sal julle seën en julle beskerm; die HERE sal sy aangesig oor julle laat skyn en julle genadig wees; die HERE sal julle gebede verhoor en julle vrede gee

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.