ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.48:1,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,8
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Skb.9-4/21:1
Lees: 1 Korintiërs 12:1-13:1-3
Kernverse: 1 Kor.12:11-13, 18-20; 13:1-3
Tema: Sonder die Gees en sonder liefde sal ‘n gemeente nie geestelik verdiep nie
Sang: Ps.48:1,4; Ps.71:9; Ps.38:1,8; Skb.9-4/21:1; Ps.40:4; Skb.1-1/24:1,7
Inleiding:
In hierdie reeks preke oor geestelike verdieping is ons tans by die hindernisse wat geestelike verdieping in ‘n gemeente keer. Die eerste hindernis het ons na gekyk in Mt.13 met die gelykenis van die saaier. Indien die Woord nie in elke gelowige groei en vrug dra nie, sal ‘n gemeente nie geestelik verdiep nie. Die vorige hindernis het ons gesien kan in die erediens wees. Wanneer elke gelowige nie met my hele hart aan die erediens deelneem nie, sal daar nie geesteklike verdieping in ‘n gemeente wees nie. Indien ‘n gemeente nie geestelik verdiep nie, sal so ‘n gemeente oppervlakkig wees, soos die wêreld.
Vanoggend se hindernis vir ‘n gemeente om geestelik te verdiep, is wanneer die saamwees as gemeente sonder die Heilige Gees en sonder liefde is.
Tema: Sonder die Gees en sonder liefde sal ‘n gemeente nie geestelik verdiep nie
Die kerk van Jesus Christus, elke gemeente, is nie ‘n menslike instelling wat soos ‘n gewone organisasie werk nie. ‘n Gemeente is alleen ‘n ware gemeente van Jesus Christus, indien die gemeente die Heilige Gees het en deur die Gees met mekaar omgaan.
Maar…is dit nie vanselfsprekend dat ‘n gemeente deur die Heilige Gees met mekaar sal meeleef nie?
Kom ons kyk wat die Here ons in sy Woord, die Bybel hieroor vertel en leer. Ons kyk eers in die Ou Testament. Ons kry die volgende in Jesaja. Die Here praat baie ernstig deur sy profeet met Juda, die verbondsvolk: “Die Here het gesê:’Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer my met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie” (Jes.29:13).
Juda se harte was nie vol van die Heilige Gees nie, maar vol van hulleself en van ander omliggende volke se afgode, daarom het hulle die Here nie deur sy Gees gedien nie. Hulle het ook nie op die Heilige Gees se manier met mekaar omgegaan nie. Terwyl hulle gereeld offers in die tempel gebring het en gereeld gebid het, het Juda die weerlose deel van die bevolking verdruk en selfs met geweld teen weeskinders en weduwees opgetree (Jes.1:15-17). Ons kry in die Ou Testament die verbondsvolk wat sonder die Heilige Gees met mekaar omgegaan het.
In die Nuwe Testament het die Galasiërs so geleef. Hulle het volgens hulle sondige natuur geleef het en nie deur die Heilige Gees nie. Hulle het in onenigheid en rusie met mekaar geleef. Luister hoe ernstig Paulus met die gelowiges gepraat het: “ Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie” (Gal.5:21).
Uit Jesaja en Galasiërs maak die Here dit duidelik dat dit nie vanselfsprekend is dat ‘n gemeente deur die Heilige Gees met mekaar sal omgaan nie. Daarom mag niemand van ons dink ons leef vanselfsprkend deur die Heilige Gees nie.
In die Nuwe Testament het ons getuienis van ‘n gemeente wat wel deur die Heilige Gees geleef het. Epafras het vir Paulus en Timoteus vertel hoe die gemeente in Kolosse deur die Heilige Gees met mekaar saam geleef het.
Dit is belangrik en nodig vir elke Christengelowige om te besef dat ‘n gemeente of met die Heilige Gees of sonder die Gees kan leef. Om met die Gees te leef en nie sonder Hom nie, behoort ‘n belangrike deel van elkeen van ons se gebede te wees.
2. Die Heilige Gees bepaal die eenheid in ‘n gemeente
Dit is alleen wanneer ‘n gemeente met die Heilige Gees leef, dat so ‘n gemeente geestelik sal verdiep. Die gemeente in Korinte het nodig gehad om hierdie belangrike waarheid te leer.
Die gemeente was ‘n aktiewe gemeente. Daar was baie gawes onder die gelowiges en baie dinge het in die gemeente gebeur. Die verskillende gelowiges met verskillende gawes en verskillende omstandighede het dikwels gesukkel om as een gemeente met mekaar saam te leef. Daarom moes hulle hoor: “Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawees, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee” (1 Kor.12:4).
Die een Heilige Gees gee een en dieselfde saligmakende geloof in die een Jesus Christus aan almal in die gemeente. Die geloof in Jesus Christus maak van al die gelowiges in ‘n gemeente saam ‘n hegte geestelike eenheid. Luister hoe leer die Here ons van hierdie eenheid in 1 Kor.12.
Vs 15,16 – Soos ‘n oor nie kan sê: “Omdat ek nie ‘n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie” behoort geen gelowige in ‘n gemeente te dink en te sê: Ek is nie deel van die gemeente nie.
Vs 21 – Soos die oog nie vir die hand kan sê: ”Ek het jou nie nodig nie”, mag geen gelowige dink of sê dat ek goed genoeg in die gemeente doen dat ek nie ander lidmate nodig het nie.
Vs 18 – God het elke gelowige destyds in Korinte en elke gelowige vandag in Akasia en Pretoria-Noord in die gemeente gebring soos Hy dit wou hê. Die een Heilige Gees gee aan elkeen wat aan Jesus Christus behoort geloof. Die een lewende God bring elke gelowige in die gemeente. Dit is deur God se wil dat ek en elke ander lidmaat in die gemeente is waar ons is.
Niemand besef hierdie belangrike waarheid vanself nie. Die Heilige Gees laat my in Jesus Christus glo wat vir my gesterf en opgestaan het. Die Gees laat my glo dat God my in sy gemeente gebring het, soos Hy dit wou hê. Die Gees laat my glo dat dit presies so is met elke ander gelowige in die gemeente. Met die Heilige Gees in my, sal ek besef en glo dat al die gelowiges in ‘n gemeente ‘n hegte eenheid is….’n hegte geestelike eenheid wat aan Jesus Christus behoort. Hy het ons deur sy dood aan die kruis en sy opstanding uit die graf syne gemaak.
Wanneer ‘n gemeente so deur die Heilige Gees met mekaar saam leef, sal die gemeente geestelik verdiep.
3. Met liefde of sonder liefde
Die tweede belangrike hindernis wat geestelike verdieping keer, is liefde. Liefde is die groot opdrag van die Here Jesus aan sy kerk. Dit is ook nie vanselfsprekend dat ‘n gemeente in liefde met mekaar sal saam leef nie.
Die gemeente in Korinte was juis ‘n voorbeeld hiervan. Alhoewel die gemeente baie gawes gehad het en baie dinge gedoen het, het liefde vir mekaar dikwels ontbreek. Daar was groepvorming in die gemeente (1 Kor.1:10-12). Die groepe het verdeeldheid in die gemeente veroorsaak. Hulle het met jaloesie en twis onder mekaar geleef (1 Kor.3:3). Daar was gelowiges wat mekaar sonder dat dit nodig was, na die heidense howe toe gevat het (1 Kor.6:1). Selfs met nagmaal het die gemeente sonder liefde opgetree (1 Kor.11:20,21.) Nagmaal was destyds ‘n hele ete met elkeen wat kos en wyn gebring het. By die ete het elkeen gou sy eie kos geëet en sy eie wyn gedrink. Vir sommige gelowiges wat eers moes werk vir heidense werkgewers en dan nagmaal toe kon kom, was daar dan nie meer brood en wyn oor nie. ‘n Laaste voorbeeld van lewe sonder liefde, is dat die gelowiges so op elkeen se eie gawes gekonsentreer het, dat liefde agterweë gebly het. Daarom het Paulus deur die Heilige Gees vir die gelowiges in Korinte die heel beste gawe gewys. Hierdie gawe kry ons in die bekende hoofstuk 13.
‘n Gemeente kan baie aktief en dinamies wees, maar indien daar nie liefde vir mekaar is nie, beteken al die dinge wat so mooi lyk, niks. Sonder liefde vir mekaar, dit is sonder omgee vir mekaar en opoffer vir mekaar, sal ‘n gemeente nie geestelik verdiep nie, maar ‘n oppervlak-kige gemeente bly.
Liefde vir mekaar is en bly deel van die groot gebod wat die Here Jesus vir sy kerk, vir elke gemeente gegee het om te gehoorsaam. Alleen wanneer ‘n gemeente in opregte liefde met mekaar saam leef, sal daar geestelike verdieping in die gemeente wees.
4. Die eenheid in die gemeente wys in die liefde vir mekaar
Die gelowiges in Korinte en die gelowiges in elke gemeente van Jesus Christus, het nodig om ons een geloof in die een Jesus Christus wat elkeen by die een Heilige Gees gekry het, uit te leef. ‘n Gemeente leef hierdie kosbare geloof uit deur in ‘n eenheid sonder groepvorming te leef. Die eenheid in ‘n gemeente sal wys in liefde vir mekaar.
Hier is voorbeelde van liefde vir mekaar:
Wanneer ‘n gemeente deur die Heilige Gees leef en liefde vir mekaar wys, sal so ‘n gemeente anders as die wêreld nie oppervlakkig leef nie, maar geestelik verdiep.
Die vraag vir elke gelowige in die gemeente is: Leef jy deur die Heilige Gees in die gemeente? ‘n Tweede vraag is: Wys jou lewe deur die Gees in die liefde wat jy vir die ander gelowiges in die gemeente het?
Om die hindernis van nie met die Gees leef nie en nie met liefde leef nie, te oorkom, sal ons ernstig uit ons harte daarvoor moet bid. Gereelde gebed dat God ons sal help en lei om deur die Heilige Gees en met liefde te leef, sal ‘n baie belangrike deel van elkeen se gebedslewe moet wees.
ANTWOORD
Sang: Ps.40:4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Skb.1-1/24:1,7
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen