Home Preke Oujaar / Nuwejaar Opregte geloof in God se beloftes dra verbondsgelowiges deur moeilike omstandighede

Opregte geloof in God se beloftes dra verbondsgelowiges deur moeilike omstandighede

Datum: 2024-01-07
|
Reeks: Oujaar / Nuwejaar
|
Kernverse: Jer.32:13-15

ONTMOETING

Votum: Ps.124:8

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.34:1,4

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.86:6

Gebed

VERKONDIGING

Sing: Ps.116:2,4,5,6

Lees: Jeremia 32

Kernverse: Jer.32:13-15

Tema: Opregte geloof in God se beloftes dra verbondsgelowiges deur moeilike omstandighede

Sang: Ps.34:1,4; Ps.71:9; Ps.86:6; Ps.116:2,3,4,5; Ps.42:1,4,5; Ps.68:9,13

Inleiding:

Ons het ‘n nuwe jaar, 2024 van die Here gekry. Hy praat met ons oor hierdie nuwe jaar. Vanoggend se preek is bedoel dat ons sal luister wat die Here ons Verbonsgod vir ons in Jeremia 32 oor ons lewe in 2024 sê.

Tema: Opregte geloof in God se beloftes dra verbondsgelowiges deur moeilike omstandighede

1. Ons leef in ‘n gebroke wêreld

Ten tye van hierdie profesie van Jeremia het dit baie sleg met Juda, die verbondsvolk gegaan. Jeremia die Here se profeet, se omstandighede was ook baie moeilik.

Ons kyk eers na Juda se omstandighede.

Dit waarvan soveel profete solank gepreek en dit waarteen hulle soveel dekades gewaarsku het, het waar geword. Buite Jerusalem was die baie sterk leër van Nebukadnesar van Babel besig om gereed te maak om die hoofstad in te val en in puin te lê. Dit was waarskynlik 688 v.C. Dat Nebukadnesar Jerusalem beleër het, het beteken dat hy met sy leërmag net buite Jerusalem laer opgeslaan het. Niemand kon in of uit die stad beweeg nie. Die beleg van Jerusalem het twee jaar geduur. Uit die gskiedenis weet ons dat Jerusalem in 686 ingeval en vernietig is.

Nebukadnesar het besluit om op te tree teen Juda, want alhoewel daar ‘n ooreenkoms tussen hom en koning Sedekia van Juda was, het Sedikia agter sy rug met konings van vyf lande ooreenkomste aangegaan om teen Babel op te trek en te veg. Omrede van hierdie agteraf optrede het Nebukadnesar besluit om Juda aan te val en in ‘n oorlog te verwoes. Militêr was Juda dus in groot moeilikheid.

Dit was egter nie Juda se grootste en ernstigste probleem nie. Die verbondsvolk se verhouding met God was op ‘n laagtepunt. Vir baie jare het Juda ver van die Here geleef. Luister hoe praat Jeremia hieroor: “Vergeet ‘n meisie haar juwele  of ‘n bruid haar trourok? Tog het my volk My jare gelede al vergeet” (Jer.2:32). Omdat hulle so ver van die Here geleef het, het die volgende gebeur: “My volk tree dwaas op, hulle erken My nie, hulle is moedswillige kinders, sonder begrip van wat Ek doen. Hulle is net slim as dit kom by verkeerd-doen, van goed-doen wil hulle niks weet nie” (Jer.4:22).

Nou Jeremia se omstandighede.

Juda en Sedekia se slegte verhouding met God was die oorsaak van Jeremia se moeilike omstandighede. Die vals profete het Sedekia gereeld gerusgestel. Jeremia, die werklike profeet het bly waarsku en gesê dat Babel Jerusalem sou inval en verwoes. Sedekia het hierdie woorde nie verdra nie en Jeremia as gevangene ingeperk in die binneplaas van die paleis se militêre eenheid, die paleiswag. Die koning het die Here se Woord nie aanvaar nie en die profeet se mond probeer snoer.

Uit hierdie geskiedenis kan ons vra hoe dit met Suid-Afrika en met Christus se kerk in die land gaan. Militêr en wat wet en orde betref gaan dit baie sleg met Suid-Afrika. Die misdaad en korrupsie wat ons verdedigingsmag en polisiemag afbreek, kom van die land se eie inwoners wat misdadigers is. Suid-Afrika het ‘n baie onveilige land geword.

Die groter probleem is die geestelike agteruitgang wat al erger word. Die grootste deel van die land leef los van die Here, sy Woord en sy kerk. Die ware kerk wat Jesus Christus preek as ons Verlosser vir wie ons dringend nodig het, word deur baie verruil vir die kerk wat aardse voorspoed en rykdom preek. Onder sulke slegte geestelike omstandighede groei sonde in ons land welig.

Ons leef in ‘n gebroke wêreld en in ‘n gebroke land met ‘n gebroke en sondige regering en gebroke en sondige onderdane.

2. Die getroue Verbondsgod beloof uitkoms

Onder daardie moeilike omstandighede, Jeremia self ingeperk onder die paleiswag se bewaking en met die inval in die land en die hoofstad Jerusalem, het die Here vir Jeremia aangesê om ‘n stuk grond by sy neef, Ganamel te koop. Juda se toekoms was die inval deur Nebukadnesar en die ballingskap wat onafwendbaar was. Jeremia se eie toekoms was heeltemal onseker. Hy kon om die lewe gebring word of ook as in ballingskap weggevoer word.

Dit was allermins die tyd om grond te koop. Tog is om grond te koop juis die Here se opdrag.

Jeremia het die opdrag gehoorsaam. Hy het die grond betaal. Hy het die koopkontrak geskryf en deur twee getuies laat teken. Daar was die oorspronklike kontrak en die afskrif.  Die kontrak het die seël gehad vir die egtheid daarvan. Die afskrif was sonder die seël. Enigeen kon daarna kyk. Beide dokumente is geteken. Na die wetlike prosedure afgehandel is, het Jeremia vir Barug, sy skrywer opdrag gegee om die kontrak en die afskrif in ‘n kleipot te bêre, sodat di kontrakte lank kan hou.

Hierdie koop en die kontrak wat geteken en gebêre is, was in werklikheid ‘n beeld, of ons kan ook sê ‘n teken met ‘n dieper betekenis.

Die dieper betekenis van die koop van die grond en die koopkontrak wat gebêre is, kry ons in vs 15: “..want so sê die Here, die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.” Die woorde beteken dat die Here weer uitkoms en redding en lewe vir Juda sal gee.

Die Here, die getroue Verbondsgod, het die swaarkry vir sy verbondsvolk beskik. Hy het ‘n belofte vn redding gegee met ‘n teken. Dat die kontrak en die afskrif ‘n ‘n kleipot gebêre is, wys op die sekerheid dat die Here uitkoms sal gee en sy verbondsvolk sal red.

Het die verbondsvolk van die Nuwe Testament, die kerk van Jesus Christus wat in 2024 in Suid-Afrika leef, ook van God die belofte van redding ontvang?

Kan ons ook van ‘n teken praat wat wys dat ook ons redding vas en seker is?

Ons in 2024 het die belofte in die Ou Testament wat God aan Abraham gegee het die dag toe Hy die verbond met Abraham gesluit het: “Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (Gen.17:7).

Uit die Nuwe Testament weet ons met meer duidelikheid wat hierdie belofte wat die Drie-enige God aan ons gegee het, beteken. Dit is ‘n belofte, in werklikheid meer as een belofte wat ewig vas en seker is –

God die Vader neem ook vir ons in sy ewige verbond op as kinders en erfgename. Hy versorg ons met alles wat ons nodig het. Hy sal ons beskerm sodat dit wat sleg en swaar is nie oor ons kom nie of Hy sal hierdie dinge wat lewe op aarde so moeilik maak tot ons beswil beskik.

God die Seun, Jesus Christus, maak ons deur sy bloed, dit is sy dood aan die kruis, skoon van al ons sonde, sodat God ons vergewe en vryspreek van alle straf en oordeel.

God die Heilige Gees bly en werk in ons. Hy maak ons een met Christus en vernuwe ons geestelik elke dag tot ons met Jesus Christus se wederkoms voor God se troon in die hemel sal wees.

By hierdie belofte van uitkoms, van redding het God vir ons ‘n teken gegee: Die doop. Ons praat van die heilige doop, omdat die doop van God af kom en wys op al God se verbondsbeloftes wat Hy vir ons sal doen.

2024 is ‘n jaar om aan God se beloftes vas te hou en die teken saam met hierdie beloftes te onthou.

Dit is baie belangrik om te besef dat die Here die belofte van redding gegee het, sonder dat Juda dit op enige manier verdien het. Ook vir ons is ons Verbondsgod se belofte van uitkoms en redding net uit genade.

Die uitkoms wat Hy gegee het deur sy Seun aan die kruis te laat sterf en uit die dood te laat opstaan, sodat ons kinders en erfgename in die verbond kan wees, is alles net uit genade.

Sou God vir ons uitkoms in hierdie land gee, sal ook daardie uitkoms net uit genade wees.

3. Die Here verwag geloof ten spyte van omstandighede

In Jeremia 32 en ook in die hele boek, sien ons twee reaksies op God se beloftes, ons kan sê op sy Woord.

Koning Sedekia het nie in God geglo nie. Militêr het hy by Egipte en by ander lande se konings uitkoms gesoek en nie by die Here nie. Geestelik wou hy nie na die Here se Woord luister nie. Hy het verkies om die Here se profeet te laat vang en opsluit om hom stil te maak. Die gevolg van Sedekia se ongeloof en ongehoorsaamheid, was dat sy koningskap vernietig is en hy in ballingskap weggevoer is. Sedekia se ongeloof was sy ondergang.

Aan die anderkant kry ons vir Jeremia. Jeremia het gelowig gedoen wat God gesê het. Ten spyte van baie moeilike omstandighede het Jeremia in God bly glo. Sy geloof was nie net woorde nie. Hy het die grond gekoop en die koopkontrak vir die toekoms veilig laat bêre. Jeremia se geloof het hom deurgedra. Sy profesie is in God se Woord opgeneem, sodat gelowiges eeue na hom, kan lees en in God kan glo. Dit is wondergenade in Jeremia se lewe dat hy ‘n gelowige profeet van die Here kon wees.

Wat staan ons te doen? Wat wil die Here van ons in Jeremia 32?

  • Opregte geloof in die Here ons Verbondsgod in 2024. Ons kry hierdie geloof net by die Heilige Gees en net deur God se Woord. Ons het nodig om opreg te glo in wat God vir ons sê. Opregte geloof doen. Geloof moet dade word. Jakobus het sy hele brief hieroor geskryf. Kla en moedeloosheid, bekommernis, twyfel en opstandigheid is almal doodloopstrate. Niks hiervan bring my nader aan God en aan uitkoms nie. Trouens, al hierdie dinge is juis wat God nie wil hê nie.
  • Ons geloof moet in dade wys: Ons geloof sal moet wys in elkeen se lewe van verootmoediging voor die Here. Dit is ‘n lewe waar ek my eie sonde ken en besef en bely en daarmee breek. Dit is ‘n lewe waar elke gelowige in die genadeverbond God elk dag in gebed smeek vir uitkoms, vir redding van sonde deur Jesus Christus alleen. Dit is ‘n lewe van gebed vir redding van die agteruitgang van ons land wat eintlik sy land is.
  • Verder: Lees en ondersoek die Here se Woord meer en dieper as in die verlede en leer God nog beter ken. Leer God ken in sy waarskuwing, sy teregwysing, sy onderrig en sy bemoediging.
  • Dan: Leef met geloofsmoed en praat mekaar moed in. Elke gelowige het nodig om ander te vertel en te verseker dat die Here ons Redder is. Hy is ons genadige en getroue Verbondsgod en ons tye is in sy hand. Praat ander moed in – jou gesin, jou familie, jou gemeente, vriende en oral waar jy met mense in aanraking kom..

Opregte geloof wat ons by die Heilige Gees kry, gee hoop en moed vir die toekoms. Hierdie opregte geloof sal ons deur elke omstandigheid dra wat in 2024 vir ons voorlê.

ANTWOORD

Sing: Ps.42:1,4,5

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sing: Ps.68:9,13

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.

Ander preke in "Oujaar / Nuwejaar"