ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.100:1,2,3,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.19:4
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.119:1,2
Lees: Matteus 13:1-23
Kernverse: Mt.13:3-8
Tema: Ek sal net geestelik kan verdiep indien God se Woord in my groei
Sang: Ps.100:1,2,3,4; Ps.9:1,7,10; Ps.19:4; Ps.119:1,2; Ps.40:3,4; Ps.119:6,7
Inleiding:
Die preekreeks tans in ons gemeente is ‘n reeks oor geestelike verdieping. Tot nou toe het ons gekyk na geestelike verdieping of in die taal van 2 Kor. 4 innerlike vernuwing in elkeen van ons se binneste. Ons het gekyk na geestelike verdieping in die erediens, verdieping in ons gelowige saamwees, ons dienswerk in die gemeente en ons getuienis na buite met verlede Sondag se preek uit Mt.5:13-16.
Die vraag is: Was daar al geestelike verdieping by ons sedert die eerste preek hieroor op 22 April oor innerlike vernuwing in elkeen van ons? Of…is alles in my binneste nog net dieselfde? As elkeen in ons binneste nog net dieselfde is, sal alles in die gemeente ook net dieselfde bly, sonder enige geestelike verdieping of vernuwing of groei.
Om hierdie probleem aan te spreek, is die volgende deel van die reeks, as die Here wil, oor die hindernisse wat geestelike verdieping keer.
Tema: Ek sal net geestelik kan verdiep indien God se Woord in my groei
“‘n Saaier het eendag gaan saai”. So het Jesus hierdie gelykenis begin. Waarom het Jesus gelykenisse gebruik? ‘n Gelykenis is ‘n beeld of ‘n vergelyking met ‘n dieper betekenis. Die dissipels het ook gevra waarom Jesus gelykenisse gebruik het. Jesus se antwoord was dat gelowiges wat aan Hom behoort die geheime van die koninkryk van die hemel sal ken, terwyl almal wat nie aan Hom behoort nie, die koninkryk van die hemel se geheime nie sou leer ken nie en in die duisternis sou bly.
Ons kan sê dat Jesus die gelowiges deur gelykenisse gehelp het om geestelik te verdiep. Almal wat aan Jesus behoort het, het by Hom gebly, Hom bly volg en gevra na wat die geykenisse beteken. Jesus het hulle die antwoord gegee soos in die gelykenis van die saaier en hule het in Hom geglo.
Die mens wat ‘n gelykenis lees of hoor en na die dieper betekenis soek, sal die dieper betekenis kry. Die mens wat die Heilige Gees het, se hart sal deur die gelykenis geraak word. So ‘n gelowige sal deur die Heilige Gees in Jesus Christus glo. Met die Heilige Gees se hulp sal ek as Christen wat aan Jesus Christus behoort met ‘n gelowige gaan leef en al meer en meer leef soos Jesus in die gelykenis geleer het. Ek sal geestelik verdiep.
Aan die anderkant sal die mens wat die gelykenis hoor en lees en niks verder doen nie, net by die beeld bly. So iemand sal nie geestelik verdiep nie.
Dit is ook baie belangrik om te weet, te besef en te glo, dat geestelike verdieping net deur God se Woord, die Evangelie van Jesus Christus, die Bybel kom. Die saad wat gesaai word, is die “Woord van die koninkryk”, het Jesus die gelykenis verduidelik (Mt.13:19-23).
Die Woord van die koninkryk? Die Woord van die koninkryk is die boodskap dat Jesus Christus aan die kruis gesterf het vir ons en uit die dood opgestaan het vir ons. Deur sy kruisiging en opstanding het Hy ons as’t ware uit die ryk van die duiwel en die sonde wat oor ons geheers het geruk en ons onder sy mag en sy sorg en sy liefde gebring. Deur Jesus Christus is elkeen wat aan Hom behoort nou in die koninkryk van die hemel.
Die boodskap, die Evangelie, die Woord van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, is die Woord van die koninkryk, God se Woord.
2. God se Woord kan uit my hart gesteel word
Hierdie kerngedagte onder die tema begin met ‘n vraag: Is hier vanoggend ‘n dief in die erediens? Iemand wat steel is seker die laaste waaraan enigeen tydens ‘n erediens dink. Jesus Christus leer ons in die gelykenis van die Saaier dat daar in elke erediens ‘n dief is wat steel.
Luister na die Here Jesus se woorde. Eers die woorde in die gelykenis:”Met die saai het ‘n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik” (vs 3). Die voëls het die saad baie gou opgepik. Die saad het nie eers begin groei nie.
Nou luister ons na Jesus se verklaring van hierdie deel: “Die Bose kom by elkeen wat die Woord van die koninkryk hoor, maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is” (vs 19). Hierdie is baie belangrike woord in die gelykenis. Ons verdiep ons in die volgende wat Jesus gesê het:
Op die vraag aan die begin van hierdie kerngedagte of daar vanoggend ‘n dief in die erediens is, is die antwoord: Ja, daar is. Die duiwel is daarop uit om die Here se Woord uit die mens se hart te steel, wat hom of haar nie in die lees van die Woord en die preek uit die Woord verdiep en verstaan en glo nie.
3. Teenkanting kan my die Here se Woord laat los
Jesus het verder vertel: “En ‘n ander deel het het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie; maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog” (vs 5).
Die verduideliking van hierdie deel klink so: “En by wie op rotsagtige plekke gesaai is – dit is hy wat die Woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die Woord, struikel hy dadelik” (vs 20,21).
Daar is die mens wat opgewonde is oor die Here se Woord en die Woord met blydskap aanneem. Vir so iemand is ‘n preek mooi en treffend. Maar dit bly net by woorde. Die Evangelie van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, sink nie diep in so iemand se verstand en hart nie, groei nie en word nie so iemand se vaste geloofsoortuiging nie.
Wanneer daar druk van die wêreld se kant af kom soos nou met ‘n winkelgroep se aksie oor ‘n lewenswyse en verhoudings tussen man en vrou wat heeltemal teen God se wil in sy Woord is, dan vergeet so iemand wat God in sy Woord sê dat my liggaam deel van Jesus Christus is en ek my liggaam nie deel van seksuele losbandigheid mag maak nie (1 Kor.6:15) en maak asof so iets nie eintlik erg is nie, of ondersteun selfs so ‘n aksie.
Daar is vandag baie teenkanting teen die Bybel, God se Woord. Daar is die mens wat die Here se Woord in ‘n erediens hoor en bly is oor die preek, maar wanneer daar in die week teenkanting kom, los so iemand die Here se Woord, gee toe aan die teenkanting en word deel van die sondige en goddelose wêreld wat sonder die Bybel en sonder God wil leef.
Dit gebeur, omdat daar die mens is wat die Woord hoor, maar net op ‘n oppervlakkige manier die boodskap aanneem. By so iemand is daar nie geestelike verdieping nie.
4. Bekommernis en verleidelikheid kan die Woord in my verstik
Met die derde deel van die saad het die volgende gebeur:”En ‘n ander deel het in dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik” (vs 7). Jesus het hierdie deel van die gelykenis so verduidelik:”En by wie in die dorings gesaai is – Dit is hy wat die Woord hoor, maar die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die Woord en hy word onvrugbaar” (vs 22).
Die eerste wat die Woord verstik, is die sorge van hierdie lewe en die bekommernis oor soveel dinge. So iemand kan in die erediens wees en na God se Woord luister, maar bekommernis oor die werk, geld, die week wat voorlê en selfs of die kerk gaan bly voortbestaan en soveel ander dinge, verstik die Woord. Ons kan sê bekommernis versmoor die Woord, sodat iemand wat met bekommernis leef, nie geestelik verdiep nie.
Daar is ook nog die verleding van die rykdom. Hoeveel gelowiges het nie al by sondige geldskemas betrokke geraak nie. Lidmate van kerke is al na eredienste gewerf om deel te word van sulke skemas. Die verleiding van baie geld in ‘n kort tyd maak, verstik die vers waarin die Here sê dat ‘n gelowige deur harde werk op ‘n eerbare manier in lewensonderhoud moet voorsien (Ef.4:28).
Wanneer ek my geld terughou vir myself en nie ‘n dankoffer gee soos die Here van my vra nie, verstik die verleiding van geld Jesus se woorde dat ek nie skatte op aarde bymekaar oet maak nie (Mt.6:19,20).
Wanneer bekommernis oor die lewe en die verleidelikheid van die wêreld soos geld en goed te belangrike plek in ‘n gelowige se lewe het, sal daar nie geestelike verdieping by so iemand wees nie en ook nie in ‘n gemeente nie.
5. Die Woord van God kan in my groei
Geestelike verdieping kom deur God se Woord wat in elke gelowige groei. Wanneer die Here se Woord in elke gelowige groei is daar geestelike verdieping in ‘n gemeente. ‘n Voorbeeld van geesteike verdieping is dieper liefde vir God en meer en dieper gehoorsaamheid aan Hom.
Daar is hindernisse wat geestelike verdieping keer. In die gelykenis van die saaier leer Jesus ons hierdie hindernisse: Die Woord word gehoor, maar nie verstaan en nie geglo nie. Die duiwel steel die Boodskap van Jesus Christus uit so iemand se hart. Oppervlakkige aanneem van die Here se Woord, laat ‘n mens by die eerste teenkanting, die Woord dadelik los. Bekommernis oor die lewe en die verleiding van die wêreld bywyse van geld, verstik, versmoor die Woord in ‘n mens se hart.
Hoe gebeur geestelike verdieping dan deur God se Woord, die Evangelie van die gekruisigde Jesus wat opgestaan het? Jesus het daarvan vertel. Ons luister eers na die beeld in die gelykenis:”Die ander saad het in goeie grond geval en oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig” (vs 8). Hierdie woorde se betekenis het Jesus so verduidelik:”Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die Woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes: Soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, sos dertigvoudig” (vs 23).
God se Woord kan in my groei dat ek geestelike vrugte dra. Hoe gebeur dit? Die Heilige Gees kom in my verstand en my hart met die Evangelie van Jesus Christus. Wanneer ek my deur die Heilige Gees laat beheers, smag ek na God se Woord. Met die Gees in my luister ek met ‘n gebed in die hart en volle aandag na wat God vir my sê. Ek span my in, ek sorg dat ek die Here se Woord en die preek uit die Woord verstaan en glo. Deur die Gees leef ek wat ek gehoor het in die volgende week en die res van my lewe uit. Ek dra vrug en wys met my lewe dat Jesus Christus in my lewe is, dat ek Hom liefhet en vir Hom lewe.
Die Here se Woord is lewend en kragtig. Die Woord wat gesaai, gepreeek word, is sterker as enige hindernis, want die Woord is die Heilige Gees se wapen om in my verstand en my hart te kom.
Kom dan erediens toe, luister na die Woord van die koninkryk van die hemel. Luister deur die Heilige Gees met ‘n hart wat soek en smag na die Evangelie van Jesus Christus. Moenie dat die hindernisse waarvan Jesus in Mt.13 vertel en geleer het, die geestelike verdieping in jou ewe en in ons gemeente keer nie. Glo wat jy hoor. Gaan leef wat jy gehoor het. Laat die Heilige Gees jou lei om geestelik te verdiep. Wanneer jy geesteik verdiep en groei, sal ons gemeente geestelik verdiep en groei. Dit is wat Jesus Christus van ons wil hê.
ANTWOORD
Sang: Ps.40:3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.116:6,7
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen