ONTMOETING
Votum: Ps.121:12,
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het; en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.33:1,2
Geloofsbelydenis: Nicea
Sang: Skb.12-3/72:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Deuteronomium 5
Antwoord op die Wet: Ps.32:1
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.25:5,6
Lees: 2 Korintiërs 4:7-18
Kernvers: 2 Kor.4:7
Tema: Ons is swak, maar God maak ons geestelik sterk
Sang: Ps.33:1,2; Skb.12-3/72:1,2; Ps.32:1; Ps.25:5,6; Ps.66:7; Ps.146:3,6
Inleiding:
Paulus het met die Heilige Gees se leiding en hulp hierdie tweede brief aan die gemeente in Korinte, ‘n belangrike hawestad in Griekeland geskryf. Die brief is baie persoonlik geskryf. Die hoofstuk waarmee ons vanoggend besig is, gaan oor Paulus se uitdra van die Evangelie van Jesus Christus en wat hy alles deurgemaak het.
Gelowiges dink dikwels die mense waarvan ons in die Bybel lees is uitsonderlike mense. Hulle word selfs geloofshelde genoem. In 2 Kor.4:7-18 is dit baie duidelik dat Paulus homself nie as ‘n uitsonderlike geloofsheld gesien het nie. Hy skryf hier openlik dat hy ‘n nietige mens was, wat ook in sy lewe baie swaar gekry het. Paulus was ‘n gewone mens, net soos ons.
Paulus was ‘n nietige mens en dikwels swak, maar hy was geestelik sterk – nie uit sy eie nie; God het hom geestelik sterk gemaak.
Tema: Ons is swak, maar God maak ons geestelik sterk
1. Ons is kleipotte wat maklik breek
Ons is kleipotte wat maklik breek, is die beeld waarmee Paulus deur die Gees gelei, hierdie deel begin.
‘n Kleipot of erdekruik was ‘n artikel wat in elke huis destyds was. Die kleipot was baie nuttig om verskillende dinge in te bêre. So ‘n kleipot was nie sterk nie en het maklik gebreek. Paulus beskryf homself as ‘n kleipot wat maklik breek, om daarmee te sê dat hy ‘n swak en nietige mens is.
Sy liggaam was swak en nietig. Vs 9: “..op die grond neergegooi” vertel van Paulus se liggaam se swakheid.
Vir vs 9 se woorde kan ons na Ha.14:8-20 toe gaan. In Listra was ‘n man wat van sy geboorte af verlam was. Hy het na Paulus geluister en in Christus geglo. Toe Paulus gesien het dat hy gelowig was, het hy vir die man gesê om regop te staan. Dit het gebeur en die man kon loop. Die mense was in vervoering. Hulle het Barnabas en Paulus as gode gesien en offers aan hulle gebring, hoe hulle ook al probeer het om dit te keer. Jode in Antiochië en Ikonium het daarvan gehoor. Hulle het Listra toe gekom en die mense teen Paulus laat draai. Die mense het Paulus toe met klippe gegooi. Hy het inmekaar gesak. Hulle het hom uit die stad gesleep en vir dood daar laat lê. Gelowige vriende het hom gehelp om daarvandaan verder te gaan.
Paulus was ook geestelik dikwels swak en nietig. Die bekende woorde oor sy stryd teen sonde in sy brief aan die gemeente in Rome vertel hiervan: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek” (Rom.7:19).
Paulus is nie die enigste Christengelowige wat ‘n kleipot is wat maklik breek nie. Elke Christengelowige is ‘n kleipot wat maklik breek. Ons is liggaamlik en geestelik nietige, swak mense. Siekte en sonde in ons lewe wys ons swakheid.
2. In ons is daar ‘n skat
Paulus het verder oor hierdie beeld die volgende geskryf: “Ons wat hierdie skat in ons het” (vs 7).
Dikwels is kosbare besittings in ‘n kleipot gebêre. Verlede Sondag het ons in die preek uit Jeremia 32 van ‘n kleipot gehoor. Nadat Jeremia die koopkontrak vir die grond en die afskrif geteken en die oorspronklike met sy seël toegemaak het, moes Barug die twee dokumente in ‘n kleipot bêre om hulle vir die toekoms te bewaar.
Elke Christengelowige is ‘n swak en nietige mens ja, maar…elkeen van ons het hierdie skat in ons. Die woorde “hierdie skat’ wys op ‘n bepaalde skat. Die skat kry ons in 2 Kor.4:6 – “God wat gesê het:’Laat daar lig skyn uit die duisternis , het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.”
Die skat in elk Christengelowige is “die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.” Ons kan sê die skat in elke Christengelowige is Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het.
Hoe gebeur dit dat ek Jesus Christus as skat in my het?
Die Heilige Gees kom in my. Hy begin nuwe lewe deur die Evangelie van Jesus Christus. Hy laat my wedergebore word. In my wedergebore hart, gee die Heilige Gees vir my geloof in Jesus Christus. Hierdie geloof maak my een met die Here Jesus, sodat Hy in my is.
Die skat wat ek as Christengelowige in my het, is Jesus Christus, die gekruisigde wat uit die dood opgestaan het!
Jesus Christus, ons Verlosser het deur sy kruisiging die mag van die duiwel, sonde en die dood gebreek. Hy het die die mag wat die duiwel en sonde oor my gehad het, gebreek. Hy het deur sy opstanding die dood oorwin en dit duidelik aan soveel mense gewys, wat Hom na sy dood gesien en met Hom gepraat het.
Deur sy dood en opstanding het Christus vir elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe gegee. Hy het tydens sy lewe op aarde vir baie die sekerheid van die ewige lewe gegee. Dink maar aan sy woorde aan Marta met haar broer se dood: “Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook..” (Joh.11:25).
Die Heilige Gees het vir Johannes, Jesus se dissipel die hemel gewys, met die gekruisigde Jesus by God die Vader en ontelbare gelowiges daar saam. Johannes het gelowiges in die hemel gesien!
Dit is iets geweldig groot in elke gelowige se lewe:
Ek het JESUS CHRISTUS WAT GESTERF HET EN OPGESTAAN HET IN MY!
Jesus is in my hart en in my gedagtes.
3. By God kry ons die krag wat alles oortref
Paulus het verder geskryf: “..die krag wat alles oortref, kom dus van God af, nie van ons nie.”
Alhoewel Paulus ‘n swak en nietige mens was, het God hom geestelik sterk maak. Oor homself het Paulus geskryf: “Ek, ellendige mens!” (Rom.7:24) en “ek is immers die geringste van al die apostels en is nie werd om ‘n apostel genoem te word nie” (1 Kor.15:9). In 2 Kor.4:8 en 9 kry ons ook Paulus se woorde oor sy swakheid:
Vs 8 – “In alles word ons verdruk” en “ons is oor raad verleë”.
Vs 9 – “Ons word vervolg” en “op die grond neergegooi”.
Omdat Ek as Christengelowige Jesus Christus in my het, is daar elke keer ‘n “maar” by my swakheid. Paulus skryf so daaroor: “In alles word ons verdruk, MAAR ons is nie terneergedruk nie” (vs 8) en “..op die grond neergegooi MAAR nie vernietig nie” (vs 9).
Ons kan sê die “maar” waarvan ons elke keer lees, is die “MAAR VAN GENADE” vir elkeen wat opreg in Jesus Christus glo. Paulus het hierdie genade in sy lewe gehad. Ons lees dit so duidelik in die verse wat voor ons oop is.
Elkeen wat in die Here Jesus glo, het hierdie genade.
Met Jesus Christus in my is ek geestelik sterk.
God maak my sterk.
Hy gee vir my krag wat alles oortref!
Luister hoeveel krag ons by God kry. Paulus het in ‘n ander brief aan ‘n ander gemeente daaroor geskryf, aan die gemeente in Efese. Hy het geskryf hoe hy bid dat die gelowiges in Efese sal weet hoe geweldig groot die krag is wat God deur sy Gees aan hulle gee en in hulle werk. “Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het…” (Ef.1:19,20).
Elkeen van ons wat in Christus glo, het hierdie krag. Ons kry hierdie krag by God. Dit is krag wat alles oortref.
Voor ons lê 2024. Baie sien en voel nie hierdie krag wat alles oortref in my liggaam nie. Ons word oud. Ons word siek. Ons word swak. Van ons kan vanjaar sterf indien die Here so besluit. Dit is so, nou sien ons nie hierdie krag nie, MAAR…wanneer Christus die Here weer kom, en Hy my liggaam uit die dood laat opstaan, sal die krag wat God gee, duidelik word. Wanneer my liggaam opgewek word, sal daar niks van oud en siek en swak en sterf meer wees nie. Al die dinge van die aarde sal vir altyd verby wees. My liggaam sal ‘n nuwe liggaam wees, met krag wat alles oortref. Met die kragtige nuwe liggaam sal ek saam met ander gelowiges by God die Vader wees en by sy Seun.
Geestelik maak die Heilige Gees my nou reeds nuut en sterk. Skryf Paulus hieroor: “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe” (vs 16). Elkeen van ons wat in Jesus Christus glo, kan dus 2024 ingaan, geestelik sterk. Die Heilige Gees, die Gees van Christus maak ons elke dag nuut. Hy maak ons elke dag sterk vir alles wat hierdie jaar voorlê.
Gaan dan hierdie jaar verder in as ‘n opregte Christen.
Leef elke dag met die besef dat ek ‘n kleipot is, swak en nietig.
MAAR…leef elke dag met die sekerheid dat ek Jesus wat gekruisig is en opgestaan het in my het!
Leef met die geloof dat God jou geestelik sterk maak.
Leef dan elke dag onder elke omstandigheid met die krag wat die Heilige Gees in jou werk. Dit is dieselfde krag waarmee Christus uit die dood opgestaan het. En dit is geweldige groot krag!
ANTWOORD
Sang: Ps.66:7
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.146:3,6
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Amen