ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die Heilige Gees
Lof aan God: O Heer my God (Lied 464):1,2,3
Geloofsbelydenis: Nicea
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.25:2,4
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.18:12,13
Lees: Matteus 5:17-48
Kernvers: Mt.5:48
Tema: ‘n Gemeente sal net geestelik verdiep deur die lewe wat Jesus Christus verwag
Sang: Hoe groot is U (Lied 464):1,2,3; Skb.12-3:1,2; Ps.25:2,4; Ps.18:12,13; Ps.139:1,12; Ps.119:7,22
Inleiding:
Die Heilige Gees lei elke Christengelowige om innerlik te vernuwe. Ons kan sê die Gees lei ons om geestelik te verdiep. Daar is dinge in ‘n gelowige se lewe en ‘n gemeente wat hindernisse vir geestelike verdieping is. Ons is vanoggend by die vierde en laaste preek oor hierdie hindernisse.
Tema: ‘n Gemeente sal net geestelik verdiep deur die lewe wat Jesus Christus verwag
Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was die Jode se geestelike leiers in die tyd toe Jesus na die aarde toe gekom het. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het ‘n gevestigde godsdiens volgens ‘n vaste patroon gehad. Hulle vaste patroon vir hulle godsdiens was die Tien Gebooie. Hulle het die Tien Gebooie geken en geleef. Hulle het die Jode in die sinagoges en eintlik oral waar hulle gekom, geleer om die Tien Gebooie te gehoorsaam. Hulle het byvoorbeeld die man wat deur Jesus by die Bad van Betesda gesond gemaak is, tereg gewys dat hy sy goed nie op die Sabbat mag gedra het nie. Die geestelike leiers van die Jode was verder van mening dat hulle die Tien Gebooie onberispelik nagekom het. Paulus het so oor homself getuig in sy brief aan die Filippense (Fil.3:6).
In werklikheid het die geestelike leiers van die Jode meer as net die Tien Gebooie wat ons in Eks.20 en Dt.5 kry, gehoorsaam. Hulle het die gebooie uitgebrei. Jesus het in sy bekende preek daardie dag teen een van die berge naby Kapernaum daarvan gepraat toe Hy gesê het: “Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is:’Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg is strafbaar voor die regbank’” (Mt.5:21). Die geestelike leiers van vroeër het die deel van strafbaar voor die regbank bygevoeg. Dan het die Fariseërs en Skrifgeleerdes ook al die ander wette en voorskrifte waarvan hulle meer as 600 in die Ou Testament gekry het, nagekom en die Jode ook geleer om die wette te gehoorsaam. .
Om die Here so te gehoorsaam is reg en nodig. Elke gelowige moet God gehoorsaam. Met die geestelike leiers van die Jode en baie van die Jode self was daar twee groot tekort-kominge in hulle gehoorsaamheid –
Die eerste baie ernstige tekortkoming was hulle selftevredenheid. Paulus wat gedink het, dat hy die Here se Wet onbersipelik nagekom het, is ‘n baie goeie voorbeeld. Die ander geestelike leiers en baie van die Jode het ook so gedink en tevrede met hulleself geleef. Met hulle selftevredenheid het hulle in werklikheid oppervlakkig met die Here se gebooie omgegaan.
Die tweede ernstige tekortkoming was dat hulle gedink het geestelike verdieping was nie nodig nie. Hulle het gedink en gevoel dat hulle godsdienstig genoeg gedoen het. Hulle het nie gedink om by die dieper en volle betekenis van wat die Here in sy gebooie verwag, uit te kom nie.
Ons gemeente, dit beteken elkeen van ons, het nodig om op te pas dat ons nie ook met selftevredenheid dink ons doen genoeg nie. Voorbeelde van dinge waarvoor ons regtig moet oppas, is:
Wanneer hierdie manier van dink en praat en doen deel van ‘n gemeente se lewe is, sal die gemeente nie geestelik verdiep nie.
2. Jesus Christus lei ons na selfondersoek
In sy preek daardie dag teen die berg het Jesus die Jode destyds gelei om selfondersoek te doen. Hy lei ons vandag ook om van selftevredenheid af weg te kom, daarmee te breek en dieper selfondersoek te doen om meer volgens ons Vader in die hemel se wil te leef.
Luister hoe lei die Here Jesus ons om die Tien Gebooie en in werklikheid die hele Bybel Baie dieper te lees:
Mt.5:27 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg’.”
Mt.5:43-45 – “Julle het gehoor dat daar gesê is:’Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel…’”
Jesus het hierdie deel van daardie preek begin met:”Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry” (Mt.5:17).
Hy het dié deel afgesluit met:”As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan verwag? Maak die tollenaars nie ook maar so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?” (Mt.5:46,47).
Die tollenaars was destyds skelm en korrup en die heidene het geen geloof gehad nie. Wanneer ek as Christengelowige net die nodige doen waarvan ek hou soos die mense liefhet wat vir my lief is en die groet wat my familie of vriende is, sê Jesus, doen ek niks meer nie as wat ‘n skelm korrupte mens en ‘n heiden ook maar doen.
Met so ‘n lewe wys ek niks van my geloof nie. Ek verdiep ook nie geestelik nie. Jesus leer my om selfondersoek oor my geestelike lewe in die koninkryk van God en in die gemeente te doen en dieper na God se Woord te kyk.
3. Jesus gee sy lewe dat ons geloofslewe dieper sal wees
Daardie dag teen die berg het Jesus die Jode baie geleer oor die lewe as gelowige in die koninkryk van die hemel. Die kern van wat Jesus in die deel van sy preek wat ons in Mt.5 kry, geleer het, kry ons in die laaste woorde van die hoofstuk:”Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is” (Mt.5:48).
Hoe moet elkeen van ons hierdie woorde verstaan? Daar is soveel om oor hierdie vers te sê. Vir vanoggend is die volgende belangrik:
Om saam te vat: Jesus Christus verwag van my om die gelowige in die koninkryk van die hemel te wees, wat my hemelse Vader wil hê ek moet wees.
Hy verwag hierdie van my. Hy maak dit vir my moontlik. Hy neem my sonde op Hom – my sonde van die eie-ek, eiewilligheid, selftevredenheid, hoogmoed, onwilligheid om geestelik te groei en al my ander baie sonde op Hom. Hy sterf met al my sonde op Hom aan die kruis. Deur aan die kruis vir my sonde te sterf, breek Jesus die mag wat my sonde oor my gehad het. Die Sondag na sy kruisiging staan Jesus uit die dood op. Deur sy opstanding maak Hy my ‘n verloste nuwe mens.
As Verloste nuwe mens, is ek verlos en vry van die sonde van selftevredenheid. As verloste nuwe mens is ek ‘n geestelik dieper mens.
4. Die Gees maak geestelike verdieping moontlik
Jesus het sy Vader gevra. Hy en sy Vader het na Jesus se hemelvaart die Heilige Gees gestuur. Die Heilige Gees is ons Trooster en ons Helper.
Jesus Christus het my ‘n dieper geestelike mens gemaak. Die Heilige Gees in my maak ‘n lewe van geestelike verdieping moontlik.
Ons gemeente, elke gelowige in die gemeente, sal geestelik verdiep, wanneer ons met die Heilige Gees in ons teen die die hindernis van selftevredenheid veg en dit oorkom en die lewe leef wat Jesus Christus van ons in verwag.
ANTWOORD
Sang: Ps.139:1,12
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.119:7,22
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle wees
Amen